SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Eerste verslag - SkryfNet VIII

Charl-Pierre Naudé

Klik telkens op die digter se naam om die verslag te lees:
Cornel Judels
Madge du Preez
Ronel Scheffer
Jasper van Zyl
Riana Wiechers


Cornel Judels

Hierdie is 'n digter wat reeds aansienlik woordvaardig is. Sy is 'n Nuwe Stemme 3 debutant en die belofte word in hierdie twee gedigte gestand gedoen - en uitgebou. Hierdie is nie 'n talent met wie mens te veel moet foeter nie - sy weet waarheen sy op pad is.

Die tema sowel as die segging in albei gevalle is boeiend. Die gedigte is nie te lank nie, nie te kort nie, d.w.s. die vaart van die ontplooiing is in die kol. Hierdie is 'n belangrike aanvoeling vir 'n digter om te hê, en sy beskik daaroor.

Tog kan die gedigte afgerond word, glo ek. My opmerkings op die eerste gedig is op die tweede een ook van toepassing.

“Die wegraping”

Die eerste aspek is: hoofletters of kleinletters? Daar is geen rede waarom "Thailand" en "Thais" nie ook met 'n kleinletter kan begin soos "phuket" en "u" en "wegraping" nie. Al drie laasgenoemdes sou normaalweg hoofletters wees, maar die kleinletters dra dubbelsinnigheid oor. Bv.: "die Wegraping" roep in die eerste plek die apokaliptiese konsep uit Openbaring op, maar so met die kleinletter roep dit eweneens die sekulêre eweknie op (die tsunami). Dis egter treffend dat SKY alles hoofletters bly, soos die nuuskanaal inderdaad gespel word. Die spanning tussen SKY (met hoofletters) en die kleinletter-spelling van ander plek- en eiename, veral die persoonlike voornaamwoord "u" vir God, dra 'n ironiese mengsel van die gesekulariseerde en die religieuse suksesvol oor. Dis asof SKY die nuwe onverpersoonlikte God is - ja, haar allusies is mooi en veelduidig.

Die gedig is baie klanksensitief, met alliterasie (reël 6 bv.) en binneryme en assonansie, en die strukturele winste van die herhaling. Maar dit kan verbeter: "gekry" (reël 11) is lomp. Wat van "verneem"? - dit sal 'n assonansie met "etienne" en "heerden" (reël 7) vorm binne die patroon wat die gedig reeds gevestig het. Reël 12 bevat lomphede: "mooi" is te dof. Wat van "skrikwekkend"? - wat dan kan rym met "honderdduisend" verderaan. Weer eens sou dit reedsbestaande klankpatrone versterk (miskien kan die woord "stunning" hier deug). "En als" (reël 12) is 'n lompheid. Ek verstaan die "vaagheid" wil oorrompeling, miskien skok, oordra, maar nee. Dis te dof.

"SPF30" behoort uitgeskryf te word as "protection factor thirty" om seker te maak dit word in Engels gelees om die rym met "ferry" en R40 per uur, en veral met "u" (!) op te vang. En "R40/h" moet natuurlik uitgeskryf word as "per uur" anders spreek die leser dit dalk uit as "per hour", met rymverlies.

Ek vind die gedig besonders. Dis 'n slim digter, veral as haar jeug in gedagte gehou word: in 'n gedig waarin Bybelse eggo's en verwysings na 'n Heer in voorkom op ironiese wyse, kry jy nie verniet die skrywersnaam "van heerden" nie. "Koh phangan" eggo iets van "van gaan" (as ek reg is met die uitspraak), "phi-phi" se iets van die klank van die ferry. Die opstapeling van numeriese woorde aan die einde eggo Deut. en ander kwaaihede uit die Bybel. Heel mooi. Ensovoorts.

NB: reël 2 is dof. Die digter moet haarself afvra hoe sy daardie reël gelees sou wou hê op die metaforiese vlak. Elke reël moet veelduidig kom. Hulle is meestal. Daar moet meer fokus kom met reël 2. Soos die reël nóú daar staan, sê dit wel iets van die vreemdheid waarin die mensdom teenoor mekaar staan, 'n gevoel van ontheemding, verlore onder die hemel (SKY) ... Daar is wel iets daar, hoor. Maar dit kan meer trefseker kom. Behou miskien die woord "medeklinkers"; dit het rymkwaliteite (casspirs).

Die truuk van gapings sonder woorde werk in beide gedigte! Oor die stylaspek van Engelse woorde, wat ek dink mens tot 'n minimum moet beperk: hier werk dit. Neem "massages" bv. en die klankeggo's met ander, Afrikaanse, woorde in die gedig.

“Verlossing”

Die titel van die tweede gedig is eweneens veelduidig en treffend. Okei, enkele voorstelle: die numeriese "2" is foefierig. Uitgespel as "twee", eggo dit die klank in "bene" en "een" en self "meer" ens. Dié vonds van die gedig is daai "o oo oop-/gevlerk" (mooi halfrym met "ek" verder op). Dis absoluut seer mooi. Hier toon die digter 'n onontginde potensiaal vir trefseker beelding. Go there more often.

Ek het eers nie veel gehou van "ingeplug" nie, dit roep wel die beeld op van daai ding waarmee mens die drein oopsuig (sjoe). As die digter dit wil, behou dan.
Is kW's die eenheid waarin drukkrag (suigkrag) gemeet word? Maak seker oor die regte wetenskaplike eenheid.
Die vraagteken in reëls 9, 11 en 12 werk nie. Wat van iets soos *** (drie sterretjies)? Dan lees reëls 11 en 12: "tussen ander ***'s/ en Iemand skryf *** se naam".
"Appendix" is verkeerd gespel in Afrikaans (Appendiks). Mooi sinspeling op "blindederm". Laasgenoemde is 'n woord wat wel oorweeg kan word vir insluiting. Al drie laaste reëls moet bly soos hulle is. Hulle werk. Die einde is mooi en daar's 'n verdieping - verskoon - wat vars is.


Madge du Preez

“Gemeng”

Enige nuwe digter wat wil skryf in Kaaps-Afrikaans moet in gedagte hou dat van die mees lewenskragtige en aangrypendste gedigte in Afrikaans in die taalvariante geskryf is. Jy gaan onmiddellik vergelyk word met Adam Small en Peter Snyders en Hans du Plessis op hul beste. Veral Small was natuurlik geniaal. Ek wens nie die vergelyking op enige nuweling nie. Bottomline: as 'n gedig nie sterk is nie - betreffende humor, of tragedie ens. - gaan die nuwe digter afsteek.

Madge moet dus nie afgehaal voel as ek haar vra om nog HARD aan hierdie gedigte te werk nie. D.J. Opperman het destyds selfs Peter Blum se pragtige Kaapse Sonnette bestempel as nie outentiek genoeg Kaaps nie, vermoedelik omdat Blum nie 'n "bruin" spreker was nie en dit gewys het.

'n Paar algemene punte gevolg deur spesifieke kommentaar: Ek stel voor dat die woorde foneties meer treffend weergegee moet wees. Maak seker hulle is. Die "dialektiese" woorde moet foneties oortuigend op die oor oorkom, veral vir bruin sprekers. Uiteraard sal 'n Kaaps spreker eintlik 'n beter oordeel kan maak as ek. Kyk weer na Small se Kitaar my kruis, veral "Ko lat ons sing", en Snyders se 'n Ordinary mens, veral (sê maar) "Ek is oek important"

Sommige Engelse woorde soos "Cape Coloured" kan in Engels bly (omdat dit te problematies is om dit foneties te maak), maar "Burger" (byvoorbeeld) sal meer treffend oorkom as "Bûgher (met 'n kappie op die "u"). Die woord "wo'd" moet 'n kappie op die "o" kry; bv. "South African" moet foneties kom om seker te maak dat die oog dit nie op die oor vertaal in SA Engels nie. Maar "my days" weer, moet so bly. Dis 'n kwessie van aanvoeling. "Birth certificate" kan miskien eerder kom as "birth sertifiekit". So gespel is die woord ook mooi op die oog. En miskien moet die woorde wat in Engels geskryf word - en nie foneties weergegee word nie - gekursifeer word.

