SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

'n Ewige Deel

Riekie Lombard

Annie was van kleins af doodbang vir spinnekoppe. Dalk het dit iets te doen gehad met die klein groen geboutjie, netjies eenkant in die hoek van die plaaswerf.

Die houtdeur het altyd in onweer vasgehaak en kon klein mensies óf binne, óf buite hou. Die skemerdonkerte, die reuk van ontbinding wat deur alle ontsmettingsmiddels kon dring, die te groot houtsitplek, die taai, geel krul vol vlieë wat van die dak af hang, maar veral die beweeglike langbene - hordes van hulle - dit alles was deel van die daaglikse besoeke. Hulle was in die hoeke, agter die deur, teen die mure op, langs die ketting af - orals, soos spookasem. Dan was daar ook nog die vrees vir skrik-en-inval en die oorhaastigheid met dinge wat eintlik tyd neem.

Sy was egter banger vir die duiwel.

Elke keer as Ma of Katriena dreig: “Die duiwel gaan jou kom vang!” oor stoutigheid, het sy in die honde se lêplek onder die granaatbos gaan wegkruip, sodat hy haar nie kon sien nie. Sy het asem opgehou met ’n hart wat uit haar keel wou spring en gewag vir die groot swart en geel botterspinnekop om bokant haar vlegsels tot bedaring te kom. Die oranje winterskroon van die bos en die fyn blaarkombers onder haar, was al vertroosting.

Totdat Ouboet se Sondagskooljuffrou op ’n dag alles beduiwel het.

“Die duiwel is orals, weet alles en kan orals sien,” het sy met haar vinger in die lug gesê, amper nes Oudominee.

Annie se skuilplek was van alle waarde ontneem. “Sal ’n toe deur help? Wat van onder die bed, of in die kas? Kan hy in die donkerte ook sien?” het sy gewonder en die res van die les glad nie gehoor nie.

Die volgende Vrydag het sy nie soos gewoonlik saam ingegaan toe Ma Ta' Lettie se kraakvars koolstoofbrode gaan afhaal nie. Die trekpleister daar, die gekuier voor die stoof en Janneman se warm teeslurpery uit die piering, was vergete. Sy moes dringender sake onder die ou eikeboom uitpluis.

Sirkels akkers: Waar is die Hemel orals en hoe groot is Orals?
Rye akkers: Hoe lank is die Ewigheid en wat kom eerste? Vandag? Eendag? Gister? Môre?

Gister, vandag en môre het lank voor Grootskool in plek geval, maar die res het haar bly ontglip. Selfs toe sy later al Katriena se kinders maak sit en vir hulle uit Oupa se Hollandse Bybel Sondagskool gehou het, het hulle ook nie woorde soos “Uitspansel” verstaan nie. Hulle het haar net verskrik sit en aangaap - en die oudste was baie slim.

Wat die woord “Ewigheid” kon beteken, het wel een wintersoggend meer gestalte gekry.

Ma was een van die blommerangskikkers van die Gemeente en is elke jaar laat roep om Tant Margaret se rose te snoei. Haar grou-groen Victoriaanse sinkhuisie het, net na ’n lappie kosmos, tussen die wilgers by die drif gestaan.

Sy het Ma gewoonlik vroegoggend al by die hekkie staan en inwag met haar stywe bollatjie en oprygsteweltjies. Daar gekom, het sy kersregop oor die ryp geknars tot by die roostuin, haar benerige hande gewring en met angstige beweginkies en ’n stemmige gekopknik vir Ma beduie wat sy gedoen wou hê. Die stekelrige takkies is, soos Ma snoei, dá-dé-lík opgeruim. Sy had ’n Hoogduitse stamboom en het nie ’n morsigheid op die werf verdra nie.

Die kinders moes buite bly as sy en Ma daarna in die skemer voorkamer tee drink. ’n Gevensterloerdery deur die swaar fluweelgordyne, of ’n gehardloop naby die All Gold-stroopblikvarings is ook nie geduld nie. Die sterk, bitter blaartee met net twee blokkies suiker was vir Ma die swaarste, die fyn Engelse porselein ten spyt. Sy het drie groot lepels suiker geneem en was die oorvloed plaasmelk gewoond. Die stywe ritueel is gewoonlik kort duskant Oggendgodsdiens beëindig en dan het Tant Margaret almal weer terug hekkie toe gemarsjeer.

Dit was by so 'n geleentheid wat een van haar sewe kleinseuns Annie iets in die donkerte van sy rondawel wou “wys”.

Annie het, kop onderstebo, in die oggendsonnetjie op die stoeptrappies sit en wag vir Ma. ’n Skoon motbolletjiereuk het deur die sifdeur gesypel. Sy het luiweg met ’n grassie in die sand langs die trap gekrap, maar dit was die verkeerde tyd vir mierleeus. Die stilsit was nie maklik nie.

Hy het haar, arms oor die bors gevou, eers deur die vyeboom staan en betrag, voordat hy langbeen nader gestap het.

“Hei! Wil jy iets snaaks sien?”

