SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Posie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Eerste verslag - SkryfNet V

Herman Wasserman

Klik telkens op die storie se titel om die verslag te lees:
"Madam, you must lie down" - Anna Kemp
"'n Ewige deel" - Riekie Lombard
"Goldfinger" - Liza Louw
"Elke vrou het 'n geheim" - Nicolene Prinsloo
"Tyd om te trek" - Karin Sennet


"Tyd om te trek", deur Karin Sennett

'n Goeie kortverhaal laat dikwels meer onges as ges - agter dit wat ges word, tussen die skrefies van die vertelling, skyn daar iets deur wat die leser laat wonder, en laat terugkeer na die verhaal. So 'n verhaal het 'n geheim, en die geheim gee hy bietjies-bietjies prys. Daarom ook dat die kortverhaal dikwels op 'n enkele moment fokus, 'n gewaarwording, 'n insig wat na vore kom, eerder as om die verhaal van punt A tot punt Z uit te ryg. Dit gaan oor wat gter l, nder l, weggesteek is agter die gewone vertelling of gebeurtenis. Daarmee word nie bedoel 'n speurverhaal-tipe ontknoping nie, ook nie 'n tekort aan inligting wat dit vir die leser onmoontlik maak om agter die kap van die byl te kom nie, maar 'n belofte van meer betekenis as dit wat met die eerste oogopslag duidelik is.

By die lees van hierdie verhaal het ek telkens gewonder wat hierdie verhaal se "geheim" is, en toe ek by die slot van die verhaal kom, het ek effens gekul gevoel. Die storie loop af soos 'n horlosie, chronologies van die begin tot die einde, met deurgaans 'n ritme van "en toe en toe". Wanneer die storie afgeloop is, is daar geen fut meer in die verhaal wat 'n herlees moontlik maak nie - geen tweede laag van betekenis nie, geen geheime om uit te pluis nie, niks wat nog onges bly of gesuggereer word nie. Die verhaal begin om ons te vertel van 'n "vietse, jong dametjie" wat die gastehuis op die dorp gekoop het en begin om eiendomme te verkoop. Die verhaal skets eintlik net hierdie dorp en 'n paar van sy inwoners baie vlugtig, maar daar is niks wat ons werklik voorberei daarop dat daar meer aan hierdie dametjie is as wat sy voorgee nie. Die slot, waarin ons hoor dat sy eintlik haar eie plan gehad het met die verkoop van al hierdie eiendom, naamlik om 'n gholflandgoed te ontwikkel, kom dus so bietjie as 'n verrassing. Maar dan wil 'n mens vra: en wat daarvan? Waarom is dit so eienaardig dat sy haar sakevernuf gebruik om 'n gholflandgoed op te rig? Behalwe dat dit 'n paar inwoners mag omkrap, wat s dit nou eintlik vir ons? Waarom moet ons omgee? Met ander woorde, die verhaal wek by ons die gevoel: 'So what?' Dit bly steek in die anekdotale, 'n tipe stoepstorie of dorpsvertelling. Nie dat stoepstories of anekdotes nie uitgebou kan word tot onvergeetlike kortverhale nie - kyk maar wat het Hennie Aucamp gedoen met boerevertellings, in byvoorbeeld "Vir vier stemme". Maar dan moet daar iets in die verhaal wees wat dit 'n tweede asem gee, wat dit uitlig bo die onmiddellike vlak van vertelling om aan ons ook iets weer te gee van 'n ander orde: dalk iets oor die menslike aard, oor die gang van die wreld, oor die onverklaarbaarheid van die lewe, die eienaardigheid van mense.

Een manier waarop 'n mens dalk meer van hierdie verhaal kan maak, is om meer aandag aan die karaktertekening te gee. Waarom moet 'n mens soveel betekenis heg aan "die liewe Ellatjie" se plan om 'n gholflandgoed te bou uit die eiendom wat sy opgekoop het - bring dit dalk 'n persoonlikheidseienskap aan die lig waarmee 'n mens kan identifiseer? S dit vir ons iets oor menslike verhoudinge, werp dit lig op (of vra dit vrae oor) die verhoudinge tussen mense in 'n plattelandse gemeenskap, laat dit ons die verhouding tussen stadsmense en plattelandse mense op 'n nuwe manier sien? Deur vir ons meer te wys van hierdie Ella, kan dit dalk duidelik word waarom die verteller haar gedrag so vreemd vind. Of dalk moet ons meer weet van die verteller self? Sy/haar gemoedelike, effens outydse taalgebruik ("dametjie", "ons gawe ou mensies") teken hom/haar as 'n ouerige inwoner van die dorp. Het daar dalk iets tussen die verteller en Ella gebeur wat hom/haar so heftig laat reageer op haar plan om die gholflandgoed te ontwikkel? Voel hy/sy verkul op 'n manier? Voel hy/sy dat 'n bepaalde lewenswyse onder hom/haar weggeneem word? Dus - op een of ander manier sal die verhaal meer moet word as net 'n vertelling van 'n gebeurtenis. Dit moet ons laat stilstaan by 'n besef, 'n oomblik, 'n gewaarwording. Deur die plot ook anders te rangskik sodat die verhaal nie chronologies van A tot Z loop nie, maar dalk sentreer rondom 'n belangrike wending, kan die aandag ook gevestig word op 'n motief of wending wat die verhaal uitlig bo die gewone prosaese vertelling. Die titel en slot van die verhaal moet ons ook lei in hierdie rigting, as 'n sleutel om die onderliggende of meerduidige betekenisse van die verhaal te ontsluit. Kortom: die verhaal moet meer om die lyf kry en interessanter gemaak word.


"Goldfinger", deur Liza Louw

Hierdie verhaal vertoon reeds van die belangrikste kortverhaalkenmerke, naamlik 'n interne spanning en die gebruik van suggestie. Omdat die verhaal krt is - nie net wat aantal woorde betref nie, maar ook wat betref sy beperkte fokus - moet woorde ekonomies gebruik word, as 't ware oorlaai word met betekenis, sodat hulle 'n wyer netwerk van betekenisse kan aktiveer wat buite-om die voor die hand liggende vertelling l. Dis 'n fyn en, wil 'n mens in die gees van hierdie verhaal s, byna erotiese spel: die verhaal moet 'n elektriese intensiteit opbou, 'n gespannenheid, en net genoeg wys van dit wat agter die nate van die verhaal beur om die leser honger te maak vir nog. Dis wat ni ges word nie, wat interessanter is as dit wat wel ges word. Die gebruik van suggestie is 'n fyn kuns, en 'n mens kan maklik jou hand oorspeel. Jy moet weet waar om te stop, want as jy eers verby die draaipunt is, is die pret bederf. Daarom dat die slot van 'n verhaal so belangrik is, en dikwels herhaaldelik herskryf moet word totdat die balans presies reg is: nie te veel nie, nie te min nie. Die res van die verhaal moet meewerk aan hierdie spanning, en elke woord moet versigtig gekies word om op te bou na die slot toe, heen te wys daarna, maar ook by die herlees nuwe betekenismoontlikhede kan ontsluit omdat dit met die leidrade van die titel en slot saamwerk om die sluier/sluiter op 'n skrefie oop te maak vir dit wat gter l.

Hierdie verhaal kry dit byna reg om hierdie spanning en suggestie betekenisvol te gebruik, maar nie heeltemal nie. Van die begin af is daar 'n tweede, konnotatiewe laag merkbaar onder die vertelling. Sometimes a cigar is just a cigar, maar hier is 'n piesang duidelik meer as 'n piesang. Reeds in die tweede sin kom ons te wete dat die verteller pasgetroud is ("splinternuwe eggenoot"). In die lig van hierdie gegewe lees 'n mens dus die beskrywings in die eerste paar paragrawe ook as 'n opstapeling van seksuele metafore: "tros","piesangs","vlesige stamme", "geil","kroonkoppe","wellustig", "klam en vogtig". Hierdie woorde laat ons vermoed dat daar iets agter die onmiddellike vertelling l waarvoor ons op die uitkyk moet wees, en te oordeel aan die erotiese toonaard wat reeds hier ingesit word, sal dit iets te make h met seks. Miskien word hier egter reeds t veel ges, 'n mens sal n "piesangs", "vlesige stamme" en "geil aarde" al die prentjie duidelik genoeg h, dit hoef nie nog ingehamer te word met "wellustig" en "klam en vogtig" nie, en sekerlik nie met die herhaling van "geil" later op die eerste bladsy nie. Die slot van die verhaal is eweneens dalk net 'n bietjie t veel.

Presies hoeveel genoeg en hoeveel te veel is, is moeilik om te s, en 'n mens sal moet skaaf tot dit reg is - vir my gevoel is die frase "vlesige vingers geil soos 'n tros piesangs" oorduidelik. Dit is minstens die derde maal dat "geil" in die verhaal voorkom, en di woord kan dus geskrap word. Dan spel die "tros piesangs" die implikasie van die beskrywing ook te duidelik uit. Daarom dalk net "vlesige vingers" - die "vingers" slaan tog reeds op die "goldfinger" van die titel. Of is dit te min? Dalk kan 'n ander ooreenkoms gel word tussen sy vingers en die piesangs - iets te make met goud? 'n Trouring? Dit sal die verhouding tussen die verteller se oom en sy vrou ook sterker na vore bring - dis 'n element wat nog haper in die verhaal en wat meer ontgin kan word, omdat dit sal bydra tot die ironiese spanning. 'n Mens sal hier maar verskillende opsies moet beproef tot dit werk. Die beskrywing van die manlike en vroulike rolle op die plaas werk ook mee om 'n gender-aspek te suggereer, en die verband tussen begeerte en dominasie ter sprake te bring. Dit kan egter nog meer uitgewerk word, maar nie deur dit uit te s nie - die ou waarheid van "showing" eerder as "telling" is hier van belang. Daarom moet die boervrou eerder net geteken word, sonder om haar uit te spel vir die leser as "Die pligsgetroue boervrou. Presies." Dus: die verhaal snap reeds die belangrike aspek van suggestie, dubbelsinnigheid en metafoor, die beginsel moet net beter toegepas word.

Daar is 'n paar ander aspekte wat hinder:

  • Geykte taal: Woorde en frases soos: "Hy lag sy hartlike uit-die-keel-lag", "soel somernag", "asof betower", "vlietende oomblik".
  • Taalfoute: "die landmeter wie", "hy sal niks doen vir 'n mens nie".
  • Die stereotipiese uitbeelding van swart werkers: in die plaasromans van die dertigerjare was dit miskien gangbaar om te praat van anonieme "werfhulpe" en "kombuishulpe", maar ons het gelukkig aanbeweeg. Hulle het name, en hulle praat Xhosa, of Sotho, of Zoeloe, of wat dan ook, maar nie "haar taal" nie. (As hierdie uitbeelding gedoen was om die verteller se karakter te teken, sou dit funksioneel kon wees, maar dis nie hier die geval nie). Ook die beskrywing van die vrou as met "stewige vol boude", "lang arms () soos ebbehout" en so meer is stereotipies, selfs al is dit in 'n poging om haar positief uit te beeld. Van stereotipes gepraat - die lol van die wit boer met die swart huishulp is darem ook al bietjie van 'n stereotipe. Van hierdie gegewe sal ook meer gemaak moet word, moontlik deur die verhouding tussen die boer en sy vrou te ontgin, of die verskillende magsrelasies wat op die werf ter sprake is, of die verskillende genderrolle by die twee egpare, of die nuutgetroude vrou se ontnugtering (?) met die verloop van die huwelik, of iets anders. Tans is die boer se gevroetel in die spens te eenduidig en te geyk en voorspelbaar.


"Elke vrou het 'n geheim", deur Nicolene Prinsloo

Die eerste paragraaf is 'n sterk visuele beskrywing van die omgewing en natuur - vanwe die sterk posisie in die eerste paragraaf vermoed 'n mens dus dat die omgewing 'n belangrike rol in die verhaal gaan speel. Die vliegtuig wat 'n skaduwee oor die karakter Bet gooi, is ook 'n duidelike teken waarvoor 'n mens sal uitkyk in die verhaal. Die natuurtoneel skep 'n onheilspellende atmosfeer vir die verhaal, en hoewel dit 'n effens geykte tegniek kan wees om deur middel van impressionistiese natuurtekening iets van die karakters se gemoedstemming weer te gee, is die kombinasie van die bewolkte weer en die wolk wat die vliegtuig oor die karakter gooi, hier tog interessant genoeg om die leser reeds in 'n bepaalde rigting te lei sonder dat dit te clichmatig voorkom. Die daaropvolgende paragraaf bevat ook heelwat beskrywende detail, en in die lig van die noodsaak om in 'n kortverhaal elke woord en sin te laat tel, vra 'n mens jou af of hierdie detail werklik funksioneel is. Later egter, wanneer Bet die blik uit haar onderklerelaai haal, is die inskripsie daarop ("Baanbrekerkoffie - vir baanbrekerboere") veelseggend, en begin 'n mens vermoed dat die fokaliserende karakter se noukeurige bewustheid van die natuur funksioneel kan wees indien hierdie inskripsie 'n aanduiding daarvan is dat Bet uit 'n plattelandse of plaasagtergrond kom. Hierdie vermoede word bevestig deur die skaapvel wat op die vloer voor haar bed uitgesprei l. Dit blyk egter dat haar pa 'n werker op die spoorwe was, en hoewel 'n ouwreldse milieu weergegee word deur die beskrywing van die ou salarisstrokie, word die verwagtinge wat deur bogenoemde beskrywings geskep is, dus nie heeltemal verwesenlik nie. Gevolglik bly die vraag staan: waarom dan die sorgvuldige beskrywings? Dit skep 'n baie gedetailleerde prentjie, maar help dit ons enigsins om die verhaal beter te verstaan, of gee dit ons leidrade om van die ander tekens in die verhaal met mekaar te kan verbind? Ek meen die antwoord is nee.

Die sentrale oomblik of gebeurtenis van die verhaal kom ongeveer halfpad in die vertelling aan bod, en blyk uiteindelik nie enigsins verbind te wees met die beskrywing van 'n bladsy en 'n half wat dit voorafgegaan het nie. Daar is in die verhaal dus nie 'n sterk samehang van al die afsonderlike dele nie - 'n belangrike aspek waarin die verhaal te kort skiet. Die "geheim" van die verhaal - dat Bet ontdek dat die persoon wat sy gedink het haar ma was, in werklikheid nie was nie - kan 'n mens 'n myl ver sien kom wanneer sy agterkom dat die datum op haar geboortesertifikaat anders is as die datum wat sy tot duver as haar geboortedatum beskou het. Dit word dan ook stelselmatig duidelik dat daar iets in haar pa se verlede was waarvan sy nie geweet het nie, en dat hy met iemand anders getroud was as die persoon wat Bet as haar ma beskou het. Maar hierdie geheim word oorduidelik uitgespel.

Die verhaal sal heelwat kan wen aan spanning en suggestie indien hierdie kwessie subtieler gestel word eerder as om uitgeblaker te word. Wanneer die leser ook reeds hierdie geheim weet, bly daar nie veel in die verhaal oor wat 'n herlees moontlik maak nie. Die geheim is uit, die slot het geknal soos 'n klapper, en die leser het moontlik daarvan regop gesit (hoewel dit onwaarskynlik is dat enige leser die slot as 'n verrassing sal ervaar, aangesien die ontknoping so ver vooruitgeloop word). Wat bly daar nou oor om in die verhaal te ontdek? Dis veral hier (afgesien van die inkorting van die verhaal se ontknoping) waar daar nog verder aan die verhaal gewerk kan word. Bet se ontdekking opper kwessies van identiteit en herkoms, dit suggereer die vraag of 'n mens ooit werklik weet waar jy vandaan kom en watter stories jou eie lewensverhaal voorafgegaan het - en wat dit beteken. Op hierdie vlak kan die verhaal nog verdiep word met 'n verdere betekenisdimensie. Gesien die feit dat 'n groot deel van die inleidende beskrywing nie werklik funksioneel is ten opsigte van karakterbou of verhaalverloop nie, kan die skrywer moontlik hierdie deel van die verhaal gebruik om hierdie dimensie uit te bou. Wie is Bet? Twyfel sy dalk oor haar identiteit? Voel sy op een of ander manier vervreem? Wat is haar verhouding met haar familie, hoe het haar pa se sterfte haar geaffekteer - en hoe kan die ontdekking wat sy maak, 'n impak h op haar lewe? Indien die verhaal digter geweef kan word rondom hierdie ander aspekte, kan Bet se uiteindelike ontdekking groter implikasies h as slegs om die leser vir 'n oomblik onkant te vang.

Gaan lees hoe hanteer Damon Galgut 'n soortgelyke tema in sy verhaal "Lovers" in Small Circle of Beings and other stories (Penguin).


"Madam, you must lie down " deur Anna Kemp

Hierdie is 'n sensitiewe, goedgeskrewe verhaal wat werk met onderbeklemtoning en suggestie eerder as om dinge vir die leser uit te spel. Die kortverhaal se krag l in die veelduidigheid daarvan, die geheim wat aan die hart daarvan l, die oopheid van die vertelling wat dit moontlik maak om die vertelde oomblik te verbind met ander verhale en geskiedenisse wat dit voorafgaan of wat daarna mag kom. Hierdie verhaal het veel van hierdie oopheid, en die leser moet self die verskillende verhaaldele met mekaar skakel en verbande tussen die verskillende narratiewe elemente vind. Temas kom na die oppervlak en verdwyn weer, net om later weer te verskyn. Hierdie interne samehang, die resonering van verskillende motiewe met mekaar, is 'n belangrike kenmerk van die kortverhaal, en maak dit moontlik vir die verhaal om binne sy beperkte bestek drade van 'n wyer web te laat roer. Hierdie verhaal het drie onderafdelings, en binne elk van hierdie afdelings word temas aangeraak wat weerklank vind in van die ander dele, sodat die dele op mekaar inspeel en mekaar verhelder. Die eerste deel beskryf 'n gewapende rooftog waarin die verteller se angs en uiteindelike ontkoming beskryf word. Di gedeelte eindig met 'n treffende en bytend ironiese aanhaling uit Haydn se Skepping waarin God se handewerk besing word as groot en wonderlik. In die lig van die voorafgaande episode, is 'n mens geneig om die aarde allesbehalwe te sien as vol van hierdie goedheid Gods. Die tweede gedeelte sluit aan by hierdie ironiese godsdienstema wanneer die verteller se sieklike vader, 'n afgetrede teoloog, beskryf word dat hy soms so naar voel dat hy "kniel langs sy bed asof hy bid". Die skeppingstema kom weer ter sprake in die laaste gedeelte, waar dit die handewerk van mense is - sandbeeldhouwerke op die strand - wat bewonder word. Die motief van iemand wat hom of haar neerl om te sterf (reeds aangedui in die titel), kom ook in al drie verhaaldele voor. Nogtans wonder 'n mens aan die einde van die verhaal wat om te maak van hierdie verbande. Dit is asof daar 'n patroon wil-wil ontstaan uit hierdie verbintenisse, maar dit ontglip 'n mens. Moontlik het dit te make met die skakel tussen lyding en die estetika, hetsy dit God se handewerk is wat nie gevrywaar is van angs en geweld nie, of die verteller se siek vader wat sukkel om musiek te verstaan, of die verteller wat n haar ervaring in die rooftog moeite het om voort te gaan met die skryf van 'n verhaal, of die strandkunstenaar met brandwonde wat kortstondige beeldhouwerke op die sand maak - uiteindelik word die vertellende karakter self ook so 'n beeldhouwerk, en word haar verhaal dus as 't ware ingehaal deur die kuns. Hier is 'n baie interessante tema wat uit die verf begin kom, en wat nog duideliker en sterker ontwikkel kan word. Dalk is hierdie verhaal t oop, en kan die verbande tussen die onderskeie dele nog sterker gel word, of minstens ingekort word aan onnodige beskrywings wat nie direk relevant is vir die kern waarom dit gaan nie. Die beskrywing van die rooftog, hoewel boeiend, is byvoorbeeld te lank, en dit is onduidelik waarheen die derde verhaalgedeelte mik met die aanhalings uit die verhaal waaraan die verteller skryf. Dieselfde geld die lang beskrywing van die kinderjare van die verteller se pa. Nes die verteller haar verhaal-binne-in-die-verhaal beskryf as een waarvan sy nie altyd die verband tussen die verskillende verhaalelemente sien nie (p.9), ly die raamverhaal daaraan dat die onderskeie gedeeltes nog te los staan - elkeen wil-wil 'n afsonderlike lewe inneem, byna soos hoofstukke in 'n roman wat later nog by mekaar gaan uitkom, eerder as 'n kortverhaal waarvan die dele in hegte samehang behoort te wees. Die fokus van die verhaal kan versterk word deur die redigeermes in te l en alles weg te sny wat nie bydra tot die verwewing van die sentrale temas nie. Deur sterker inkorting sal die aandag duideliker gevestig word op dit wat direk relevant is, en sal die verbande duideliker na vore kom.

'n Opmerking oor styl: as daar 'n uitdrukking is waaraan ek persoonlik - en ek neem aan daar moet lesers wees wat dieselfde voel - 'n broertjie dood het, is dit die foutiewe gebruik van "letterlik", soos in die "sekuriteitsmense () kruip letterlik garage toe" (p.2). Dit word wel aan 'n karakter toegeskryf, maar sonder ironie. Die sekuriteitsmense het tog sekerlik nie handeviervoet na die garage toe aangesukkel nie. Die verkeerde gebruik van uitdrukkings erodeer hul betekenis en maak hulle stelselmatig onbruikbaar.


"'n Ewige deel", deur Riekie Lombard

Dit is vir my onduidelik presies wat hierdie verhaal eintlik wil vertel. 'n Groot deel van die vertelling is in die vorm van 'n terugflits na die karakter Annie se kinderjare, en later word daar weer teruggespring na die hede, met Annie as volwasse oujongnooi. Die sleutel vir Annie se kwellinge in die hede - dinge "wat sy nog moet uitpluis", waarskynlik godsdienstige vrae, maar ook die feit dat sy "nooit tot trou gekom" het nie - l klaarblyklik in haar kinderjare. Die eerste deel van die verhaal gee ons dan ook 'n kykie na hierdie kinderjare, en veral na een spesifieke episode waarin 'n seun hom aan haar ontbloot het. Hierdie gebeurtenis het kennelik so 'n skadelike sielkundige uitwerking op haar gehad dat die effek daarvan jare later nog merkbaar is. Die probleem van hierdie verhaal is egter dat die gebeure in Annie se verlede te eksplisiet geskakel word met Groot Spirituele Gedagtes. Annie probeer vrae uitpluis soos "Waar is die Hemel orals en hoe groot is Orals? () Hoe lank is die Ewigheid en wat kom eerste? Vandag? Eendag? Gister? Mre?". Daar is egter nie werklik genoeg leidrade in die vertelling van die episode in Annie se kinderjare wat begin om 'n antwoord te bied op hierdie vrae nie, f wat verduidelik hoekom hierdie vrae steeds deur grootmens-Annie gevra word nie. Die naaste wat daaraan gekom word, is die stelling dat Annie "die woord 'Ewigheid' beter begin verstaan" het n haar ervaring in die rondawel waar die seun hom aan haar ontbloot het. Maar waarom? Is dit omdat die tyd wat sy daar binne gespandeer het soos 'n ewigheid gevoel het ("Na 'n ewigheid het die stram slot uiteindelik stadig oop geklik-klik")? Dit is nie duidelik nie.

Dit sal nie deug om die verband tussen die geestelike vrae en die - laat ons maar s - wreldse gebeure duideliker uit te spel nie. Die geestelike vrae word reeds te veel uitges, en die verhaal kan begin klink na iets uit die Heidelbergse Kategismus. Die oplossing om die verhaal te laat werk, sal eerder wees om eerlik en onopgesmuk die ervaring van die dogtertjie Annie in meer alledaagse terme uit te beeld. Daar kan nog betekenisvolle detail gegee word, daar kan gepoog word om haar emosies te verwoord, daar kan meer uitgebrei word op wat die volwasse Annie oorgehou het van haar vroere ervaring en hoe dit in die hede steeds by haar spook. Oor die algemeen sal dit egter baat om die ou rel in gedagte te hou: dis beter om te "show" as om te "tell".

Die slot van die verhaal is ook te kripties. Waar pas die "stom sekelmaanman" (mooi beeld!) in die verhaal in, en hoe moet ons sy verskyning verstaan in die lig van die res van die verhaal? In 'n kortverhaal is die slot ook 'n sleutel, word dikwels ges, en 'n mens soek in hierdie slot dus iets om die res van die verhaal mee te ontsluit. Wat is dit? Slaan die man met die trollie se "pap, grys kuif" terug op die "swart Elviskuif" van die seun in haar vroere ervaring? Hoe letterlik moet 'n mens die ooreenkoms opneem, of is Annie besig om gesigte te sien as gevolg van die kleintyd-trauma wat steeds (na al die jare?!) nie wil wyk nie?

Daar is dus in die verhaal 'n paar elemente - sleutelwoorde, as jy wil - wat nie behoorlik met mekaar verbind word nie. Die gevolg is 'n verhaal waarvan die drade in die lug bly hang, en wat onaf is. Hierdie onafheid en onvoltooidheid moenie verwar word met die oopheid en suggestie van 'n geslaagde kortverhaal nie - in laasgenoemde geval werk verskeie elemente saam om iets meer te suggereer, om betekenis te aktiveer. In hierdie verhaal is dit bloot 'n geval van verhaalelemente wat nie genoegsaam met mekaar skakel om die vertelling die nodige vonk te gee nie. Wat, byvoorbeeld, is die nut daarvan om die gemeente se reaksie op die jong dominee se 'post-moderne idees' weer te gee? Hoe skakel dit met die res van die verhaal? Waarom word daar n die rondawel-episode nie weer teruggekeer na die spinnekop-motief wat so 'n belangrike plek in die verhaal (die openingsparagraaf) beklee nie? Hoe moet 'n mens die titel verstaan, en hoe bied dit 'n sleutel om die verhaal se betekenis te ontsluit? Die verhaal wek te veel vrae wat in die lug bly hang. Die eerste stap sal wees om dit te stroop van alle onnodige vertelling en inligting wat nie met die sentrale idee saamhang nie. Dan moet die elemente wat oorbly, op mekaar inspeel om 'n hegte geheel te vorm. En dit moet gedoen word aan die hand van 'n aardse, herkenbare storie (weer: "showing" eerder as "telling"), waar die "dieper" of "geestelike" betekenis eerder onder die oppervlak ontdek kan word as wat dit uitgespel word aan die leser.

Hier en daar word mooi beelde gebruik, soos "stom sekelmaanman", maar geykthede of swaar, rammelende frases en sinne soos "Annie se skuilplek was van alle waarde ontneem", "Annie se pleit-dreigery () het in 'n tydlose put geval", " 'n Groot stilte het tussen hulle kom woon" en "Hulle het saam verlore geraak in die tydlose ervaring" moet vermy word. Die verhaal sal groter trefkrag h indien dit in minder opgesmukte taal vertel word.



Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Kirby van der Merwe se eerste verslag
Klik hier om die verhale te lees


LitNet: 18 Mei 2005

Wil jy reageer op SkryfNet V? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspiel nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.