|  Abraham 
      H de Vries is op 9 Februarie 1937 op Ladismith in die Kaap gebore. 
      Hy het aan die Universiteit van Stellenbosch (1955-1958) 
      en die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gestudeer, 
      waar hy sy doktorsgraad in Afrikaanse Taal- en Letterkunde verwerf het.  Hy was van 1963 tot 1965 kunsteredakteur van Die 
        Vaderland in Johannesburg. Daarna het ‘n uitgebreide 
        akademiese loopbaan gevolg by UPE, Rhodes en 
        die Universiteit van Natal (nou die Universiteit van 
        KwaZulu-Natal). Met sy aftrede in 1997 was hy hoof van die Departement 
        van Tale, Kommunikasie en Joernalistiek aan die Skiereilandse 
        Technikon.  
        De Vries is een van die voorste beoefenaars én 
        kenners van die kortverhaal in Afrikaans. Benewens verskeie eie bundels 
        is hy ook samesteller van 'n hele paar versamelings, onder meer die gesaghebbende 
        Afrikaanse kortverhaalboek Eeu. 'n Keur uit 
        sy werk deur André P Brink is in 1987 onder die titel Soms 
        op 'n reis uitgegee  
       Literêre bekronings: 1962: Reina Prinsen Geerligs-prys vir sy eerste drie 
        boeke
 1967: Eugène Marais-prys vir Vliegoog
 1974: Perskor-prys vir Briekwa
 1989: De Kat/Potpourri-prys vir Die bruid, 'n kortverhaal 
        wat ingesluit is in Nag van die clown
 Sy mees onlangse kortverhaalbundel, Tot verhaal kom, 
        is pas met die gesaghebbende RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk 
        bekroon. |