|
|
Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole
Eerste verslag - SkryfNet VIIIJohann Lodewyk Marais
Klik telkens op die digter se naam om die verslag te lees:
Die gedigte “die wegraping” en “verlossing” maak my
nuuskierig oor hierdie digter se werk. In teenstelling met Cornel Judels kies
aspirantdigters dikwels poëtiese temas, maar nie alle lesers raak oor sulke
temas opgewonde of wil selfs die gedigte lees nie. Ek self word die meeste deur
digters geboei wat niepoëtiese temas kies, digters soos Opperman, Ted Hughes
en Wilma Stockenström. Dit is omdat ek dink dat ’n mens die letterkunde
nie moet verabsoluteer of te ernstig moet opneem nie en die konkrete werklikheid
in ag moet neem. Die digter maak van die vrye vers gebruik, maar bewerkstellig binding onder meer deur die herhaling van die Bybelse reël "hoe groot is u" aan die einde van elke strofe. My grootste beswaar teen die gedig is die inkonsekwente gebruik of niegebruik van hoofletters en leestekens. Sedert e.e. cumming, die Nederlandse Vijftigers en ons Sestigers het dit as 't ware by sommige digters mode geword om gedigte sonder leestekens en hoofletters te skryf, hoewel baie ander digters wêreldwyd dit nie as 'n voorwaarde of waarborg vir 'n moderne of hedendaagse aanslag beskou nie. Ek wil dus hier 'n terugkeer na die konvensionele skryfwyse voorstel. Die eerste strofe kan soos volg lyk: Ek was daai Desember in Thailand.Hierdie patroon kan deurgaans gevolg word. Ek het nie beswaar teen die gebruik van Engelse woorde in die literatuur as dit funksioneel is nie. Om leesprobleme te voorkom, stel ek egter voor dat Engelse woorde gekursiveer word. Dit sal interessant wees om te sien hoe die digter die laaste strofe gaan punktueer. Lees N.P. van Wyk Louw se "Kunsklas" en "Kermisspieël" in Tristia en ander verse, voorspele en vlugte 1950-1957 (1962) om te sien hoe die gebruik of niegebruik van hoofletters en leestekens 'n gedig kan beïnvloed.
Aborsie is dikwels 'n onderwerp wat vermy word, maar ek het sterk idees daaroor. Hierdie gedig tree in gesprek met onder meer Ingrid Jonker se "Swanger vrou" in Rook en oker (1963), maar bied 'n eie voorstelling van wat gebeur wanneer 'n aborsie uitgevoer word. In hierdie gedig is die gebruik van kleinletters en die niegebruik van hoofletters moontlik funksioneel. Leestekens kan nietemin juis die dramatiese effek van die gedig verhoog. Ek laat die eerste deel van die gedig wat dit betref in die hande van die digter. Die laaste strofe sou ek soos volg wysig: Die vrou is nie meer swnger nie.
Madge du Preez se twee gedigte handel oor sosiopolitieke kwessies wat lank in Suid-Afrika in die brandpunt was en nog steeds besinning vra. Twee kwessies is hier ter sprake, naamlik die omstrede rasseklassifikasie van die apartheidsera met die gevolglike verwarring en gebrokenheid van baie mense en ’n in-die-herinnering-roep van die gedwonge verskuiwing van mense uit Distrik Ses. (Selfs die afgelope twee, drie jaar moes ons nog aanskou hoedat die meeste blanke boere in Zimbabwe van hul plase gedwing en derduisende stedelike mense se blyplekke en informele sakeonderneminkies deur die owerheid van die aarde afgevee word. Hopelik kom daar nog gedigte om teen hierdie menseregteskendings te protesteer.) Du Preez sluit in haar gedigte by die tradisie van Adam Small, Peter Snyders, Patrick J. Petersen, ens. aan wat oor dieselfde temas geskryf het. Ook haar gebruik van Kaapse Afrikaans herinner sterk aan hierdie digters. Dit plaas dus haar gedigte in ’n bepaalde sosiolinguistiese ruimte. Hierdie gedig kan waarskynlik as ’n ars poetic-gedig beskou word omdat die digter die aard van en doel met haar skryfwerk in sekere besonderhede uitspel. Kyk bv. die reëls “Hierie boek is gemeng/ Met alles en nog wat”. En in die laaste strofe sê sy “Ons tjenners […]/ […] moet van hul se verlede ken”, hoewel die hede, volgens haar, eintlik van groter belang is. In die eerste strofe vertel sy ook hoe sy as ’t ware reeds drie verskillende mense was deurdat sy verskillende rasseklassifikasies aan die lyf gevoel het. Die res van die gedig het allerlei elemente van vermenging (bv. die taal).
