André
P Brink is op 29 Mei 1935 op Vrede in die Vrystaat gebore. Hy is
een van die mees veelsydige figure in die Suid-Afrikaanse literêre
bedryf: romanskrywer, dramaturg, reisverhaalskrywer,
vertaler, letterkundige, kritikus,
mentor, professor en polemikus.
Sy romans is in meer as 30 tale vertaal, insluitend Serbo-Kroaties,
Japannees, isiXhosa en Viëtnamees. Hy word as een van die belangrikste
skrywers in die Sestiger-beweging beskou. Toe Kennis van die
aand in 1974 verbied is, het hy ook ’n leidende rol
in die pasgestigte Afrikaanse Skrywersgilde gespeel.
As romanskrywer het André Brink
verskeie internasionale eerbewyse ontvang. Hy is reeds twee keer vir die
Booker-prys in Brittanje genomineer en was ook reeds
verskeie kere sedert 1979 op die kortlys vir die Nobel-prys.
Hy het die Martin Luther King Memorial Prize ontvang
en in 1980 het Frankryk hom vereer met die hoogste toekenning vir internasionale
literatuur, die Prix Médicis Étranger. Hy is in
1982 benoem tot ridder van die Franse Légion d’honneur,
en in 1987 tot offisier van die Franse Orde van Kuns en Lettere,
met ’n verhoging in rang in 1995 tot Kommandeur.
In 1992 ontvang hy die Monismanien-prys vir Menseregte
van die Universiteit van Uppsala. In Suid-Afrika het hy die CNA-prys
drie keer ontvang, nl vir Olé (1965), Rumours of
rain (1978) en A chain of voices (1982). In 1997 het hy
die Mondello Vyf Kontinente Prys vir Wêreldletterkunde
ontvang vir Imaginings of sand. In 1999 is sy roman Duiwelskloof
met die WA Hofmeyr-prys bekroon. Hy het ook reeds twee
keer die Hertzog-prys ontvang: in 2000 vir Drama (vir
Die jogger) en in 2001 vir Prosa (vir sy roman Donkermaan).
Brink se vyftiende roman, The other side of silence, is met twee
pryse bekroon: The Commonwealth Prize for Literature
(Africa Region) en die Sunday Times Fiction prize.
Hy is tans ‘n hoogleraar aan die
Universiteit van Kaapstad. |