|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
|
LitNet is n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |
|
|
|
Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole
Eerste verslag - SkryfNet V
Kirby van der Merwe
Klik telkens op die storie se titel om die verslag te lees:
"Madam, you must lie down" - Anna Kemp
"'n Ewige deel" - Riekie Lombard
"Goldfinger" - Liza Louw
"Elke vrou het 'n geheim" - Nicolene Prinsloo
"Tyd om te trek" - Karin Sennet
'n Besonder aangrypende verhaal. Eintlik is dit vir my een van die interessantste
na-1994-verhale wat ek al gelees het, en een wat bly spook het, lank na die
lees daarvan.
Die ironiese titel anker die verhaal
sommer van meet af. En dit weerklink regdeur die teks: in deel 1 is dit 'n opdrag
oor die loop van 'n skietding. In deel 3 is dieselfde reël 'n versoek om te
rus. En tot ruste te kom. Kortom, dis 'n titel met baie interpretasiemoontlikhede
sonder dat dit die kern van die verhaal enigsins verklap.
Die verhaal ontvou vir my soos 'n
skildery, 'n triptiek. Drie (op die oog af) afsonderlike vertellings. Elke deel
verteenwoordig 'n tydsprong en 'n wending.
Deel 1: Die styl en toon het my aanvanklik
nie aangestaan nie. Die emosielose beskrywing van 'n gewapende roof, byna soos
'n koerantberig. Maar nadat ek die verhaal klaar gelees het, glo ek dit moet
so bly, dit wil sê aan die toon en tempo moenie gepeuter word nie. Dit is die
selfvoldane stemtoon van iemand wat met die harde werklikheid kennis gemaak
het, maar by wie die besef van hoe magteloos jy teen tragedie is nog nie ingesink
het nie. Die hele ding is ietwat van 'n grap - let op die sosio-politieke implikasie,
die ironiesheid van die titel.
Deel 2: Die verteller se pa wat op
sy sterfbed lê en oor sý pa se dood treur is baie aangrypend. Dis fyn en baie
akkuraat waargeneem. Net iemand wat so iets ondervind het, sal weet hoe in die
kol die waarneming is.
Deel 3: Eweneens baie goed geteken
en bedink en die titel word baie subtiel tot sy volle konsekwensies deurgevoer.
Die ontknoping slaan jou tussen die oë.
Hier is 'n volwasse storieverteller aan die woord. Te oordeel aan dié verhaal
het Anna Kemp die vermoë en (dink ek) genoeg asem om 'n langer teks met gemak
te kan aanpak.
Myns insiens is "Madam, you must lie
down" eerder 'n sentrale snit uit 'n baie langer teks, soos 'n novelle of 'n
roman. Indien dit nie is nie, sou ek sterk aanbeveel dat die skrywer die gegewe
uitbou, want die verteller in hierdie verhaal het sommer nog baie om te vertel.
Daarmee gee ek nie te kenne dat die
teks soos dit staan nie as 'n kortverhaal werk nie, inteendeel.
My enigste voorbehoud is miskien
die paar verwysings na musiek in die teks: dit is vir my "sympathetic weather",
ingevoeg vir effek. Dié verhaal is sterk genoeg daarsonder.
Pragtig.
Dié verhaal loop wye draaie. Hoofrede is myns insiens die ontwykende manier
van skryf, die omslagtige manier hoe die gegewe aangebied word in 'n amper (Victoriaanse)
ouderwetse sin vir fatsoenlikheid.
Ek het die suspisie dat die skrywer
'n onderwerp aangepak het, maar skroom om die toneel wat sentraal tot die verhaal
staan kaalkop te beskryf.
Tyd, plek en ruimte is nie van meet
af aan vasgepen nie, met die gevolg dat die leser heeltyd in die duister rondtas
op soek na 'n vatplek.
Wanneer en waar presies vind die gebeure
plaas - oorsee in Duitsland miskien? Dit word nêrens uitgespel nie. Behalwe
miskien "die dorp met baie eikebome" wat moontlik Stellenbosch kan wees.