Wat die tegniese afwerking betref, toon die gedig ongelukkig heelwat gebreke.
Die gebruik van hoofletters aan die begin van die versreëls is eintlik
’n Engelse konvensie, want in Afrikaans maak ons van kleinletters gebruik
tensy die woord normaalweg ’n hoofletter sou hê. Verder word die
interpunksie nie konsekwent en altyd korrek gebruik nie. In die eerste strofe
kort daar ’n komma na “ek” in reël 2, terwyl daar ’n
dubbelpunt na “gewies” aan die einde van reël 3 behoort te
wees en ’n komma na “gemeng” aan die einde van reël 4.
Ensovoorts. Ek wil voorstel dat die digter die hele gedig behoorlik van punktuasie
voorsien. Hierdie gedig oor die verskuiwing van mense uit Distrik Ses word in ses strofes aangebied. Die rympatroon van die grootste deel van die gedig ontbreek egter in die vierde en die laaste strofe, wat een van die opvallende hinderlikhede in die gedig is. Die rym is ook nie altyd suksesvol nie. Kyk byvoorbeeld hoe die sinskonstruksie verwring word in reël 3 en 4 van die eerste strofe: “’n burger sonder stemreg …/ Gevee net uit die weg!” Verder hinder die gebruik van hoofletters aan die begin van die versreëls en die onnodige dubbele uitroeptekens aan die einde van die vyfde strofe. In dié strofe moet “se” ook “sê” wees. Die sesde strofe is in die geheel te abstrak en behoort heeltemal weggelaat te word. Dit sal daartoe bydra om die essensiële dinge in die gedig tot hul reg te laat kom en die losheid van gedig teë te werk.
Die gedig is gedateerd, soos onder meer uit “1992” onder aan die
gedig blyk. ’n Meer gepaste datum sou dié wees van wanneer die
gebeure inderdaad plaasgevind het. Selfs in 1992 (twee jaar voor 1994) het sulke
praktyke tog nie meer voorgekom nie, of hoe? Gedigte van Ronel Scheffer het reeds verskyn in Nuwe Stemme 3 (’n publikasie wat aan digters ’n wegspringplek bied). In “Man” en “Elemente van Pyn” word die erotiese landskap van die lyf en die dimensies van die persoonlike verhouding verken. In die eerste vers is daar ’n gesprek met die poësie van Sheila Cussons (aan wie die gedig opgedra word) en word moontlik ook die verhouding tussen Cussons en N.P. van Wyk Louw (na wie se werk verwys word) betrek. Die digter maak deurgaans van die vrye vers gebruik, terwyl daar hier en daar ’n (onverwagse!) leesteken opduik.
My geheelindruk is dat albei gedigte by meer vorm- en denkdissipline kan baat.
Veral groter versekonomie lyk vir my noodsaaklik, sodat ek in hierdie stadium
eerder die weglating van groot dele wil voorstel as om op die spesifieke gebreke
van daardie dele in te gaan. Veral die verwysing na Van Wyk Louw se “Ballade van die bose”
en die opdrag aan Sheila Cussons versterk die vermoede dat die verhouding tussen
Van Wyk Louw en Cussons in hierdie gedig betrek word. Dit is egter hoofsaaklik
in (i) waar ’n mens hierdie eggo’s hoor, want in die res van die
gedig gaan hierdie gegewe as ’t ware verlore. By die herskrywing wil ek
voorstel dat slegs (i) behou word of dat alles wat daarna volg verder tot essensie
daarin verdig word.
