Abraham
H de Vries is op 9 Februarie 1937 op Ladismith in die Kaap gebore.
Hy het aan die Universiteit van Stellenbosch (1955-1958)
en die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gestudeer,
waar hy sy doktorsgraad in Afrikaanse Taal- en Letterkunde verwerf het.
Hy was van 1963 tot 1965 kunsteredakteur
van Die Vaderland in Johannesburg. Daarna het
‘n uitgebreide akademiese loopbaan gevolg by UPE,
Rhodes en die Universiteit van Natal
(nou die Universiteit van KwaZulu-Natal). Met sy aftrede in 1997 was hy
hoof van die Departement van Tale, Kommunikasie en Joernalistiek aan die
Skiereilandse Technikon.
De Vries is een van die voorste beoefenaars én
kenners van die kortverhaal in Afrikaans. Benewens verskeie eie bundels
is hy ook samesteller van 'n hele paar versamelings, onder meer die gesaghebbende
Afrikaanse kortverhaalboek Eeu. 'n Keur uit
sy werk deur André P Brink is in 1987 onder die titel Soms
op 'n reis uitgegee.
Literêre bekronings:
1962: Reina Prinsen Geerligs-prys vir sy eerste drie
boeke
1967: Eugène Marais-prys vir Vliegoog
1974: Perskor-prys vir Briekwa
1989: De Kat/Potpourri-prys vir "Die bruid", 'n kortverhaal
wat ingesluit is in Nag van die clown
Sy mees onlangse kortverhaalbundel, Tot verhaal kom,
is pas met die gesaghebbende RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk
bekroon. |