Rudolf
Johannes van Niekerk (Dolf) is op 22 Februarie 1929 op Edenburg
in die Vrystaat gebore. Hy behaal ‘n BA aan die destydse Universiteitskollege
van die Oranje-Vrystaat en later ‘n Hons BA in Wysbegeerte
aan Unisa. In 1950 sluit hy hom by die SAUK
aan as omroeper/regisseur en debuteer drie jaar later in Standpunte
met enkele gedigte.
Hy begin om prosa te
skryf, benewens ’n verskeidenheid radiowerke wat
hoorspele, hoorbeelde en vervolgverhale
insluit.
Met die totstandkoming van die Departement van
Landbou se radiodiens in 1957 word hy radiobeampte by dié
Departement en later hoof van die radiodiens. Na ‘n uitgebreide
loopbaan word hy in 1978 direkteur van die Direktoraat Landbou-inligting
– ’n pos wat hy tot met sy aftrede in 1994 beklee.
Ondertussen begin hy weer studeer en behaal in 1967 die
MA-graad in Wysbegeerte met lof aan die Universiteit van Pretoria.
Die Eugène Marais-prys van die SA Akademie
is in 1963 aan hom toegeken vir die bundel novelles Skepsels.
Die SAUK se Akademieprys vir hoorbeelde word in 1965
aan hom toegeken vir die radioreeks Land van ons Vaders.
In 1971 ontvang hy die SAUK se Akademieprys vir hoorspele
vir sy hoorspel Kamer 99 en
in 1977 die ARTES-toekenning vir die beste radioteks.
In 1984 ontvang hy die Ruiterbeeld-toekenning van die
Federasie van Rapportryerskorpse vir die hoorspel Niemand
se dag nie en ander werke. In 1986 word die Nasionale Pers
se MER-prys asook die SA Akademie se Scheepersprys
aan hom toegeken vir die jeugverhaal Die Haasvanger.
|