Miskien moet die verhaal begin met
die groep wat by die kafee kuier. Die "stom sekelmaanman" moet dalk reeds tydens
die gesellige kuiertjie die verteller prikkel om terug te kyk. Dat die hele
verloop van die verhaal in die bestek van dié kuiertjie in die verteller se
kop afspeel.
Ek stel voor dat die skrywer die leser
tegemoet kom deur die verhaal drasties te snoei en te besluit wat presies die
fokus van die verhaal is.
Daar is 'n hele paar motiewe wat parallel
loop:
Goed en Kwaad. Die paradysverhaal,
erfsonde (die verlies van onskuld in die jong Annie se kennismaking met die
slang) en 'n hele spul Bybelse verwysings.
Dan blyk dit ook dat die duiwel uit
die Kinderbybel klim en hier (op Stellenbosch in die vorm van "die seun met
die Elviskuif") kom rondloop. Ook die motiewe van skuld en skaamte. Valsheid
en dwepery met godsdiens. En "ewigheid".
Ek kan nie sien waarom spinnekoppe
en die longdrop so sentraal staan nie. Moet die fokus nie liewer op die rondawel
wees nie?
'n Paar dinge wat die skrywer dus moet uitklaar:
Waarom is die fokus op spinnekoppe
en die longdrop in plaas van op die rondawel?
Die vrou met die "hoogduitse stamboom"
wat nie "morsigheid" op haar werf verdra nie - wat presies is haar rol? (Behalwe
dat sy desnieteenstaande haar stamboom iets boos voortgebring het.)
Hoekom Annie se ma haar verplig voel
om die vrou se rose te snoei, is ook nie duidelik nie.
En hoekom word Katriena se kinders
"uit Oupa se Hollandse Bybel" Sondagskool gegee? Geen wonder die bloedjies het
Annie "net verskrik sit en aangaap" nie.
Ek doen aan die hand dat die meeste
van die beskrywings, die preke en sedepreke en die gemeentelike kletspraatjies
wat nie pertinent tot die ontsluiting van die verhaal bydra nie drasties teruggesnoei
word.
Die beskrywing van die binnekant van
die rondawel kan miskien op iets spesifieks dui wat kan aandui waarom die "hoogduitse"
familie die swartskaap gebaar het. Iets wat die hoogduitse stamboom kan opstuur
of miskien 'n geheime lewe van die fatsoenlike tannie.
Kortom dus: Lê in met die snoeisker.
Ontwikkel enkele van die simbole. "'n Ewige deel" het meer as genoeg inhoud
en 'n sterk verhaalgegewe om dit 'n sielkundige en godsdienstige klein riller
te maak.
Goldfinger verwys na 'n piesangvariëteit, maar dit roep onmiddellik drama
en intrige op. Goldfinger is op slot van sake een van die aartsboosaarde van
die James Bond-flieks.
Of die tragiek van Midas wat deur
gierigheid sy dogter in goud verander het. Maar die titel sinspeel ook op 'n
ietwat kru parafrasering van "the man with the golden gun" na "the man with
the golden banana". En vanselfsprekend na vingers en hande, maar weer eens ook
na die kru "bad finger".
Die probleem egter is dat die titel
juis as gevolg van die vele konnotasies reeds te veel uitspel en die leser dus
te wagte is wat gaan kom.
Die verteller kom kuier by haar oom aan vaderskant. Die naamlose oom boer met
piesangs van die genoemde variëteit. Waar die plaas geleë is, word nooit genoem
nie. Die oom neem die pasgetroude jong verteller en haar naamlose man op 'n
besigtigingstoer deur sy plantasies.
'n Geil subtropiese, beklemmende landskap
word geteken.
Wellustigheid steek reeds vroeg in
die verhaal kop uit wanneer die boer met ander oë na die verteller kyk, en in
die geskommel van die bakkie teen haar aanskuur.
Ook in die beskrywing van die plante:
"Hulle staan dig soos 'n oerwoud met die welige groen kroonkoppe oopgevlek na
die hemel." Of: "Ritse groen piesangs krul wellustig soos hande teen die stamme
omhoog."
Bostaande aanhalings ter illustrasie
waarom 'n skrywer baie versigtig met dié soort beskrywings moet omgaan. Die
simboliek kan maklik, soos in hierdie geval, te dik aangemaak word.
Baie opmerklik is dat die hele vertelling en die beskrywings net van buite waargeneem
word, asof die verteller haar hele besoek deur die lens van 'n videokamera bekyk.
Sy beleef nie, dink nie, voel nie:
hoe voel dit (vir 'n vrou) om in die humiditeit tussen twee mans in die kajuit
van 'n bakkie te sit.
Die leser bly ook die toeris wat nie
vastrapplek kry nie. Die vertelling draal te lank om aan die gang te kom en
verval in beskrywings van die landskap en die weer.
Die storie dryf omdat daar te veel,
by wyse van speke, om die bos gepraat word. Waar, o waar is die plaas; waar
woon die verteller en haar man - Johannesburg, Durban, New York of Londen? Help
asseblief.
Wat myns insiens hier kortkom, is
'n goeie, treffende beginsin of eerste paragraaf . Is "'n Plant lewer net een
tros piesangs per jaar" regtig die beste manier om die verhaal mee af te skop?
Drie wêrelde word hier genoem:
- Die boerdery;
- "die groot stad. Waar betongeboue
sy aan sy die hoogtes inskiet langs die bot raamwerk van warm teerstraat op
teerstraat. Massa mense wat wemel op die sypaadjies. Gedrang, verkeersgeraas,
rook en stoom";
- En die kombuis van die boer waar
die (naamlose) "werfhulpe" doen wat "werfhulpe" doen.
Maar die wêrelde word net in die verbygaan
genoem.
Ook word die liefdesvyfkant (na analogie van liefdesdriehoek) myns insiens nie
genoegsaam ondersoek nie. Hier het ons die oënskynlik "innemende" oom en sy
ewe deugsame vrou "oudergewoonte in die kombuis besig voor die stoof", 'n vrou
"wat al die geheimenisse van boervrouwees" ken, en haar "paar werfhulpe wat
handjie bysit", die verteller en haar "stedelike man".
Die skrywer/verteller trap hier in
'n slaggat: die sogenaamde "afwesige" (my klem) "werfhulpe" word in die verhaal
amper klassiek geobjektiveer: hulle is gereduseer tot die houthakkers en vir
klandistiene seksuele bevrediging. Die plek waar die boer, terwyl sy vlytige
vrou haar afsloof, sý vlytige vingers werk gee.
Kyk hoe word die "jong enetjie" beskryf:
"Haar stewige vol boude klok uit vanaf die smal middel …" en van onder die "dun
katoenbloesie … bons en bokspring haar kaal bolronde borste soos twee lammers".
Die wulpse werfhulp word opgestel
in teenstelling met die deugdelike boervrou … Versigtig trap. Dis 'n mynveld
waar selfs die engele dit nie maklik waag nie.
Waar die skrywer se gebruik van hande
en vingers wel tot reg kom, is die man se groot hande in die "koesterende vertroudheid"
van hande vashou tydens die tafelgebed.
Wat na my mening nie genoegsaam ontwikkel word nie is die spel en verhoudings
tussen die mans en hul vroue. Of dalk 'n meer subtiele kyk na die verhouding
tussen baas en werker (in hierdie geval is hulle nie veel meer as slawe of lyfeienes
van die boer nie).
Ek hou veral van die skrywer se vermoë
om die leser te laat wonder: Is die goeie boervrou miskien koud en afsydig teenoor
haar man en so besig om 'n raakvatter te wees dat die arme man moet uitreik
na die plaaswerkers vir warmte?
Ly die boer gebrek in die wêreld van oorvloed wat hy geskep het? Miskien moet
die klem eintlik na die verhouding tussen dié twee verskuif.