Van die sewe dele van hierdie gedig is (i) en moontlik ook die voorlaaste deel, naamlik (vi), die bevredigendste aangesien daar iets van ’n eenheid in die beelding is. Soos in die geval van die eerste gedig is die ander dele minder suksesvol en selfs ’n bietjie toiingrig. Die uitdaging hier is om net die essensiële dele te behou en miskien liefs die res aan te wend om ander, selfstandige gedigte te probeer prakseer. Tydens verdere skaaf aan die gedig kan die digter desnoods (ii), (iii), (iv), (v) en (vii) heeltemal weglaat of in die nuwe, “gekonsolideerde” gedig betrek, indien nodig. In die sesde strofe van (i) moet “verbete” in plaas van “vebete” geskryf word. Van Jasper van Zyl het reeds gedigte in Nuwe stemme 3 verskyn. Sy gedigte bevestig dat hy nog in ’n leerskoolfase is, en daar is niks daarmee verkeerd nie. Die twee gedigte “spokejag” en “iskariot is ek” bevestig dat hy oor ’n beeldende vermoë beskik en konkrete waarnemings in sy gedigte betrek. My indruk is egter dat die digter nog nie gedissiplineerd genoeg skryf nie en te veel teenstrydighede en onafhede in sy gedigte toelaat. Indien hy hieraan aandag gee, sal sy gedigte soveel meer oortuig én toeganklik wees. Nietemin, albei sy gedigte het my laat kop krap en dit wou die digter seker so gehad het! Die gedig bevat heelwat verrassende beelde (bv. in die eerste strofe) en vertoon
iets van die Nederlandse digter Anna Enquist se poësie, maar uiteindelik
is die verrassende beelde en die doelbewuste soek na ontoepaslike/onverwagte
byvoeglike naamwoorde oordadig. In die tweede strofe is die verwysing na die
“tronkoë” duister, terwyl “ek jy” in die laaste
strofe waarskynlik “ek en jy” behoort te wees. Ek stel voor dat
die digter veral aandag aan die logika en die sinsbou gee om die gedig toegankliker
vir die leser te maak. Met die verrassende beelding kan dit ’n besondere
gedig word. Die pluspunte en probleme hier is soortgelyk aan dié in die eerste gedig. Een van die probleme is dat die mooi woorde en beelde in die gedig ’n mens nogal laat wonder wat nou eintlik hier gesê word. Goed, ’n mens hoef nie alles in ’n gedig te verstaan nie, maar tóg! Kom ons kyk na spesifieke voorbeelde. In die eerste strofe is daar ’n teenstrydigheid in reël 1 (“die
maan hang swaar soos ’n helder gordyn”), terwyl daar oënskynlik
geen verband tussen die ritse byvoeglike naamwoorde in reël 3 is nie. In
die tweede strofe is die sinsbou in reël 3 en 4 onvolledig, terwyl “my
goed gedistilleerde en radelose tong” mooi klink, maar ek het nie ’n
benul wat dit beteken nie. Ek verstaan ook nie die laaste strofe nie, want wat
beteken dit nou eintlik as die grond die blik van my hoop en my oë verwelkom?
