SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Francois Bloemhof

Tweede verslag

Slangbyt op ’n Dinsdag deur Trisa Hugo
Genade onbeskryflik groot deur Susan Lombaard
Ek is nie ’n dier nie deur Anna-Marie Radloff
Gelykop deur Marita van Aswegen
Wag deur Fanie Viljoen

Algemene kommentaar

Eerstens my inleiding. Ek het probeer om al vyf die skrywers se verhale te lees asof ek dit nog glad nie vantevore gesien het nie. Wat natuurlik nie heeltemal moontlik is nie. Ek wou graag koud en klinies en núút kyk na die verhaal — soos ’n ander leser met ’n eerste lees daarop sou afkom. So ek gaan myself heel moontlik weerspreek. Elke keer as iemand anders na jou verhaal kyk, word dit as ’t ware ’n nuwe verhaal … wat beteken jy moet nooit één mens se mening as “die waarheid” opneem nie! Hoe langer jy skryf, hoe sterker word jou vermoë om selfkritiek toe te pas in elk geval. Die eerste les van selfkritiek is dat, elke keer as jy weer jou verhaal lees, daar tien teen een nuwe dinge sal wees wat jou hinder. Die tweede les is dat jy die een of ander tyd moet volstaan!

Slangbyt op ’n Dinsdag deur Trisa Hugo

Goeie eerste sin. Dit sê ook dat die kind se lewenspad nie aangenaam is nie
     Jou vertelstyl pas goed by die hoofkarakter wat jy gekies het. Net hier en daar is steeds ’n woord wat nie by ’n kind se perspektief pas nie — vind byvoorbeeld die een in dié sinsgedeelte:

    Sy skrik haar kaduks as mens dan skielik met haar praat.

Die volgende uitdrukking:

     Die sag in haar oë is weg.

klink te bedink, te poëties. En dit beteken ons hoor die stem van die skrywer eerder as die kind se waarnemings.
     Clichés soos die volgende:

     Dis asof ’n wal breek.

vir wanneer die kind teenoor die juffrou huil/vertel, hinder juis omdat daar nie so baie van hulle is nie. Telkens word daar elders in die verhaal ou dinge op nuwe maniere gesê, en daarom val dit op wanneer oorgebruikte uitdrukkings soos dié voorkom.
     Die oomblik wanneer die kind oom Boela kaal in die gang aantref, is nou vir my oortuigender, maar ek dink dit kan nog sterker word as dit verder afgeskaal word. Minder is meer … Ek dink die sinsdeel “dis ’n vreeslike ding” verklap te veel van ’n volwasse perspektief, en dat dit selfs komies sal wees op ’n oomblik wanneer jy nié komiese ontvlugting by die leser wil hê nie … maar die vraag:

    En hoe kry hy gepie as sy totterman so in die lug op staan?

is wel hoe ’n kind daaroor sou dink — dit oortuig. En dit sou myns insiens genoeg gewees het. Ek is ook nie seker dat “vreeslike ding” en “totterman” mekaar nie weerspreek nie. Wat het ons hier — Austin Powers of Mini-Me?
     In die derde laaste paragraaf begin ’n mengsel van die hede en die verlede tyd. Dit is nie funksioneel/nodig nie en hinder.
     Dit bly ’n swaar, neerdrukkende einde. Maar doeltreffend wel. En dit is wat dit wou wees.