Haar kop het opgeruk van skrik. ’n Groot seunsfiguur, duime in die gordel gehaak, het oor haar getroon. Sy moes haar oë op skrefies skroef om te kon sien wie dit is. Sy ligblou trui was te klein en ’n skurwe elmboog het deur een gat gesteek.

“Wat?”

Hy het nie geantwoord nie en net met sy kop rondawel se kant toe beduie. 'n Windmakerige, swart Elviskuif het oor sy een oog geval. Die oog wat wel haar blik vir ’n oomblik gevang het, was ouwêrelds, amper soos in die prentjies van die Kinderbybel.

“Kan nie sê nie, kom kyk.”

“Meisies mag nie in seuns se kamers ingaan nie,” het sy snipperig gesê, haar groot linte agtertoe gestoot en uit sy skaduwee geskuif. Die oggendluggie het nog gebyt. “Dis nie ’n kamer nie. Dis ’n rondawel. Toe, kom kyk,” het hy oortuigend geantwoord en sonder meer omgedraai. Sy het traag opgestaan, haar wit kniekouse opgetrek, die sitvlak van haar blou blommetjiesrok afgestof en agter hom aan gedrentel. Hy het oordrewe hoflik by die rondawel opsy gestaan en weer vir haar kop geswaai deur se kant toe.

Die drif se koue het met die intrapslag uit die sementvloer opgeslaan. Sy het onseker vasgesteek, haar trui stywer om haar gevou en senuagtig aan haar wit kragie gevroetel. Reg oorkant haar het ’n ysterkatel strak onder ’n almanak gestaan. Die koedoevel voor die bed was feitlik sonder hare. Langs die bed was ’n donker bliktrommel met ’n gaslamp daarop en ’n paar verslete skoene het voor die houthangkas gestaan. Alles het droewig in die muwwerige vertrekkie gelyk. Links van die deur, tussen die lae balke, het sy boonop ’n groot spinnerak gewaar. Sy het ’n tree vorentoe gegee en gewonder waar sy boeke was.

Hy het die deur behendig agter haar toegeswaai, nog voordat sy kon uitvra. Sy dog eers hy terg net, soos Ouboet, maar toe sien sy wat hy wou wys. Sy gordel het met ’n klapslag op die sement geval. Daar was geen muur om na weg te kyk nie. Sy het deur toe gemik. Die sleutel was weg. Dit was net sy en die spinnerak. Sy was vas.

Annie se pleit-dreigery oor wat haar broer alles met hom sou aanvang as hy uitvind, het in ’n tydlose put geval. Sy het, met haar rug teen die deur vasgedruk, desperaat oor alles waaraan sy kon dink gepraat: van die wilde perde wat Ouboet inbreek, die boelie by die skool wat hy vir eens en altyd goed opgefoeter het, tot sy springery oor die diepste kuilvoergat.

’n Dik stilte het in die lug bly hang.

Sy het desperaat in haar gedagtes rondgekrap en bly praat. Sy hande het effe verstil toe sy by die storie van die wilde nefies wat op die Boys Scouts met windbukse geskiet het kom - daar was darem eens op ’n tyd ’n Boere-oorlog in die geweste. Sy het moed geskep en verder aangedik:

“Hulle tente was vol gate geskiet en een ou is … is toe hy weghol … in … in sy maag geskiet … so … so oor die rivier.” Sy was op daardie punt nie seker of dit gepas was om oor hulle skietvermoë te spog nie, maar het nietemin deurgedruk.

“Sy derms het tot op die grond gehang enne … enne dit … dit het die hospitaal die hele aand geneem om … om … alles terug te sit … Ja-a … ja-a.” Haar stem was dun, haar woorde op en sy kon nie asem kry nie. Haar hart het in haar kop begin klop. Haar blik was vasgenael op die spinnerak, net om nie te sien nie.

Hy het lank - hand teen die deur - oor haar gebuk en sy asem bietjie vir bietjie oor haar kroontjie uitgeblaas. Die tyd het stil gaan staan en sy kon nie roer nie. Na ’n ewigheid het die stram slot uiteindelik stadig oop geklik-klik. Die sonlig het in haar gesig ontplof. Sy het by die deur uitgesteier en blindelings koers gekies huis toe; eers begin huil toe sy deur die laaste doringdraad klim en sien sy is in die kwaai bul se kamp.

Ma was baie kwaad. Sy was met die motor daar en hulle het haar lank gesoek. Tant Margaret het haar Oggendgodsdiens gemis en was ewe ontstig. Meneer het van g'n sout of water geweet nie.

Donker wegkruipplekke en akkers was van toe af nooit weer dieselfde nie, maar sy het wel die woord “Ewigheid” beter begin verstaan.

Ma het bly vra: “Maar waar was jy, kind?” maar Annie het nie woorde gehad nie.

