|
|
Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole
Tweede verslag - SkryfNet VIIIJohann Lodewyk Marais
Klik telkens op die digter se naam om die verslag te lees:
Die positiewe indruk wat ek van hierdie digter se werk het, bly in stand nadat sy aan haar gedigte gewerk het. Die bereidwilligheid om aan gedigte te werk, is reeds ’n positiewe teken. Talle aspirantdigters wil immers nie graag aan hulle gedigte werk nadat dit die eerste keer geskryf is nie. Die spontaneïteit van die gedigte sal verlore gaan indien ’n mens verder daaraan torring, word geredeneer. Dit is natuurlik ’n drogredenasie. Aan goeie gedigte is daar dikwels lank en baie hard getorring en geskaaf. Die manuskripte van bekende digters kan as bewys hiervan geraadpleeg word. Die digter het in die nuwe weergawe besluit om te volstaan met die gebruik
van die vrye vers waarin daar nie (deurlopend) van hoofletters en kleinletters
gebruik gemaak word nie. Ek handhaaf my oorspronklike mening dat hierdie boeiende
gedig daarby sal baat indien hoofletters en leestekens gebruik word, al respekteer
ek uiteraard die digter se besluit om by ’n sekere eie benadering te hou.
Die behoud van enkele hoofletters (bv “R40/uur” en “SKY”)
is nie werklik gemotiveerd nie en kan op ’n bepaalde willekeurigheid in
die gedig dui. Daarbenewens behoort die Engelse woorde in die gedig gekursiveer
te word. Dit word byvoorbeeld deurgaans in digbundels gedoen wat deur Protea
Boekhuis gepubliseer word. Van die twee gedigte is hierdie steeds ontroerende een oor aborsie wat die tegniese afronding betref die bevredigendste. Ek glo steeds dat leestekens wat deurlopend kreatief gebruik word, die dramatiese effek van die gedig sal verhoog, maar ek is ook bereid om na die argument te luister dat die gedig soos hy nou daar staan, sy eie spanninge bewerkstellig. Van die twee is dit in die huidige vorm (let wel!) vir my die beste gedig. Die wyse waarop hier met taal en die vorm geëksperimenteer word, laat ’n mens hoop dat die digter in die toekoms nog meer gedigte sal skryf waarin sy so ooglopend eksperimenteer. Tans word hierdie uitdaging deur min Afrikaanse digters aanvaar. Miskien is dit dié dat ek soms dink dat dit goed sou gewees het as die Sestigers langer met hulle eksperimente aangehou het! Hierdie twee gedigte van Madge du Preez oor sosiopolitieke kwessies van die
verlede is heel ingrypend verander aan die hand van die kommentaar wat op haar
werk gelewer is. Heelparty van hierdie wysigings verbeter aspekte van die gedigte,
maar nie een van die twee gedigte is in hierdie stadium heeltemal bevredigend
nie. Ek wil nietemin graag glo dat dit die proses van herskrywing is waardeur
die digter gegaan het wat vir haar die meeste wins opgelewer het. Sy het nou
eerstehandse ervaring opgedoen van wat met ’n gedig gebeur wanneer aan
die oorspronklike vorm gewerk word. Dit kan as ’n goeie leerskool vir
toekomstige skryfwerk dien. Hierdie gedig lyk nou sommer heeltemal anders as die vorige weergawe! Of die
sentreer van die versreëls enigsins iets positiefs tot die gedig bydra,
lyk vir my onwaarskynlik. Of het die digter per ongeluk die sentreerfunksie
van die rekenaarprogram gebruik? Maar goed, die groter ekonomie waarmee woorde
gebruik word, is ’n duidelike vooruitgang. Ongelukkig is die leestekens
nog nie bevredigend gebruik nie. In die eerste strofe behoort daar na die derde
vers ’n dubbelpunt te wees, terwyl daar kommas aan die einde van die vierde
en die vyfde versreëls moet staan. ’n Komma ontbreek ook aan die
einde van die derde laaste versreël van die tweede strofe. Die ongelukkige verskuiwing van mense uit Distrik Ses het tot heelparty boeiende/skreiende tekste aanleiding gegee. Hierdie gedig lewer ook ’n klein bydrae. Die herskrywing het die gedig betekenisvol versterk, soos onder meer uit die vaster vorm van die gedig gesien kan word. Dat die digter dit kon regkry, voorspel goeie dinge vir die toekoms. Die deel in Kaapse Afrikaans is sommer piekfyn! Tans hinder die rymdwang in die eerste strofe nog, terwyl die laaste strofe
vir my gevoel nog steeds te abstrak is. Ronel Scheffer se gedigte is tydens die herskryf nie wesentlik verander of
verbeter nie en my besware is dus nie behoorlik aangespreek nie. My geheelindruk
is nog steeds dat albei gedigte by meer vorm- en denkdissipline kan baat. Veral
groter versekonomie lyk vir my noodsaaklik, terwyl die digter ook aandag moet
gee aan wat sy presies probeer oordra. Gaan die lesers verstaan wat sy geskryf
het? ’n Digter moet dit darem nie te moeilik vir die lesers maak om te
verstaan nie, anders verloor hy/sy hulle aandag. “Man” was die vorige titel van hierdie gedig. Wat nog verander
het in die gedig, is die verwysing na NP van Wyk Louw se “Ballade van
die bose” en die opdrag aan Sheila Cussons wat heeltemal weggelaat is
en vroeër moontlik die leser op ’n dwaalspoor geplaas het. Maar dit
was moontlike sleutels. Nou moet die digter ander sleutels probeer kry in hierdie
tweedelige gedig waar die enigsins verwarrende beelding dit ongelukkig nie maklik
maak om agter die kap van die byl te kom nie. Ek is dalk onnodig negatief, maar
die gedig behoort drasties verkort te word (ook as ’n oefening!) om die
essensie na vore te bring. Kyk gerus wat dan gebeur. My raad is dat die digter dele van die gedig heeltemal kan weglaat of in ’n nuwe, “gekonsolideerde” gedig behoort te betrek. Ek merk wel die fyner woordkeuse plek-plek na aanleiding van Charl-Pierre Naudé se voorstelle, maar in die geheel is die progressie in hierdie reeks onbevredigend. Gebruik eerder die enkele sterk, konkrete beelde om met ’n gedig of twee met ’n duidelike struktuur en segging vorendag te kom. Ek het hard probeer om die gedig te verstaan, maar wat word byvoorbeeld in (v) gesê? (Dié deel word, terloops, onverklaarbaar woordeliks in (vi) herhaal.) Daar staan onder meer “ek roei in my tuin”. Waarop of waardeur word geroei? Jammer, ek verstaan nie. By die lees van hierdie gedigte is ek weer eens deur Jasper van Zyl se beeldgebruik
getref. Beelde en metafore gaan egter van hierdie digter nog besondere dissipline
vereis, want die teenstrydighede en onafhede in sy gedigte sal moet aandag kry.
Dit is soos ’n besonder talentvolle kolwer wat nog met sy tydsberekening
en sekere houe sukkel. Indien Van Zyl homself die tug van dissipline en genoeg
oefening gun, sien ek baie belofte vir hom vorentoe. Die kennismaking met sy
gedigte was in elk geval een van die verrassings van hierdie projek. “waar ons speel by scylla of charipdis” Die gedig se vorige titel was “spokejag”. Die digter het hier die
meeste van die probleme met die logika en die sinsbou opgelos, wat dit beslis
meer toeganklik maak. In sekere opsigte is dit selfs nou ’n gedig met
’n besondere bekoring. Op enkele plekke is daar wel nog iets wat hinder.
Die gedeelte tussen hakies in die tweede en derde versreëls van die eerste
strofe is minder oortuigend, terwyl dit meer realisties (sic!?)/onheilspellend
sal wees indien die wolwe “bekke” in plaas van “monde”
het. In die tweede strofe is “tronkok” waarskynlik “tronkoë”,
terwyl ek ook nie van die minder formele “daai” in die laaste strofe
hou nie. Die leser hoef nie alles in ’n gedig te verstaan nie, maar tog, tog.
Ek verstaan nie die betekenis van “my laf gedistilleerde en radelose tong”
en die laaste strofe nie, want wat beteken dit nou eintlik as die grond die
blik van my hoop en my oë verwelkom? Voorts word iets normaalweg “ingeskink”
en nie “uitgeskink” nie. Ek herhaal hierdie kritiek, want ek glo
dat indien die digter hier bevredigende oplossings kan kry, hy ’n besondere
gedig op die tafel kan sit. Moet ’n mens nie maar soms kreatiewe kompromieë
ter wille van leesbaarheid maak nie? Te veel baie belowende gedigte van Sestigerdigters
is byvoorbeeld bederf omdat hulle nie tot in hulle vesels afgerond is nie. In die nuwe weergawe van haar gedigte maak Riana Wiechers veral gebruik van
gedigte wat in kleinletters geskryf is, met enkele hoofletters, terwyl sy slegs
oop spasies tussen woorde gebruik om moontlike ruspouses aan te dui. Ook hierdie
digter moet gekomplimenteer word oor die harde werk aan haar gedigte. Al is
nie een van die twee gedigte tans heeltemal geslaagd nie, is dit waarskynlik
die proses-van-werk aan die gedigte en die gewilligheid om dit te doen wat in
hierdie stadium die grootste wins is. Hierdie herskrywing van Ingrid Jonker se “Die kind” is nou self
herskryf, maar van my besware van vroeër staan nog. Dit is eerstens onnodig
om te sê dat die gedig “’n herskrywing” van Jonker se
gedig is, aangesien Jonker se gedig so bekend is. Dit wat nou onder die titel
staan, stempel die gedig onnodig as ’n geleentheidsgedig. In vergelyking
met Jonker se gedig is hier ook heelwat abstrakte segging in plaas van konkrete
voorstelling, wat veral in die eerste strofe hinderlik is. Iets wat nou bykom
en onder meer visueel hinderlik is, is die oop spasies (à la TT Cloete)
tussen woorde in bepaalde versreëls om (moontlik) ruspouses aan te dui.
In die geheel gesien, het die gedig by die sensitiewer woordkeuse gebaat. “Koejawels val van 'n boom op George” Die digter het met die herskrywe groter eenheid in die gedig bewerkstellig,
want die koejawelboom wat in die eerste deel van die gedig voorkom, word nou
ook later in die gedig betrek. Sodoende word daar van meer progressie en herhaling
(wat belangrike elemente van die poësie is) in die gedig gebruik gemaak.
Soos in die vorige gedig het die digter van die hoofletters aan die begin van
die versreëls ontslae geraak, wat dit ’n meer outentieke Afrikaanse
gedig maak. Miskien is die gedig steeds te uitgesponne en kan daar aan die woorde
gesnoei word. Hoeveel van die eerste strofe hoef byvoorbeeld regtig behoue te
bly?
Wil jy reageer op SkryfNet VIII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |