SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 2:

Marlene van Niekerk se eerste verslag
Francois Bloemhof se eerste verslag
Marlene van Niekerk se tweede verslag
Francois Bloemhof se tweede verslag

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Hol Drome

Fanie Viljoen

“Lubrication,” sê Frikkie. “Dis al wat sy nodig gehad het. Net ’n bietjie nattigheid om haar moving parts weer aan die move te kry.”
    “Uh,” sê Liefie, en suig weer aan haar sigaret. Sy kyk hoe die kooltjie sagter gloei tussen haar vingers. Frikkie praat ôk verdomp so baie.
    “Sy het ’n ruk lank geloop soos ’n droom. Frikkie se dream machine  … en toe vrek sy weer. Morsfokkendood.”
    “Uh,” sê Liefie weer.
    “Ma’ vanaand gaat sy loop. So wragtag, vanaand vat ek julle almal vir ’n spin.”
    Liefie gooi die stompie voor haar voete neer en trap dit weg in ’n bars in die sypaadjie. Sy voel die sigaret brand deur haar skoensole. Dan dwaal haar oë so al met die karre af wat langs die straat geparkeer staan tot doer op die hoek waar die groenteverkopers besig is om hul two-rand-a-bag groente in rye te pak. Oorkant die pad staan die winkels ingeryg, Pep Stores, Shoprite-Checkers, Good Life Pharmacy en die Adult Fun Sex Shop wat die city council laat toemaak het, maar waarvan die naam nog steeds op die venster staan.
    “Daarsy, Kotie, daarsy!” roep Liefie skielik uit en stamp na Kotie wat kop onderstebo langs haar op die muurtjie sit. Kotie ruk regop. Haar oë groot geskrik. “Daar’s jou mense, hol!” En Kotie hol. As sy by die kar kom trek sy eers haar skirt reg en skud ’n klippie uit haar wit plakkies. Liefie kyk hoe Kotie maak soos sy haar geleer het. Sy vat die kaartjie uit die windscreen wiper en gaan staan so eenkant, weg van die kar. “Moenie so gepanick lyk nie, Kotie,” het sy altyd gesê. “Relax en wag lat die mense self vir jou geld gee. Moenie vra nie. Wag.”
    Sy sien hoe Kotie staan. Sy kon nog nie die panicked look afskud nie, nou kyk sy maar vir haar voete. Vir die vuil merke tussen haar tone.
    Dan trek die kar weg. Sonder om te betaal. Stingy bastards, dink Liefie. Kan ’n blêrrie BMW bekostig, maar nie fifty cents vir die carwatch nie. Kotie kom teruggestap. Haar plakkies kliks-klaks nou stadiger. Liefie beduie vir haar sy moet teruggaan. Daar gaat nou weer iemand kom wat sy kan vra. Kotie sug en draai weer om.
    “Hei, Liefie, watch my spot, okay?” sê Frikkie en staan op van die muurtjie. “Ek gaan gou Shoprite toe. Ek scheme ek het nou genoeg.” Hy hou ’n handvol munte en twee tienrandnote na haar toe uit.
    “Genoeg vir wat?”
    “Virrie jumper leads, man.”
    “Jy mors net jou blêrrie geld. Plaas jy vir jou kos koop. Of ’n decent flat kry. Jy kan nie forever in Kotie-hulle se garage bly nie.”
    “Ek’s orraait waar ek is. Ons sal anyway nog sien wie rol in die pitte en wie staan suurgat onner die bome as dit weer reënt. Jy weet mos hoe vergeet mense hulle lights aan as dit reënt. En hoeveel van hulle ry met jumpers in hulle karre rond? Ek sê jou, daarrie dag gaat ek vet pay.”
    “En wa’ wil jy die jumpers inplug? In jou gat?”
    “Aan ’n battery.”
    “Wat jy wa’ kry?”
    “Wat ek ôk voor sal save, maar in die meantime leen ek sommer die passers-by se batteries.”
    “En as die passers-by vir jóú vir ’n tip vra?”
    “Nee, ek sien wat hier aangaat. Jy kan dit net nie handle lat ek sukke bright ideas kry nie.”
    “Is g’n! Wannir dink jy gaat dit in elk geval reënt? Kyk op. Sien jy enige wolke?”
    “Wat praat julle?” klik-klaks Kotie nader en gaan sit langs Liefie.
    “Frikkie het weer ’n scheme gekry, nou vertel ek hom net hoe stupid dit is.”
    “Kotie dink nie my schemes is stupid nie, hé Kotie, my love?”
    “Mmm,” sê Kotie en maak haar oë toe om te hervat waar haar slaap netnou opgehou het.
    Frikkie gaan sit langs Kotie en skuif dan nog bietjie nader. “Sorry oor die kar van nou-nou, Kotie.”
    “Ag,” sug Kotie.
    “Wat sê die mense?”
    “Niks,” sê Kotie en vryf oor haar maag, haar oë nog toe. “Ma’ sallie help ek worry nie. Wat help worry dan nou? Ka’ tog niks daaraan doen nie.”
    “Jy moes sommer ’n duik in die deur geskop het. Dit sal die ryk bitch leer,” sê Frikkie en sit sy gewig op die ander boud.
    “Wit Cortina! Wit Cortina! Mister Loewies! Hol!” Liefie sien altyd eerste as daar ’n kar gaan uittrek of ’n nuwe intrek of, soos nou, as Mister Loewies kom.
    Liefie is op haar pos en loop op en af asof sy dit al ure lank doen, maar Kotie moet nog eers straataf hol na haar spot toe en Frikkie moet oor die straat kom sonder dat Mister Loewies hom sien. Hy koes tussen die karre en spring dan regop anderkant ’n rooi bakkie en loop ook stadig, stywe been langs die motors verby asof hy hulle fyn dophou soos belowe op die groen kaartjie in die wipers.
    Mister Loewies stop sy wit Cortina sommer so in die straat naby Liefie, druk sy toeter en dan moet almal weer terughol na hom toe. Die baas wil praat. Liefie en Frikkie is eerste daar, maar Kotie sukkel nog, haar arms werk verbete langs haar sye asof sy enige oomblik gaan begin hardloop, maar haar bene wil net nie wegkom van die aarde af nie. Haar voete loop al skoon langs haar plakkies. Teen die tyd dat sy langs Mister Loewies se kar staan, tap die sweet so uit haar hare en oor haar voorkop en in haar oë dat sy niks kan sien nie. Sy voel hoe haar bors ruk-ruk onder die oranje glimjassie, hoe die lamheid kom lê in haar knieë en die naarheid stoot in haar keel.
    “En waar’s Toel?” vra Mister Loewies sonder om te groet.
    “Toel?”
    “Ja, Toel.”
    “Seker day off …” sê Frikkie vinnig, maar Liefie praat hom morsdood.
    “Net gou oorrie straat om vir ons ’n koeldrienk te kry … en siegrets. Baie warm vandag. Kyk net hoe sweet arme Kotie.” Alle oë draai na Kotie. Sy staan net daar met haar bril wat stadig toewasem, haar mond wat oop en toe gaan en sweet wat teen haar ken afloop.
    “Kotie, waar’s jou man?” vra Mister Loewies weer.
    “Dis soos … soos Liefie sê. Hy’s oorrie straat, Mister Loewies. Vir siegrets en goete.”
    Mister Loewies bly ’n ruk stil asof hy besluit of hy dit wil glo. “Okay dan.” Hy vat die clipbord wat langs hom op die sitplek lê. “Hoeveel commission het julle al vir my?” Sy pen staan by Frikkie se naam. “Frikkie?”
    Frikkie steek sy hand in sy sak en as hy hom uithaal, lê daar net ’n paar tien- en twintigsentstukke in sy handpalm.
    En Liefie weet, nou kom hier moeilikheid. Toel kom eers teen laatmiddag daar aan op sy bicycle. Sy hare is deurmekaar en hy het nog gister se T-shirt aan waarop staan I gave blood again and again and again and again. Die bloedskenkingsvereniging het dit uitgedeel as jy vier keer gaan skenk het. Hy is ’n ou gesig daar, maar Kotie sê dat hulle sy bloed wegneuk sodra sy skurwe bruin hakskene by die deur uit is. Wie wil nou bloed van só ’n vuil man hê? En sy weet hy lieg vir hulle. Sy het al gesien watse vrae vra hulle op daai voorafblaadjies en hy sal ’n helse klomp van hulle verkeerd hê. Maar hy lieg en daarom vat hulle dit. As hulle weet hoeveel keer het hy al ’n jeukerigheid tussen sy lieste gehad en watse pille hy alles suip en waar hy oral loop inkruip as hy dink sy weet nie, sal hulle hom nie eers by daardie deur laat inkom nie. Maar, after all, wie is sy om te judge?
    Liefie ruk haar kop weg as Toel naderkom. Hy ruik na drank en sy oë lyk of hulle te stadig in sy kop beweeg.
    “Wa’ was jy, Toel? Mister Loewies het jou al kom soek.”
    “Hy moet ma’ soek. Ek is my eie mens.”
    “Ja, jy en jou eie mens gaat nog met julle gatte op straat sit as jy dit nie watch nie. En wat ga’ dan van Kotie word?”
    “Ek hoef nie te worry oor my Kotie nie  … en wat de fok het dit in elk geval met jou uit te waai? Since when moet ek my comings en goings by jou report? Dink mos jy’s die blêrrie queen mother. Ga!”
    “O, jy scheme jy’s so smart, hé! Weet jy waar’t Frikkie se smartgeit hom gebring? Hy’s vanoggend gefire net omdat Mister Loewies hom oor die straat sien hol het en omdat hy hom wou verneuk met die commission! Waar gaat jy vandag commission kry om vir hom te gee? Jy weet hy vat fifty percent van alles. Hy dink jy was nog die heeldag by die werk.”
    “Hê julle vir my gelieg?” vra Toel. Dit laat hom goed voel dat hulle sal lieg om hom uit die moeilikheid te hou. “Wat het julle gesê?”
    “Ons het gesê jy’t gaan siegrets koop,” sê Kotie sag en kyk vir haar voete. Liefie sê alles wat sy sou wou sê, maar nooit kon nie. As sy kwaad raak vir Toel bly die kwaai woorde net in haar kop. As sy dit probeer sê gaan sy so aan die hakkel dat hy net vir haar lag en dan raak sy kwater en dan hakkel sy meer en dan los sy maar, want later sit sy met so ’n helse kopseer dat sy heelaand voel sy kan haar oë uitkrap.
    “Ek laaikit as ’n girl my so laaik dat sy vir my sal lieg.”
    “Dissie laaste keer, Toel. Jy moet jou gesuipery los.”
    “Ek suip g’n.”
    “Ma’ ek ruik vir jou. Ruik jy hom ôk, Kotie?” Kotie knik. “Moenie dink ons is stupid omlat ons arm is nie. Gaan park jou bicycle lat jy ’n paar pitte kan kry anders eet julle weer vanaand nie.”
    “Jy weet, Liefie, jou man moes jou meer gemoer het toe hy nog geleef het, dan was jy nie nou so bossy en losbek vandag nie.”
    “Nee, Toel, as daar te moer is in ’n huwelik, dan sal ek die moerwerk doen.”
    “Ga! Jy kan nie eens agteroormoer nie. Ek waai weer. Ek het nie lus vir julle gechat nie. Kotie my doll, bring vir ons van daai viennas in die blikkies vir dinner vanaand. Ek het lankal lus daarvoor. En appelkoosjam vir die brood. As ons alleen is, sal ek jou vertel waarvoor ek nog lus het,” en hy vat so voor aan sy adidas kortbroek.
    Kotie antwoord hom nie.
    “Jy los vir haar uit,” sê Liefie en sit haar hand om Kotie se skouer.
    “Sy’s my vrou. Sy’t gesê ’I do’ en ’through thick en thin’ en as ’n man dun is, moet ’n vrou volmaak.”
    “Ek sê jy los haar!” skree Liefie weer as Toel die sypaadjie opry. “Jou Moegoe!”

Dit is net Liefie wat die volgende dag opdaag by die parkeerplek in Louwstraat. Frikkie is gefire en Toel lê seker nog gesuip by die huis, maar Kotie moes darem al hier gewees het. Sy is nooit só laat nie. Wat sê sy vir Mister Loewies as hy hulle nou kom op check?
    As die eerste karre aankom, hol Liefie haar bene af om almal te serve. Dis belangrike werk hierdie, maar dit maak haar dood. Sy voel hoe knyp haar rug van al die staan. Vroegoggend is dit nog okay, maar teen tienuur voel dit vir haar sy kan haar naels in haar handpalms inslaan soos sy baklei teen die pyn.
    As Toel uiteindelik daar aangesukkel kom, park hy sy bicycle teen die een-uur-parkering-paal en sluit dit toe met ’n helse ketting en ’n Viro-slot.
    “Jy’s laat, Toel. Jy’s laat. Kyk net hoe staat die karre al gepak.”
    “Ag, los my tog net verdomp uit! Jy’s g’n my baas nie.”
    “Unofficially is ek.”
    “Says who?”
    “Almal weetit.”
    “In your dreams, Liefie, in your dreams.”
    “Waar’s Kotie?”
    “By die huis.”
    “Sy moet hie wees.”
    “Sy sê sy’s nie lus vir werk vandag nie.”
    “Tjôl man, waar’s sy?”
    “Sy’s moeg. Sy bly by die huis.”
    “Moeg van wat?”
    Toel bly stil. Hy trek sy oorjassie aan en skuif sy geldbelt reg. Hy zip die voorste sakkie oop en haal ’n handvol kaartjies met sy naam op uit en druk dit in sy sak. Dan, met lui treë, stap hy oor die straat.
    Hier’s iets verkeerd, dink Liefie. Sy voel dit so in haar gat. Toel is ’n pes. Jy kan hom nie trust nie. Jy kan in sy swart oë inkyk en boggerol weet van wat binne-in hom aangaan nie. Hy sal jou so aankyk met daai oë en vir jou smile en dan ’n knipmes in jou pens druk. Dis wat hy gemaak het met Barrel in die Sunshine Bar een Saterdagaand toe die drank te volop was. Net so. In sy pens. Die volgende oomblik was Barrel op sy knieë en die bloed het by sy bek uitgeloop. Iemand het vir Toel na die manstoilet toe gevat voor hy vir Barrel aan die keel ook beetkry. Barrel is nie dood nie, maar Toel is vir ’n paar jaar weggesluit. Toe hy daar uitkom was hy ’n groter stuk rubbish as voorheen. En Kotie vat hom wragtig terug.
    Nou is iets verkeerd. Sy moet gaan kyk. Kotie sal nie sommer net wegbly nie. Sy sou op die een of ander manier laat weet het. Liefie trek haar rug regop, besluit of sy vir Toel moet sê sy loop nou, maar dan begin sy sommer net stap.

Die son is warm op die agterkant van haar nek as sy by Kotie-hulle se tuinhekkie instap. Oor die tuinpaadjie buig bruin stingelbossies, teen die stoepmuur staan ’n ry geroesde blikke met sand in. Twee van die sitkamervensters is stukkend.
    Liefie klop en wag. Niks. Sy klop weer, maar dié slag stoot sy sommer die deur oop. “Kotie,” roep sy en die naam klink hol in die leë huis. “Kotie!” Dan sien sy donkerrooi kolletjies langs haar skoene  … Sy stap bang kamer toe en hoor haar eie voetstappe oor die kaal plankvloer. Die kamerdeur staan toe. Sy klop liggies en gaan binne. Die hele kamer lê vol goed: bokse, papiere, ou klere.
    “O, Here! Here!” Liefie sak teen die muur af, haar oë het die bloedkol in die hoek van die kamer gevang. Haar hande vou vir ’n oomblik oor haar mond en val dan slap in haar skoot. Dit voel of sy buite haar lyf is. Of sy kan opstyg en van bo af kan afkyk op die kamer. Op die ding wat in die bloederigheid lê  … en op die twee breinaalde met die rooi punte.
    Dan val sy by die deur uit. In haar keel stoot die suur op. Sy kruip toilet toe, deurmekaar, op haar hande en knieë en laat die naarheid haar oorweldig.
    Eers as sy beter voel en haar gedagtes weer helder word, kom sy regop. Met haar hande steunend teen die muur stap sy uit die huis uit. Die vars lug maak haar kop oop en dan word haar treë vinniger en vinniger. Sy hardloop verby Frikkie se kar na die garage.
    “Frikkie!” Sy pluk aan die twee houtdeure. “Frikkie, maak oop!” Met die tweede pluk skuur die deur oor die sementvloer oop. Die ou lug stroom uit en die sonlig stroom in en val oor Frikkie se voete waar hy opgekrul op die kaal matras lê, sy gesig na die muur.
    “Frikkie, wat ga’ hier aan? Waar’s Kotie?”
    Daar is ’n ruk stilte en dan kom die hees stem: “Dit was nie ek nie.” Dit klink nie soos Frikkie nie. “Ek het nie eens geweet nie  …” “Wat geweet?” “Sy’s by die hospitaal. Ek het haar gevat. Die dream machine  … die hele backseat is vol bloed  … “
    “Vat my soontoe. Kom!”
    Frikkie trek sy skouers ronder en krul homself stywer op. ’n Geluid soos dié van ’n dier wat besig is om dood te gaan breek uit sy bors. “Frikkie  … asseblief.”
    Dan kom hy stadig regop, sy oë verdwaal in sy kop en sy lyf moeg gelewe. “Ek sal kyk of die kar weer gestart kan kry.” As hy buitentoe stap sien Liefie die pers-blou merk om sy nek.

Die heelpad hospitaal toe voel dit vir Liefie of hulle nou ry om iemand te gaan begrawe. Sy en Frikkie praat nie met mekaar nie. Dit is net die motor se enjin wat dreun in hul ore, verder niks. En as hulle uitklim is dit asof die bloedreuk van die kar saamkom.
    “O, dis weer jy,” sê die vrou by ontvangs as sy vir Frikkie sien. “Het julle besluit wie gaan betaal?” Frikkie ignoreer haar en bly net loop met Liefie agterna. “Iemand moet betaal. Ek ken julle mense. Wil net altyd iets vir niks hê. Die dokter was nie eens lus om uit te kom nie. Julle maak net altyd moeilikheid. Sies, witmense!”
    By Kotie se kamer stop Frikkie en beduie net met sy hand.
    “Ga’ jy dan nie saam inkom nie?”
    Hy skud sy kop.
    Liefie stap in, bly staan by die deur.
    “Kotie?” Kotie roer nie.
    “Ek het kom kuier, Kotie  …”
    “Hy het hom gevat,” sê Kotie, haar gesig weggedraai na die venster.
    “Kotie?”
    “Hy’t my bybietjie gevat.”
    “Kotie? Watse bybietjie?”
    “My bybietjie  …”
    “Ma’  … jy’t mos nie ’n bybietjie nie.” Dan ruk die gedagte in Liefie. “Was jy  …”
    Kotie byt op haar lip en maak haar oë toe. Haar kneukels raak witter soos sy die kussing vasklem. “Hy’t gesê ek vertel vir niemand nie. ’n Ou vrou soos ek pregnant? Dis ’n disgrace, het hy gesê.”
    “Die bloed?” Liefie kom staan langs Kotie, vee die hare uit haar oë. Sy lê roerloos.
    “Die bybietjie was al wat ek nog gehad het. Dis al present wat ek nog in my lewe gekry het. Hy’t gesê hy’t hom vir my gegee en hy kan hom weer wegvat ôk.”
    “Hoekom?”