Die Susters was daarna maar bra stywerig met Ma. Die kwessie van Die-Ontwrigting-van-Tant-Margaret-se-Oggendgodsdiens is selfs by Pa se ouderlingsvergadering ter tafel gelê (’n paar van die Ooms het Weduwee Margaret se belange op die hart gedra en swartbittertee leer drink). Dit het Pa ’n goeie deel van die aand geneem om die item weer van die agenda geskrap te kry, sodat die Broeders kon aangaan. Hy het die aand kort duskant melktyd eers ingekom en moes toe nog ’n koei gaan help kalf. Sy wenkbroue het ook vir lank daarna nog kwaai gestaan.

’n Groot stilte het tussen hulle kom woon. Sy is weg koshuis toe, sonder dat hulle ooit weer rêrig kon praat.

Die mense het net sy broer, wie ook later deur die Welsyn by Tant Margaret geplaas is, met bedrog gevang. Die ander vyf is deur hul alleenma met bietjie spaghetti, All Gold-tamatiesous en baie liefde grootgemaak. Met hulle was daar nie fout nie.

Annie het wel hier en daar ’n kêrel gehad, maar nooit tot trou gekom nie. Sy het op ’n stadium as onderwyseres na 'n dorp met baie eikebome verhuis. Daar het sy elke herfs sakke vol blare opgehark, ook dié van bure, maar die akkers altyd gelos. Dit het egter min te doen gehad met die rondawelepisode. Daar was dieper sake wat sy nog moes uitpluis.

’n Jong dominee sê toe op ’n keer: “Die Hemel en Hel begin nie eers as mens fisies dood is nie. Die Ewigheid is nóú reeds met ons, Broers en Susters! Dis deel van die hier en nou ook, in dit wat tussen jou en God, tussen jou en ander en tussen jy en jouself bestaan.” Hy het vir effek stilgebly en toe vervolg: “Maar sekere maniere van dink en doen, sekere persepsies moet eers sterf vóórdat daardie kwaliteit omgang - Hemel op aarde - met God, met ander, met onsself moontlik is. Ons moet besin oor ons gesprek met die lewe: of ons met liefde en dankbaarheid, of met wrokkerigheid, foutvinderigheid en haat omgaan - wat werklik aan die einde van die dag saak maak.”

Die gemeente het ongemaklik rondgeskuif. Daar was hoeka half ’n rasseherrie weer los en onenigheid oor die basaar; prokureurs het gedreig met hofsake oor vertroulike inligting oor ’n affair wat uitgelek het na berading - niemand in die dorp het konsuis geweet nie en niemand trap ooit skeef nie. Agter die gebrandskilderde venster van die Christuskind het eiketakke gemaal in die wind.

“En gemeente, nie alle godsdienstige praktyke is heilig nie. Nie alle sosiaal aanvaarde handelinge is helend of billik nie. Nie alle sogenaamde waarhede is bevrydend nie.” Hy het sy oë oor die gemeente laat dwaal en sy stem verhef.

“Dit self is partykeer die duiwel in ons midde, wat ons vrese voer, nie die mense wat ons as onwaardig uitsluit of verstoot nie. Die hel sit partykeer in ons eie kop en handeling.” Buite het die hemel oopgemaak en trane van eeue se verontregting uitgestort. Hy moes die laaste deel uitroep om gehoor te kon word.

Sy uitsprake het ’n groot polemiek ontketen en die gemeentetee het behoorlik gegons. Die Nuwe Suid-Afrika, die hoë mure om algar se huise en die verval van die Staat is een ding, maar die jong predikantjies met hulle post-moderne idees waaroor mens so dubbeld moet dink! Nee wat, al die veranderinge raak darem nou te veel. Annie het net sy hand dankbaar gedruk en uitgeglip in die reën.

Die verwoestende Kaapse winterstorm het eers die volgende Saterdag in stilte verval. Die hele dorp was in ’n blinkskoon blaartapyt uitgelê. Annie het al die blare, takkies én akkers uit die oprit opgevee, haar hare losgeskud en met granaatpitwange en vol teue lug afgestap tot in die holte van die dorp.

’n Paar vriende het reeds om ’n tafeltjie by ’n straatkafee nes geskrop. Hulle silhoeëtte was soos knoetsige eikebome teen die helderblou winterslug afgeëts. Hande het beduie en ’n gelag het sporadies opgeborrel. ’n Geurige koffiereuk en ’n paar omhelsings het Annie verwelkom; die kring het raserig groter geskuif. Toe is daar onverpoos verder geklets oor wêreldsake, boeke, die internet, kinders in Londen en ander verliese … en sommer oor mooi dinge ook.

Hulle het saam verlore geraak in die tydlose ervaring.

Buite dié stukkie geborgenheid het ’n stom sekelmaanman sy trollie stadig straataf gestoot, al langs die 4X4’s verby. Sy een oog was leeg op die pad voor hom, die weerlose eensaamheid van die ander verskans agter ’n pap, grys kuif. Sy reëndeurdrenkte jas het teen die oggendson opgewasem. Hy het meer as ooit tevore soos ’n gloeiende figuur uit die Kinderbybel gelyk, maar niemand het hom raakgesien, of binnegenooi nie.



LitNet: 01 April 2005

Wil jy reageer op SkryfNet V? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.