SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Madam, you must lie down …

Anna Kemp

Een

Net na agt op ’n Maandagaand in Junie 2003 het ek na ’n deurnagwinkel by die Shell-garage gery om sigarette vir myself en roomyse vir my twee kinders te koop. Die garage is minder as ’n kilometer van ons huis af, en ek is gewoonlik binne ses minute terug. Ek het geparkeer en in die winkel ingeloop, agtertoe waar die roomyse is. Ek kon nie die Magnum Coffee Break kry wat my seun wou hê nie, en het gestaan en wonder wat anders hy sou eet. Uit die hoek van my oog het ek ’n man na my kant toe sien loop van die voorkant van die winkel af. Ek het vlugtig na hom gekyk, en toe weer na die roomyse voor my. Hy het steeds doelgerig op my afgeloop, en ek het weer opgekyk en gemerk hoe rooi sy oë is. Hy was feitlik teenaan my toe hy sy hand onder sy trui indruk en iets uit sy belt trek. Tot my verbasing sien ek dat dit ’n pistool is, en hy druk dit teen my voorkop vas. Ek hoor hoe hy dit oorhaal en hy sê, madam, you must lie down, you are going to sleep tonight.

Ek dink, werk saam, moenie oogkontak maak nie, en ek gaan lê op die vloer langs die roomyskas, met my arms uitgestrek voor my, soos ek mense in films dit sien doen het. Ek dink, bad timing, baie bad timing.

Die man loop rondom my en kom staan by my regterhand waarmee ek my beursie en motorsleutel vashou. Hy vat my beursie, sien die sleutels, en sê, where’s your car, where’s your car, where’s your car. Outside, sê ek, sonder om op te kyk, my car is outside, it’s the small white one outside. Hy trek my aan my mou op en sê, come, show me your car. Ek dink, hy vat nie die motorsleutel nie. Hy sê weer, show me the car, come. Ek dink, hierdie hele fokop, en dit vir twee roomyse en ’n pakkie sigarette.

Hy trek my na die toonbank toe terwyl hy die pistool teen my slaap hou. Nou eers sien ek die man wat op die vloer lê bo-op ’n klein dogtertjie in pienk nagklere; en die wit van die oë van ’n ander man wat ook daar lê en probeer oploer na my sonder om sy kop te lig.

Die man met die pistool trek aan my mou, come, come, you are coming with us, you are coming with your car. Alle kleur verdwyn uit my omgewing. Dit is baie baie sleg, die feit dat hy sê you are coming with us. Ek loop in ’n swart-en-wit tonnel in. Ek dink aan ’n kollega van my man, Soon, wat ’n paar jaar gelede gehighjack is. Hy is gemartel, dwarsdeur die nag. Sy vingernaels is opgelig, sommige was uitgetrek, toe hy dood die volgende dag op ’n treinspoor in Pinetown gevind is, met ’n skoot agter deur sy kop. Ek dink, die teleurstelling, die verskriklike teleurstelling. Nog nooit in my lewe het ek so ’n gevoel van teleurstelling gehad nie.

Die man met die pistool pluk my na die deur van die winkel. Ek hoor ’n hoflike stem sê, you can take my car, but I am not coming with you. I’ve got a child. Hy trek my buitentoe, come, you are coming with us. Voor die deur staan ’n 4X4-dubbelkajuitbakkie met getinte vensters en luier. Ek hoor harde stemme in die bakkie. Ek sê weer, you can take my car, but I am not coming with you, I’ve got a child. Ek dink, dis ’n fout, ek het twee kinders, hoekom sê ek dit?

Ek vermy steeds oogkontak. Gewapende rowers wil nie ooggetuies hê nie. Ek dink aan ’n ander kollega van Soon wat omtrent tien jaar gelede vermoor is. Sy oë is uitgesteek, want daar is ’n geloof dat die laaste persoon of beeld wat voor ’n sterwende se oë is, vasgevang word op die polisiefoto’s van die misdaadtoneel. Slagoffers sonder oë word dikwels gevind.

Iemand skree uit die bakkie vir die man met die pistool. Hy skree terug. Iemand skree weer, harder. Die man los my mou, en beduie met die pistool, binnetoe. Okay, okay, go inside, go inside, go inside and lie down, go inside! Ek struikel terug in die winkel in en gaan hurk-lê agter die rak verste van die deur af. Ek maak oogkontak met die twee mans op die vloer - die kind se kop is weggedraai, en die man wat oor haar lê hou sy hand oor haar oë. Ek sien ook ’n kassiere agter die toonbank verskyn. Sy waarsku ons om stil te lê, they sometimes come back. Ek lê doodstil. Dan gaan die pastei-oond agter my se alarm af, piep-piep, piep-piep, piep-piep. Ons almal ruk, asof mense na ons skiet met outomatiese gewere.

Die eienaar, of bestuurder, ek is nie seker nie en dit pla my dat ek nie weet nie, storm in. Die jong kassiere het dit reggekry om hom en die sekuriteitsmaatskappy te waarsku. Hy sê die sekuriteitsmense is hopeloos, hy het verby hulle gejaag op pad hiernatoe, hulle kruip letterlik garage toe. Hy vra of ons enige iets nodig het en ek vra vir ’n pakkie sigarette en onthou dan dat ek nie geld het nie. Hy sê ek kan soveel sigarette kry as wat ek wil hê. Ek bel vir Soon en sê daar is ’n effense vertraging, daar was ’n gewapende roof by die garage.

Die kassiere staan buite by my. Sy rook ook. Die polisie het gearriveer en praat met die twee mans wat op die vloer gelê het. Die dogtertjie in pienk klou aan haar pa se been vas. Haar ma kom daar aangejaag en praat histeries. Die dogtertjie wil nie na haar ma toe gaan nie. Die sekuriteitsmense staan rond, met swaaiende masjiengewere en handgranate wat van hulle belde afhang. Hulle sê vir ons en vir mekaar, this happens every night, e-ve-ry night. Ek sien Soon se motor indraai by die garage. Ek sien hom uit die motor klim. Hy stap na my toe, ek sien dit alles in stadige spoed, soos in ’n film. Hy stap deur die flitsende blou ligte van die polisiemotors. Hy het pantoffels aan. Hy is by ons, en die kassiere sê, oh, here’s your dad, now everything will be okay. Not her dad, sê Soon, her hus-band. Oh, I’m so sorry, sê sy en suig hard aan haar sigaret.

Die speurder arriveer ook en stel hom aan my voor. Hy vra of ek okay is, hy vra hoekom ek rooi merke op my keel het. Ek weet nie. Hy sê ek kan huis toe gaan, hy sal die volgende dag ’n verklaring kom afneem.

By die huis bel ek my vriend. Hy sê dis verskriklik. Hy lag hard oor die kassiere wat sê Soon is my pa. Hy sê dit maak alles amper die moeite werd. Soon gooi vir my ’n glas rooiwyn in. Ons sit by die kombuistafel. Die kinders kom druk my en sê dat hulle so bly is ek is terug. Hulle sit by ons vir ’n rukkie, en gaan dan slaap.

Soon vra vir my wat gebeur het, en ek probeer alles onthou. Hy sê, na ’n lang stilte, sien jy, ek het vir jou gesê rook is sleg vir jou. Ons lag.

Later, toe hy ook bed toe is, het ek in die sitkamer gaan lê op die bank en die knoppie op die afstandbeheer gedruk om verder te luister na die CD waarna ek geluister het voordat ek garage toe is, die Skepping van Haydn, Adam en Eva se duet toe hulle die skoonheid van die paradys aanskou. Von deiner Güt’, o Herr und Gott, Ist Erd’ und Himmel voll. Die Welt, so gross, so wunderbar, Ist deiner Hände Werk.


Twee

Ek sit langs my pa se bed. Hy is nege-en-sewentig jaar oud en ly aan baie kwale, onder andere aan ’n chroniese naarheid, wat hom soms laat kniel langs sy bed asof hy bid. Alhoewel hy reeds baie mediese toetse ondergaan het, lyk dit asof niemand die oorsprong van hierdie toestand kan diagnoseer nie.

Dit is net na elf in die oggend, en die huis is stil. My ma is besig om blombolle uit te plant in haar tuintjie, ek lees, en my pa lyk of hy slaap. Ek het ’n bundel van Tolstoi se kortverhale in sy studeerkamer gekry. Vandat hy twintig jaar gelede afgetree het weens siekte, het hy van baie van sy boeke ontslae geraak, ook van die meerderheid van sy teologiese boeke. Hy het ’n paar woordeboeke oorgehou, kommentare oor die Ou en Nuwe Testament, al die Herman Charles Bosman-verhale, gidse oor Suid-Afrikaanse voëls, briewe van Beethoven, en een of twee ander.