Voorts word iets normaalweg “ingeskink” en nie “uitgeskink”
nie. ’n Kenmerk van die hedendaagse Afrikaanse poësie is die gesprekke wat met (onder meer) ander digters se werk gevoer word. Oor hierdie gesprekke kan nog meer geskryf word, al het dit reeds ’n sekere hoeveelheid aandag van literatore gekry. Die onlangse plagiaatklag teen Melanie Grobler in Die Waterbreker (2004) sal hopelik tot ’n indringender gesprek oor die hele spektrum van beïnvloeding lei. Ek begin tydens die bespreking van Riana Wiechers se gedigte hiermee omdat die spore van vorige poësie duidelik in haar werk sigbaar is (dit het natuurlik niks met plagiaat te doen nie!) en eintlik bevestig dat dit onmoontlik is om enige literêre teks sonder vorige beïnvloeding te skryf. So byvoorbeeld tree “Jou kind” in gesprek met Ingrid Jonker se “Die kind” in Rook en oker (1963) (en dalk selfs heel onthutsend met Jonker se lewensverhaal); asook met konvensies ten opsigte van die gebruik van hoofletters aan die begin van versreëls in die Engelse poësie. Heelparty Afrikaanse gedigte tree in gesprek met Jonker se “Die kind” of herskryf die gedig. Ek het in “Die kind” in Plaaslike kennis (2004) oor ’n Mosambiekse kind geskryf wat gerepatrieer word en aan die wel en wee van ’n nuwe politieke orde (binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap!) uitgelewer word. “Jou kind” is ’n besondere voorstelling van die dilemma en verskeurdheid wat die kind beleef wat sonder ’n ma moet grootword. In die TV-program Korreltjie niets het Ingrid Jonker se eie dogter, Simone, vertel van die groot invloed wat haar ma se dood op haar gehad het en hoedat sy eers toe pres. Nelson Mandela die Engelse vertaling van “Die kind” tydens die opening van Suid-Afrika se eerste demokratiese parlement in 1994 voorgelees het, berusting gekry het. Of die digter dit so bedoel of nie, vir my is “Jou kind” ’n aanklag teen die mate van selfsug van Jonker se selfmoord, maar natuurlik ook ’n weeklaag in die algemeen oor ’n kind wat sonder ’n moeder moet grootword. Die gedig behoort niemand koud te laat nie!
Aangesien Jonker se gedig so bekend is, is dit nie nodig om aan te dui dat Wiechers
se gedig “’n herskrywing” van Jonker se gedig is nie. In vergelyking
met Jonker se gedig is hier ook heelwat abstrakte segging in plaas van konkrete
voorstelling. Kyk byvoorbeeld na die abstrakte selfstandige naamwoorde “aanwesigheid”
en “magteloosheid” in die eerste strofe en reëls soos “skreeu
skreeu die leemte/ Van onvoorwaardelike liefde/ In die handel en wandel van
haar ontouerde trots”. ’n Verdere probleem is die gebruik van hoofletters
aan die begin van elke versreël. Dit is ’n konvensie wat algemeen
in die Engelse poësie voorkom, maar in Afrikaans maak ons gewoon van kleinletters
gebruik.
“Koejawels val van 'n boom op George” Die gedig is ’n klein huldeblyk aan ’n heengegane ouma en die leser leer uit die gedig heelwat van haar. Ons lees dat sy ’n godvresende vrou was wat met hoenders geboer en jaarliks koejawels ingelê en uitgedeel het; en sy het “laat getrou was ’n werkende vrou” met drie kinders van wie sy een verloor het. In die laaste twee strofes word die gehegtheid en gemis aan die ouma beskryf. In die geheel is die gedig dus iets van ’n klein biografie oor die ouma.
Soos in die eerste gedig pla die gebruik van hoofletters aan die begin van die versreëls. Voorts word die beeldende moontlikhede van die koejawels in die titel en die eerste deel van die gedig nie konsekwent deurgevoer nie. Dit maak dat die gedig moontlik óf in twee genommerde dele verdeel kan word óf dat die beeld van die koejawels verder deurgewerk kan word. Ek vermoed dat die eerste moontlikheid dalk beter resultate gaan oplewer, aangesien veral die derde laaste strofe uit 'n opstapeling van "feite" bestaan. Kyk hoe Opperman in "Clat Boek" in Blom en baaierd (1956) feite kan dramatiseer.
Wil jy reageer op SkryfNet VIII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |