SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Wat is SkryfNet
SkryfNet I SkryfNet II

Francois BloemhofTerugvoer deur Francois Bloemhof

Eerste verslag

Slangbyt op ’n Dinsdag deur Trisa Hugo
Genade onbeskryflik groot deur Susan Lombaard
Ek is nie ’n dier nie deur Anna-Marie Radloff
Gelykop deur Marita van Aswegen
Wag deur Fanie Viljoen

Algemene kommentaar

Eers, my gebruiklike verskoning/ regverdiging: ’n Keurder is in wese ’n foutvinder. Elkeen van die verhale waarna ek gekyk het, het meriete. My taak is egter nie om ’n skrywer telkens op die skouer te klop nie. Nie om die materiaal te prys nie, maar wel die gate daarin verder oop te vlek. ’n Voorvereiste vir skryf is ’n dik vel. Dus  ...

Slangbyt op ’n Dinsdag deur Trisa Hugo

Interessante titel: ’n mens wil weet hoekom Dinsdag? Hoekom nie ’n ander dag nie?
      Dit is dalk nie so ’n goeie idee om “Kind” met ’n hoofletter te skryf nie. Hy kom dan te verteenwoordigend voor: wat hy natuurlik in ’n mate is, maar dit hoef nie so pertinent aangedui te word nie. Mense kan hom ook dalk as ’n soort Christuskarakter sien. Dit is wel doeltreffend dat hy nie ’n spesifieke, “beperkende” naam kry nie.
      Die perspektief oortuig; daar is nie baie van die soort woorde wat ’n kind van daardie ouderdom en uit daardie milieu nie moontlik sou ken nie. Ook sy manier van redeneer wys nie sommer dat die vertelling dié van ’n volwassene is nie. Net hier en daar verklap woorde die verteller se ouderdom: soos “wolletjiesjapon” — ’n kind sou eerder van ’n “kamerjas” praat? Pas ook op vir uitdrukkings soos die “suur slymerigheid” wat uit die kind “uitgebars” het: dit is nie kindertaal nie. Ook nie die “bitter” wat hy uit sy mond was nie. Hy sou “opgooi” of iets in dier voege. Probeer jou verhaal lees soos ’n kind van daardie ouderdom sou — en op al die plekke waar “jy” vashaak, vereenvoudig of omskryf die term/ woord.
      Op bladsy 3 sou ek ’n wit reël voorstel voor:

      Die volgende twee weke het dit nogal goed gegaan  …

Die veiligste benadering is om enige tyds- of toneeloorgang met ’n wit spasie aan te dui, ter oriëntering van die leser. Die oorgang na die verledetydsvorm, ná die presens uitsluitlik gebruik is, hinder ook. (Vir baie lesers hinder die verledetydsvorm áltyd, en dit kan gebeure nogal futloos laat voel.) Sou dit moontlik wees om dié stuk in die teenwoordige tydsvorm om te sit? Sou dit daarby baat? Besluit self  …
      Baie van die verhaal se trefkrag lê natuurlik daarin dat al die feite vir die volwasse leser gegee word, en hy of sy die nodige kennis het om dít te verstaan wat die kind nog nie verstaan nie. Daarom is dit goed dat daar behalwe vir die paar taalglipsies wat nie by ’n kind pas nie, nie perspektiefbreuke is nie: ons fokus op die kind en dit is reg so.
      Baie inligting word op die eerste bladsy deurgegee; te veel? Word daar dalk te veel vertel en te min gewys?
      Die titel kan by nabetragting op verskillende maniere geïnterpreteer word: die verwysing na die slang kan dui op verraad, van verskillende persone. Ook op pyn, of op die ongeneeslike/giftige effek wat ’n sekere gebeurtenis op ’n mens kan hê. Ook op die kaal man se geslagsdeel. As jy gelukkig is daarmee dat verskillende lesers die titel op verskillende maniere kan benader, los dit so. Andersins, maak dit meer spesifiek.
      Die einde is neerdrukkend, maar dit is die soort verhaal wat kwalik anders kan eindig. Eindig dit anders, dan sal dit geforseerd voel, dalk selfs platval. So is die lewe maar. As dit egter deel van ’n bundel sou wees, sou ek voorstel dat sulke verhale met ligteres afgewissel word.

boontoe

Genade onbeskryflik groot deur Susan Lombaard

Die taalgebruik is goed, hoewel daar ’n paar sinne is wat dinge té mooi probeer sê, soos:

      Rut se blik stip deur die kompartement.

Ek sou ook sê daar is te veel “stomp sinne”, soos:

    Kyk krities af en stryk die somber donkerblou rok plat waar haar knieë bolle in die materiaal gedruk het. Skuif die deur oop en tel die kartonkoffer op.

en:

      Badkamerlig af.

Indien suinig gebruik, dien hulle ’n doel. Te veel, en die taal voel stokkerig.
      Die droomtoneel is geslaagd. Die logiese boaardsheid is goed gehanteer. Wanneer die taal in dié toneel bewustelik “mooi” is, soos in:

    ’n Goudwit baan lig uit die hemel uit maak ’n blink plas op die leë sitplek.

hinder dit my nie.
      Die terugflitse werk aanvanklik goed, maar verloor treffendheid (en funksionaliteit) wanneer hulle amper die helfte van die verhaal begin uitmaak — te veel van ’n goeie ding. Dalk sou die wisselwerking in tyd beter werk as daar nie van kursivering gebruik gemaak word nie — dan word hede en verlede bloot geskei deur wit spasies, en die leser kan self uitwerk wat pas waar. Ook, met die herhaalde wisselwerking skep jy baie vinnig ’n patroon, en dan raak dit voorspelbaar/ herhalend. Al die terugflitse is ook nie van die kortste nie: is alles funksioneel?
      Ek hou daarvan dat al die oorgange/ terugflitse gemotiveer is: hoekom Rut op dáárdie oomblik ’n sekere iets iets uit die verlede onthou. Die oorgang by:

      Oupa Hans skuifel met sy rug teen ouma Bet vas.

werk byvoorbeeld besonder goed.
      Die naam Rut — simbolies? Té doelbewus simbolies? ’n Mens kan maar altyd versigtig wees vir name wat betekenis het vóór jy die karakter leer ken. Dit gebeur maklik dat die draer van so ’n naam die verteenwoordiger van ’n sekere soort ingesteldheid raak: dit kan ryke assosiasies meebring, maar ook die karakter beperk. Besluit self wat hier gebeur.
      Te veel koppeltekens veroorsaak dat sulke woorde (“omkyk-omkyk”; “koffieblik-karretjie”; “trots-goedkeurend”; “kou-kou-kou”; “sluk-sluk”; “drup-drup”) hinderlik raak — ’n mens begin wag vir die volgende een.
      Die einde is treffend, maar ek is nie seker dit oortuig my nie. Dat die ou vrou nie stoei nie, dít sal ek glo. Maar dat Rut so maklik aan die slaap raak ná wat ’n simpatieke moord genoem kan word  … Wat sal ’n meer geloofwaardige reaksie wees — dat die hoofkarakter met haar arms om die ouer vrou se lyf geslaan aan die slaap raak? Dalk. Dat sy terugdink aan of voel soos sy kleintyd gevoel het toe sy by die egpaar in dié bed geklim het? Dalk. Die leser wil weet wat sy dink, hoe sy voel. Ons weet hoekom sy doen wat sy doen, maar die oomblikke daarná, dit is ook belangrik  ...
      Ek hou van die implikasie van ’n genadedood wat die titel aktiveer.

boontoe

Ek is nie ’n dier nie deur Anna-Marie Radloff

Ek hou van die titel. ’n Mens wil agterkom waarin lê die verskil, hoekom iemand dit nodig ag om hom- of haarself só te verdedig, ensovoorts.
      Ek stel voor dat jy die aanhalingstekens los. In ’n verhaal waar terme soos “opgefok” en “fucked-up” maklik voorkom, lyk dit té bedink om Engelse terme anders as die Afrikaanses aan te dui. Hulle is buitendien nie konsekwent tussen aanhalingstekens nie.
      Ek hou van jou naamgewing. Rot. Olaf. Adam. Alfredo. Dis nie Jan en San nie. Ek dink wel “Rot” en “Adam” is te simbolies, gegee die verhaal se strekking  … en sodra ’n mens met simboliek begin werk, hinder dit as álles nie simbolies is nie. Wat verteenwoordig die name “Olaf” en “Alfredo” dan?
      Nou en dan hinder die logika, soos in die “feit” dat die vrou en Olaf “outomaties” van die sosiale aktiwiteite kwytgeskeld is: heelparty lesers sal nie verstaan hoekom nie. Probeer jou verhaal lees soos iemand wat dit die eerste keer sien, sonder binnekennis.
      Die verband man = dier word te vroeg, te duidelik uitgespel, veral as ’n mens reeds die titel in jou agterkop het. Op bladsy een is Adam die leier van die “trop”. Daar is die skelet van ’n krokodil in dié manneplek. Die ouens raak “primitief”. Hulle is ook natuurlik om mee te begin in ’n kamp. Dit moet subtieler deurskemer. Hoekom “moet”? Want daar is twee mense wat “werk” aan ’n verhaal: jy en die leser. Tans werk die leser nie, want jy sê dinge te direk. En nou moet ’n mens ook begin wonder of die titel nie te duidelik uitgespel is nie. Ook, daar is te veel botsende dierbeelde. Die vrou is ook soos ’n bok wat platgetrek word. Die man wat dit doen, het oë soos ’n slang. Hy raak ’n anakonda. Is soos ’n luiperd. “Soos ’n dier ruik hy haar uit.” Implisiete inligting bly langer by die leser as die eksplisiete. Snoei. Sny.
      En ek (dalk omdat ek ’n man is?) moet vra of jy as vrou nie dalk die adamsgeslag ’n bietjie kwaai bykom nie. As skrywer het jy die hef in die hand oor hoe sekere groepe uitgebeeld word. Dit behels ’n verantwoordelikheid  … maar dis jou storie  … maar ’n meer geskakeerde benadering, tog  …
      In die tweede laaste paragraaf op bladsy twee staan:

    Hy voel dit nie eers nie, totaal en al onbewus van haar pogings.

Dis ’n perspektiefbreuk omdat alles tot dusver vanuit die vrou se oogpunt vertel is; jy kan nie nou rapporteer hoe die man voel nie. Jy kan hoogstens sê dit lyk vir háár asof hy niks voel nie. Die alternatief, wat ek nie hier aanbeveel nie, is om ál die karakters se indrukke en gevoelens deurgaans weer te gee.
      Ek mis dialoog. Daar is min dinge wat so ’n gevoel van onmiddellikheid kan bied soos funksionele dialoog. In die laaste paragraaf op bladsy twee:

Alfredo skreeu vir haar dat sy net moet ry.

sou dié inligting byvoorbeeld baie meer impak gehad het as daar gestaan het:

“Ry net! Ry!” skreeu Alfredo.

Te veel rapportering, nes die indirekte rede, laat gebeure nie-onmiddellik en “tweedehands” voel.
      Daar is ’n hele paar f-woorde vroeg in die verhaal. Die sin:

    “Jou fokker, vandag is jy vrek, jou fokken fokker.”

sal treffender wees as daardie die eerste f-woorde is ná die vrou tot die gevolgtrekking kom dat “fok” die beste woord vir “verkrag” is. Teen dié tyd sal die meeste lesers al afgestomp wees vir soortgelyke woorde.
      Die vrou skiet die man, maar dit is nie ’n verrassing nie, want die leser volg haar en die pistool al ’n bladsy lank. Dit sal treffender wees as jy ’n uitstel- of verswygingstegniek gebruik en ons nou eers laat agterkom dat sy ’n pistool by haar het.
      Die afloop ná bogenoemde hoogtepunt voel nogal lank en “opsommend”. (Natuurlik is haar geskiet na die leeu ook ’n soort hoogtepunt.)
      Ek hou daarvan dat jy die “heldin” nie ’n naam gegee het nie. Dis subtiele kommentaar op die ontmensliking wat jy op ander plekke te direk uitbeeld.
Ter opsomming sou ek sê dat jou benadering tot dié soort wraakvertelling reg voel.

boontoe

Gelykop deur Marita van Aswegen

Reg aan die begin word die egpaar se probleem uitgespel — te direk. Ja, dit kan verskoon/gemotiveer word as bloot ’n toevallige praatjie oor die radio, maar dit voel nogtans te duidelik dat jy dit prominent plaas om lig te werp op die gebeure wat gaan volg. So ’n rigtingwyser is nie nodig nie: nie net “vermoor” Anna die radio-omroeper se stem nie, maar daar is talle voorbeelde wat volg wat haar en haar man se probleem illustreer.
      Heelparty uitdrukkings het my gehinder — die soort sinne wat goed klínk, maar waarby baie lesers sal vashaak en vra: Wat beteken dit nou eintlik? Sinne soos:

    Die muskus in die kamer onverwags ’n spook.

As die leser ’n bietjie dink, weet hy of sy wat jy wil sê  … maar is dit wenslik dat die leser die leestaak moet onderbreek om eers die gegewens klein te kry, en dán moet terugkeer na die gebeure? Nog ’n voorbeeld van so ’n soort sin, is die blare wat opgegee het om aan die takke vas te klou, en nou maar sommer lê en ronddraai in die dwarrels. Dit voel na ’n bewuste poging om gewone gebeure na méér as net gebeure te laat voel; ’n semi-poëtiese aanslag wat swaarwigtig voorkom. Maar minder is dikwels meer: ek sou voorstel dat jy net jou sê sê  … en as die leser iets diepers by die gebeure inlees, is dit goed en wel; indien nié, is dit ook goed. Dan het hy of sy steeds ’n stórie gekry.
      ’n Laaste voorbeeld:

    Arnoldus se onverwagte hand op haar bors is ’n lammervanger.

Nee. Dit is nie. Dis ’n hand  ...
      Laasgenoemde sin sluit aan by ’n verskynsel wat ’n mens fisieke onmoontlikhede kan noem, byvoorbeeld:

    Langs die esel klim die klanke van Bruch se vioolkonsert hoog die lug in.

Weer, dit klink interessant, maar baie lesers sal onwillekeurig probeer visualiseer hoe die note ’n leer klim die lug in, plafon se kant toe. En dan haak die leser vas. Hier is ’n verwarring van sintuie, nes in:

    Die reuk van kraalmis sit aan hom vas.

Gom sit vas, ’n reuk nié. Hou dit eenvoudig.
      Dan, die arme Arnoldus. As man kry ek seer namens hom. Bly daar dan níks oor van die persoon wat Anna gekies het om mee te trou nie? Jy kom te partydig voor: alles word vanuit Anna se oogpunt weergegee. Goed en wel, ’n verhaal mag mos maar ’n fokalisator hê. En ja, daar is nou eenmaal in baie huishoudings oorlog tussen die geslagte. Maar alles wat Arnoldus sê en doen, is darem te ongeskakeerd: ondeurdag en grof. Hy word voortdurend negatief geteken. Veel meer kon bereik gewees het met twee, drie subtiele aanduidings van sy persoonlikheid en optrede, en hoe Anna daarop reageer of daaroor voel. Soos sake nou staan, is Arnoldus erg tweedimensioneel en word die leser te duidelik opdrag gegee van wie hy of sy moet hou en van wie nié — die soort opdrag wat baie maklik die teenoorgestelde uitwerking kan hê.
      Met jou taalgebruik het ek in die algemeen, buiten daardie soms te-simboliese inslag, nie ’n probleem nie. Jy sal net vir jouself moet uitmaak hoe formeel of los jy jou styl wil hê. Dit hinder my byvoorbeeld nie as jy “belt” gebruik in plaas van “gordel” nie, maar dan moet daar nie in dieselfde verhaal van ’n “laserskyf” eerder as van ’n “CD” gepraat word nie.
      Die parallel tussen Anna en die skoppende koei — te direk, te veel van ’n boodskap, veral in die lig van die titel? Hoewel ek dit ’n interessante punt ter illustrasie vind. Ook, oorspeel die laaste sin nie dinge nie? Dien dit ’n doel? Is “pluk-pluk” die regte woordkeuse? Dit klink amper asof sy ’n hoender ontveer  …

boontoe

Wag deur Fanie Viljoen

Hier en daar voel dit vir my of daar komiese effek is ten koste van jou karakters, byvoorbeeld in ’n toneel met Liefie:

    Haar crimplene blommetjies skirt skuif op oor haar dik bobene en haar wit plakkies klap-klap op die sypaadjie.

Dit roep wel treffend ’n beeld op, maar laat ’n mens voel dat jou simpatie nie by jou karakters lê nie. Wat wel nie ’n vereiste is vir enige verhaal nie! Maar dit bly beter as die skrywer oënskynlik neutraal bly (“oënskynlik”, want niemand is ooit heeltemal neutraal nie) en die leser self oor karakters laat “oordeel”/ besluit na aanleiding van feite wat deurgegee word.
      Sodra die leser self iets kan aflei, verswyg dit. Soos in die onderstreepte sin:

    Liefie beduie vir haar (Kotie) sy moet teruggaan. Daar gaat nou weer iemand kom wat sy kan vra. Kotie draai om en stap terug. Sy doen alles wat Liefie sê.

Nog ’n voorbeeld is wanneer Liefie met ’n leierbobbejaan vergelyk word.
      Met die sin:

    Jy sien skaars haar oë agter die toegewasemde bril.
bring jy distansiëring juis deurdat jy die leser met die woord “jy” betrek. As jy hom wil deel maak van die storie, moet dit nie eers onderaan bladsy drie gebeur nie.
      As jy karakters met ’n sekere manier van praat en dink kies, moet jy niks weergee wat jóú manier van dink verklap nie. Byvoorbeeld:

    En Frikkie voel leër as die ander twee. Hoe leeg moet jy nie wees as jy nooit werklik vol was nie?

Dit is ’n baie gevorderde besef vir Frikkie, voel ek. Dit is met sulke sinne dat skrywers hul “boodskap” vir lesers sein. ’n Boodskap is altyd meer treffend as dit implisiet is: as ’n leser dit wil miskyk, moet dit nie afbreuk maak aan die storie nie.
      Ek is nie seker die dialoog oortuig altyd nie. Die karakters klink soms asof hulle so probéér praat, omdat jy “so” probeer skryf  ... Die vloekwoorde hinder my nie, ook nie die gebruik van Engels nie, maar dan begin ’n mens wonder hoekom hulle van “commission” in plaas van “kommissie” praat nie, maar nie “fifty percent” in plaas van “vyftig persent” nie. So ook die amper formele “Barrel het bly leef” in plaas van iets soos “Barrel is nie dood nie”. Dis soos ’n deur wat jy oopmaak: ’n mens begin outomaties die woorde soek wat ágter die deur gebly het. Jy het vir jouself ’n moeilike taak opgelê deur karakters te kies wat anders praat en dink as jy.
      So boaan bladsy ses het ek begin voel die karakterstudie was meestal geslaagd, maar nou raak die storie te lank vir die hoeveelheid intrige.
      Liefie kom te maklik reg by die hospitaal:

    “Ek soek na Kotie.”
    “Is u familie?”
    “Vriendin.”

Sou die ander vrou dadelik weet wie “Kotie” is? Sou sy die “u”-aanspreekvorm gebruik, veral as sy net daarna uitvaar teen “julle mense”?
      Kyk nou weer na die storie se titel — funksioneel?
      Kotie se vertelling oortuig nie — dit is te saaklik, te beredeneerd aangebied, en daar is te veel subtiliteite. Soos: “Sy oë was flitsend swart.” En: “Hy het sy tande opmekaar gekners.” In sinne soos dié hoor ’n mens jou, die skrywer, dramatiseer eerder as dat dit jou karakter is wat praat. Hoe sou die Kotie wat hier in ’n verskriklike toestand in ’n hospitaalbed lê, dit vertel het? Die spanning ly ook skipbreuk deurdat die leser reeds weet (behalwe hóé dit gebeur het) dat daar ’n baba dood is.
      Die einde het trefkrag omdat dit ’n mens ontstel. Maar die verhaal eindig met ’n fluistering eerder as ’n knal. Ek glo dit sal meer effektief wees as jy dit eers nóú duidelik maak dat Kotie ’n baba verloor het, en hoe. Met ander woorde, moet nêrens vroeër noem dat sy swanger is nie. En noem eers nou dat dit ’n geaborteerde fetus is wat Liefie daar in die kamer gesien het (of noem nie eens dít as jy voel die leser kan self aflei wat sy gesien het nie).

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.