Ek is na aan die einde van die verhaal, Die Dood van Ivan Ilych, waar hy nog by sy bewussyn op sy sterfbed lê, maar vir die mense wat om sy bed staan reeds ’n gestorwe man is. Iemand fluister, “dit is verby”, en Ivan Ilych dink, ja, dit is verby, die dood is verby.

My pa begin praat, wat my laat skrik - ek het nie agtergekom hy is wakker nie. Hy sê, vandat hy lê hoor hy vliegtuie hoog oor die huis.

Vreemd, dink ek, hy praat van ’n toestand, ’n fase in sy lewe - vandat hy lê.

Hy sê niks verder nie en na ’n rukkie lyk dit asof hy aan die slaap geraak het en ek begin weer lees.

Hy hoor vliegtuie, herhaal hy, en dit het ’n invloed op sy emosies. Hy trek sy asem in, en blaas weer uit.

“Assosiasies,” sê ek.

Ja, sê hy, hy sien tasse en lugwaardinne.

Ek vra of hy graag weer sou wou vlieg.

“Die vreugde aan vlieg is weg,” sê hy. “Die vreugde aan eet is weg, die vreugde aan musiek luister is weg.” Hy bly weer vir ’n lang ruk stil.

Hierdie huis is baie stil. ’n Mens kan elke asemteug, elke sug, elke omdraaislag op ’n bed hoor.

My pa praat verder. “Die probleem met musiek is dat ek nie langer die verbinding tussen die note verstaan nie.” Sy oë is toe en hy lyk heeltemal uitgeput. Na ’n rukkie fluister hy, “Dit is oor my maag.”

Ek kan aan niks dink om te sê nie. Hy begin meer reëlmatig asemhaal.


Ek dink terug aan die vorige aand, toe ek ook langs sy bed gesit en lees het terwyl my ma na ’n ou film op televisie gekyk het (met oorfone aan), te uitgeput om te glimlag.

Ek was seker dat hy vas aan die slaap was, maar hy het rusteloos heen en weer begin rol en het uiteindelik regop gesit en aan die laken en ligte kombers oor sy bene getrek. Ek het gevra of hy ongemaklik voel, maar hy het sy kop geskud en moeisaam van die bed afgeklim en na sy studeerkamer toe geskuifel terwyl hy met sy hand teen die muur leun.

Ek het gehoor hoe hy die laai van sy liasseerkabinet ooptrek en deur lêers blaai en weer die laai toedruk. Dit was vir ’n hele ruk doodstil en ek het bekommerd geraak en gaan kyk of ek kon help.

Hy het voor die kabinet gestaan met ’n poskaart in sy hand. “My pa het hierdie vir my geskryf ’n paar maande voor hy dood is. Hy was toe al ’n baie siek man.”

Tydens hierdie besoek aan my ouers het ek opgemerk dat my pa, meer as tevore, slegs die essensiële gedeeltes van gesprekke oordra. Geen inleidings nie, weinig verduidelikings, geen aanmoedigende tussenwerpsels nie, geen samevattende afsluitings nie. Dit lyk asof hy hierdie taalmiddele nie meer nodig het nie. Hy laat dit aan die hoorder oor om die onderwerp en die verband tussen verskillende stellings te vind. En as dit lyk of die hoorder nie verstaan nie, bly hy stil, of stap stadig weg, of raak aan die slaap.

Ek het nader gegaan en na die datum op die poskaart gekyk: 14 Julie 1941.

“Die laaste keer wat ek hom gesien het,” het my pa gesê, “was aan die einde van die Junie-vakansie. Ek was in matriek, en ek moes van Kroonstad met die trein ry Fauresmith toe. Twee-uur in die nag.”

Ek het die agtergrond van hierdie ervaring geken. Ons het dit baie as kinders gehoor. In 1938 moes my oupa begin rondtrek met die laaste van sy vee, om hulle van honger en dors te red. Die plasie wat hy in Fauresmith gehad het was te verdor om lewende wesens langer te onderhou. ’n Tyd van onsekerheid en swaarkry het voorgelê. Hy het in die rigting van Kroonstad getrek, waar ’n familielid beter weiding en water kon aanbied. Maar om die vee daar te kry was ’n bykans onmoontlike taak.