Maak seker dat dieselfde woorde konsekwent op dieselfde fonetiese wyse geskryf word. In die eerste strofe verskyn "word" ook as "wo'd". (Onthou ook gerus om die Afrikaanse "'n" se oortjie reg om op te sit ...)
Die titel is flou. Probeer iets anders.
reël 1: dis glad nie duidelik waarna "hierdie boek" verwys nie. 'n ID boek? 'n Boek wat Madge geskryf het? Is dit die Boek van die Lewe?
Reël 2: kort 'n woord.
strofe 2: die woorde in die inventaris moet eerder onder mekaar geskryf word.
strofe 3: reël 19: Wees versigtig met spelling. Die gedig is reeds problematies weens die vermenging van woord inherent aan die variant, so enige verwarring wat nie inherent aan die gedig is, moet vermy word. "Boere-Afrikaans" sover ek weet. Wat is die verskil tussen "Afrikaans" en "Afrikaans Afrikaans"? Vermy dus toutologie. Moet "ok" nie "oek" wees nie dit (rym met "boek")? "Engelse Afrikaans" kan dalk vervang word deur "engafrikaans".
"soos" eerder "soes"? "nettie" moet eerdre wees "net 'ie".
reël 25: "ho" reg gespel? Nie dalk 'n kappie kry nie? Anders eerder hoo'
laaste reël van laaste strofe is 'n stopreël - dit sê niks nie.
reël 26: "mere"? Kry spelling reg. As dit "meer" is moet dit eerder kom as mee'

Daar is nie genoeg verdieping in die gedig of in die tweede een nie. Daar moet wendings ingebou word. Die enigste ding wat 'n afwesigheid van wending kan regverdig, is dat die gedig die leser 'n wending laat vermoed, en dan opsetlik die vermoede kelder. Lees weer die Small-gedig, hierbo genoem. Kyk wat doen Snyders.

“Distrik Ses”

Opmerkings hierbo is ook van toepassing hier.

Daar is soveel al oor Distrik Ses geskryf, dat 'n nuwe gedig daaroor iets sal moet doen wat nog nie gedoen is nie. Waarom nie skryf oor die eerste mense wat onlangs teruggekeer het na D6? Mens kan Marge dalk selfs skryf oor hoe iemand wat in oorsee in exile was terugkeer, met die sleutels van die nuwe huis in haar sak, terwyl sy die ou D6 onthou. Miskien kan sy nie eers meer Kaaps praat nie. Miskien hoor sy vir die eerste keer - in haar geheue - haarself as kind. Wys liefs 'n nuwe angle van hierdie tragedie.

Pasop vir stopreëls - en fasiele rym (gekom/gebom). (Bulldozers kan nie "bom" nie, hulle stoot om, in ieder geval is "bom" nie 'n werkwoord nie, maar die naamwoord. Behalwe, miskien in "Ons plan het gebom") en gedwonge sintaksis (reël 4). Alternatiewelik, as Marge besluit om voort te borduur op die bestaande gedig, en sy behou die laaste strofe, moet die woorde liefs onder mekaar verskyn, 'n aandagstreep miskien tussen "verlange en "die toekoms", sodat die spanning daar uitgelig kan word. "Toekoms" word dan opgestel teenoor die voorafgaande opstapeling.

Hierdie kritiek klink miskien 'n bietjie straf, maar ek sien werklik uit na waarmee Madge vorendag gaan kom.


Jasper van Zyl

Jasper van Zyl se gedigte in Nuwe Stemme 3 was een van die hoogtepunte vir my. Veral "Rooigrond" en "Candles" het 'n enigmatiese gevoel van betekenis/"betekenisloosheid". Die persepsie is so subjektief, so intens, maar ook so fyn soos dié van 'n kind, 'n grootmenskind, 'n savant wat nooit die kognitiewe terme van die aanvaarde werklikheid aangeleer het nie. Dit het gevolglik 'n sprokiesagtige mengsel van onheil en prekere geborgenheid. Hulle is heel pragtig.

