SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 3:

Marlene van Niekerk se eerste verslag
Francois Bloemhof se eerste verslag
Marlene van Niekerk se tweede verslag
Franois Bloemhof se tweede verslag

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die tweede weergawe van dié storie.

Dream Machine

Fanie Viljoen

“Lubrication,” sê Frikkie. “Dis al wat sy nodig gehad het. Net ’n bietjie nattigheid om haar moving parts weer aan die move te kry.”

“Uh,” sê Ella, en suig weer aan haar sigaret. Sy kyk hoe die kooltjie sagter gloei tussen haar vingers. Frikkie praat ôk verdomp so baie.

“Sy’t ’n ruk lank geloop soos ’n droom. Frikkie se dream machine … en toe vrek sy weer. Morsfokkendood.”

“Uh,” sê Ella weer.

“Ma’ vanaand gaat sy loop. So wragtag, vanaand vat ek julle almal vir ’n spin.”

Ella gooi die stompie voor haar voete neer en trap dit weg in ’n bars in die sypaadjie. Sy voel die sigaret brand deur haar skoensole. Dan dwaal haar oë so al met die karre af wat langs die straat geparkeer staan tot doer op die hoek waar die groenteverkopers besig is om hul two-rand-a-bag groente in rye te pak. Oorkant die pad staan die winkels ingeryg, Pep Stores, Shoprite-Checkers, Good Life Pharmacy en die Adult Fun Sex Shop wat die city council laat toemaak het, maar waarvan die naam nog steeds op die venster staan.

“Daarsy, Hes, daarsy!” roep Ella skielik uit en stamp na Hes wat kop onderstebo langs haar op die muurtjie sit. Hes ruk regop. Haar oë groot geskrik. “Daar’s jou mense, hol!” En Hes hol. As sy by die kar kom trek sy eers haar skirt reg en skud ’n klippie uit haar wit plakkies. Ella kyk hoe Hes maak soos sy haar geleer het. Sy vat die kaartjie uit die windscreen wiper en gaan staan so eenkant, weg van die kar. “Moenie so gepanick lyk nie, Hes,” het sy altyd gesê. “Relax en wag lat die mense self vir jou geld gee. Moenie vra nie. Wag.”

Sy sien hoe Hes staan. Sy kon nog nie die panicked look afskud nie, nou kyk sy maar vir haar voete. Vir die vuil merke tussen haar tone.

Dan trek die kar weg. Sonder om te betaal. Stingy bastards, dink Ella. Kan ’n blêrrie BMW bekostig, maar nie fifty cents vir die carwatch nie. Hes kom teruggestap. Haar plakkies kliks-klaks nou stadiger. Ella beduie vir haar sy moet teruggaan. Daar gaan nou weer iemand kom wat sy kan vra. Hes sug en draai weer om.

“Hei, Ella, watch my spot, okay?” sê Frikkie en staan op van die muurtjie. “Ek gaat gou Shoprite toe. Ek scheme ek het nou genoeg.” Hy hou ’n handvol munte en twee tienrandnote na haar toe uit.

“Genoeg vir wat?”

“Virrie jumper leads, man.”

“Jy mors net jou blêrrie geld. Plaas jy vir jou kos koop. Of ’n decent flat kry. Jy kan nie for ever in Hes-hulle se garage bly nie.”

“Ek’s orraait wa’ ek is. Ons sal anyway nog sien wie rol in die pitte en wie staan suurgat onner die bome as dit weer reent. Mense vergeet altyd hulle ligte aan as dit reent. En hoeveel van hulle ry met jumpers in hulle karre rond? Ek sê jou, daarrie dag gaat ek vet pay.”

“Ga, ek watch nog hoe plug jy daai jumpers in jou gat in. Jy’t nie eens ’n battery nie.”

“Wat praat julle?” klik-klaks Hes nader en gaan sit langs Ella.

“Frikkie het weer ’n scheme gekry, nou vertel ek hom net hoe stupid dit is.”

“Hes dink nie my schemes is stupid nie, hé Hes, my love?”

“Mmm,” sê Hes en maak haar oë toe om te hervat waar haar slaap netnou opgehou het.

Frikkie gaan sit langs Hes en skuif dan nog bietjie nader. “Sorry oor die kar van nou-nou, ou Hes.”

“Ag,” sug Hes.

“Wat sê die mense?”

“Niks,” sê Hes en vryf oor haar maag, haar oë nog toe. “Ma’ sallie help ek worry nie. Wat help worry dan nou? Ka’ tog niks daaraan doen nie.”

“Jy moes sommer ’n duik in die deur geskop het. Dit sal die ryk bitch leer.”


Teen laatmiddag kom Toel, Hes se man, op sy bicycle aangery by die parkeerplek. Sy hare is deurmekaar en hy het nog gister se T-shirt aan waarop staan I gave blood again and again and again and again. Die bloedskenkingsvereniging het dit uitgedeel as jy vier keer gaan skenk het. Hy is ’n ou gesig daar, maar Hes sê dat hulle sy bloed wegneuk sodra sy skurwe bruin hakskene by die deur uit is. Wie wil nou bloed van só ’n vuil man hê? En sy weet hy lieg vir hulle. Sy het al gesien watse vrae vra hulle op daai voorafblaadjies en hy sal ’n helse klomp van hulle verkeerd hê. Maar hy lieg en daarom vat hulle dit. As hulle weet hoeveel keer het hy al ’n jeukerigheid tussen sy lieste gehad en watse pille hy alles suip en waar hy oral loop inkruip as hy dink sy weet nie, sal hulle hom nie eers by daardie deur laat inkom nie. Maar, after all, wie is sy om te judge?

Ella ruk haar kop weg as Toel te naby kom. “Ag nee, voertsek, man. Jy’s laat en jy’s weer gesuip.”

Dit lyk of Toel se oë te stadig in sy kop beweeg. “Moenie lat dit jou worry nie. Ek is my eie mens.”

“Ja, jy en jou eie mens gaat nog met julle gatte op straat sit as jy dit nie watch nie. En wat gaat dan van Hes word?”

“Ek hoef nie te worry oor my Hes nie … en wat de fok het dit in elk geval met jou uit te waai? Since when moet ek my comings en goings by jou report? Dink mos jy’s die blêrrie queen mother. Ga!”

“O, jy scheme jy’s so smart, hé! Waar gaat jy vandag commission kry om vir Mister Loewies te gee? Jy weet hy vat fifty percent van alles. Hy’t nou-nou sy rounds kom doen en wou weet waar jy is. Hy dink jy was nog die heeldag by die werk.”

“Hê julle vir my gelieg?” vra Toel. Dit laat hom goed voel dat hulle sal lieg om hom uit die moeilikheid te hou. “Wat het julle gesê?”

“Ons het gesê jy’t gaat siegrets koop,” sê Hes sag en kyk vir haar voete. Ella sê alles wat sy sou wou sê, maar nooit kon nie. As sy kwaad raak vir Toel bly die kwaai woorde net in haar kop. As sy dit probeer sê gaan sy so aan die hakkel dat hy net vir haar lag en dan raak sy kwater en dan hakkel sy meer en dan los sy maar, want later sit sy met so ’n helse kopseer dat sy heelaand voel sy kan haar oë uitkrap.

“Ek laaikit as ’n girl my so laaik dat sy vir my sal lieg.”

“Dissie laaste keer, Toel. Gaan park jou bicycle lat jy ’n paar pitte kan kry anders eet julle weer nie vanaand nie.”

“Jy weet, Ella, jou man moes jou meer gemoer het toe hy nog geleef het, dan was jy nie nou so bossy en losbek vandag nie.”

“Nee, Toel, as daar te moer is in ’n huwelik, dan sal ek die moerwerk doen.”

“Ga! Jy kan nie eens agteroor moer nie. Ek waai weer. Ek het nie lus vir julle gechat nie. Hessie my doll, bring vir ons van daai viennas in die blikkies vir dinner vanaand. Ek het lankal lus daarvoor. En appelkoosjam vir die brood. As ons alleen is, sal ek jou vertel waarvoor ek nog lus het,” en hy vat so voor aan sy adidas kortbroek.

Hes antwoord hom nie.

“Jy los vir haar uit,” sê Ella en sit haar hand om Hes se skouer.

“Sy’s my vrou. Sy’t gesê ’I do’ en ’through thick en thin’ en as ’n man dun is, moet ’n vrou volmaak.”

“Ek sê jy los haar!” skree Ella weer as Toel die sypaadjie opry. “Jou Moegoe!”


Dit is net Ella wat die volgende dag opdaag by die parkeerplek in Louwstraat. Toel lê seker nog gesuip by die huis, maar Hes en Frikkie moes darem al hier gewees het. Hulle is nooit só laat nie. Wat sê sy vir Mister Loewies as hy hulle nou kom op check?

As die eerste karre aankom, hol Ella haar bene af om almal te serve. Dis belangrike werk hierdie, maar dit maak haar dood. Sy voel hoe knyp haar rug van al die staan. Vroegoggend is dit nog okay, maar teen tienuur voel dit vir haar sy kan haar naels in haar handpalms inslaan soos sy baklei teen die pyn.

As Toel uiteindelik daar aangesukkel kom, park hy sy bicycle teen die een-uur-parkering-paal en sluit dit toe met ’n helse ketting en ’n Viro-slot.

“Jy’s alweer laat, Toel. Kyk net hoe staat die karre al gepak.”

“Ag, los my tog net verdomp uit!”

“Waar’s Hes?”

“By die huis.”

“Sy moet hie’ wees.”

“Sy sê sy’s nie lus vir werk vandag nie.”

“Tjôl man, waar’s sy?”

“Sy’s moeg. Sy bly by die huis.”

“Moeg van wat?”

Toel bly stil. Hy trek sy oorjassie aan en skuif sy geldbelt reg. Hy zip die voorste sakkie oop en haal ’n handvol kaartjies met sy naam op uit en druk dit in sy sak. Dan, met lui treë, stap hy oor die straat.

Hier’s iets verkeerd, dink Ella. Sy voel dit so in haar gat. Toel is ’n pes. Jy kan hom nie trust nie. Jy kan in sy swart oë inkyk en boggerol weet van wat binne-in hom aangaan. Hy sal jou so aankyk met daai oë en vir jou smile en dan ’n knipmes in jou pens druk. Dis wat hy gemaak het met Barrel in die Sunshine Bar een Saterdagaand toe die drank te volop was. Net so. In sy pens. Die volgende oomblik was Barrel op sy knieë en die bloed het by sy bek uitgeloop. Iemand het vir Toel na die manstoilet toe gevat voor hy vir Barrel aan die keel ook beetkry. Barrel is nie dood nie, maar Toel is vir ’n paar jaar weggesluit. Toe hy daar uitkom was hy ’n groter stuk rubbish as voorheen. En Hes vat hom wragtig terug.

Nou is iets verkeerd. Sy moet gaan kyk. Hes sal nie sommer net wegbly nie. Sy sou op die een of ander manier laat weet het. Ella trek haar rug regop, besluit of sy vir Toel moet sê sy loop nou, maar dan begin sy sommer net stap.


Die son is warm op die agterkant van haar nek as sy by Hes-hulle se tuinhekkie instap. Oor die tuinpaadjie buig bruin stingelbossies, teen die stoepmuur staan ’n ry geroesde blikke met sand in. Twee van die sitkamervensters is stukkend.

Ella klop en wag. Niks. Sy klop weer, maar dié slag stoot sy sommer die deur oop. “Hes,” roep sy en die naam klink hol in die leë huis. “Hes!” Dan sien sy donkerrooi kolletjies langs haar skoene … Sy stap bang kamer toe en hoor haar eie voetstappe oor die kaal plankvloer. Die kamerdeur staan toe. Sy klop liggies en gaan binne. Die hele kamer lê vol goed: bokse, papiere, ou klere.

“O, Here! Here!” Ella sak teen die muur af, haar oë het die bloedkol in die hoek van die kamer gevang. Haar hande vou vir ’n oomblik oor haar mond en val dan slap in haar skoot. Dit voel of sy buite haar lyf is. Of sy kan opstyg en van bo af kan afkyk op die kamer. Op die ding wat in die bloederigheid lê … en op die twee breinaalde met die rooi punte.

Dan val sy by die deur uit. In haar keel stoot die suur op. Sy kruip toilet toe, deurmekaar, op haar hande en knieë en laat die naarheid haar oorweldig.

Eers as sy beter voel en haar gedagtes weer helder word, kom sy regop. Met haar hande steunend teen die muur stap sy uit die huis uit. Die vars lug maak haar kop oop en dan word haar treë vinniger en vinniger. Sy hardloop verby Frikkie se kar na die garage.

“Frikkie!” Sy pluk aan die twee houtdeure. “Frikkie, maak oop!” Met die tweede pluk skuur die deur oor die sementvloer oop. Die ou lug stroom uit en die sonlig stroom in en val oor Frikkie se voete waar hy opgekrul op die kaal matras lê, sy gesig na die muur.

“Frikkie, wat gaat hier aan? Waar’s Hes?”

Daar is ’n ruk stilte en dan kom die hees stem: “Dit was nie ek nie.” Dit klink nie soos Frikkie nie. “Ek het nie eens geweet nie …”

“Wat geweet?”

“Sy’s by die hospitaal. Ek het haar gevat. Die dream machine … die hele backseat is vol bloed … “

“Vat my soontoe. Kom!”

Frikkie trek sy skouers ronder en krul homself stywer op. ’n Geluid soos dié van ’n dier wat besig is om dood te gaan breek uit sy bors.

“Frikkie … asseblief.”

Dan kom hy stadig regop, sy oë verdwaal in sy kop en sy lyf moeg gelewe. “Ek sal kyk of ek die kar weer gestart kan kry.” As hy buitentoe stap sien Ella die pers-blou merk om sy nek.


Die heelpad hospitaal toe voel dit vir Ella of hulle nou ry om iemand te gaan begrawe. Sy en Frikkie praat nie met mekaar nie. Dit is net die motor se enjin wat dreun in hul ore, verder niks. En as hulle uitklim is dit asof die bloedreuk van die kar saamkom.

“O, dis weer jy,” sê die vrou by ontvangs as sy vir Frikkie sien. “Het julle besluit wie gaan betaal?” Frikkie ignoreer haar en bly net loop met Ella agterna. “Iemand moet betaal. Ek ken julle mense. Wil net altyd iets vir niks hê. Die dokter was nie eens lus om uit te kom nie. Julle maak net altyd moeilikheid. Sies, witmense!”

By Hes se kamer stop Frikkie en beduie net met sy hand.

“Gaat jy dan nie saam inkom nie?”

Hy skud sy kop.

Ella stap in en gaan staan by die voetenent van die bed.

“Hessie?” Hes roer nie. “Ek het kom kuier, Hes …”

“Hy’t hom gevat,” sê Hes, haar gesig weggedraai na die venster.

“Hessie?”

“Hy’t my bybietjie gevat.”

“Hes? Watse bybietjie?”

“My bybietjie …”

“Ma’ … jy’t mos nie ’n bybietjie nie.” Dan ruk die gedagte in Ella. “Was jy …”

Hes byt op haar lip en maak haar oë toe. Haar kneukels raak witter soos sy die kussing vasklem. “Hy’t gesê ek vertel vir niemand nie. ’n Ou vrou soos ek pregnant? Dis ’n disgrace, het hy gesê.”

“Die bloed?” Ella kom sit sag langs Hes op die bed, vee die hare uit haar oë. Sy lê roerloos.

“Die bybietjie was al wat ek nog gehad het. Dis al present wat ek nog in my lewe gekry het. Hy’t gesê hy’t hom vir my gegee en hy kan hom weer wegvat ôk.”

“Hoekom?”

“Die duiwel was weer in sy gat. Toe ek by die huis kom wou hy weet waar’s die goed wat ek moes koop. Ek vra met watse geld. Ek moes alles net so vir Mister Loewies gee. Fifty percent commission vir my en fifty percent vir Toel. As hy nie soos ’n slegding heeldag by die huis gelê het nie, het ek nou geld gehad, het ek gesê. Toe klap hy my … en ek val. En hy sleep my kamer toe … gooi my op die matrass … Strip, het hy gesê, strip … Hy’t sy broek begin’t losmaak …” Hes druk haar gesig in die kussing om die woorde te smoor.

“Ek sal jou leer, het hy gesê.” Ella kyk om. Frikkie het in die deur kom staan. “Ek het dit alles gehoor … en gesien. By die kamervenster. Sy’t gesê: Nee Toel, nie vanaand nie, Toel. Ma’ sy broek het op sy knieë geval. Jy gaat my bybietjie seermaak. Met hierrie ding maak ek nie bybietjies nie, ek maak bulle, het hy gesê. Hy’s in anycase nie net joune nie, hy’s myne ôk. Toe druk hy haar knieë uitmekaar. Sy’t geskree. Hy was bo-op haar. Sy’t getraai om hom af te gooi, ma’ hy’t haar hande bo haar kop vasgedruk.”

Hes trek haar hande onder die laken in om die blou merke aan haar gewrigte weg te steek, maar Ella het dit klaar gesien.

“En toe sê ek hom,” ruk die woorde in Hes se droë keel. “Ek het geweet hy gaat dit nie like nie, ma’ dis okay, het ek gedink. Lat hom ôk seerkry. Lat hy voel. Dis nie eens joune nie, het ek geskree. Dis nie jou bybie nie! En toe raak sy lyf stil op my. Hy’t van my afgerol.”

Frikkie sit sy hande voor sy gesig. “O, Here, Hes, jy moes hom nooit gesê het nie.”

“Hy moes weet dis nie syne nie.”

Ella frons. As dit nie Toel se bybie is nie … Dan volg sy Hes se oë. “Frikkie?”

“Ek het nie geweet nie! Die Here hoor my, ek het nie geweet nie. Ek het daar by die venster gestaat en gedink ma’ dit kon tog nie … nie myne wees nie … En toe kyk Toel op en hy sien vir my … O Here! Dit is myne! Dis my bybie!

“Ek en Hes het ’n paar keer, as Toel weg was … op die backseat vannie dream machine … Ag, Here! Dissie wat ons wou hê nie. Ons het ma’ net elkeen iemand gesoek … Omlat ons so alleen was … Dis al. Vir die alleengeit.

“Toel het my uit die garage kom haal. Hy’t my met sy knie teen die grond gedruk en sy belt om my nek gedraai …” Frikkie vat aan die merke aan sy nek. “En toe sleep hy my huis toe. Kamer toe.”

“Hes het in die hoek van die kamer gesit. Sy’t net haar maag vasgehou. Toel het die kasdeur oopgeruk en die goete begin uitmoer, ma’ hy’t die belt nog allie tyd in sy een hand gehou lat ek nie kan wegkom nie. Toe kry hy wat hy soek. Hy’t die belt geruk lat ek het op my knieë val en toe gooi hy die breinaalde na Hes toe …”

“Nee, Here, Frikkie, shut up!” Hes probeer wegdraai van Frikkie se woorde af, maar haar lyf trek van die pyn as sy beweeg en sy moet gryp na Ella se arm om net aan iets vas te hou. Iets wat lewe en wat warm is. Haar eie lyf voel so koud. ’n Plek waar bybies doodgaan omdat hulle nie liefgekry word nie.

“Hy wou hê ek moes een pick, Ella. You decide, het hy gesê, dis óf die bybie óf dis Frikkie, ma’ vanaand gaat iemand vrek.” Hes se skouers ruk. Sy laat sak haar kop op haar bors. Frikkie kom staan langs die bed en sit sy hand op Hes se skouer. En dan skuif hy dit af na die plek waar hulle droom leeg lê.

“Hoe pick mens, Ella? Dis nie fair nie. Ek het geweet Toel speel nie. Hy sou dit doen, hy sou vir Frikkie doodwurg met sy belt. Hoe pick mens? Ek kon sien wat Frikkie wou hê, maar ek het my kop weggedraai … en my bene oopgemaak … en toe druk ek die naalde in my op.”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.