My pa was ’n skrander student in die skool in Fauresmith en kon nie saam met sy ouers rondtrek te midde van soveel onsekerheid nie. Hy moes agterbly en het in ’n gehuurde buitekamer op een van die groot eiendomme in die dorp ingetrek, waar hy vier van sy hoërskooljare deurgebring het. Hy het ons altyd vertel hoe hy saans in sy kamer gesit en huiswerk doen het. Hoe hy sy ouers en broers en suster gemis het, en die etes in die kombuis met die groot koolstoof. Hoe hy van sy kamer af na die groot ligte huis gekyk het, deur die vensters van die eetkamer met die swierige kandelare en rye portrette teen die muur.

Hy het vertel dat sy pa vreeslik gehoes het daardie laaste vakansie toe hy hulle besoek het in Kroonstad. Hy kon sy eie bekommernis onthou. Hy sou saans tot laat sit en studeer vir die komende matriekeindeksamen. Hy het geweet dat hy goeie punte moes behaal om ’n beurs te kry vir verdere studie. Hy het bo alles geweet dat sy pa siek was, erger as ooit tevore.

Op foto’s lyk my oupa lank en skraal. Hy het donker oë en beskermende wenkbroue wat in die middel van sy neusbrug ontmoet. “Maar sy hande was so hard soos klip,” het my pa vertel, “en hy het altyd gehoes, vir so lank as wat ek kon onthou - sy gesondheid is gebreek in die konsentrasiekamp by Bethulie. Hy was maar twaalf, en hy moes met ’n graaf werk in die sneeu terwyl hy longontsteking gehad het.”

Ek het hierdie verhaal goed geken. My pa was altyd treurig wanneer hy dit vertel het. Selfs as ’n jonger man het hy dit stadig, met lang pouses tussen sinne vertel. Ek het na hom gekyk waar hy langs sy liasseerkabinet staan. Hy wou nog iets sê, ten spyte van sy uitputting. “My ma het vertel dat sy my pa net twee keer sien huil het.”

Ek het hom aan die arm teruggelei bed toe. Hy moes lê om die verhaal te voltooi. Toe ek hom in die bed help, was ek verbaas om te voel hoe lig hy was.

“Die een keer was die nag toe ek moes teruggaan na my buitekamer toe, na daardie laaste besoek aan Kroonstad. Dit was bitter koud, en ek kan die maanlig op die veld en koppies onthou toe ek wegdraai van my ma en pa.” Vir ’n oomblik was hy stil. Toe haal hy diep asem. “My ma het vertel dat hulle in die koue, op die donkiekar, gewag het vir my trein om te vertrek. Toe dit weg was het sy na my pa gekyk, en sy gesig was nat van die trane.”

My pa het stilgebly en sy keel skoongemaak; sy mond het droog geklink, asof hy ver in ’n stofpad gestap het.

Ek het hom ’n paar keer sien huil. Hy het nooit sy trane vir ons kinders probeer wegsteek nie. Hy het altyd gehuil as hy na Beethoven geluister het. Ook wanneer hy vertel het van sy broer wat te vroeg gesterf het - die broer saam met wie hy ghitaar gespeel het op die plaas by Fauresmith. Hulle het vir ’n jaar geld gespaar om ’n ghitaar en ’n mondfluitjie te koop, teen die wil van hulle pa in, wat afkeurig was oor die profaniteit van hierdie musiekinstrumente. Maar nadat hulle ’n paar Psalms op die ghitaar gespeel het, met die mondfluitjie op die agtergrond, was hy tevrede en het sy seën oor die aankope uitgespreek. My pa het ook gehuil wanneer hy onthou het van ’n agtien maande oue baba met helder blou oë wat aan ’n breingewas gesterf het. Hy het vertel hoe daardie oë dof geraak het aan die einde, soos twee ou albasters. Hy was toe ’n predikant in ’n Vrystaatse dorpie, en hy moes die ouers geestelik bystaan deur dié tyd. Hy het veral een middag onthou, toe hy teruggery het van die plaas waar die jong gesin gebly het, hoe die koue droë Augustus-wind rooi stofwolke oor die ongeploegde mielielande opgewaai het, en hoe ’n helder kinderstem oor die motorradio gesing het, “kleine Kinder, kleine Sorgen, und ein Haus voll Sonnenschein.” Hy het gehuil toe hy vir my die storie van Jopie Fourie voorgelees het toe ek ses jaar oud was. Met sy hand op sy hart het my pa Fourie se laaste woorde gelees, voordat hy deur die Britse owerheid gefusilleer is. Hy het geweier om geblinddoek te word, en het gesê, “Moenie my deur die kop skiet nie, maar skiet my deur die hart, want ek het ’n groot Afrikanerhart.” En hy sou huil wanneer hy ons vertel hoe sy hond op die plaas doodgeskiet is omdat hy skape begin vang het. Hoe hy die hond moes uitlok agter die fietse waar hy gaan skuil het. Hoe sy pa probeer korrelvat het. Die treurige begrafnis onder ’n boom ’n paar honderd tree van die huis af.

“Kan jy die ander keer onthou wat jou oupa gehuil het? Het ek jou ooit vertel?” My pa het sag aan my hand gevat om my terug te bring na hom toe. Hy het verleë gelyk. “Ek het hom ook toe sien huil.” Ek het gesê dat ek nie kon onthou nie. “Dit was gedurende die Droogte, van 1933. My pa het elke aand by huisgodsdiens gebid vir uitkoms, sy hande soos ’n kind s’n gevou. En toe die reëns uiteindelik kom, het dit alles weggespoel wat nog oor was op die werf. Ek het pampoene en ’n paar tamaties, en selfs ’n paar maer kuikens gesien afkom met die strome water wat om die huis gespoel het. My pa en my ma het in die voorkamer gestaan, in mekaar se arms, terwyl hulle soos kinders gehuil het.”

My pa se wange was rooi. Hy het na die poskaart in sy hand gekyk, en toe na my. “Vat jy dit. Jy sal weet wat om daarmee te doen.”

Heelwat later het ek opgestaan en naggesê. Tot my verbasing het hy sy oë oopgemaak en ook naggesê.

Ek het die poskaart gelees voor ek gaan slaap het. My oupa se handskrif is delikaat. Hy het geskryf dat hy bly is om te verneem dat my pa wel is (soos hy aflei uit die brief wat hy die vorige dag ontvang het). Hy wens my pa geluk met sy goeie halfjaar-uitslae, met sy eerste plek in die klas. Hy sê dat dit ’n vaderhart laat warm voel om sulke goeie nuus te ontvang. Hy sukkel nog steeds ’n bietjie met die nagevolge van die “influenza” wat hy gehad het, skryf hy, maar hy voel elke dag beter. Hy wens my pa alles van die beste toe en stuur sy, wat hy verander na “ons”, liefde, en eindig af: “van jou vader, S.D.S.”

Ek kon nie aan die slaap raak nadat ek die poskaart gelees het nie. Die sober, bykans ligte woorde het min van die swaarkry van daardie jare verraai.


Ek kyk na my pa. Na ons kort gesprek oor vlieg en wat ’n mens daarmee assosieer het hy aan die slaap geraak. Alhoewel ek nooit seker is nie. Ek hoor hom sug. Dit klink soos die wind buite die kerk van my kinderdae. Daardie wind het drome en treursange gedra. Dit sou net soms, vir ’n oomblik van genade, gaan lê, wanneer ’n mens skielik die gelag van mense buite kon hoor, verder af in die straat.

Ek kyk op my horlosie - byna eenuur. Ek hoor my ma in die kombuis, waar sy besig is om middagete vir ons voor te berei. Ek staan op van die stoel waar ek gesit het en gaan lê langs my pa, langs sy uitgeteerde liggaam, op sy swaar bed.


Drie

Ek het eerste die kunswerk gesien, net duskant die hoogwatermerk van die vorige nag. Tot die volgende gety inkom sou dit veilig wees. ’n Afbeelding uit seesand van ’n krokodil met skubbe, plomp bene, ’n gevaarlike stert en twee koeldrankdoppies vir oë. Die lyf was gekrul, asof dit besig was om te beweeg.