Maar hy loop die gevaar om sy leser te verloor. Die twee gedigte in die slypskool toon hierdie gevaar by uitstek. Hulle beskik nie oor die balans tussen hermetiese geslotenheid en die flitse van herkenbaarheid wat Van Zyl se Nuwe Stemme 3 gedigte kenmerk nie, dít wat daai gedigte so bekoorlik maak - nog nie.

In “iskariot is ek” is die leidrade net te skraps om 'n konteks vir oopstelling daar te stel. Neem die eerste leidraad = iskariot. Hier is sprake van verraad. Maar wie is die verraaier en wie/wat is die ek? My raaiskoot is dat dit 'n verwysing is na die mens wat die aarde verraai, maar al is ek reg, is die gebrek aan 'n sterk genoeg omlyning vir 'n konteks vir interpretasie 'n probleem. Ons het digters nodig wat kompleksiteit en subtiliteit nastreef, en as iemand onder die jongeres dit gaan doen is dit Jasper Van Zyl. Maar die gedig MOET kan kommunikeer. Hy moet die gedig wat hy geskryf het lees asof hy self 'n leser is wat dit vir die eerste keer teëkom.

Om 'n soort "voorbewussyn"/primordiale scenario uit te beeld, soos ek dink Jasper hier probeer doen, sit nie in enige broek nie. Maar ek wil hom vra om bv. NP Van Wyk Louw se Die Swart Luiperd te gaan lees. Breytenbach doen dit ook in gedigte waar hy 'n kwasi-"voortaalse" grammatika konstrueer. Gaan lees hom. (Albei hierdie digters was veel ouer as Jasper toe hulle dit reggekry het.) Lees ook Pablo Neruda se Twenty Love Poems and a song of Despair. Kyk hoe meng hy beelde. Jasper kan ook miskien iemand soos die Duitse digter Paul Celan gaan lees, ook in Engels beskikbaar maar wees baie versigtig met hierdie hermetiese invloed. Lees bv. Celan se Death Fugue. Dis hermeties, die poëtiek is baie persoonlik, maar dit laat die leser binne - net-net, maar wel. En dan, Jasper, gaan kyk wat jy self gedoen het in daardie Nuwe Stemme gedigte!

Oukei, basies moet die twee sleutels 1. ek/my en 2. iskariot duideliker ontwikkel word.
Reël 1: "maan"? Eerder "maanlig"
Reël 2: "goed" is 'n baie vae woord. Verbeter.
Reël 5 is baie enigmaties, dit resoneer, hou dit.
Reëls 6 - 8 goeie idees wat uit die verf wil kom. Bou die spanning uit tussen "alsoorheersende stank" en "gedistilleerde" - dit bevat 'n sleutel. Sny "goed" dis toutologies. Kyk weer na hierdie reëls, hulle moet oorgeskryf word. Kyk na Die Swart Luiperd.
Reëls 10, 11 "die grond ... skink bome en geboue nieteenstaande uit" = dis pragtig, en bewys weer eens Jasper se seggingskrag.
Reël 12: bietjie lomp, maar daar. Miskien sou "en verwelkom my stewige, hoopvolle blik" beter wees. Kan "stewig" nie beter kom nie?
Die laaste reël kan bly, as die res van die gedig regkom. Dit bevat 'n treffende paradoks (skugter/elektries) en is 'n swanger slot.

“spokejag”

My opmerkings hierbo geld dié gedig ook. Die leser kort sleutels tot interpretasie.

Die titel bots met die metafore in die gedig, veral van die wolwe: dit maak interpretasie toe, nie oop nie. Miskien sal "Spoke opjaag" kan deug.

