Chris
Barnard is op 15 Julie 1939 op Mataffin in die distrik
Nelspruit gebore. Hy behaal ‘n BA aan die Universiteit
van Pretoria en word daarna ‘n joernalis. Hy was
werksaam by koerante en tydskrifte wat Die Vaderland,
Dagbreek & Sondagnuus,
Die Brandwag en Huisgenoot
insluit. Daarna was hy uitgewer en sedert 1978 betrokke by die filmbedryf
as draaiboekskrywer en filmvervaardiger.
Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde
is monumentaal en word gekenmerk deur veelsydigheid: poësie,
romans, novelles, rubrieke, jeugverhale, kortverhale,
draaiboeke en radiodramas. Hy het verskeie pryse ontvang en is onder meer
twee keer met die gesogte Hertzog-prys bekroon.
Wat rolprente betref is Barnard en sy vrou Katinka
Heyns veral bekend vir Die storie van Klara Viljee
en Paljas.
Hy woon langs die Hartbeespoortdam en boer sedert
1994 deeltyds met lemoene en makadamianeute op Thulani.
|