Ek het gaan staan. Ek was besig om op die strandfront te loop, die Golden Mile, soos dit hier in Durban genoem word. Daar was nog vorms in die sand: twee dolfyne, die kleiner een effens versteek onder die lyf van die groter een, twee visse van onsekere herkoms, ’n eenhoringperd, ’n meermin met enorme borste en net een tepel, ’n gesig met ’n hoë voorkop en ’n revolusionêre brilletjie voor op die neus. Die sand was netjies platgeklop tussen die figure, en alhoewel daar geen onmiddellike verband tussen hulle te bespeur was nie, het hulle tog ’n gevoel van eenheid geskep.

Ek het rondgekyk. Buiten ’n paar drawwers en ’n lewensredder was daar niemand anders in die nabye omtrek nie. Ek het twee kinders verder aan teen ’n pier sien sitlê, aan die slaap. Straatkinders - dit was ’n weeksoggend en hulle moes in die skool gewees het. Ek het aangestap. Die kunstenaar is seker al weg en het die kunswerke aan die genade van die wind en see en onverskillige baaiers oorgelaat. Die volgende dag sou daar niks van hierdie uitstalling oor wees nie.

Ek was besig om oor twee dinge te dink daardie oggend voordat ek die strandkuns gesien het. Ek het aan my pa gedink. Sedert my vorige besoek aan hulle kon ek hom nie uit my gedagtes kry nie. Ek het dit moeilik gevind om sy permanente naarheid te verstaan en te aanvaar, en sy stil en verbete lyding op sy bed. Op ’n manier het ek gerou oor hom, oor sy lewe. Ek het gedink aan Ivan Ilych, wat oomblikke voor sy dood vir homself gesê het, dit is verby, die dood is verby.

Ek het ook ’n ander probleem gehad. Na die insident by die garage in Junie (dit was reeds laat-September), het ek probeer verder skryf aan ’n verhaal waarmee ek besig was. Hoe gouer ek met die storie kan aangaan, hoe beter, het ek gedink. Maar ek kon nie. Die karakters was almal daar, gereed vir hulle volgende aktiwiteite, maar ek kon skielik geen verband tussen hulle sien nie. Ek het baie angstig begin voel: ek kon glad nie vordering met hulle maak nie, maar ek kon hulle ook nie sommer net so laat staan nie. Ek het aanhoudend en intens na hulle gekyk in my gedagtes, soos ’n mens na ’n mimiekkunstenaar sou kyk - met bykans ondraaglike afwagting, gereed om die geringste teken van lewe en beweging waar te neem. Maar die karakters het bewegingloos in hulle posisies gebly, versteend in hulle sinlose (het ek nou gedink) en onsamehangende aktiwiteitjies.

Daar was Louis, die glaskunstenaar, wat met al hoe kleiner wordende stukkies glas begin werk het sedert sy lover Gerald hom verlaat het. En wat toenemend religieuse simbole en motiewe in sy glaspanele ingevoer het. Daar was sy pa, oom Lodewyk, wat besig was om oor die besige dorpstraat te loop, asof hy geen geskiedenis agter hom gehad het nie. In die helder sonskyn, sonder om links of regs te kyk. En daar was Rut, die eienares van die Algemene Handelaar op die klein kusdorpie. Sy het daar gestaan, rooi in die gesig van die geskree op die ape (hamba! hamba! hamba!). En op die veranda van haar winkel was die huiswerkers van die omgewing besig om na ’n soapie te kyk op die TV-stel wat aan die muur vasgeketting is, terwyl hulle ’n bord koekies rondstuur wat Rut verniet vir hulle gegee het. Daar was haar seun Christoff, wat gebroke huis toe gekom het na sy eerste jaar op universiteit en doelloos in Rut se tropiese tuin rondgeloop het terwyl hy met homself praat en met sy teer hande om sy kop beduie. En Marieta, die dominee se vrou, die leidster van die plaaslike Kerskoortjie. Sy het voor haar klavier bly sit, met die een hand teen die bladmusiek geleun en die ander hand op die note, besig om ’n nuwe variasie te probeer - ’n uitdrukking van hooploosheid op haar mooi gesig. Daar was Selma, wat net kon stilstaan wanneer sy sing, wat van dorp na dorp getrek het, en orals gastehuise oopgemaak het, en mure en deure en vensters uitgeslaan het, en weer toegepleister en geverf het. Sy het ’n swaar handgekerfde portretraam - leeg - in elke nuwe huis se ingangsportaal gehang. En Steve, die fiksheidsinstrukteur, wat vir almal kort- en langtermyndoelwitte uitgewerk het en in persoonlike fiksheidspaspoorte neergeskryf het. Hy het die pen soos ’n steekwapen vasgehou, en dit het gelyk of hy hiërogliewe op kleitablette uitkerf, met sy kakebeen effe na vore gestoot.

