SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Marlene van Niekerk

Tweede verslag

Slangbyt op ’n Dinsdag deur Trisa Hugo
Genade onbeskryflik groot deur Susan Lombaard
Ek is nie ’n dier nie deur Anna-Marie Radloff
Gelykop deur Marita van Aswegen
Wag deur Fanie Viljoen

Algemene kommentaar

Die skrywers het almal probeer om iets met my wilde kommentaar aan te vang en dit getuig van deursettingsvermoë en toewyding. Baie van wat kennelik as verbeterings aangemerk kan word, is egter piece meal engineering wat nog nie deurgedring het tot op die vlak van ondervraging van voorveronderstellings, formeel en inhoudelik nie. Ek voel nie dat daar op enige grondige wyse geworstel is met die eindopmerkings van die vorige rondte nie, nl. my eis dat daar nagedink word oor die belang van hierdie skrywers by geweld en low life en seks nie. Miskien is daar ook wel meer tyd nodig om die nodige selfrefleksie op skrywerlike wyses te leer uitdruk.

Slangbyt op ’n Dinsdag deur Trisa Hugo

Hierdie storie se titel is steeds erg steurend en bring net soos die Oom Boela-episode ’n rare komiese element by wat glad nie strook met die res van die taamlik droewe kinderervaring nie. Die “totterman” en die “waddehel” en “klein helsem” val uit die toon uit. In hierdie ruwe en gedegenereerde omgewing is sulke middelklas skroom in die vloekwoorde en die benoeming van geslagsorgane hoogs onoortuigend. Gebruik direkter en die growwer taal.
     Behalwe dat die kind opgooi bly hy ook taamlik in beheer en die graad van sy traumatisering kom nie duidelik na vore nie. Voel hy nie alleen nie? Is sy grondstemming nie veel meer angstig en vervreemd en wreedaardig nie? Hoe sal ’n mens dit op ’n oorspronklike manier uitbeeld? Praat hy nie soms om homself te troos met Pietertjie wat niks verstaan nie? Krap hy nie sy rowe aanmekaar rou nie? Knou hy nie dalk uit eie pyn sy boetie verskriklik af nie? Hierdie kind is vreeslik mak en skilderagtig vir die omgewing waarin hy homself moet handhaaf. Let op die enigste rolmodelle wat hy het. Ek dink sy juffrou is ook te mak. Ek dink hy kan sien sy gril vir hom. Of sy doen iets veel meer spesifieks opbouends met hom as net die liefie-gebare.
     Ek dink die kind is ’n uitgestotene in die skool en ek dink hy martel klein katjies. Ek dink die kind is erg beskadig, lankal, en ek dink nie die skrywer het genoeg nagedink of gelees oor die psigologiese verwording van kinders in sulke omstandighede nie.

     Die storie het nie te veel verander nie, hoewel die probleem met die tydsaanduidings ’n bietjie beter is. Die hoofletter-kind het verdwyn en dit is beter so. Maar as die kind nou sy pseudo-simboliese algemeenheid verloor het, het hy nog nie gewen aan spesifiekheid en ’n konkrete en boeiende profiel nie. Hier lê nog ’n lang pad voor van psigologiese insigverwerwing en oorspronklike aanbod voordat die verhaal mens werklik sal prikkel.

boontoe

Mart kies deur Susan Lombaard

Die storie is beter deurdat dit motivering wil gee aan Mart se moorddadige gedrag en haar agtergrond effens verduidelik. Swanger, ongetroud en verlief is sy, sy kry ’n bietjie meer lyf. Maar haar optrede is nog steeds nie oortuigend nie. Mens vra jou af waarom sy nie gewoon weggegaan het nie al was dit selfs in die middel van die nag? Sy word tog nie gevange gehou nie? Waarom moes sy so ekstreem optree? Is sy dalk woedend oor iets wat in die verlede gebeur het? Watter houvas het Ouma Bet op Mart?
     Die verhouding tussen Mart en Ouma Bet sou meer kompleks moes wees om sulke gebeure te regverdig. Het daar dalk in die verlede iets gebeur tussen Ouma en kleinkind sodat ’n langgekoesterde wrok nou hier tot ontlading kan kom?
     Ouma Bet wat nou gepromoveer is tot Noupoort se vroedvrou cum vrugafdrywer oortuig ook nie. Daarvoor is sy te konvensioneel, middelklas en gelowig. Jy sal haar interessanter moet maak om hierdie aktiwiteite met mekaar te rym. Sy kan natuurlik as ’n taamlike verskrikking uitgebeeld word, vol geheime wrokke en innerlike tirannie van skuldgevoelens.
     Die terugflitse sou die agtergronde kon verskaf. Dink weer mooi oor jou karakters en hulle beweegredes. Ontwikkel die konflik tussen die ou vrou en die kleindogter, sodat die karakters se handelinge klop volgens die een of ander patroon of emosionele gewoonte.
     Die skuinsdruk was te sterk, maar nou voel die terugflitse verwarrend, miskien ’n wit reël om dit te onderskei?

boontoe

Ek is nie ’n dier nie deur Anna-Marie Radloff

Die storie het effens “skoner” geraak deur taamlik ingrypende skrap van adjektiewe en die ergste pornografiese elemente en die opruim van sommige van die meer sensasionele elemente van die Adam-karakter. Ek sou aanbeveel dat daar nog meer van die elemente geskrap word, sodat die storie heeltemal afdroog en deur die droogheid eerder as deur eksplisietheid of selfinterpretatiewe strategiee skok ... Die telkense, soms ritmiese “gepols van bloed” tot diep in die bekken, die “omgekeerde seksposisie, die Tokarev “hard” in die broek, die “nat warm en leeg” ervaring met die bekende Tokarev (ai tog) kan maar gerus geskrap raak.
     ’n Verdere steurende element is onspesifieke en onpatroonmatige gebruik van kragwoorde in die “gemoedelike” spelwyse(got, donnerse) Engelse (dry season en rainy season) en “tegniese” terme soos “non-spesifiek”
     Die nuwe sikliese slot is swak en dra niks by tot die verhaal nie.
     Die resterende probleem betref die fokaliserende karakter. Hoe hierdie medic tot so ’n hardgebakte Tokarev-liefhebbende vrou ontwikkel het sou interessant kon wees, sou meer simpatie met die karakter kon wek. Die karakter bly baie stereotipies van ’n sekere soort sensasionele bosbefoktheid.
     Dit bly êrens ’n niksseggende verhaal. Hoe kan dit interessant raak? Maak ’n studie van oorlogtrauma, gee die karakters ’n verrassend gestruktureerde innerlike. Ontwikkel ’n teorie oor hoe oorlogsituasies seksuele opwinding veroorsaak.
     En asseblief, maak duidelik dat leeus geen pornografiese of ekshibisionistiese trekke vertoon nie Dit is net mense wat sulke rare diere is.
     Die volgende sinne moet herbedink word. Hulle is niksseggend of onlogies of bevat steurende herhalings of hulle is clichés, of hulle is direk uit Engelse idioom vertaal sonder dat daar verdere soortgelyke patrone in die storie is. Dit is net voorbeelde van die soort sinne waarvan daar nog helaas te veel voorkom in hierdie storie. Skryf verg denke. Daar is omtrent niks so verleentheidswekkend soos ’n geskryf waarby daar kennelik nie gedink is nie.

Die definisies van verkragting maal analities in haar kop rond.

Lig bring altyd verlossing.

Sy beweeg non-spesifiek na Ken se kant waar hy snoeker speel. “Hier is kak , my ou,” is al wat sy uitkry, en skets so non-spesifiek moontlik die situasie met bewerige handgebare.

Mens word so maklik deur jou aksies en non-aksies geëtiketeer.

Adam haat ook die medics want sy kop het seergekry. Sy ken die storie. Almal ken die storie. Hy sit hier omdat sy vrou haar kop weggeblaas het.

Haar hele lyf pols deur haar kop tot diep in haar bekken.

Die sneller is reg en die loop is reg en die sagte deel teen sy slaap pols reg vir die finale slag.

Sy weet dat hulle haar elke beweging dophou.

Daar is mos altyd ’n trofee of twee vir ’n man met ’n ystervuis en ’n renaissance in sy hart.

My got, wat sou sy nou gee vir ’n bekken tussen haar bene en die harde krag wat tot binne in haar lyf in beur.

boontoe

Gelykop deur Marita van Aswegen

Die storie is beter deur die opruim van die meerderheid van “mooi” woorde, deur die vermensliking van Arnoldus en deur die tekens van ’n bemoeienis met die fenomeen van huwelike wat versand in misverstande en gewoontes en wat sigself probeer herstel deur moeisame uitreiking en die ontginning van toevallige krisisse.
     Die tydsverloop is ook meer koherent en die kos word nou darem gekook! Die slot is beter met die aanbied van die geskenkie.
     In die moment waar Anna vir Arnoldus raaksien in sy weerlose menslikheid begin iets skop in die storie: “Haar oë op die kromming van sy skouers, die grys hare, die groot hande wat slap in sy skoot hang” dui op ’n beweging in Anna se gemoed.
     Net so het Arnoldus se verweer potensiaal om iets interessants op te lewer: “Jy is so kleinserig deesdae, ek kan niks meer reg doen nie. Wil jy my weer anders hê as wat ek is?” Laat Anna hier op een of ander manier reageer, werk ’n stukkie pikante dialoog uit, of laat haar êrens dagdroom, miskien ook magteloos oor hoe sy dan wil hê hy wel moet wees. Moenie vergeet dat jy haar klagtes ook as pateties en selfbejammerend kan voorstel nie. Besluit of jy simpatie het met vrouens wat kies om by sulke soort mans te bly. Moet die storie eindig met Anna se (gelate?) ontvangs van die geskenk? Is sy nou weer tevrede? Het sy nie miskien al haar tasse ingepak gehad nie? Is Arnoldus nie ’n bietjie te laat met hierdie attensie nie?
     Dit is die soort ding waarin mens geïnteresseerd is.
     Myns insiens moet die storie nog veel meer ontwikkel voordat hier iets werklik nuuts te lese sal wees. Hier is nog niks verrassends nie. Ek ken baie mans wat niks wil eet sonder worcestersous of tamatiesous nie en wat hulle vrouens se emosionele behoeftes misken. Dit is ’n cliché-gegewe, iets moet nog daarmee gebeur voordat dit gaan boei.
      ’n Interessante skrywersprojek sal wees om onderhoude te voer met sewe wit middel-middelklas huisvrouens op ’n plattelands dorp oor hulle mans se eetgewoontes en dit net so op te skryf sonder kommentaar. Hoeveel sout gooi hulle by voordat hulle proe? Voer hulle ’n wellewende gesprek as hulle eet? Kou hulle mooi netjies? Spoel hulle dit af met glase coke? ’n Bier uit ’n bottel? Kyk hulle na die T.V? Is daar ’n dankwoord aan die kok? Dit het ek nog nooit in Afrikaans gelees nie. Dit kan verskriklik droewig en openbarend wees.
     My gevoel is dat die emosionele bewegings tussen die twee mense met meer intensiteit en meer oorspronklikheid uitgebeeld moet word. Meer gedurfde blootlegging van wat hier aan die gang is word gevra.

boontoe

Hol drome deur Fanie Viljoen

Die skrywer het positief gereageer op sommige van die kwessies rakende die taalgebruik van sy karakters maar ek het nog steeds nie die idee van ’n weloorwoë en spesifiek ontwerpte idiosinkrasie van taalgebruik hier nie. Die taalgebruik lyk nog steeds asof dit op ’n soort algemene en vae idee van ’n “skilderagtige” low ife nie-standaard Afrikaans gebaseer is, maar dan sonder duidelike merkers waardeur mens kan agterkom of hier nou eintlik Kaaps gepraat word of wat en deur wie nie. Besluit of “gaan” in hierdie storie “gaat “, “gat” of “ga” gespel gaan word en hou daarby. Baie van die alte fraai pienk goetertjies het darem verdwyn en bietjie meer van ’n verloederde straatbeeld word duidelik. Maar die name “Liefie” en “Kotie” klink nog te mak vir die omstandighede.
     Die nuwe titel het meer om die lyf as die eerste een maar dit is nou te interpretatief en cliché-matig. Wat van “Dream machine” om dit in verband te bring met die hoofgebeure in die verhaal?
     Verder het daar plot-ontwikkeling plaasgevind, met Frikkie nou die pa van die kind en ’n dramatiese toneel van afpersing en geweld aan die einde. Die lang stukke vertelling in die eerste persoon aan die einde loop egter oor die walle. Die toehoorder, Liefie, wat die een pool van die dialogiese situasie daarstel, word heeltemal langs die pad verloor. Dit is hinderlik aangesien sy, Liefie die fokaliseerder is, en tog op een of ander wyse deur haar reaksie op hierdie grusame verhaal teenwoordig gestel moet wees.
     En dit lyk asof daar nie salf te smeer is aan die breinaalde nie, ai.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.