SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Algemene wenke

Johann Lodewyk Marais :

(18 Oktober 2005)

Dit is ’n voorreg om met aspirantdigters oor hul skryfwerk in gesprek te tree. Persoonlike hulp deur ’n digter wat reeds self gepubliseer het, is ’n vorm van nieformele skrywersopleiding waarby heelwat gevestigde digters ook eens gebaat het. Dink maar aan D.J. Opperman se hulp aan Ina Rousseau, G.A. Watermeyer, Breyten Breytenbach en Antjie Krog. Om te dink dat hulle ook hulp nodig gehad het! Die geleentheid wat die aanlynskryfskole van Sanlam/LitNet bied, maak hierdie vorm van opleiding toeganklik vir meer aspirantdigters as wat andersins moontlik sou wees. Hulle is andersins dikwels op die guns en welwillendheid van gevestigde digters (baie met goed ontwikkelde en selfs lelike selfbeelde!) aangewese, wat die hulp soms óf teësinnig gee óf weerhou. Hulp aan aspirantdigters stel egter uitdagings en ek wil nou reeds sê dat ek deurgaans my persoonlike voorkeure oor tekste gaan wys. Dit is daarom goed dat daar ’n tweede inwonende digter/kritikus is wat as ’n korrektief kan optree!


(07 Maart 2006)

Om hulp aan ’n aspirantdigter te bied, is om in wese in ’n oop gesprek met so ’n digter te tree. Die voorstelle wat ’n mens maak, hoef daarom nie noodwendig deur die digter nagevolg en/of toegepas te word nie.

Daar kan baie redes wees waarom aspirantdigters kan besluit om liewer nie die gevestigde digter se raad te gebruik nie. ’n Rede sou kon wees dat hulle voel dat hulle nie reg verstaan word nie en daarom by die oorspronklike weergawes van hulle gedigte wil hou. Nog ’n rede kan wees dat die voorstel(le) die eie aard van hulle werk sodanig kan beïnvloed dat hulle liewer nie die “goeie raad” wil volg nie. Dikwels is dit ook verkieslik om net enkele voorstelle van die gevestigde digter te aanvaar en om ander voorstelle maar liefs in die wind te slaan. Hoe dit ook al sy, dit is die aspirantdigters se voorreg om uiteindelik te besluit wat hulle met die voorstelle gaan maak. Soms is digters maar koppig en word goeie raad tot hulle eie nadeel nie gevolg nie. Die mentor moet helaas toegee dat dit meermale gebeur dat hy/sy ’n wenkbrou van verbasing lig!


*

Algemene wenke van SkryfNet VI

Joan Hambidge:

Vir alle voornemende digters net 'n paar wenke oor die skryfproses. Gaan bestudeer Ottone M. Riccio se The intimate art of writing poetry (Prentice Hall, New York. 1978) en skaf vir jou 'n eksemplaar aan van André P. Brink se Groot verseboek 2000. 'n Mens kan alleen gedigte skryf indien jy die gedigte wat reeds in daardie taal geskryf en gepubliseer is, ten minste ken. Indien jy dit nie ken nie, kan jy geen bydrae lewer nie. Nie alleen moet jy tematies kennis neem van wat alreeds gedoen is nie, maar jy moet ook verstegnies ingelig wees. Wat maak van 'n digter 'n geslaagde, boeiende of goeie digter? Hoekom lees ons steeds D.J. Opperman se verse?

  • Die eerste wenk: jy moet lees en as 't ware kennis neem van al die fabrieksgeheime.
  • Die tweede wenk: jy moet werk aan 'n gedig. Selfs - nee, eintlik verál - groot digters was bereid om gedig oor te skryf.
  • Die derde wenk: moenie weifel om gedigte weg te gooi of op te skeur nie.
  • Die vierde wenk: moenie jou vriende as kritici aanstel nie. Hulle sal uiteraard alles as 'mooi' of 'goed' beskou en betower wees deur jou gedigte.
  • Die vyfde wenk: jy kan net dig indien jy bereid is om jou ego eenkant toe te skuif en deur 'n skryfskoolleier van raad bedien te word.
  • Die sesde wenk: as poësie nie 'n obsessie is nie, moenie dit bedryf nie. Verkoop eerder tweedehandse motors of word 'n gym-instrukteur.
  • Die sewende wenk: luister altyd na die hartklop van jou gedig. Die gedig dikteer en besluit waarheen jy moet gaan of reis.
  • Die agste wenk: lees resensies of kritieke van ander bundels en bepaal waar jy staan. Sou jy onder andere die paal gehaal in Krog en Schaffer se Nuwe stemme III en hoe reageer jy onder meer op die resensie van my oor hierdie boek?
Lees hierdie resensie sorgvuldig en ook Nuwe stemme III en kyk waar jy verskil en saamstem. Hiermee die resensie wat oorspronklik in Die Volksblad verskyn het:


Resensie uit Die Volksblad
Nuwe stemme 3
Samestellers Antjie Krog & Alfred Schaffer
Uitgewers: Tafelberg, 2005
ISBN: 0 624 04288 X
Prys: R120 Sagteband
Bladsye: 189
Resensent: Joan Hambidge

Onder die bekwame leiding van Antjie Krog en Alfred Schaffer verskyn Nuwe stemme 3. Nou kom: 'n redakteur/samesteller se eie voorkeure of implisiete siening oor die digkuns gaan iewers verdiskonteer word. En dis reg so. Ons lees dus hierdie jong digters se bydraes teen die agtergrond van Krog se nou onlangse belangrike N.P. van Wyk Louw-gedenklesing waarin sy meen dat ons jongelinge eerder in 'n band wil speel as om pooizie te skryf soos Groot Verseboek en die kanon eis.

'n Heel ongewone manier van sê, of, om iets te sê wat nog nie voorheen gesê is nie, was die uitgangspunt. En goed so. Jong skrywers, al is dit nog hoe onbehendig, moet die aannames van wat poësie is of behoort te wees, afbreek. Krog het immers gedebuteer met die sogenaamde kaalvoet-vers sonder fênsie leestekens en het as die dogter van Jefta van toe en nou, in bundel na bundel die kodes en verwagtinge van die (Afrikaanse) leser afgebreek. Schaffer is bekend uit sy skitterende, soms omstrede rubrieke. Ook as digter van anti-poësie weet hy (instinkmatig) dat jy juis die kanon moet ken sodat jy iets nuuts kan presteer of bydra.

Dit is duidelik dat hierdie digters wil wegbreek van die tradisie. Hierom die gebruik van EngAfrikaans, die aanwending van die internet(taal), massamedia, pop-indrukke, praattaal, Kaaps, ensomeer. Nuwe stemme was nog altyd 'n arena waar 'n nuwe digter uitgestal word. Sommige digters beweeg aan en word digters in eie reg (Ilse van Staden) en ander word prosaskrywers (Tom Dreyer). Vir die meeste gaan dit helaas die eerste èn laaste publikasiegeleentheid wees. En dalk sal 'n leser hulle jare later herontdek in hierdie versamelbundel, want papier is mos geduldig nie waar nie?

Hier is pragtige verse opgeneem. Inderdaad die delikate gedigte van Thérèse Bartman wat in 'n pragtige mini-vers soveel oor pyn en eensaamheid oordra:

"Inkopielys Kamer 21"
Huis Avondrus


voëlsaad
sout
hawermout
Landbouweekblad
Boxer
2 X Wilsons-perperment
Steradent
ingelegde perskes (klein)
Stopain

Ook is hier al die vermoë om emosies te transponeer in ander se ellendes en waarnemings wat die gedigte buite die ek-gerigtheid van die jong digter verhef. 'n Aangename verrassing is die verse van Eckhard Cloete wat intertekstueel speel met Breytenbach en Ingrid Jonker. Sy "Riglyne vir die voorbereiding van 'n kreatiewe werkstuk" is werklik 'n briljante vers wat die gevare van die pastiche speels ontmasker. Van Illona Edwards is daar die skitterende vers "Ek noem hom" wat die taboe van bloedskande rondom die naam van die pa beskryf. Dit is 'n vers wat 'n mens tussen die oë tref. Soos ook die vers "Ek is klaar vervloek" waar aborsie die uiteinde is.

Dit is opvallend dat geweld in ons samelewing in hierdie verse geregistreer word: "Blommekyk"en "Ek is klaar vervloek" word moord en emosionele geweld vanuit 'n vroulike perspektief aangespreek. En die ontnugtering met die 'nuwe'Suid-Afrika in die gedigte van Kiwidore Fillis verdien eweneens vermelding. Charlton Lee George skryf in sogenaamde "slawetaal" oor die lewe van verloorders. Vanselfsprekend sal Krog dan ook digters insluit wat deur wit lesers ge-Ander word. By die letterkundige Karen de Wet vind ons weer die spel veral met aanwesigheid/afwesigheid en verse geskryf rondom die "onthou"-struktuur. Erns Grundlingh se bydrae bevat parodieë op die Onse Vader. Veral die vers oor George Bush is kragtig en die een oor die webruimte slim! En "Kuberkulose" speel nie alleen klaar met Jan F. Celliers nie, maar ook met die wye en droewe land. Die digter maak ook van die internet 'n seksuele spel.

Pappa, waar is die wakis, is die osse nog honger?
nee, boetie, die osse wei by www.graan/godsverlate.co.za
gaan soek eerder by www.waardefokisons.com
vir 'n kaart om eendag iewers uit te .kom

Cornel Judels imponeer met vars seggings oor die liefde en Ronelda S. Kamfer djol lekker met die taal. Angie Kleijn mymer oor die skryfdaad oor Siener van Rensburg in sterk, oortuigende verse. Liesel Kruger speel oortuigend met taalkonvensies. In Danie Marais se bydrae vind ons die praatvers: hy ontgin die wêreld van die vreemdeling in 'n buite-bestaan wat pragtige nostalgiese verse oplewer. Verse oor die 'olifantbegraafplaas vir drome'! Ook die gebruik van Duitse woorde word goed aangewend in sy gedigte wat die liefde en sy geskiedenis goed uitbeeld. Loftus Marais ondersoek die 'slang in die gras' van die l-woord deur Engelse woorde oortuigend in te span in sy aweregse blik op die liefde en die skryfproses, terwyl Vernie Plaatjies se imposante "'n wind waai deur die Vlakte" beloof myns insiens iets groots van hierdie digter wat die bestaan van bruin mense oortuigend uitbeeld in outentieke beelde en taal. Om teen Adam Smal in te dig, vra moed. Maar hy kry dit reg, omdat hy die huidige stand van sake beeldend aan die kaak stel. En Gerard Rasch meen "want die liefde is 'n perske sonder perke" in sy aweregse verse met ryk beelde. Ook die gesprek met Leipoldt in "Mamparra loop los, hy soek kos…" verdien vermelding.

Ronel Scheffer skryf oor lesbiese liefde en ongebore kinders; oor die liefde wat 'n lady is. En allerlieflik is haar vers met sy Arabiese name ("Yushra verjaar") en die speelse vers oor soene waar die geliefde wegloop van alles wat 'n soen kan vermag! Tilla Schoeman dig oor die windboef (hmm, ja) en die "Bitterbek Dating Games" - en hier is humor, baie daarvan. By W.L. van der Merwe is daar 'n intelligente spel met die mitologie ("Aphrodite vandag") en 'n vars blik op die religie. Hier is heelwat intelligensie en spel met digterlike konvensie soos veral "Beeldspraak" en "Droogte" dan bewys. 'n Uitstaande vers is die ironiese "En toe was daar God" wat aansit vir 'n maaltyd waar die spyskaart uitwys hoe sleg dit met ie mensdom gegaan het toe God afwesig was op kernoomblikke in die geskiedenis.

Hierteenoor is Karen van der Vyver en Jasper van Zyl jongelinge: eersgenoemde presteer die uitstekende "'n Moeder" en "Kruietaal", terwyl laasgenoemde 'n vers soos "Atticus Finch" vir ons gee, beeldend-trefseker. Van die digters het al lank terug verse begin skryf soos Bartman, Willie van der Merwe en Karen de Wet, maar 'n digter se ouderdom word geregistreer vanaf die debuut. Hierdie is 'n pragtige versameling met digters wat hopelik met nog verse sal kom! Dit is net jammer van 'n handvol liederlike en onaanvaarbare setfoute in hierdie pragpublikasie met 'n beeld van Claudette Schreuders as ontwerp.

Vrae om aan te peusel in jou igloo:

  1. Waarom dink jy is dit belangrik om tegniek te kan beheer?
  2. Waarom dink jy is daar iets soos vervreemding of 'n digterlike diskoers wat afgebreek moet word ten einde jou eie "nuwe stem" te vind?
  3. Waarom is dit nodig om te weet wat reeds in 'n taal gepubliseer is ten einde daarop te kan verbeter?





LitNet: 14 Oktober 2005

Wil jy reageer op SkryfNet VIII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.