Hierdie was my karakters. Maar ek het geen emosie jeens hulle gevoel nie. Ek kon glad nie onthou wat met hulle moes gebeur nie. En terwyl ek daardie oggend geloop het, het ek gedink dat dit beter sou wees om hulle vaarwel toe te roep en om met iets nuuts te begin. Maar ek was nog nie gereed vir so ’n stap nie.


’n Week later het ek die kunstenaar en sy jong assistent gesien. Hulle het stil en met konsentrasie gewerk, vooroor gebuig in die sand, en het nie opgekyk toe ek op die pier langs hulle gaan staan en kyk nie. Die ouer een het omtrent so veertien gelyk, die jonger een nege, tien. Dit kon dieselfde twee kinders gewees het wat ek met een van my vorige wandelings teen die pier sien leun het, half aan die slaap in die son.

Daar was weer krokodille, twee hierdie keer. Een kunstig om die heldergeverfde asblik gekrul; die ander een reguit, met effense oop kake en wit polistireentande. Daar was ook ’n dolfyn wat in die rigting van die see geduik het, twee seeleeus met ’n bal tussen hulle, ’n teatermasker met een laggende en een huilende gesig.

Die jonger kind was besig om oortollige sand rondom ’n Mefistofeles-gesig met ’n skerp neus en sardoniese wenkbroue weg te vee. Die ouer kind was gebuig oor ’n roos uit sand, en het met groot sorg ’n blaar met sy een hand gevorm terwyl hy hom in die sand stut met die ander hand. Druppels sweet het in sy wenkbroue en yl donserige hare geskitter.

Ek het gewonder waar hulle vandaan kom. Die ouer een het letsels van ou brandwonde gehad: die vel oor sy kop en skouers was styfgetrek en, het ek toe eers gesien, sy een hand (wat hy altyd onder die sand gehou het) was erg verwronge. Hy het geen vingers aan die hand gehad nie, net ’n spleet in die middel af, sodat dit soos die klou van ’n roofvoël gelyk het, en dit het met ’n hoek van negentig grade weggebuig van sy pols af. Ek het gewonder hoekom hulle nie in die skool was nie, of hulle ouers gehad het. Of was hulle dalk weggooikinders, die ouer een vanweë sy gebrek? Of vigs-weeskinders, broers? Of slagoffers van politieke geweld? Het hulle dalk hulle huis en ouers verloor tydens ’n onbeheerbare brand wat hele plakkersgemeenskappe binne ’n paar minute kon uitwis?

Ek het vir ’n lang tyd daar gestaan. Wanneer die kunstenaar klaar was met ’n figuur, het hy met sy oë vir die jonger helper aangedui dat hy kon kom opruim, en hyself het versigtig wegbeweeg en ’n entjie verder begin om die sand in sagte hopies bymekaar te stoot.

Ek het na die dolfyn gekyk. Dit was alreeds nader aan die water as toe ek daar gekom het. Die gety was besig om in te kom. Ek het my skoene uitgetrek en rondom die reling van die pier geloop en ’n paar meter van die kinders af in die sand gaan sit. Ek het gekyk hoe hulle werk, veral die ouer een. Hy was onbewus van alles behalwe die sandhope voor hom. Ek het opgekyk na die wolke wat in mekaar invloei en dan weer wegbreek van mekaar.

Ek het op my maag gaan lê met my arms uitgestrek voor my en my wang op die sand. Vir die eerste keer het die ouer kind na my gekyk. My oë het toegeval. Ek het waarskynlik aan die slaap geraak. Toe ek hulle weer oopmaak, het hy langs my gesit. Hy het die warm sand oor my voete en bene en uitgestrekte arms en hande gestoot, en dit toe delikaat begin vasklop met sy een hand.



LitNet: 01 April 2005

Wil jy reageer op SkryfNet V? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.