boontoe

Mart kies deur Susan Lombaard

Die nuwe, korter titel, “Mart kies”, is ’n verbetering op “Genade onbeskryflik groot”. Dit is kragtig en direk en funksioneel, sonder om te vooruitwysend/verklappend te wees. Maar ek dink nie dit is treffend genoeg nie; dit nooi my nie binne nie.
     Die spronge tussen die hede en verlede is soms hinderlik. Dit sal na my mening nie die geval wees as die heel eerste een glad verloop nie. Dit is wel moontlik vir ’n leser om uit te werk wat was tóé en wat is nóú, maar die eerste terugflits, by paragrawe 5 en 6, is verwarrend. Omtrent alle lesers gaan dink die ouma en oupa is nóú daar om Mart te ontmoet. As daar in paragrawe 5 en 6 ’n duidelike aanduiding kan wees dat die Mart wat daar ter sprake is ’n kind is, sal die leser nie by paragrawe 7 en 8 wonder hoekom die mense wat haar kom ontmoet het, skielik nie meer daar is nie …
     Ek herinner my iets dat ek voorgestel het dat die tydspronge nie met kursivering aangedui word nie (daar was te veel daarvan) en ek hou daarby, maar hier aan die begin moet die leser ’n bietjie bygestaan word.
     Later in die verhaal, tussen die paragraaf wat eindig met:

    Die teëls is koud onder haar voete.

    en die een wat begin met:

      Kyk, Oupa!” Haar kaal voete klap op die stoepteëls.

    is die oorgang byvoorbeeld nie hinderlik nie (en ruimtelik gemotiveerd) mits die hede-verlede-tydspronge reeds gevestig is.
         Dit was ’n goeie besluit om nie telkens wit ruimtes te gebruik nie, want te veel sou gemaak het dat hulle hul trefkrag verloor. Dié wat wel hier is, is dienlik.
         Mart se reaksie aan die einde, wanneer sy ná die doodmaak van haar ouma haar hand op haar eie maag hou en die buite-egtelike kind voel roer, is treffend. Tog twyfel ek of dit ’n goeie idee is om die ouma se dade van die verlede net voor dié afloop aan die leser te openbaar. Veral die aanduiding dat die ouma geld gevat het vir die aborsies wat sy uitgevoer het en dit nie uit genade gedoen het nie, kan by heelwat lesers die indruk skep dat die dood haar verdiende loon eerder as ’n uitkoms is — sy het juis vroeër gewonder of dit haar straf was dat haar man voor haar moes sterf. As die beligting van die ouma se verlede effens vroeër sou staan, sou daar meer tyd wees vir die leser om haar te “vergewe”, of selfs net effens meer neutraal teenoor haar te staan, voordat sy deur Mart uit die lewe gehelp word.

    boontoe

    Ek is nie ’n dier nie deur Anna-Marie Radloff

    Soms bederf jou woordkeuse belangrike momente. In die sin:

      Die volgende oomblik is hy en Ken en Al-vredo buite op die grond ineengestrengel in ’n wriemelende bondel van aggressie.

    voel ’n mens byvoorbeeld dat dit meer trefkrag kon gehad het as dit eenvoudiger gestel is. Dit lees moeilik. Die woord “wriemelende” sal baie lesers ook eerder aan ’n hopie wurms laat dink as drie groot, sterk mans wat aan die baklei is.
         Só kan ’n mens ook ander voorbeelde noem, soos:

      Sy oë spreek leë boekdele.

    So ’n sin dui wel daarop dat jy gedínk het en nie met die eerste die beste uitdrukking wou volstaan nie ... maar dit is nie moontlik vir enige paar oë om leë boekdele te spreek nie. Sulke frases, ook byvoorbeeld soos:

      Hy sak grond toe in die pyn van verlamming.

    is versperrings in die leser se pad. As laasgenoemde sin byvoorbeeld gelees het:

         Hy sak grond toe van die verlammende pyn.

    kan die leser voortbeweeg. En ’n mens soek tog ’n sekere vaart by dié verhaal.
         In aansluiting by die bostaande punt kan ’n mens ook van ’n sin soos:

      Sy word ’n tatoeëermerk, vasgeplak tussen die kar en die harde lyf.

    sê nee, sy word nie ’n tatoeëermerk nie, sy bly ’n vrou, dis maar net haar lyf wat tussen die man en die motor vasgekeer is
         Ná die verkragting en die ry sterretjies wat op ’n oorgang dui, volg die sin:

         Sy is reg vir hom.