    “Die duiwel was weer in sy gat. Toe ek by die huis kom wou hy weet waa’s die goed wat ek moes koop. Ek vra met watse geld. Ek moes alles net so vir Mister Loewies gee. Fifty percent commission vir my en fifty percent vir Toel. As hy kom werk het, het ek nou geld gehad, het ek gesê. Toe klap hy my  … en ek val. En hy sleep my kamer toe  … gooi my op die matras  … Strip, het hy gesê, strip  … Hy’t sy broek begin’t losmaak  …” Kotie druk haar gesig in die kussing om die woorde te smoor.
    “Ek sal jou leer, het hy gesê.” Liefie kyk om. Frikkie het in die deur kom staan. “Ek het dit alles gehoor  … en gesien. By die kamervenster. Sy’t gesê: Nee Toel, nie vanaand nie, Toel. Ma’ sy broek het op sy knieë geval. Jy gaat die bybietjie seermaak. Met hierie ding maak ek nie bybietjies nie, ek maak bulle, het hy gesê. Jy gaat my bybietjie seermaak, het sy weer gesê. Hy’s nie net joune nie, hy’s myne ôk, het Toel gesê en haar knieë uitmekaar gedruk. Sy’t geskree. Hy was bo-op haar. Sy’t getraai om hom af te gooi, ma’ hy’t haar hande bo haar kop vasgedruk.
    “En toe sê sy dit: Dis nie eens joune nie! Dis nie jou bybie nie! Sy lyf het stil geraak op hare en toe rol hy van haar af. Sy’t op haar maag gedraai. Ek dink sy’t gehuil. Wat sê jy? Ek sê dis nie jou bybie nie  … Nie myne nie, het hy gevra. Wie? Wie s’n is dit dan? Ek kon nie hoor of sy hom antwoord nie, maar die volgende oomblik kyk Toel op  … en hy sien my by die venster. Wat wassit wat sy vir hom gesê het? “Dit kon tog nie  … nie myne wees nie  … O Here! Dit is myne! Dis my bybie! Ek en Kotie het ’n paar keer, as Toel weg was  … agter in die dream machine  … Ag, Here! Dissie wat ons wou hê nie. Ons het ma’ net elkeen iemand gesoek  … Omlat ons so alleen was  … Dis al. Vir die alleengeit.
    “Toel het my uit die garage kom haal. Hy’t my met sy knie teen die grond gedruk en sy belt om my nek gedraai  …” Frikkie vat aan die merke aan sy nek. “Jy wil mos, jou klein bliksem, het hy gesê. Ek sal jou wys wat maak ek met wise guys soos jy wat nie my wyf kan uitlos nie. En jy fokken dink ek ga’ nie uitvind nie. Toe sleep hy my huis toe. Kamer toe.
    “Kotie het in die hoek van die kamer gesit. Sy’t net haar maag vasgehou. Toel het die kasdeur oopgeruk en die goete begin uitgooi, ma’ hy’t die belt nog allie tyd in sy een hand gehou lat ek nie kan wegkom nie. Toe kry hy wat hy soek. Die kasdeure het weer toegeklap en Toel het daar gestaan met twee breinaalde in sy hand. Hy’t die naalde na Kotie toe gegooi. Toel? het sy gesê. Haal daai bybietjie uit. Nee, hy’s myne. Haal hom uit, sê ek! Hy’t die belt nog ’n keer om sy hand gedraai. Ek kon nie asem kry nie  … Jou bastard kind! Haal hom uit! Ek sal jou leer om jou man te disrespect. Toel, dis ’n bybie, het sy gesmeek  … gehuil. Ek gee nie ’n fok om nie, Kotie. Hy’t die belt geruk en ek het op my knieë geval. Ek het probeer asem kry  … Ek sal vir Frikkie vrekmaak as jy dit nie doen nie. You decide, dis óf die bybie óf dis Frikkie, ma’ vanaand gaat iemand vrek. Kotie het vir my gekyk. Asof sy wou hê ek moet decide. Ek het my kop probeer skud. Moenie, Kotie. Los die bybie. Dis ons bybie. Laat Toel my ma’ vrekmaak, dis okay. Los hom net. Hy’s joue. En toe gooi sy haar kop agteroor  … en sy maak haar bene oop  … en druk die naalde in haar op  …”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.