Ek hou baie van die twee teenpole wat in die musiekmaaksessie teenwoordig is: die oproep van die primordiale (wolwe/huil) en die sublieme [duiwe/klokke/ogies maak, engel(!)]. Die laaste reël se "gevaarlik/ vernuftig" herhaal weer en bind die twee pole mooi saam. So die sentrale spanning in die gedig is goed gevestig. Nou om dit te verfyn.
Vermy toutologie = "bos met die bome".
Reël 5: "onderduimse wolwe" kom oor as 'n gemengde metafoor, maar ek dink ek weet wat Jasper wil doen. Hou die woord "onderduims" in verwysing na die note onder die vingers, hou "huil" ook. Die idee is mooi, maar ver van uit die verf. Iets soos "huil, onderduims" (met die komma in) miskien.
Reëls 6, 7 werk glad nie.Skryf oor. Dis op pad na iets moois. Heeltemal nog
te embrionies. Die digter wil die demoniese hier uitbeeld, en die verband tussen daardie demoniese en kinderlike onskuld (ironiese lekkergoedtande). Ek kan sien hy werk hier met die idee van paradoks, bv. "godgegewe eiebelang". Maar dis nog nie uit die verf nie. Gooi uit die woord "ironies". Dit sê, pleks van wys. My voorstel: werk met die ander woorde in hierdie reëls wat jy hier het, wat jy wil sê is reeds in hulle aanwesig, maar laat jou verbeelding nog aan hulle slyp.

Reël 8: gooi uit "tronkoë". Waar pas dit in met die dieremetafoor? Hou wat jy wil sê binne die sentrale metafoor; kry 'n ander woord vir "katalisator". Dis 'n lui woord vir 'n gedig.

Reël 10,11,12 is mooi. Die plasing van die frase "musiek maak" in die middel van die gedig is effektief - dis soos 'n spilpunt, waaromheen die metafoor wat daaroor handel na boontoe, en na ondertoe, uitwaaier.
Die hele laaste strofe is min of meer reg: vervang "onrustig"; dis 'n ander woord wat daar hoort.
Laaste reël - breek dit na vernuftig en maak ekstra reël - die enjambement sal die teenstelling gevaarlik/vernuftig beklemtoon.

Ek hou van die erotiese ondertone: "engel" is mooi. Miskien kan daai spanning ook uitgebou word. Hier is ook 'n ander soort musiek wat ook in die gedig gemaak (wil) word, lyk dit my.

Hoe meer ambisieus 'n digter is, hoe hoër sy visier gestel is, hoe moeiliker gaan dit wees vir hom om woordvaardigheid in sy eie terme te bereik. Van Zyl moet sy visier hou waar dit is. Ons wag vir hom.


Riana Wiechers

“Jou kind”

Die gedig Jou kind gebruik 'n ou tegniek - die gebruik van eggo's uit 'n bestaande gedig om 'n nuwe gedig op te baseer. In sulke gevalle inkorporeer die nuwe gedig of snitte van 'n brongedig wat binne konteks geherinterpreteer word (soos Breytenbach se Breyten bid vir homself) of is 'n herskrywing/verwringing van die volledige brongedig. Die tegniek kom ook voor in poplirieke. In die Sex Pistols se ikoniese God save the Queen of die rockdigter Nick Cave se herinterpretasie van Bob Dylan se And death is not the end (op Murder Ballads), word die oorspronklike song totaal geherinterpreteer deur slegs een enkele aspek te manipuleer, nl. stembuiging.

Vir die nuwe gedig om 'n indruk te maak, help dit as die oorspronklike gedig 'n sterk produk is, of sterk reaksies uitlok. Daarby moet die gedig wat daarop abba liefs besonder vindingryke vondse oplewer, anders gaan die resultaat geyk of oorbodig oorkom. Hoewel Jonker een van my gunsteling digters is, beskou ek nie Die kind as een van haar beste gedigte nie - dis hoofsaaklik buitefaktore wat daaraan resonansie verleen. Maar daardie resonansie is miskien wel sterk genoeg om 'n gedig op te bou.