Die skrywer moet egter waak teen mooiskrywery (daar is etlike voorbeelde), of
die vertelling onderbreek deur (onnodige) invoegsels en beskrywing.
En regtig, die slotparagraaf moet
waai. Punt. Die simboliek, metafoor, beeld van die tros piesangs in hier darem
net een te veel.
Dit klink miskien alte negatief. Maar die
verhaal het al die elemente om 'n fyn verweefde kunswerkie te word.
Edward George Bulwer-Lytton (1830) is vandag sekerlik een van die bekendste
skrywers. Nie oor sy besonderse skryftalent nie, maar oor dié openingsin: "It
was a dark and stormy night; the rain fell in torrents - except at occasional
intervals, when it was checked by a violent gust of wind which swept up the
streets (for it is in London that our scene lies), rattling along the housetops,
and fiercely agitating the scanty flame of the lamps that struggled against
the darkness."
Bogenoemde het die wonderlike eer
om voorgehou te word as die beste voorbeeld van die "swakste" begin van 'n roman.
Die Engels-departement van San Jose State University bied sedert 1982 die BLFC-kompetisie
aan waar hulle skrywers uitdaag om Bulwer-Lytton die loef af te steek.
Dit wys ervare sowel as onervare skrywers
op die belangrikheid van 'n sterk beginsin.
Die weer en die atmosfeer is nie altyd
'n goeie ding om mee te begin nie. Of om die weer (of musiek) in simpatie met
die gemoed te laat saamkreun en ween nie (die verskynsel wat Bartlett [1932]
as "sympathetic weather" beskryf het).
Die uitdaging vir enige skrywer is dus om fyn te trap vir die geykte woord,
frase en veral die geykte beginsin. Tensy dit met voorbedagte rade of om 'n
baie goeie rede gedoen word.
Ek aanvaar dus dat die skrywer
met goeie rede die gemoedstemming van haar verteller en die weer laat saamloop.
Myns insiens is die hele aanloop onnodig.
Ook paragraaf 2 is onnodig en kan in die geheel geskrap word. Dit versteur bloot
die vlot verloop van die verhaal. Soos die verhaal nou daar uitsien, is dit
bietjie dun. Die "outydse blik" moet myns insiens meer prominent in die verhaal
staan. Dié blik is Pandora se kissie en moet dit vorentoe nog meer wees. Miskien
moet die verhaal sommer begin met die paragraaf: "Sy het in elk geval dinge
wat moet klaarkom. Bet stap proe-proe met die wyn kamer toe …"
Miskien moet die blik se geskiedenis eerder opgerakel word om dimensie aan die
verhaal te gee.
Die beskrywing van die illustrasie
"Baanbreker koffie vir baanbrekerboere" op die blik werk vir my perfek. Dit
gee die storie 'n lekker ironiese inslag. Ek weet nie hoe groot die blik is
nie, maar te oordeel aan die aantal goed wat die verteller daaruit haal, moet
dit seker 'n kleinerige bliktrommel wees.
'n Mens sou dink dat 'n blik waarvan
die deksel met twee hande afgerem moet word, net die allernodigste sou bevat.
Die ellelange inventaris van die blik se inhoud, dra dit enigsins by om die
leser 'n idee te gee van watter soort mens die verteller se pa was? Ek dink
dat die hele inhoud van die blik - dit wat die man as belangrik beskou het -
net soveel indien nie meer as die troufoto sou verklap. Die man, sy vrou en
die verteller bly bloedloos. Hulle kom nie uit die verf nie.
Ook in hierdie verhaal is die verteller nouliks by die gebeure betrokke en steek
die verhaal vas in waarneming. Die skrywer moet bedag wees op geykte frases
en stelwyses; daar is baie voorbeelde daarvan, soos: "Bet se asem begin teen
haar bors klop"; reëndruppels wat op 'n sinkdak "in stukke breek".
Die verteller praat met 'n amper karikatuuragtige plattelandse stem: die teks
is besaai met verkleinwoorde en sêgoed.
Die gemoedelike geselstrant is die groot negatief van die verhaal.
Dit kan werk mits die skrywer gaan
kers opsteek by Abraham H de Vries of PG du Plessis wat dié soort orale vertelling/geskinder
gemeng met nostalgie onverbeterlik hanteer.
Ook in hierdie verhaal word tyd, plek
en ruimte nie gevestig nie. Waar presies is die dorpie? In die middel van die
vaal ou Karoo, miskien in die ou Transvaal?
Nog 'n probleem is die ongeïdentifiseerde
spreker - eers teen die einde van 'n nogal lang vertelling ontdek die leser
die verteller is die winkelier wat die komme en gane van die inwoners van Wilgerfontein
van haar winkelstoep af sit en gadeslaan.
Die verhaal lewer 'n pleidooi, 'n betoog en 'n waarskuwing teen die grootskaalse
ontwikkeling van die platteland deur gewetenlose eiendomsontwikkelaars. Dis
basies 'n klaaglied vir die verbygaan van 'n era, 'n kleindorpse kultuur. (Is
dit altemit die rede waarom die jong mense liewer wegvlug van die kleindorpse
beklemming, "waar almal mekaar ken" en "jy weet wie besit wat en van waar en
vir hoe lank", en almal op die dorp "die gawe ou mensies" op die voornaam ken?)
Alles goed en wel, maar die uitdaging
is hoe om dié gegewe tot 'n kortverhaal om te tower.
Die verteller het 'n klaende, moralistiese,
bitterbek-stemtoon. Dis bietjie vervreemdend, want die leser sien die dorp teen
wil en dank deur die oë van so 'n kermgat - nie 'n lekker plek om jou te bevind
nie.
PG du Plessis se "Koöperasiestories"
slaag daarin om die dorp se busy bodies met deernis te teken. Hierdie verteller
kyk egter met 'n byna te kil oog na die onderwerp: die adder in die paradys
is die "vietse jong dametjie" wat die "gastehuisie" op die "rustige landelike
dorpie met ouwêreldse sjarme" kom koop het.
Interessant ook is dat die dorp se
manne vlerksleep by die aanvallige vroutjie, maar sy systap hulle. Sy staan
egter lank by ou Martiens en gesels: " 'n Mooie ou prentjie, die aanvallige
vroutjie met haar kordate kort rompie wat so vriendelik met Martiens gesels,
hy met sy ou hoedjie tussen die verrimpelde bruin hande, kaal voete in die leivoor
waar hy besig is om blare uit te skep. Ella het geweet by wie dit veilig was
om te gesels."
Jy sien, dis die tyd toe elkeen sy
plek geken het.
Ook in hierdie verhaal is daar te veel klem op beuselagtighede. Die verteller
onderbreek telkens die vloei deur ondeurdagte invoegsels van dialoog. Die skrywer
moet weer kyk waarom 'n karakter 'n spreekbeurt gegun word.
Ironies is die einste verteller ook seker baie na aan aftree. Dit sal seker
nie 'n verregaande gedagte wees dat die verteller terdeë bewus moes wees van
die finansiële implikasies van die ontwikkelings nie. Die ironie is dat die
skielike invloei van geld en mense na die winkel gaan verseker dat die verteller
uiteindelik haar "aftrede in plattelandse weelde" gaan geniet.
Dus, ook hier moet die snoeiskêr ingespan word. Hierdie tipe vertelling moet
myns insiens infokus op die onderwerp en op verhoudings, 'n spesifieke gebeurtenis,
en dit meedoënloos agtervolg. Wat hier kortkom, is 'n sterk motoriese moment.
Anders is die verhaal soos dit nou staan bloot 'n relaas.
Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Herman Wasserman se eerste verslag
Klik hier om die verhale te lees
LitNet: 18 Mei 2005
Wil jy reageer op SkryfNet V? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
boontoe / terug
|