    So op sy eie is die sin treffend, maar in die geheel beskou verminder dit die trefkrag van wat volg. Hoe meer jy voorspel, hoe minder gaan jy uiteindelik deliver.
         Ek voel ook steeds dat ’n sin soos:

      Soos ’n dier ruik hy haar uit.

    te pertinent is. Te direk, veral in die lig van die titel wat reeds die klem op dierlikheid plaas. Een of twee subtiele verwysings na ooreenkomste in die optrede/voorkoms van man en dier sou voldoende gewees het.

         Die afskaling/uitskakeling van die woord “fok” bring wel mee dat die sin:

      “Jou fokker, vandag is jy vrek, jou fokken fokker.”

    baie meer treffend is wanneer dit tydens ’n krisisoomblik voorkom.
         Die einde van die verhaal voel ook vir my sterker as voorheen. Die eggo wat die heel eerste paragraaf hier aan die einde vind, beklemtoon die herhalende, sieldodende roetine wat dié soort lewe kenmerk. Erge dinge gebeur, but the show must go on …

    boontoe

    Gelykop deur Marita van Aswegen

    Dit het my vroeër al gehinder dat Arnoldus, die hoofkarakter Anna se man, nie geskakeerd genoeg aangebied word nie. Ons leer hom reg aan die begin reeds ken as ’n ruwe diamant, indien hy hoegenaamd ’n diamant is. Hy is steeds meer van ’n ekstreme verteenwoordiger van ’n sekere soort man, as wat hy ’n karakter is.
    Wanneer Anna vir hom die filigraan-skoenlapper wys en hy bruusk sê:

      “Ja, ek sien, kom nou lat ons klaar eet, ek’s haastig, daar’s werk wat wag.”

    maak dit hom nie noodwendig vir die leser ’n onsimpatieke karakter nie. Vir al wat ons weet, skimp Anna pal vir geskenke en raak Arnoldus met reg vies as sy dit doen. Ja goed, ek weet dis nie die geval nie, en die meeste lesers sal dit ook nie so lees nie. Tog, dit voel asof jy teen hom diskrimineer. As man sê ek: Ons is nie almal so nie. En dié van ons wat is, sien onsself dalk nie so nie. Of het iewers ’n bietjie goed, ’n bietjie subtiliteit en sensitiwiteit …
         Maar dan. Wie is jou lesers? Vroue? Indien wel, en indien dit vroue is wat al dikwels oor hul mans gevoel het soos Anna hier oor Arnoldus voel, is daar geen probleem nie. As daar staan:

      Die sweet slaan op sy voorkop uit toe hy die laaste bietjie monkeyglandsous eet.

    en Anna vir hom ’n sneesdoekie aanbied, dui dit weer eens op haar sensitiwiteit en sy — om by die diamantbeeld te hou — ongepoetsheid. Dan weer, ’n mansleser, of iemand wat meer simpatiek teenoor die mansgeslag staan, kan reageer: Dis nie ’n sonde om te sweet nie …
         En daarin lê ’n baie belangrike beginsel opgesluit. Naamlik dat jy nie almal tevrede kan stel nie. En jy hoef ook nie. Soos reeds gesê, jy besluit wie jou mark is en jy skryf vir húlle. Baie vroue sal sê, en dalk tereg: Tipies man! En tot in hulle tone lekkerkry. En baie mans sal sê: Hier gaat ons al weer … Nou, ek is ’n mansleser en geen “keuring” is ooit objektief nie.
         Hier en daar het ek steeds gevoel jy spel sekere dinge te pertinent uit — soos wanneer Arnoldus nie sy en Anna se emosionele probleme met haar wil bespreek nie, boonop ná die snarsie van ’n radiogesprek oor huwelike met gebrekkige emosionele en intellektuele intimiteit … en Arnoldus se afmakende/verdoemende siening van sielkundiges … en die manier waarop hy Anna stilmaak toe daar iets oor die radio kom waarna hy wíl luister. Maar nou, weer eens, dit hang af wie jou mark is. Hoe besluit ’n mens hoe “slim” is jou leser? Vir party sê ’n mens nie genoeg nie, ander is jou weer een voor. Ons het wel myns insiens te dikwels in Afrikaans ’n obsessie daarmee om ’n kortverhaal tot op die allernoodsaaklikste kern te stroop, dat ons nie verby die punt mag gaan waar lesers moet bywerk, waar hulle moet uitpluis en ontrafel dit wat inplisiet vir hulle aangebied is nie … Sommige verhale, en sommige maniere van vertel vir ’n sekere mark, vra om ’n meer direkte, “vollediger” aanbieding. Ek dink egter nie dit is hier die geval nie.
         Voor die laaste elf paragrawe, wat begin met:

      Die melkmasjien dreun nog wanneer Arnoldus teen sononder by die agterdeur instorm.

    sou ek ’n wit spasie aanbeveel om die tysverloop aan te dui.
         Ek dink nie die nuwe einde werk nie. Die koei skop nog steeds vir Arnoldus, maar hy moes tog die filigraan-skoenlapper vir Anna gekoop het vóór die tyd … en dan dien die skop, wat hom tot besinning moet ruk, of hom sag moet maak, geen doel nie … Ons kry hier wel ’n ander blik op dié manskarakter, maar myns insiens te laat, en ek is nie seker jy glo self in wat jy hom hier op nommer nege-en-negentig laat doen het nie …

    boontoe

    Hol drome deur Fanie Viljoen

    Ek dink jou nuwe titel is ’n verbetering op “Wag”. Aan die ander kant smeek “Hol drome” behoorlik vir die een of ander onsensitiewe siel om ’n grappie oor slapende agterstewes te maak ... Hier kort ’n titel wat ’n mens sal lus maak om te lees.
         Dié keer oortuig die karakters se taalgebruik my meer. Dit is meer konsekwent en daar is nie baie sêgoed wat buite die toonaard van die verhaal val nie. Selfs dan kan ’n mens sê die karakters het die woorde iewers opgetel, of probeer slimmer of meer gesofistikeerd klink as wat hulle is.
         Die skrywer het ook sy manier van vertel (wat natuurlik die karakters se manier van kyk na dinge weerspieël) beter by die dialoog laat aansluit. ’n Gedeelte soos dié:

      Hier’s iets verkeerd, dink Liefie. Sy voel dit so in haar gat.

    oortuig byvoorbeeld geheel en al.
         Die inleidende gedeelte voel vir my te lank. Mister Loewies — hoe nodig is dit dat hy moet verskyn en die verdere gebeure uitstel? Dit is asof ons lank aan beskrywings van karakters lees, en hulle hulself aan ons openbaar, voor hulle werklik iets dóén. Of dan iets wat ’n invloed gaan hê op wat volgende gebeur.
         Die verhaal het in die middel vir my ’n lekker vaart.
         Die verduideliking aan die einde voel vir my te lank — omdat dit niks aan die saak verander nie. Ons weet immers reeds wat die uiteinde gaan wees (Kotie sál haar baba verloor, dit hang net af hoe) en daarom voel dit asof hier ’n afloop kortkom. Dit is ook ’n baie neerdrukkende einde en die meeste lesers sal ’n greintjie hoop waardeer. So ek wil ’n voorstel maak:
         Die een positiewe aspek wat hieruit kán voortspruit, is dat dit wat gebeur het vir Kotie en Frikkie nader aan mekaar bring. Ons weet hulle het ’n paar keer seks gehad om die alleenheid te besweer … maar hoe voel hulle nóú oor mekaar? Kotie lê op die bed en Frikkie staan in die deur, en elkeen vertel ’n deel van wat gebeur het. Die einde kan na my mening treffender wees as Frikkie, sê nou maar, Kotie se hande vat — dié hande waarmee sy ’n daad uitgevoer het waardeur sy hóm gekies het — en dit ’n drukkie gee. Of so iets. Want dit klink nou so kitsch. Maar ek dink dit is noodsaaklik dat die verhaal nie moet eindig op ’n punt wat reeds aan die leser bekend is nie …

    boontoe


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.