Breytenbach is bekend om die tegniek, of dit nou die Onse Vader-gebed is wat hy herskryf, of in Breyten bid vir homself - waarin NP van Wyk Louw se kwatryn Ignatius Loyola bid vir sy orde opgeroep word. Die herinterpretasie vind nie slegs op die vlak van die persoonlike plaas nie. Hy herinterpreteer 'n konsep, nl "pyn" (soos daardie konsep voorkom in die Christenlike asketisme): pyn as katalisator wat lei na hoëre insigte, openbaring, redding, heiligmaking. BB herinterpreteer die konsep dan in die terme van die jeugrewolusie en die hippiedom van die 1960's - m.a.w. twee eras word teen mekaar afgespeel, iets veel groters as die oënskynlik persoonlike dinge waarop die titel mens voorberei. Die gedig het dus onmiddellik dieper lae.

In Riana se gedig is die toepassing baie meer persoonlik, wat die gedig 'n enger fokus gaan gee en dit moeiliker gaan maak om te laat resoneer. Maar dit kan gedoen word.

In struktuur eggo sy die Jonkergedig - vyf strofes, dieselfde aantal reëls wat langer word teen die einde. Die einde van Jou kind is treffend, en stel die konteks vas, maar nie helder genoeg nie: Gaan dit hier oor die digter se gestorwe ma? Of gaan dit oor die kind van Ingrid Jonker, Simone? Die persoonlike voornaamwoord versonderstel 'n bepaalde persoon. Of gaan dit oor die menige kinders sonder ma? Dan moet dit steeds Die kind heet.
Nou soek mens na eggo's van die Jonker-gedig in Wiechers se vers, want dis daardie volgehoue jukstaposisie wat die tegniek sal laat slaag of nie. Ek hou van die hande, wat die Jonkergedig se vuiste "herhaal". Maar heelparty van die reëls is nog nie sterk genoeg nie. Reël 2 is pragtig. Die lig-/skyn-/wegbleikmotief werk ook vir my. Reël 4 moet liefs 'n goeie beeld kry, want reël 4 van Die kind het 'n sterk beeld (omsingelde hart). Wiechers se reël 4 is cliché, soos ook reël 10 ("handel en wandel"). Vervang eerste helfde in reël 10, maar "ontouerde trots" het iets van die paradoks in die "gewapende trots" van die Jonker gedig.

Mooi oorspronklik is die ontwikkeling in Riana se vers, wat die omgekeerde is van Jonker s'n: in laasgenoemde groei die kind tot 'n reus, in Riana se gedig kwyn die vermoedelik opgegroeide kind weer tot kind terug ("Maar jou kind word nie groot nie", reël 11) bring dit heel goed oor. So ook is "Jou kind is jou lyf se skynherrysing/Op wag met 'n glimlag wat se dis OK" 'n heel pmerksame omgekeerde eggo van "die skaduwee van die soldate/ op wag .... knuppels".

Reël 2: Mooi spanning tussen "lig" en "skyn". Dit moet bly.
Reëls 4, 5: clichéagtig. herskryf liewer.
Reëls 6, 7: "vou haar hande teen tere aanslae" (mooi spannings); wegbleik (mooi, want "blyk" praat hier saam).
Behou "skreeu .... onvoorwaardelike liefde" - mooi emjambement.
Reël 19: "luister uit" is lomp. Minstens moet "uit" uit. Herskryf. So ook "verdoof" (onder/in verdowing miskien).
"OK" is duideliker as dit foneties uitgeskryf word = "oukei".

Die klanksensitiwiteit in strofe 3 vertel my dat die digter daartoe in staat is en hierdie aspek deurgaans fyner kan afwerk, maar die jukstaponering "beddegoed" en "boek teen haar smart" (by Wiechers) met "polisiestasie" en "koeël deur die kop" (by Jonker) kan/moet sterker getrek word.
In die tweedelaaste strofe is reëls 19 - 22 dof. Ek wil voorstel dat die digter aan hierdie reëls verder werk; maar sy moet die sin van wat sy wil sê behou. Verwerk veral "vlymskerp oomblikke". Ek hou van "op een plek verdwyn en verskyn" - dit kontrasteer mooi met die kind by Jonker se "liniêre voortbeweging", maar dit kan ook skerper. Sterkte!

