Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole
Tweede verslag - SkryfNet V
Kirby van der Merwe
Klik telkens op die storie se titel om die verslag te lees:
"Madam, you must lie down" - Anna Kemp
"'n Ewige deel" - Riekie Lombard
"Goldfinger" - Liza Louw
"Elke vrou het 'n geheim" - Nicolene Prinsloo
"Tyd om te trek" - Karin Sennet
Ek wonder of die klein veranderings en die weglatings wel ’n verbetering
op die eerste weergawe is. Na my mening het dit die verhaal effens verskraal.
Byvoorbeeld, in die eerste weergawe
klink die stuk oor die sterwende pa so:
“Ek vra of hy graag weer sou
wou vlieg.
“Die vreugde aan vlieg is weg,”
sê hy. “Die vreugde aan eet is weg, die vreugde aan musiek luister
is weg.” Hy bly weer vir ’n lang ruk stil.
Hierdie huis is baie stil. ’n
Mens kan elke asemteug, elke sug, elke omdraaislag op ’n bed hoor.
My pa praat verder. “Die probleem
met musiek is dat ek nie langer die verbinding tussen die note verstaan nie.”
Sy oë is toe en hy lyk heeltemal uitgeput. Ná ’n rukkie fluister
hy: “Dit is oor my maag.”
Ek kan aan niks dink om te sê
nie. Hy begin meer reëlmatig asemhaal.
Dié aangrypende stuk is nou
gereduseer tot:
Ek vra of hy graag weer sou wou vlieg.
"Die vreugde aan vlieg is weg,"
sê hy.
Hierdie huis is baie stil. Ek is bewus
van elke asemteug, elke sug, elke omdraaislag op 'n bed, selfs van die sagte
gorrelgeluidjies wat sy ingewande maak.
Na 'n rukkie fluister hy: "Dit
is oor my maag."
(Daai sin oor die gorrelgeluidjies
wat sy maag maak, is gruwelik.)
Bogenoemde is een van etlike voorbeelde
waar die veranderinge aan die teks myns insiens die ritme en die genot van die
teks belemmer.
Hierdie verhaal is drasties herskryf – dit is nou ’n verhaal binne
’n verhaal – maar om enduit te boei, is daar verdere snoeiwerk nodig.
Om die verhaal meer pakkend te maak,
kan daar miskien begin word met dié paragraaf: “Wat skryf jy
so?” vra hy geamuseerd. Dié vraag is ’n goeie manier
om die leser by die verhaal te betrek, want dit skep onmiddellik spanning en
afwagting.
Myns insiens moet die vrou meer terughoudend
wees en nie sonder meer die storie na haar metgesel toe “stoot”
nie. Sy kan dalk in haar liggaamshouding en in woorde die man se aandag van
die stuk aflei deur te verwys na die poskaart en die landskap of die ander mense
rondom die tafel.
Die leser moet besef die stuk is nie
sommer net nie. Daar staan meer as wat daar staan. Mense is oor die algemeen
sku en terughoudend om dagboeke en hulle skryfpogings te wys.
Stylgewys sou dit raadsaam wees om die “geskrewe verhaal” te versnipper
en dit te onderbreek met die interaksie tussen die man en vrou en die ander
mense wat saam met hulle om die tafel sit.
Ek wonder ook of die man die storie
hardop lees. En wat is die vrou se gemoedstemming en liggaamstaal terwyl die
man lees?
“Die man” staan sentraal
in die verhaal. Maar wie hy is en wat sy rol is, bly onduidelik.
Daar moet gekyk word na styl en beelding:
“ ’n groepie ou bekendes
het by ’n straatkafee nesgeskrop – hulle lywe soos knoetsige eikebome
…” Die twee beelde is eintlik teenstrydig.
Dit is ook onduidelik wie in die slotsin
aan die woord is.
Vir Annie se verhaal geld dieselfde
voorbehoude en raad wat in die eerste ronde gegee is.
Enkele sinne is hier slim rondgeskuif of weggelaat sonder dat varsheid ingeboet
is.
Wat myns insiens in hierdie weergawe
kortkom, is die Zoeloe-meisie se “enkele woorde in Zoeloe” en wat
die oom aan haar vanuit die spens vra of sê of antwoord. Dáár
lê die ding.
In die vlietende interaksie tussen
die twee mense kan die hele kortverhaal eensklaps verhelder.
En laat die oom se vrou in die slot
praat. Sluit die verhaal met wat sy vir die werkers sê in “haar
vertroude stem, singend in die vreemde klanke van hierdie inheemse taal”.
Die doel van die verteller se droom
van die krokodilpoel en die “missiel” aan die “oorkantste
wal” bly vir my duister.
Maar behalwe vir klein stilistiese
“foutjies” is dit ’n goeie verhaal van ’n skrywer met
’n eie stem.
Die verhaal talm steeds te lank om aan die gang te kom.
Myns insiens moet die verhaal begin
met dié sterk paragraaf: “Die man in die hospitaalbed het eens
fris bruingebrande arms gehad waarop kaal meisies en slange getatoeëer
was. Nou is daar slegs gekrimpte inklyne oor.”
En wat het geword van die wonderlike
beeld van die blik met Baanbreker-koffie – vir baanbrekerboere? Bring
dit terug. Ook die volgende paragraaf van die vorige weergawe: “Sy het
in elk geval dinge wat moet klaarkom …” tot by “Bet glimlag
vir die naïewe prentjie.”
Oppas vir ’n te temerige toon.
Ook hierdie verhaal het heelwat skaafwerk
en stilistiese versorging nodig.
Wat is “oordring”?
Miskien moet die titel verander, want
soos die verhaal nou staan, beloof dit meer as wat die inhoud uiteindelik bied.
Hoe strook dit in elk geval met die pa wat sentraal tot die verhaal staan en
uiteindelik die persoon is wat die geheim bewaar?
Die slot oortuig steeds nie. Die vraag
bly: Wat is die groot geheim?
Vertrek kan nie teen die eerste weergawe, Tyd om te trek,
opgeweeg word nie.
Die verhaal is heeltemal herskryf
en dis eintlik (in inhoud, taal, toon en styl) ’n totaal nuwe verhaal,
met net die motief van die sloping/herontwikkeling van die plattelandse dorpie
wat behoue gebly het. Dus moet dit nou op eie meriete beoordeel word.
Waar die eerste weergawe lig en speels
sosiale kommentaar op kleindorpsheid lewer, is dié weergawe somber en
nabetragtend.
Die vertellerperspektief en tyd is
hier ’n probleem, omdat twee karakters aan die woord is.
Daar word te lank gepoer om aan die
gang te kom en die leser verloor belangstelling. Skep drama en afwagting.
Ek stel voor dat die verhaal met hierdie
reël begin word: “Jy moet gou kom, my kind …”
Laat Riana die leser inlig oor haar ma, Lillie, en laat die ma se gesprek in
Riana se kop afspeel terwyl sy op pad is Wilgerfontein toe om haar ma te help
met die pakkery. Of terwyl sy ná die tragedie in haar ouerhuis bestekopname
doen van ’n lewe wat was.
Laat sy in haar verbeelding sien hoe
haar bejaarde ma stoksielalleen moes gesukkel het om die bokse gepak te kry.
Dit sal myns insiens ook beter wees as sy “die tenger figuurtjie in die
pad” in haar geestesoog sien.
En dan moet die gegewe meer kreatief
verpak word: Die gedeelte wat begin by “Riana sien die groot advertensiebord
raak lank voor sy die flikkerlig aansit …” tot by “Sy kan
verstaan hoekom die ontwikkelaar genoeg potensiaal daarin raakgesien het …
die hele straat se huiseienaars uit te koop” moet met die intrapslag genoem
word.
Daar is heelwat skaafwerk/slypwerk
nodig ten opsigte van taal en styl.
(Leë vakuum; berge wat hul
lende ontbloot; die donkerte in Lillie se hart word al groter; sy voel hoe die
week se gejaag loskom in haar, is enkele voorbeelde ter illustrasie.)
Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Kirby van der Merwe se
eerste verslag
Klik hier vir Herman Wasserman se
eerste verslag
Klik hier vir Herman Wasserman se
tweede verslag
Klik hier om die verhale te lees
LitNet: 21 Julie 2005
Wil jy reageer op SkryfNet V? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
boontoe / terug
|