SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 1:

Marlene van Niekerk se eerste verslag
Francois Bloemhof se eerste verslag
Marlene van Niekerk se tweede verslag
Francois Bloemhof se tweede verslag

Lees die tweede weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Slangbyt op ’n Dinsdag

Trisa Hugo

Die Kind se voete sleep paaie deur die stof. Sy skoene is altyd vaal en vol merke as hy kortpad vat, maar dis Dinsdag vandag en hy moet vir Pietertjie langsaan kry sodat hy eers kan sien of alles veilig is. Gelukkig gee antie Bybie glad nie om dat Pietertjie party middae by haar bly nie, en dan kry hy darem koekies en melk om te eet.
    Sy kop hang, maar as hy dink aan Juffrou se sagte hand op sy skouer toe sy gister so mooi met hom gepraat het, trek hy sy skouers weer regop. Hy is nou ten ene male die oudste, en hy moet help sorg.
    “OK, Pietertjie, wag nou by die gat in die draad tot ek jou roep, en sê groete vir antie Bybie.” Die Kind swaai sy boeksak van sy skouer af, en skiet dit oor die rooi stoep. Hy sál dit nog regkry om dit presies te kry waar die drie krake bymekaarkom.
    Die deur is toe, en hy moet dit presies op die regte plek met sy knie oopbeur, terwyl hy die knop draai. Gewoonlik staan dit oop op ’n Dinsdag, met Bing Crosby wat jy wie weet waar kan hoor. Die meeste van die tyd is antie Girlie dan ook hier, dan sit sy en Amênda by die kombuistafel en tee drink en rook. Hulle lag hard en baie. Partymaal verf hulle hulle naels, of doen mekaar se hare. Hy pes dit as hulle die dag perm, want daai reuk kry jy net nie uit jou neusgate nie, maar dit lyk nie of dit hulle pla nie.
    Die Kind hou daarvan as antie Girlie hier is, want dan is Amênda vriendelik, en dan kan hy vir Pietertjie gouer deur die gat in die draad roep. Hy gee hom gewoonlik ’n rukkie kans dat hy eers sy koekies en melk klaar eet. Op sulke dae kry hulle dan ook brood met polonie, lekker. Antie Girlie dink seker dit gaan elke dag so hier.
    Party Dinsdagaande gaan hulle dan ook drive-in toe, en eet dan sommer hamburgers daar, maar dit was so lank laas, en dit het alles met honde te doen. Honde! Die Kind kan nie verstaan hoekom hy nie ’n hond mag kry nie, want elke keer voor hulle drive-in toe gaan, sê sy pa: “Ai, maar die hondjies was goed vir my vandag  ...” As sy pa dan so lief is vir honde, vir wat mag hy dan nie ’n hond kry nie? En hoekom mag hy nie sy pa daaroor uitvra nie? Hoe kan honde grootmensgoeters wees? En hoekom mag hy nie vir Juffrou daarvan vertel nie?
    Die Kind loer versigtig om die kombuisdeur, met Amênda weet mens nooit. Alles is doodstil, en daar is nie pap op die stoof nie, ook nie brood in die blik nie. Niks! Die pot met gisteraand se pampoen staan oop op die wasbak, maar dis droog om die kante, en daar draai vlieë om die pot, sies. Die Kind drink twee blikbekers vol water, dit help gewoonlik.
    “Amênda? Amêndaa?” Die Kind weet nie of hy moet huil of lag nie. Hoe hy die pap en koffie ook al haat in die middag, vandag is hy so honger dat selfs die pap lekker klink. Traag loop hy kamer toe om uit te trek, voordat hy vir Pietertjie gaan roep.
    Die Kind hoor ’n kar buite stilhou, maar dit kan tog nie al sy pa wees nie? As sy pa so vroeg terug is op ’n Dinsdag, is die hel al weer los vanaand in hierdie huis. Maar nee, daar klap ’n deur en die kar trek weer weg.