“Koejawels val van 'n boom op George”

Die sentrale "idee" is baie mooi hier - maar as gedig is die vers nog lank nie daar nie. Die koejawels val met seisoenskentering, so ook geliefdes, ja mooi. So die gedig skanier op hierdie sentrale metafoor, maar dis alles nog dof. Lig uit. "Besluit" in reël 3 moet uit. Dis 'n "personifikasie" wat nie werk nie, en verswak die effek van mense wat onderhewig is aan tydsverloop en die dood, of hulle nou wil of nie.

Die suur/soetheid idee is mooi!
"In tyd" (reël 3) is anglisisties. Dit moet vermoedelik wees "op die maat van" - kyk hoe lewer die taal dan vanself navrante spanninge op as mens by die logika van sy gegewe struktuur hou.


Ronel Scheffer

“Elemente van Pyn” lyk of dit iets het om by Antjie Krog te leer, in dat die reëls fragmentaries wil aandoen maar tog 'n kohesie wil vorm. Lees weer 'n paar gedigte uit Kleur kom nooit alleen nie. Verfyn hierdie aspek.

Ek hou van die veelsinnigheid van "elemente": geleiers, sowel as eenvoudigste bestanddele, van pyn. Die digter moet deurgaans bewus bly van hierdie veelsinnige potensiaal van woorde en dit meer dikwels benut. Bv. "afstroop" (klere) vorm hier 'n mooi woordspel met "stroop" (reël 5). As die digter wil se "strip" (Eng.) dan is dit anglisisties, soos plek-plek in hierdie gedig, en moet die woord "uittrek" wees, 'n veelseggend genoeg woord. As sy bedoel het drup/nat/ soos in seksueel opgewerk, dan moet daardie stroop dalk herhaal word "jy moet stroop, jy moet stroop" (met 'n klem op die tweede stroop). In welke geval dit 'n goeie paradoks is, want bitterheid is hier ter sprake, nie "soetheid" nie. (Krog is goed met hierdie bepaalde soort taalsensitiwiteit en mens kan daar, um, gaan kers opsteek.)
Reël 6: kan Ronel nie "beken" kry om te sinspeel op "bekken" bv.? Indien nie hier nie, dan meer sinspelelinge elders.

Die digter maak die berg manlik. Daar's 'n rede voor. Kan daardie "manlikheid" nie bietjie meer spanning bring nie t.o.v die liefde tussen vroue hier te sprake?

Reël 7 is 'n mooi reël, nie minste omdat "g'n" (binne konteks van hierdie gedig, vir my saampraat in "gun")
Reël 8: "kleur/geur = doen aan as fasiele rym, ten spyte van mooi allusie: blomme wat die rooidag "eggo".
eerder "donker van dye. Mooi beeld daai.
Reël 16: "etiket/snawel" = nee.

(ii) maak "uitstaanlyf" sterker. Bonkig? Moenie bang wees vir nuutskepping: "meisie met die bonkerige lyf"? Of "bultend" (net beter asb.) sou iets kon, maar ek se jou nou voor. Kitsreël: beweeg altyd weg van se, in die rigting van wys. Beskryf.
"dansende" mond kan sterker. Dink aan hoe daai mond lyk, en be-skryf dan.
"lig en vuur" = pasop vir wat toutologies kan aandoen. Die kontras moet sterk, in die oog wees.

(iii)
"vlymskerp" is te dof opgestel teenoor "hart, so dit kom nie oortuigend oor nie. 'n Hart kan miskien "peul", maar uit die water?
Reëls drie en vier van hierdie fragment is mooi!
"sluiers van jou oe" = geyk, "skanse in jou hande" kan nog werk, maar dit gaan aflei van hoe sterk dit opgestel is teenoor, of hoe sterk dit saamhang met, die omringende reëls.

(iv)
die hele fragment kan sterker uit die verf kom.

Eerder "gewaardeerde vriende nou". Onhou ritme.

Scheffer wil werk met die oombliklike gewaarwording, lyk my, die ingewing voor dit te veel gedagte word - soos by Krog. Dit maak dus sin om by die tekstuur van die taal te bly, omdat tekstuur voorop is - 'n a priori konstruksie, wat kom voor idee/gedagte. (Ander soorte digkuns werk weer anders.) En wanneer jy werk met tekstuur, dan moet jy op die uitkyk bly vir moontlike woordspelinge/klankeggo's: verduur/duursaam/duur. Of: kanselleer/kansel (bietjie dodgy miskien ..). Daardie hantering is wel hier aanwesig by Ronel, soos bv. "toekyk" (met toe oë kyk?) maar nog bietjie te embrionies.

"Kanselleer/afgelas" = toutologies XX.

(v)
Geyk. Kyk weer.

(v) Die reëls "so moet ek roei in my tuin en aan die gang bly" is mooi, en toon 'n vermoë tot metaforisering wat heeltemal onontgin is by Ronel. Kyk na enige reëls, en dink: kan ek dit verbeeld? Daarom is "die dood ...(tot by) van alle lewe" goed.

(vii)
Is goed, ja!

“Man”

Opmerkings hierbo kan op hierdie gedig ook van toepassing gemaak word.

Eerste strofes te sê-erig, moet nog meer verbeeld.
Moenie sinspelings vergeet nie, en die tasbaarheid van beskrywing. Wat van "vind jy my borste/aanneemlik, hul eensaam saam/wees ... " (Met enjambement, bv., kry "wees" 'n ekstra betekenis); of: "my oë verstrik soft focus/ in die weefstof van klank en lig/wat my heimlik lewend hou". Onthou dat woorde mekaar kan eggo en so betekenisse meer uitlig. Daarom noem ek verstrik/weefstof.

Gaan altyd vir die mooiste woord. Jy het die woord "privaat" hier. Dink: KAN dit mooier? Miskien is daar iets mooiers as "heimlik".

In strofe twee toon Scheffer weer haar embrioniese klankbewustheid: "klank en lig"/"wisselvallig". Maar dit moet uitgelig (pun intended) word. Iets soos: "die verhouding met die res-/te wissel-val-lig" (twee afsonderlike reëls). Moenie bang wees vir eksperimenteer nie.
"die atmosfeer ....gevangenis is heerlik" = mooi!

Man
(ii)
Kyk na reël 2: "volumes" wat ek moet eer. Die woord moet eerder wees "bande". Ronel se reël kom anglisisties oor, en waarom is anglisisties verkeerd? Omdat dit die netwerk van verbande binne 'n taalsisteem verloën, pleks van daardie verbande ophaal en laat resoneer. "Bande" is onmiddellik veelseggender; die taal stel gewoonlik vanself verbande en spanninge voor as jy haar sisteem access. Daarom is anglisismes nie produktief nie. Hulle is deel van 'n ander sisteem. As Krog of Gert Vlok Nel of Ronel Nel Engelse woorde in hul gedigte gebruik is dit meestal (ook nie altyd nie) NIE 'n verloëning van die taalsisteem nie, dis punte waar die twee stelsels al begin "merge" het, in ritme sowel as samehang, en die gebruik is heel oukei.

"deur jou dom piel": "verdomde" piel maak nie die piel minder dom nie, maar dis nou boonop vervloek ook - en met slegs twee ekstra lettergrepe.
Voetnota: is dit Jesus of die Christendom wat 'n dom piel het? Na my wete is die Christusfiguur, met sy inherente asketiese vroulikheid, heeltemal - en paradoksaal - on-Westers.

"jou filosofering .... metaal" = toutologies, herhaling
"uitbars uit dorre raamwerke van plesier" kort fokus: vermeende plesier?
"jou piel skakeer, gedy eindeloos" = mooi! Die taal resoneer.
Die laaste strofe is heel suksesvol, hoor.

Sterkte met die verbeterings!



Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Johann Lodewyk Marais se eerste verslag
Klik hier om die gedigte te lees


LitNet: 18 Oktober 2005

Wil jy reageer op SkryfNet VIII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.