SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Tweede verslag - SkryfNet V

Herman Wasserman

Klik telkens op die storie se titel om die verslag te lees:
"Madam, you must lie down" - Anna Kemp
"Om te kan deel" - Riekie Lombard
"Goldfinger" - Liza Louw
"Elke vrou het 'n geheim" - Nicolene Prinsloo
"Vertrek" - Karin Sennet

"Vertrek", deur Karin Sennett

Hierdie weergawe is ‘n radikale herskrywing van die eerste verhaal, wat toe “Tyd om te trek” geheet het. Eintlik is dit ‘n totaal nuwe verhaal as die vorige weergawe, met net die basiese gegewe – die sloping van huise op ‘n plattelandse dorpie om plek te maak vir ‘n nuwe Toskaanse ontwikkeling – wat dieselfde gebly het.

Dit is ‘n baie groot verbetering. Weg is die gemoedelike, anekdotiese verteltrant, en in die plek daarvan het gekom ‘n hartseer elegie aan ‘n plek, ‘n leefstyl, ‘n boel herinneringe en, letterlik, ‘n lewe. Die nuwe titel is ‘n goeie keuse, dit verkry nou ‘n dubbelsinnigheid of meerduidigheid wat dui op die verskillende vlakke van afskeid neem waarvan daar in die verhaal sprake is.

Die kern van die verhaal is die verbintenis tussen mens en plek wat oor meer gaan as verknogtheid aan ‘n huis, ‘n dorp, selfs aan ‘n lewenstyl – die verhaal bied die ontnugterende insig aan dat afskeid en vertrek (om by Karel Schoeman te leen) eintlik ‘n afskaduwing is van die groter verhuising wat vir ons wag, en dat die vashou aan die bekende ‘n poging is om die onafwendbare gang van die lewe te probeer vertraag. Dit word mooi gestel in die sewende paragraaf:

“Raak aan die portret van haar pa en ma op hul vyftigste troudag, net voor hy die hartaanval gekry het; raak aan die lappies op die leunstoel wat Ouma nog gehekel het, maak seker dit is nog alles daar, dit het nie verander nie, iets is nog dieselfde al is jyself lankal nie meer dieselfde nie.”

Die tweede sin in die daaropvolgende paragraaf verwoord ook die rigtingloosheid van die fokaliserende karakter netjies: “Vyf-en-veertig jaar se goed in hopies te sorteer, kinders toe, welsyn toe, aftree-oord toe, waarnatoe.”

Hierdie twee paragrawe word die spil waarom die verhaal draai, en daar kan dalk nog ‘n bietjie hierop uitgebrei word. Terwyl dit die ouer vrou, Lillie, is wat letterlik van haar huis (en veel meer) afskeid neem, behoort die sentrale krisis in die verhaal eintlik aan haar dogter, Riana. Dit is sý wat gekonfronteer word met die besef dat haar ma se verhuising eintlik maar ‘n teken is dat sy self onherroeplik verander het, dat sy nie meer iemand se dogter is nie, maar nou die versorger geword het – die een wat haar ma moet help verhuis, wat in die slotparagraaf haar ma se goed uitdeel aan kinders en so die moederlike rol oorneem. Van hierdie oorgang by die fokaliserende karakter kan nóg meer gemaak word.

Een van die moeilikste besluite wat ‘n kortverhaalskrywer moet neem, is hoeveel inligting om weg te gee in die slot en hoeveel om terug te hou. Die slot moet ‘n sleutel bied tot die verhaal, maar terselfdertyd ook nie te veel weggee nie. Ek dink die slot in hierdie verhaal oorskry sy merk net effens – die paragraaf wat begin met “Uit eerbied …” en eindig met “…verby was.” kan geskrap word. Om die tydsverloop aan te dui, kan die slotparagraaf dan dalk begin met: “Daarna het die dorpskinders …” of: “Na die begrafnis het die dorpskinders …”

Daar is enkele hinderlikhede: die geykte “donkerte in Lillie se hart” en “asof gehipnotiseer”; mooiskryf-beelde wat nie heeltemal sin maak nie (berge met “hul lende ontbloot” en “jou innooi met laat herfsspatsels aan die bome”) en die toutologie “leë vakuum”. In die derde laaste paragraaf sal dit meer treffend wees om te wýs hoe geskok en paniekbevange die werkers en stootskraperdrywer is as om dit mee te deel – hoe weet Riana dat hulle geskok en paniekbevange is?

In die geheel gesien, is hier egter merkwaardige vordering. Die verhaal het nou ‘n hart gekry. Welgedaan.

"Madam, you must lie down …" deur Anna Kemp

In die vorige verslag het ek gewys op die oopheid van hierdie verhaal, en genoem dat ‘n goeie kortverhaal ‘n geheim het wat hy teësinnig met die leser deel. Ek het ook opgemerk dat hierdie driedelige verhaal wel enkele elemente het wat die drie dele met mekaar skakel, maar dat die verbande nog te onduidelik is en dat die verskillende fokuspunte duideliker op mekaar kan inspeel ten einde mekaar aan te vul. By die herlees van die (hersiene) verhaal is die verbande tussen die verhaaldele vir my nog steeds nie duidelik genoeg nie. Daar is interessante idees, en vermoedelik is daar in die spanning tussen estetika, geweld en teologie ‘n deurlopende tema. Hierdie gemeenskaplikheid is egter nog te ver onder die oppervlak, met die gevolg dat die drie dele uitmekaar beweeg eerder as na mekaar toe. Dalk kán hierdie drie dele nie na mekaar toe gedwing word nie, en is hierdie tog eerder die begin van ‘n langer verhaal in romanvorm, waar die onderskeie verhaalelemente meer sinvol ontwikkel kan word. Vir die verhaal om as kortvorm te slaag, sal daar ‘n sterker samehang bewerkstellig moet word – sonder om die oopheid prys te gee. Dis ‘n delikate balans, maar in hierdie stadium hel die verhaal nog te veel oor na die oopheid en is daar te min van ‘n samehang.

Op ‘n meer tegniese vlak sou ek ook voorstel dat die eerste gedeelte van die verhaal, wat handel oor die rooftog in die deurnagwinkel, in sy geheel in die teenwoordige tyd geskryf word. Dit sal die spanning verhoog. Dit is onduidelik waarom daar in die huidige weergawe oorgeskakel word van die verlede tyd na die teenwoordige tyd.

"Om te kan deel", deur Riekie Lombard

By die lees van die eerste weergawe van die verhaal het ek opgemerk dat hier te veel verskillende verhaalelemente is waarvan dit nie duidelik is dat hulle op mekaar inspeel of met mekaar saamhang nie – dat die fokus van die verhaal versplinter is en dat dit nie duidelik is wat presies die verhaal wil sê nie. Ek is bevrees hierdie hersiene weergawe het dinge nie vir my veel duideliker gemaak nie. Die nuwe inleiding en slot waarmee die vertelling geraam word – ‘n man en vrou wat om ‘n tafeltjie by ‘n straatkafee sit – maak dit duideliker dat dit hier gaan om ‘n kindertyd-herinnering wat neergeskryf word, maar die strategie werk nie heeltemal nie en doen effens geforseerd aan. Daar is darem net ‘n te groot sprong tussen die straatkafee en die plaaswêreld, en die stukkie dialoog oor kinders wat ver is, Gaudi se argitektuur en die poskaart uit die vreemde is verwarrend omdat daar geen verband tussen Bertie se reise en die herinnering aan die plaaswêreld van toeka aangetoon word nie. Hierdie weergawe van die verhaal stel ook ‘n nuwe karakter, ‘n swart kind met die naam Welcome, bekend. Hy beweeg in en uit die verhaal sonder dat sy verhouding met die ander kinders behoorlik ontwikkel word. Naas die sentrale gebeurtenis tussen Annie en Simon, is daar nou ook ‘n bykomende episode waar Simon in die rivier beland en byna verdrink, en deur Welcome gered word.

Terwyl die verhaal kennelik handel oor die verlies aan onskuld en die wreedheid van kinders teenoor mekaar wat gewortel is in hul onderskeie vrese en alleenheid, is dit steeds te moeilik om behoorlik kop of stert uit te maak van waaroor die verhaal in die eerste plek gaan. Die fokus is steeds te versplinter, daar is te veel flardes herinneringe, daar is te veel betekenisvolle momente wat aangeroer en dan laat staan word.

Ek sou aanbeveel dat daar eerder gekonsentreer word op een van hierdie gebeurtenisse, en dat die karakters se verhoudinge, die sentrale figuur (Annie) se gewaarwordinge en die betekenis van hierdie gebeure vir die karakters se latere lewens aangeroer word deur op hierdie enkele moment te konsentreer. Daar moet besluit word op ‘n enkele fokuspunt, en hierdie gebeurtenis moet duideliker uitgespel word. Die verhaal is steeds te kripties, en die leser sal nog inligting moet ontvang voordat hy/sy iets sinvols uit die vertelling kan haal.

"Elke vrou het 'n geheim", deur Nicolene Prinsloo

Die nuwe weergawe van die verhaal is veel hegter en gebruik suggestie baie beter. Reeds die eerste sin van die verhaal stel ‘n spanning aan die orde, omdat dit die leser voorberei daarop dat Bet iets te wete gekom het wat sy wil ontken. Die spanning word verhoog deurdat die persoon op wie sy aangewese is om hierdie inligting te verifieer, nie praat nie – die beskrywing van haar beweginglose, sterwende pa is tegelyk roerend en skokkend. Die verhaal slaag goed daarin om hierdie spanning vol te hou tot op die laaste oomblik – die geheim wat aan die hart van die verhaal lê, word letterlik eers in die laaste sin meegedeel.

Hierdie weergawe van die verhaal brei aansienlik uit op die karakter van Bet se pa, en ons kom meer te wete oor sy verhouding met Bet en met sy vrou. Dit lyk asof die vrou wat Bet in die foto ontdek haar werklike ma is (wat sal verklaar hoekom haar geboortedatum verander is toe haar pa hertrou het, sodat dit moes lyk asof sy tweede vrou Bet se biologiese ma is). ‘n Alternatiewe verklaring sou moontlik kon wees dat Bet se pa se tweede vrou wel Bet se ma is, maar dat die bestaan van sy eerste vrou vir haar geheim gehou is. Hoe dit ook al sy, die verhaal swyg oor potensieel die mees interessante verhouding van die verhaal, naamlik Bet se verhouding met die vrou wat sy geglo het haar ma is. Hoe het die geheim wat hierdie vrou haar lewe lank gekoester het (en waarna die titel verwys), haar verhouding met Bet beïnvloed? En as “elke vrou” ‘n geheim het, soos die titel beweer, wat is Bét se geheim? Hoe werp haar ontdekking van die vrou in die foto lig op haar gevoel jeens haar pa? Hoe bied hierdie ontdekking ‘n verduideliking vir die spanning in die huis waarin Bet grootgeword het, en hoe voel sy nou daaroor? Hoekom wil sy so graag hê dat dit nie waar moet wees nie – omdat sy eerder haar ma se kind as haar pa se kind wil wees?

Die verhaal kom naby daaraan om van hierdie antwoorde te suggereer, maar dit sê net-net nie genoeg nie. Dit beteken nie alles moet uitgespel word nie – die verhaal het reeds ‘n goeie interne spanning wat behou moet word. Maar Bet se ontdekking van die foto bring aan die lig dat daar al die jare ‘n geheim in hul gesin was. Ten einde hierdie ontdekking meer te maak as net ‘n verrassing aan die einde van die verhaal, ‘n soort knal-einde wat sigself nie leen tot ‘n herlees nie omdat die fut van die verhaal dan uit is, moet daar meer gemaak word van die wending wat hierdie ontdekking meebring in Bet en hoe dit haar siening van en verhouding met haar sterwende pa en haar oordeel oor sy nalatenskap beïnvloed. Dan sal die verhaal se geheim werklik funksioneel word. Hierdie weergawe van die verhaal is reeds ‘n baie groot verbetering op die vorige een. Deur nog fyn skaafwerk en enkele klemverskuiwings kan dit ‘n baie interessante verhaal word.

"Goldfinger", deur Liza Louw

Die hersiene weergawe van die verhaal het al heelwat gewen aan inkorting – die oordadige beskrywings van die eerste weergawe is weggesnoei, onnodige inligting is weggelaat en die objektiviserende verwysing na “werfhulpe” is vervang met meer spesifieke naamgewing (hoewel die beskrywing van Ntombi op die laaste bladsy iets weg het van ‘n clichématige eksotisering).

‘n Interessante byvoeging in die verhaal is ‘n verwysing na die Amerikaanse president John F. Kennedy en die Kubaanse missielkrisis, die nuusgebeure waarna die mans oor die radio luister na aandete. Met die eerste oogopslag klink dit na ‘n onnodige datering van die verhaal, maar wanneer Marietjie later ook droom van ‘n missiel, word dit duidelik dat hier ‘n skakel gelê word tussen erotika en geweld, en die ooreenkoms tussen die falliese piesangs en die (met ‘n bietjie verbeelding …) falliese missiel verplaaslik (in meer as een sin van die woord) die dreigende internasionale krisis na die plaasomgewing. Deur hierdie eenvoudige verwysing het die verhaal heelwat trefkrag gewen. Ter sprake is nou nie meer net die verband wat tussen erotika en geweld gelê word nie (die suggestie dat Marietjie se oom sy magsposisie misbruik om seksuele gunste/dienste by een van die werkers te kry), maar ook die groter politieke omgewing van die 1960’s wat neerslag vind in die Suid-Afrikaanse plaaswêreld. Die titel se dubbelsinnige verwysing – behalwe na ‘n soort piesang verwys die naam Goldfinger ook na ‘n James Bond-film – sluit nou ook oulik aan by die Koue Oorlog-milieu. Hierdie verwysing na Kennedy kom egter effens as ‘n verrassing, omdat daar tot op daardie oomblik niks in die verhaal is wat dit binne die 1960’s situeer nie. Hierdie tydsgees kan moontlik beter geskets word uit die staanspoor deur klein verwysings wat die tydperk reeds kan verklap.

‘n Verdere interessante wending in hierdie nuwe weergawe van die verhaal is die verwysing in die slotparagraaf na die vertellende karakter se tannie wat met die paksters Zoeloe praat, en die suggestie kort vantevore dat haar oom ook in sy monotone stem vir Ntombi iets “onverstaanbaars” sê (dus waarskynlik ook in Zoeloe). Die feit dat die “onderdrukkers” binne hierdie opset (‘n politieke lesing wat veral genoodsaak word deur die aktivering van die politieke diskoers rondom die Koue Oorlog, maar uiteraard ook deur die gegewe van die boer se seksuele verhouding met sy swart werker) ook in ‘n “inheemse” taal praat, bring iets na vore van die paradoksale aard van die koloniale verhouding. In die postkoloniale literatuurteorie word veel gemaak van die kombinasie van begeerte en onderdrukking, die wedersydse aantrekking én afstoting tussen koloniseerder en gekoloniseerde, wat die koloniale verhouding kenmerk as ‘n ambivalente een wat die kiem van sy eie ondergang in homself huisves. Die nuwe betekenislaag wat in hierdie hersiene weergawe van die verhaal toegevoeg word deur die verwysing na Kennedy, maak so ‘n lesing moontlik, en lig die verhaal na ‘n vlak waar die spesifieke voorbeeld van begeerte en geweld ‘n afskaduwing word van veel groter spanninge in die land en in die wêreld. Dit is ‘n wins vir die verhaal, maar soos hier bo genoem, kan hierdie verwysing beter voorberei word deur die verhaal uit die staanspoor duideliker te plaas binne die 1960’s.

In die vorige kommentaar het ek genoem dat die slot van die verhaal te veel uitspel. Die hersiene slot is nou egter miskien net effens te vaag, en die seksuele spanning tussen die oom en Ntombi kan moontlik met ‘n enkele sin meer beklemtoon word. Dikwels moet ‘n mens maar verskeie weergawes van ‘n slot beproef totdat jy op die regte balans afkom, waar nóg te veel, nóg te min gesê word.

Hierdie weergawe van die verhaal is reeds ‘n groot verbetering. Met effense skaafwerk kan hierdie ‘n sterk verhaal wees.



Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Kirby van der Merwe se tweede verslag
Klik hier om die verhale te lees


LitNet: 21 Julie 2005

Wil jy reageer op SkryfNet V? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.