    “Koehie! Koeehieee! Is julle al van die skool af? Kom kyk wat het ek vir julle gebring — slap tjips!” Die Kind gooi sy klere neer en hol kombuis toe, Amênda was nog nooit ooit so gaaf met hulle as sy pa nie by is nie. “Waar is Pietertjie? Kyk, ek het vir julle slap tjips gebring, kom eet gou voor dit koud is.”
    Die Kind gryp sommer ’n paar tjips uit die pakkie, hol verby Amênda, en duik af op die gat in die draad. “Pietertjie! Pietertjie, kom gou!” Antie Bybie hoor die lawaai en kom staan breed in die kombuisdeur, klap-klap ’n grou vadoek teen haar ruim bobeen.
    “Hallo, Antie, sê vir Pietertjie hy moet huis toe kom! Baai, Antie!” Hy hol vinnig terug, hy ruik daai lekker vetterige asynreuk tot hier buite.
    Amênda sit by die kombuistafel, met ’n sigaret, wat sy skoon vergeet om te rook. Sy kyk by die venster uit, maar dit lyk nie of sy iets raaksien nie, amper soos Pietertjie wanneer hy in sy slaap loop. Sy lyk vandag vir Die Kind mooi, met haar hare wat gewoonlik so hoog opgetease is en kliphard gespuit is, wat nou oral losgekom het en saggies teen haar ore krul. En haar rooi wange, wat glad niks te doen het met die goed wat sy altyd aansmeer nie. Tot haar nek is rooi, sy moet net nie staan en siek word nie!
    “Amênda? Kan ons maar al die tjips kry?” Pietertjie het in elk geval al klaar die een pakkie halfpad opgeëet.
    “Ja, toe-toe, eet gou klaar en gaan doen dan julle huiswerk, moet my nie verder pla nie. Die Kind weet nou al om vir Pietertjie te vat en uit die pad te hou as Amênda so lyk of sy half in haar slaap loop, want sy skrik haar kaduks as mens dan skielik met haar praat. Hy weet nou ook al vanaand gaan lekker wees, want dan soen sy sommer ook sy pa vir niks en kielie hom in sy nek as sy vir hom koffie bring. Vanaand is die aand wat sy pa hom weer oor sy hare gaan vryf en hom Bulletjie noem. Dalk ook vir Pietertjie op sy skoot tel. Hy wens altyd sulke aande kan vir ewig aanhou, maar vir wat moet hulle dan altyd so vroeg gaan slaap?
    So sit Die Kind nog en droom toe hy die Prefect hoor indreun. Die deur klap darem nie vandag te hard toe nie. Laas keer toe hy by Gideon gaan speel het, wou hy met hom praat oor grootmense, en hoe hy elke dag kan voel wat gaan gebeur maar Gideon het net gesê: “Huh?” Hy het niks verstaan nie, maar dan is Gideon se pa en ma ook heeltemal anders, daar is altyd baie kos en Gideon is nooit bang nie. Hy wonder hoe dit moet wees as mens net die yskas kan oopmaak en enigiets vat. Maar by Gideon-hulle is daar kos om te vat!
    “Mandy? Mandy? Waar is jy?” brul sy pa by die agterdeur in. Amênda kom slaperig uit die kamer uit met haar groen wolletjiesjapon aan. Sy gaan staan styf teen sy pa. “My ou grote, kom sit hier, dan gooi ek vir jou ’n drienk.” Sy vat-vat so aan sy oor, en druk dan haar hand agter by sy kraag in.
    Daardie aand eet hulle vis en tjips, wat sy pa om die hoek by Costa gaan koop, want sy pa wil nie wag dat Amênda eers kos kook nie, hy wil vroeg bed toe. Toe sy pa die groen belt van Amênda so om haar lyf knoop en sy baard so in haar nek krap het hy geweet Juffrou gaan môre weer raas as sy huiswerk nie klaar is nie. As sy pa-hulle gaan slaap moet al die ligte af en klaar.
    Die volgende twee weke het dit nogal goed gegaan, Amênda het net een keer vir hulle pap gegee om te eet, die ander dae was daar elke dag brood met iets by. Die dag toe sy die pap so in die borde smyt, het sy ook vir Pietertjie geklap toe hy skree. Die warm pap op sy wang het ’n bloedrooi merk gelos. Toe hy vir Pietertjie wou troos, het sy hom aan sy oor beetgekry en tot op sy stoel gesleep.
    Die Kind se oor het vir twee dae gepyn, en Juffrou het niks gesê nie, net saggies oor die rooi swelsel gevryf en toe weer haar sagte hand op sy skouer gesit. Toe hy die trane in Juffrou se oë sien, kon hy dit nie meer hou nie, die naar gevoel wat die hele dag wou-wou opkom, het net opgeborrel in sy keel en hy het uit die klas gehardloop. Gelukkig kon hy om die hoek kom voor die suur slymerigheid uitgebars het. Hy het op sy hurke gaan sit, en toe die klok lui, sy skoene skoongevee en die bitter uit sy mond gewas.
    Hy kon nie daarna vir Juffrou in die oë kyk nie, hy het sy tas gaan haal en al die pad huis toe gehardloop, hy sou na skool weer vir Pietertjie gaan wag.
    Die huis was doodstil, so antie Girlie was dan nie daar nie. Daardie dag het hy nie eers probeer om sy tas oor die stoep te skiet nie, hy wou reguit badkamer toe om die suur smaak uit sy mond te probeer was. Die badkamerdeur was oop, maar daar was ’n vreemde geluid, so soos iemand wat sukkel om asem te kry, en toe het hy geskrik - Amênda het saggies gelag, amper soos wanneer hy die kussing oor sy kop druk die aande wat hulle vroeg moet gaan slaap.
    “Waddehel!” Oom Boela van oorkant, wat altyd aan sy pa se kar werk, het heeltemaal kaal uit die badkamer gestorm. Stukke skuim het van sy skouers afgegly. Die Kind kon nie ophou kyk nie, só lyk sy pa mos nie as hy bad nie? Dis ’n vreeslike ding, en hoe kry hy gepie as sy totterman so in die lug op staan?
    Oom Boela het vreeslik gevloek toe sy nat voete op die sementvloer gly, en glad nie gehoor toe Amênda roep “Boelie? Wat nou? Boelieee?” nie. Oom Boela is terug badkamer toe, en terwyl hy sy broek probeer opkry sy belt afgehaal.
    “Jou klein helsem, wat soek jy so vroeg hier? Vandag leer ek jou ’n les!” Gelukkig het oom Boela se voete gegly op die nat vloer en hy kon wegkom. Hy het teruggehardloop skool toe en agter die fietsloods gaan sit tot die kleintjies uitgekom het. Daardie middag het hy saam met Pietertjie by antie Bybie gaan bly, maar sy kon nie ’n woord uit hom kry nie. Sy het net haar kop geskud en nog koekies uitgehaal.
    Toe hy die Prefect hoor, het hy eers besef, dis Dinsdag, en sy pa is vroeg terug. Toe hy by die kombuisdeur inkom, was Amênda al om sy pa.”Vandag moet jy daai kind goed uitlooi, hy luister net nie vir my nie, en hy was weer parmantig.” Haar vingers het met sy pa se hare gespeel. “Ek probeer so hard om vir hulle goed te wees, maar hy het net nie ore aan sy kop nie.”
    Hoe meer hy vir sy pa probeer vertel het wat hy gesien het, hoe harder het die houe gekom, later tot op sy rug. Hy was by huil verby, en sy pa het eers opgehou toe hy val.
    Die Kind draai moeilik om op sy sy. Vanaand is hy bly hulle moes vroeg gaan slaap.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.