SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Wat is SkryfNet
SkryfNet I SkryfNet II

Marlene van NiekerkTerugvoer deur Marlene van Niekerk

Eerste verslag

Slangbyt op ’n Dinsdag deur Trisa Hugo
Genade onbeskryflik groot deur Susan Lombaard
Ek is nie ’n dier nie deur Anna-Marie Radloff
Gelykop deur Marita van Aswegen
Wag deur Fanie Viljoen

Vooraf

Ek sal die stories losweg bespreek onder die hofies konsep, perspektief, taal, handeling(sverloop), karakter, ruimte, waar dit ter sake is. Die opinies is subjektief en persoonlik. Ek het maar sulke sterk menings oor die meeste dinge. Vat dit van wie dit kom. Sien dit as ’n reaksie uit die gut uit en moenie skrik nie, dis net woorde. Al die skrywers hier wil skryf en wil die kursus doen om hulle skryfwerk te verbeter en dit is al ’n groot voorsprong op dié wat wil skryf en dit nie wil of kan verbeter nie. Hier is verbeelding, hier is ’n sin vir drama, hier is simpatie met dié wat ly, hier is kritiek op seksuele rolle, hier is belangstelling in hoe intimiteit en mag werk, dit alles moet net m.i. verfyn en beter ingelig kom en gerig deur iets wat so vaag is dat ek dit nie anders as “smaak” kan noem nie.

Slangbyt op ’n Dinsdag deur Trisa Hugo

Konsep
Wat van ’n fantasties akkuraatklinkende beskrywing met allerlei presiese feite en versinsels oor ’n baie sexy slang, (sy naam moet net nie Oupa of Fleur wees nie): byvoorbeeld: veldikte, vervellingstempo, melancholie van vervelling, tande, fenomeen van intense (tand)pyn net voor die pikslag, teleskoperende sigvermoë, kaleidoskopiese ekstase by die benadering van die prooi, skielike smaak van rooswater in die mond, spoegafstand soos verduidelik in terme van die relatiwiteitsteorie, struktuur van die maagspiere, bakmaakspasmas van die kopspiere soos gemeet met ’n manometer waarmee mens die tonus van die anus by die mens meet, vermoedens van die stertpunt by die inneem van die aanvalstand? Vyf bladsye lank vol merkwaardige sinne met ’n skitterende perfek gelanseerde byt aan die einde? Hmmm? Nog nooit so ’n storie gelees in Afrikaans nie. Sock it to me baby!
      Hoe dit ook al sy, die konsep hier is hoogs geyk.
      Met die Prefect motorkar, Bing Crosby, onwelriekende perms, Antie Girlie, Antie Bybie, drienks, Oom Boela, pap, koffie, koue pampoenreste en agterplaas-mechanics) wil die storie ’n soort skilderagtige period piece wees oor gedegenereerde laeklas Afrikanermense met die gepaardgaande verskynsels van emosionele deprivasie, kindermishandeling en seksuele uitbuiting soos vertel uit die perspektief van ’n kind.
      Die probleem met die storie is dat dit nie genoegsaam kennis geneem het van wat reeds in Afrikaans hieroor geskryf is nie. Nog so ’n storie, sonder dat die verworwenhede in inhoudelike en formele opsig van ’n boek soos Ons is nie almal so nie van Jeanne Goosen (en miskien selfs Siener in die suburbs van P. G. du Plessis), geïntegreer en/of verder gevoer is nie, maak van die skrywer net ’n slegte nabootser. Die doel moet wees om iets oorspronkliks te bring, of indien dit nie haalbaar is nie, dan iets wat ten minste net so goed soos die voorganger is.
      Onthou as jy skryf, skryf jy in ’n konteks en moet jy sorg dat jy op hoogte van sake is. Mense wat wil skryf moet eers baie goed leer lees en nie net in Afrikaans nie. Mens is die eerste leser van jou eie werk en as jy dit nie teen ’n agtergrond kan lees nie is jy ’n slegte leser van jou eie werk en sal jy nie die probleme daarin raaksien nie.

Perspektief
Die naïewe perspektief is ’n baie handige en effektiewe strategie omdat die verteller gemanipuleer kan word om dinge te sê wat hy/sy nie begryp nie maar wat die leser wel begryp. Goeie punt. Die skrywer doen dit ’n paar keer deur die leser via die Kind se onskuldige opmerkings te lei om te dink dat Amênda ’n soort prostituut is en dat die Kind se pa ’n soort hoerebaas is wat na die vroue wat vir hom werk verwys as sy “hondjies.” (By the way, dink jy nie “tewe” of “bitches” sou beter wees nie? Dan kan die Kind mos vra wat dit is en dan kan die vertaling mos met ’n grimas deur Pappa gegee word? As jy wil werk met die figuur van sagsinnige of sentimentele hoerebaas, moet jy die karakter beter ontwikkel.)

Karakter
Daar kom egter nie ’n katarsis van insig of ontnugtering by die Kind soos by Gertie in Goosen se boek as die kind op die badkamertoneel van Oom Boela en Amênda (ê?) afkom nie. M.a.w. daar is geen karakterontwikkeling nie. In plaas daarvan word die leser getrakteer op ’n geforseerde slapstick-toneel met badskuim (?) en orente “totterman” (ai tog) kompleet, met ’n pak slae agterna, wat, saamgelees met die hoogs onvanpaste title, ook al weer klink soos ’n weggeloopte onderdeel van ’n Tolla van der Merwe-storie. Dit is ’n steurende verglyding van toon. Gee die Kind iets dramaties of ergs om te dink of te doen aan die einde, miskien omdat hy iets gesien het wat hy nie moes sien nie, en deur niemand opgelet is nie en alleen moet interpreteer wat daar aangegaan het.Gaan lees weer versigtig die toneel waar Gertie afkom op haar ma en Barney in die slaapkamer. Nou het ek die Kind ook ’n paar keer met ’n hoofletter geskryf en dit was baie steurend. Die realistiese vertelling gedoog so ’n simboliese hoofletter moeilik. Ek sou sê liewer ’n naam, of, sonder die lidwoord, “Kind” self as naamwoord as dit dan moet. Anders moet die kind dalk met meer dramatiese sienervermoeëns toegerus word en psigologies baie fyner gestruktureer wees om dit ’n “Ewige Kind” te maak, ’n soort simbool dus maar dis al klaar baie geaffekteerd.

Tyd
Let op die steurende verspringings in die tydsaanbod. Die storie begin in die teenwoordige tyd en dan slaan dit skielik oor na ’n vreemde verkeerdom retrospektiewe opsommende en afstandelike vertelling wat ook die onmiddellike vertelperspektief van die begin heeltemaal uitgooi. Vgl. “Daardie aand eet hulle vis en tjips”, en: “Die volgende twee weke het dit nogal goed gegaan”, en: “Gelukkig het Oom Boela se voete gegly op die nat vloer en hy kon wegkom.” Dan keer die teenwoordige tyd skielik weer terug aan die einde en nog met ’n baie onkragtige slotsin ook.

Algemeen
Dink eers weer mooi oor die storie. Waaroor moet dit eintlik hier gaan? ’n Kind wat sy onskuld verloor? Nou laat dit dan ordentlik gebeur, fokus alles in die verhaal daaromheen, los vir Pietertjie, daar gebeur tog niks met hom nie of maak dit duidelik hoe die kind se verhouding met hom is, los die juffrou in die skool, ons kan self alleen jammer wees vir die kind. Bring die een of ander insig of ontgogeling op psigologies oortuigende wyse aan. Amênda (ek weet nie so lekker van die skilderagtige spelwyse nie) sê bv. vir almal “ou grote” en dit moet fyn waargeneem word deur die kind (en dan is dit nie nodig dat sy so eksplisiet as’n totterman-ekspert (oepsie!) geteken word nie. Die kind moet iets leer in verband met die degenerasie van intimiteit en van die onbetroubaarheid van die mense van wie hy vir sy emosionele sekuriteit afhanklik is, maar hy moet leer op ’n pynliker manier en in sy eie terme. ’n Pak slae beduiwel sy moontlikhede as karakter hier. Wat gebeur byvoorbeeld met sy gevoel oor sy eie geslagtelikheid in die proses?

boontoe

Genade onbeskryflik groot deur Susan Lombaard

Konsep
Nog ’n storie oor arm Afrikaners, dié keer van die goeie soort, Bybelvaste spoorwegmense van Noupoort, ’n verrinneweerde dorpie waar hotel, slaghuis en General Dealer alles aan Shorty behoort, rooibaksteenhuise, kleinhuisies, vrouens wat met vadoeke in die hand by hulle wasgoed in stowwerige jaarte vir verbykomende treine waai, piepende tuinhekkies, gevrekte malvas in blombakke, piepotte onder die bed, emaljebekers onder die kraan wat lek, kaal gloeilampies, rooibostee en zambuk-salf.
      ’n Weduwee-ouma word besoek deur ’n kleinkind, wat idilliese kinderherinneringe aan besoeke aan haar ouma en oupa het en nou getuie is van die ouma se eensame en sinloos geworde lewe sonder haar geliefde man. Tydens die besoek (en skynbaar beïnvloed deur ’n paar heldersiende drome), slaap die kleinkind in dieselfde bed as die ouma en verlos haar in die middel van die nag uit haar ellende deur haar met ’n kussing te versmoor. Die ou vrou stoei glad nie en gun haar verlosser/moordenares ’n blik van wysheid en patetiese dankbaarheid voor die kussing oor haar gesig gedruk word. Die suggestie is dat Ouma Bet reguit hemel toe gaan om met haar geliefde Hans, en sy reuk van pyptwak en rooibostee verenig te word. Daarom kan Rut ook sommer rustig omdraai en verder slaap langs Ouma se lyk.
      Voorwaar ’n gotiese moment op Noupoort.

Karakter
Die probleem hier is m.i. die karakter van Rut. Dit is ’n radikale iets om jou ouma met ’n kussing te versmoor. ’n Idee van hoe lekker dit in die hemel vir haar sal wees en hoe ellendig alleen sy op aarde is, is nie genoegsame motivering vir so ’n daad nie. Rut moet êrens ook haar eie storie hê wat kan verklaar hoekom sy so optree.
      Die skrywer het miskien self ’n idee dat alles nie lekker pluis is met Rut nie. En dit is ’n goeie punt. Ons sien naamlik by haar die trekkies van iets wat lyk na obsessief-kompulsiewe neurose, sy hou daarvan dat dinge baie netjies en agtermekaar moet wees, die spoorwegkombers netjies vierkantig opgevou, die romp platgestryk, die naels kortgeknip, die sweet afgevee met ’n snesie (wat ’n erge woord in Afrikaans, hier ook heeltemaal uit sy plek, gee haar liewer ’n sakdoek, of ’n papiersakdoek), die koppies almal met ore vorentoe in een rigting weggepak. Dit sou aanleiding kon wees om Rut se karakter verder te ontwikkel. Hoekom is sy so? Wat het met haar gebeur in haar latere lewe? Sy klink soos ’n vroulike tronkbewaarder of iets. Wat probeer sy so verskriklik kontroleer? Waarvoor is sy bang? Wat het gebeur net voor sy die reis aangepak het? Hoe is dit seksueel gesteld met onse Rut? Ek dink daar is dalk ’n slang in die gras hier. Vind uit watter een. Is haar enigste ervaring van liggaamlike intimiteit dié met die ouma en oupa in die bed as kind? Wat het daarna gebeur?.

Handeling/tydsverloop
Ek stel voor dat Rut droom dat sy haar Ouma doodmaak en die volgende oggend vinnig en verward weggaan sonder om te groet. Onthou dat drome, en al die karakters wat in drome voorkom, aspekte is van die karakter self, en haar eie vrese en verlangens weerspiëel. Dit is waarom ons meer van Rut se werklikheid moet weet. ’n Bietjie navorsing oor droompsigologie sou nie ’n slegte idee wees nie
      Die droomherinnering en die ander herinneringsflardes word in skuinsdruk aangebied en dien as agtergrondinvulling, dit word nie in die storie geraam of gemotiveer as denkhandelinge nie en doen daarom lomp aan.

Ruimte
Soos hierbo opgesom is die ruimte van die storie oorbekend en is al baie in Afrikaans so behandel. Dit is al byna ’n soort ruimtelike cliché in ons letterkunde. Hoe om dit vars aan te bied is ’n probleem.

Taal
Die storie sal beter wees as alle onnodig interpreterende en skilderagtige adjektiewe geskrap word. Kry dit strak.
      Vgl. woorde soos vlugtige, somber, traag, futloos, klaend, bedrieglik, blits verwoed, speelse, ritmies, eentonig, koesterend, besitlik. Haal hulle almal uit, daar is nog meer.
      Sulke soort woorde vestig die aandag op die verteller op ’n ongunstige manier en verwar die perspektief. Dis eintlik die skrywer se hand wat te swaar is. Anders moet dit duidelik gemaak word dat Rut wat die fokaliseerder is, ’n voorliefde vir sulke adjektiewe het, ’n skrywer is of iets. Sy moet dan eksplisiet nadink oor sulke woorde, of sy hulle sal gebruik of nie.
      Ook “stoei” is ’n hinderlike werkwoord om oor die val van maanlig te gebruik, ook “stip” as werkwoord is geforseerd hier.
      Die volgende soort sinne deug m.i. glad nie: “Dit voel vreemd in die hoë bed met die warmte van vyf en vyftig jaar se liefde nog vars op die gehekelde deken” en: “'Onthou Ouma?’ vra sy en steek haar arm saam met die woorde uit”. Keep it straight and dry rather.

Algemeen
Dit voel al of die storie sy eie rede mis. Dink die rede uit en gee dan die titel van die storie “Rut”. Die titel soos hy nou staan is interpreterend en sentimenteel.

boontoe

Ek is nie ’n dier nie deur Anna-Marie Radloff

Konsep
’n Jagtige grensverhaal (en dis ’n goeie punt, daar is ’n lewendige energie in hierdie storie) met ’n butch vroulike hoofkarakter. The Heart of Darkness à la Heinz Konzalik. ’n Hardgebakte vroulike medic in die Suid-Afrikaanse leër word in die troebel territorium van die Angolese bos op skilderagtige wyse verkrag deur ’n bosbefokte kaalhandkrokodilvanger met die naam Adam. (Die krokodil heet Fucked-Up en sy skelet en oopgesperde gemonteerde vel is altyd uitgestal waar Adam sy setel het in die opleidingskamp). Die medic sin op wraak en belaag vir Adam waar hy kaal by die rivier sit. Die medic dra haar Tokarev pistool voor in haar broek soos ’n harde penis en kan op die ou end nie haarself sover kry om vir Adam deur die kop te skiet nie. In plaas daarvan troos sy hom in sy doodsangs — “soos sy dink mens hier doen om dinge beter te maak”. Miskien is dinge beter vir Adam, maar dit lyk nie of dit beter is vir die medic nie. Met ’n kloppende onderlyf ry sy weg en skiet haar pistool onderweg leeg op ’n leeumannetjie, wat klaar sy wyfie gedek het vir die dag, en sy balle in die middel van die pad sit en lek. Ook dit help nie. Haar onderlyf klop nog steeds. Sy masturbeer met die Tokarev (lei ek af). Dit lyk of dit help. Weerlig en die eerste reën van die seisoen bars los om sake af te koel.
      Sak Sarel
      Ek stel voor die skrywer werk die storie visueel uit as ’n draaiboek vir ’n film en verkoop dit aan ’n pornografiemaatskappy wat spesialiseer in halfsagte sado-masochistiese materiaal. Daar is verskeie titels wat dan beter sal pas as die huidige een. “Taken with the Tokarev”, “My eie pragtige Pistool”, of “Cruising Mr Crocodile”, afhangende of daar ’n element van humor gedoog sal word.
      As die skrywer dit nie wil doen nie, moet sy weer dink. Miskien wil sy die seksuele en psigologiese verwording onder oorlogsomstandighede ondersoek en kritiseer. Hoe ’n mens dit doen sonder om die verwording te reproduseer in jou taalgebruik en jou konseptualisering van geweld is natuurlik die kuns. Lees Pat Barker se Regeneration-trilogy.
      Of kyk weer na Francis Coppola se film Apocalypse Now. Gee vir Adam ’n ander naam en ’n gekompliseerder psigologie sodat mens kan verstaan hoekom die medic hom “troos”. Motiveer die medic se hardegathouding. Is dit dalk net ’n verweer teen bittere eensaamheid? Trouens wat dink sy van die oorlog self?

boontoe

Gelykop deur Marita van Aswegen

Konsep
’n Gevoelige artistieke vrou Anna (sy luister na Bruch, skilder geil vroueliggame en skryf liefdesverhale), leef wrokkig en vol onderdrukte aggressie en onvervulde emosionele, seksuele en intellektuele behoeftes saam met haar brutale growwe man, Arnoldus, ’n boer met groot hande en swak tafelmaniere, wat haar as huishoudster, boekhoudster en verpleegster gebruik en haar te pas en te onpas as seksobjek toe-eien en gedurig na haar borste gryp. Eendag wil hy ’n koei se spene ondersoek op die plaas waar hulle woon en die koei skop hom ’n sleg hou voor die kop. Die vrou voel gewreek terwyl sy haar man se wond skoonmaak. So far Anna en Arnoldus.
      Die touchy-feely “kunssinnige” trant waarop hierdie storie geskryf is, staan in ondeurdagte kontras met die boertige klugelement van ’n onverfynde kêrel wat deur ’n koei voor die kop geskop word as sy verdiende loon vir sy growwe houding teenoor vroulike diere.
      Besluit of dit ’n lekker skop-klap- en koeimisklug moet word met sopspattende boertige sekstonele, (dan moet jy natuurlik die vrou ’n bietjie meer postuur gee en ’n lekker opvlambare humeur), of ’n skets van ’n behoeftige mevrou se onbevredigende huwelik.
      Eersgenoemde, voel ek, het dalk verfrissende moontlikhede. En dis ’n goeie punt as die skrywer miskien aangetrokke voel tot die baldadige. Stel jou voor dat Arnoldus die koei bykom as die nood hoog raak en Anna te besig is om te skilder in haar sykamerjas.
      Dit wemel in die Afrikaanse literatuur van vroue wat ontevrede is met hulle mans en vervul is van onuitspreeklike hunkeringe soos vertaal deur musiek uit die Romantiek. ’n Lekker woeste klug vol groteske en karnavaleske elemente kan dalk net ’n bietjie vars lug bring in die winkel. En sommer namens ’n klomp mense ontslae raak van opgekropte frustrasies en sommer ook ’n subkultuur van Dolle Mienas laat ontstaan in Bolandse kultuursentra, dink net, kick boxing in plaas van die tuisnywerheid. Ek bedoel iets soos ’n hetero weergawe van Jeanne Goosen se storie “Aan die einde van die reënboog” in Gelyke kans. Of gaan lees Chaucer weer. Ek herinner my ’n storie van hom oor ’n vroumens met ’n gesonde aptyt wat ’n rooiwarm vuuryster of iets in haar agterste opgesteek kry terwyl sy haarself by die venster van agter af blootgee. Die Anna lyk so behoeftig dat sy selfs miskien daaraan kan dink om ’n hadida mak te maak/Bruch te leer.
      En so ’n beeskraal het in elk geval fantastiese moontlikhede. Let rip, maar dan met goeie smaak in smakeloosheid. Dit is nou as jy ’n klug wil skryf.

Karakter
Arnoldus se karakter bly steek in die karikaturale. Gee hom darem ’n soort innerlike. Is dit nie dalk moontlik om jou te verbeel dat as jy hy was jy ook al lankal besluit het Anna moet haar Bruch vat en op ’n ander plek loop skilder nie? Besluit of jy hom regtig so eendimensioneel wil uitbeeld. Anna se karakter wek voorts weinig simpatie of belangstelling omdat ook sy erg voorspelbaar is, tot in haar skilderye, haar smaak in teepotte en haar kamerjasse toe. Vreeslike slegte boervrou, het sy dan nie kalkoene om te pluk nie? Waarom het sy met Arnoldus getrou?

Handeling/tydsverloop
Die storie spring met abrupte rukke vorentoe met Arnoldus se kom en gaan as die vernaamste gebeure. Wanneer kook Anna die kos wat hy so gulsig eet? Wat is dit wat sy gekook het, in elk geval? Ek dink nie die Anna kan ’n bredie kook nie, sy klink my meer een vir pasta met pesto. Wat gebeur tussen die bosluisvoël wat wegsweef en melktyd?

Taal
Die taalgebruik is vir my ’n groot probleem hier. Dis ’n soort kitsch. ’n Paar voorbeelde: “Die syjapon omvou haar borste toe sy dit aanglip.”; “die viool voer ekstatiese rukbewegings uit  … die roospienk van ’n blomskede en olyfgrys soos die voël daarbuite”; “’n alleen bosluisvoël sweef wit oor haar kop verby na ’n plek ver weg.”
      Sulke taal doen niks nie, dit is net ’n manier.

Algemeen
Die storie soos hy nou staan het werklik te min om die lyf. Iets interessants moet gebeur. Miskien moet Anna die koei probeer skilder. Miskien probeer sy nader aan haar onderwerp kom en begin die kraal gereeld besoek. Miskien is dit Anna wat aan die koei raak en ’n skop kry. Dan sal sy miskien ’n ander siening opdoen i.v.m. haar opsies rakende Arnoldus. Wat miskien meer sal inhou as “gelykop”-speel deur die intervensie van ’n bees.
      Van beeste gepraat (teen dié tyd begin ek wonder wat hier op Litnet aangaan, git.)

boontoe

Wag deur Fanie Viljoen

Positiewe punt
Die skrywer het die vermoë om vlot dialoog te skryf. Dit maak die storie lewendig.

Konsep
Hierdie verhaal sal egter na my mening indringend geherkonseptualiseer en herskryf moet word om oortuigend te wees.
      Die grootste probleem lê by die konsep van die storie. Dit lyk asof dit ’n soort “slice of life” aanbod van ’n “tipiese” voorval in die lewens van laeklas witmense wil wees. Die belangrikste wat die skrywer vir homself moet uitmaak is hoekom hy daaroor wil skryf en of hy enige gedagtes het, kritiese teoretiese gedagtes of sosiologiese kennis, oor armoede en die effek wat dit op mense het. Waar staan die skrywer ten opsigte van hierdie mense? Sonder enige nadenke op dié vlak is die skrywer uitgelewer aan wat in elk geval deur sy aanbod en deur sy taalgebruik verklap word oor sy vlak van begrip en belesenheid, sy emosionele ontwikkeling en sy onuitgesproke voorveronderstellings.
      My aanbeveling is dat die storie geherkonseptualiseer word:

  1. as ’n soort straatdokument in “bloot” ’n registrerende register, bv. opnames van mense se bewegings in die straat elke vyf minute of as ’n stuk antropologiese veldwerk deur middel van onderhoude;
  2. of as ’n (miskien outobiografiese?) storie wat ’n eerstepersoonsverteller en waarnemer op die voorgrond plaas en verduidelik waarom hy/sy daar is om alles op straatvlak te sien gebeur en wat dit hom skeel wat daar gebeur;
  3. of as ’n meer aangeklede en psigologies samehangende karakterstorie waar die perspektief op en interpretasie van gebeure konsekwent vasgebind word aan een van die karakters (Liefie miskien, Toel sou interessanter wees as jy enige aanleg het vir sadisme, maar as jou aanleg meer masochisties is moet dit Kotie wees).
    Die laaste opsie (3) is miskien die naaste aan die skrywer se sensibiliteit.

Perspektief
Soos dit nou staan is daar ’n soort alwetende verteller met ’n soort fokaliseerder (Liefie) wat elke af en toe “uitlek” in die gewaarwordings van ’n ander karakter. Die verteller tree die storie bowendien telkens op onbewuste en steurende manier binne deur onnodig interpreterende adjektiewe en verduidelikings. Bv.: “gaan sit onnatuulik hard” en “'waar’s Kotie’ skree haar stem paniekerig en helder bo die ander mense se stemme uit”, en: “Toel soek vir hulp in die nuuskierige gesigte om hom maar hulle los hom, hulle wil nie betrokke raak nie”, en: “die drie staan daar verslae.” Vgl. ook woorde soos steier en vasgenael wat clichés is en kwale van ’n erg naïewe “realistiese” vertelstyl.

Karakter
As daar ’n duidelike besluit kan kom oor wie vertel, moet die karakterisering psigologies verfyn word. Op die oomblik is die karakters erg oppervlakkig en voorspelbaar. Hulle word glad nie “rond” nie maar bly flets en ongeïndividualiseer. Ook as sosiale groep is die karakters newelagtig, daar is nie duidelike sosiale omlyning en plasing nie. Let ook op dat hulle in karakter moet bly praat. “’n Donnerse vlakvark in ’n kar se headlights” klink na ’n boertige Tolla-storie en ek weet nie of stedelike armes dit nog sommer sal sê nie. Anders moet verduidelik word waar hulle vandaan kom. Vgl. ook leierbobbejaan en ouderlingleier. Watse mense is dit dié?

Taal
Let op verwarde idiomatiek soos in die twee punte hierbo aangegee. Let ook op die aanbring van ’n konsekwente patroon van waarskynlike Engels uitdrukkings en hou daarby. “Sy oë was flitsend swart” val uit die toon van Kotie se taalregister. Ook haar skroom rondom Toel se geslagsdele is uiters onoortuigend. “Hy’s ’n baie groot man”. U moet onthou ons lewe in ’n land waar beweerde verkragters regtig name het soos Piele Kriel. En u moet sorg dat u storie darem net op die vlak van koerantstories kom wat gruwelikheid betref, nie net wat taal betref nie. En dan is die probleem hoe om die gruwelikheid uit te beeld dat dit nie sensasioneel of pornografies raak nie. Terloops, Kotie sal beslis eerder kopseer kry as migraine!

Ruimte
Die ruimtebeelding is newelagtig, dit kan veel meer pertinent vasgelê word om ’n tekstuur van’n spesifieke straat meer konkreet daar te stel. Kry ’n dorp of stad, kry ’n straatnaam. Dit raak beter by die stoepmuur met die blikke vol sand, kry nog van die spesifiekhede, maar oppas dat dit dan nie verval in ’n probleem wat in elk geval in die storie hard op loer lê nie: naamlik ’n soort verfraaiing , skilderagtigheid en gemoedelikheid van die milieu van armes: pienk skoene, siegrets, crimplene blommetjieskirts en bebloede breinaalde kompleet.

Handeling
Die inhoud van die storie is onbevredigend en sommige dinge is onwaarskynlik. Waar kry Toel skielik ’n pistool vandaan? As hy so aan die drank verslaaf is het hy dit mos al lankal verkoop? Vat tog maar liewer ’n kombuismes. Wat word van Frikkie se dream machine waarmee die storie open? Die hele intermezzo met Mister Loewies vertraag die handelingsverloop, dit kan korter. Die storie moet ’n sterker begin kry wat saamhang met die hoofbeweging van gebeure. Daarby kom dat die titel niksseggend is. U kan natuurlik ook die storie opcamp of afpunk en dit Breinaald noem en die wreedheid opstuur op ’n Bittercomix-agtige manier. Dit sal die cool opsie wees.

Algemeen
Die beste raad wat ek het is dat jy ’n paar boeke lees om te sien wat al gedoen is in die lyn van die uitbeelding van verloederde mense. Vgl. The Tax Inspector van Peter Carey en Tobacco Road van Caldwell. Jy kan om te begin net Suid-Afrikaanse koerante baie goed lees. Verder kan jy ’n paar psigologiese studies lees oor die effek van armoede en haweloosheid op mens se selfbeeld en watter coping meganismes in werking tree. As jy ’n stukkie veldwerk doen en ’n paar onderhoude voer met straatmense en dit net so transkribeer van ’n bandopname af, dan het jy al ’n meer beduidende bydrae as skrywer gemaak as om ’n onbereflekteerde stuk fiksie oor straatarmes te produseer.

boontoe

Tot slot
Dit het my opgeval dat byna al die verhale op die een of ander wyse handel oor gedepriveerde en verworde omstandighede: armblanke armoede, uitgestorwe afgetakelde spoorwegdorplewe, afgesonderde plaasbestaan, dekadente roetines in ’n godverlate oorlogsgebied, en dat almal in meer of mindere mate aggressie, geweld en in die meeste gevalle seksuele misbruik bevat, waarby die seks dan deurgaans op vreemde wyses geobjektiveer word: naïef, eufemisties, klugtig, pornografies.
      Dit voel vir my bra of hier ’n baie interessante veld lê vir ’n psigologiese analise van die heersende stemming en selfgevoel van die Afrikanermiddelklasse waaruit ek aflei dat die meeste van hierdie aspirantskrywers (net soos ekself en ek het dieselfde hang-ups) kom. Die ideaal sou wees dat die skrywers self hierdie analise maak voordat hulle skryf, sodat hulle skrywery op selfbewuste wyse geïnformeer kan wees en nie op drif raak in die strome van voorbewuste of onbewuste dryfvere nie. Uiteraard kan ’n mens se selfverstaan nie volledig wees nie, maar selfs al is daar net ’n bietjie, is dit al genoeg om sekere skrywerlike keuses bewustelik in plaas van onbewustelik te maak. ’n Mens kan, deur byvoorbeeld te ontdek hoe min jy weet, genoodsaak voel om jouself beter te informeer en jou selfbewussyn en jou aktiwiteit as skrywer mede te inskribeer in stories wat so nadruklik oor die gedepriveerde Ander wil handel. Want as ons kyk vir die Ander is ons blik altyd voorgestruktureer, deur verskillende voorveronderstellings. Ons moet sover moontlik bewus wees daarvan.
      Hoekom is al die stories so “ver van mijn bed” soos die Hollanders sal sê? Wat is die psigologiese substratum waaruit hierdie skrywerlike verknogtheid aan inferioriteit, verwording, frustrasie, aggressie, hunkering, seksuele getroebleerdheid spruit? Nie dat ’n mens soek na nog ’n reeks tranerige belydenisse nie, maar dit sal help as dit as voorwerk in die terapeut se stoel kan gebeur. Dit is wat my gehelp het om in kontak met my skurwe jakkalse te kom. Ek beveel dit hartlik aan. ’n Skrywer sonder enige selfverstaan is ’n mors van tyd en papier. En dit beteken verder nie dat skryf terapeuties hoef te wees, of ’n terapeutiese effek op die lesers moet hê nie.
      Dis die een kant van die saak. Selfverstaan is nie genoeg nie. Ook kennis en verstaan, teoreties gebaseerde verstaan van die wêreld, is noodsaaklik.
      Daar is ’n opmerklike afwesigheid van sterk en geïnformeerde konseptualisering oor die erg ingewikkelde sake wat die uitgesproke onderwerpe van die verhale vorm. Analise ontbreek. Belesenheid ontbreek. Die idee van literêre konteks, literêre geskiedenis en die nosie van oorspronkliheid en standaarde ontbreek.
      Die grootste probleem verder is deurgaans die taalgebruik, dis ’n soort geykte en pretensieus-literêre manier van skryf, soms ’n soort kitsch wat hier oorheers. ’n Wil tot skilderagtigheid is by al die skrywers aanwesig. Dit is ’n snaakse wil waaraan ek self dikwels ly en wat te doen het met ydelheid. Lê dit af sover as moontlik. Dit is sonde. As jy kitsch wil skryf, skryf dit bewustelik, as parodie.
      Vergewe my, beste skrywers, vir my uitgesproke oordeel. As iemand dit alles oor my werk geskryf het, het ek liewer gaan kool plant in my vrye tyd. En ek het al. Iemand het een keer in ’n koerantresensie geskryf dit lyk of my kortverhale almal by die werk geskryf is. Dit was in die laat tagtigs en ek het toe by Unisa gewerk, so julle kan dink wat die resensent bedoel het. Dit is dan nie altyd so sleg om liewer vir ’n tyd lank nie te skryf nie en kool te plant nie. Dan is mens lekker moeg in die aande en net lus om ’n goeie boek (van Michael Ondaatje, van J.M. Coetzee, van Kazuo Ishiguro) aandagtig in die bed te lees en daarmee op jou bors aan die slaap te raak, sodat die harde skrywerlike lesse, eerstehands, deur hierdie groot meesters se goeie voorbeeld, in jou kan intrek soos marinade.
      Sterkte vorentoe met julle skryfprojekte, en moet my net nie voodoo nie asseblief, ek is baie gevoelig daarvoor.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.