SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 3:

Marlene van Niekerk se eerste verslag
Francois Bloemhof se eerste verslag
Marlene van Niekerk se tweede verslag
Franois Bloemhof se tweede verslag

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die tweede weergawe van dié storie.

Gelykop

Marita van Aswegen.

Arnoldus laai Anna halfeen voor die bank op. Die bakkie hang skeef van die vrag hawersaad agterop. Sy druk haar inkopiesakke voor by haar voete in en draai die venster oop. Arnoldus se oë flits na die spieëltjie aan die kant van die motor voordat hy ’n motor verbygaan. “Ek’s nou vrek honger, kom ons eet gou ’n stukkie by die Spur, ek’t gesien hulle het ’n special met hulle T-bones. Het jy als gedoen gekry?” Sy knik.

Die houtwaentjie met antieke juweliersware staan soos altyd naby die eetplek se deur. Sy vat aan sy arm. “Kyk gou hier, hier’s die mooiste borsspeld.” Sy groet die meisie wat op die stoel sit. “Ek wil net vir my man wys.” Sy tel die filigraan skoenlapper op, hou dit in haar hand na hom toe.

“Ja, ek sien.” Sy wonder of hy die versigtigheid in haar oë kan sien en of hy nog onthou hoe baie sy altyd van mooi goed gehou het.

“Kom lat ons gaan eet, ek’s haastig, daar’s werk wat wag,” waai sy woorde oor sy skouer. Anna liefkoos die speld met fyn vingers, gee dit dan vir die meisie wat met neergeslane oë tussen die juwele staan en vroetel.

Anna groet die kelner by die deur skaars, stap na die tafel waar Arnoldus klaar sit.

“Is jy lus vir ’n lekker koue appletizer?” Sy knik en hy bestel vir hulle elkeen een.

Die sweet slaan op sy voorkop uit toe hy die laaste bietjie monkeyglandsous eet.

“Lekker né, sê sy sag en gee hom ’n tissue.

“Dankie.” Hy vee oor sy voorkop. Sy kyk na die mense rondom hulle. Almal sit en gesels. Waaroor sou hulle praat? Haar en Arnoldus se gesprekke het opgedroog tot die pryse van produkte, die weer en sy koeie. Haatlike dierasies.

As hulle tog net weer ’n stukkie tyd kan terugkry soos toe hulle jonk was, toe hulle rug teen rug gesit het vir ure en sommer net in die natuur rond geluier het. Sy wil so graag vir hom sê hoe bang sy voel vir die ouderdom wat sy asem in haar nek blaas. Sy was verlede week by haar ma in die tehuis vir verswakte bejaardes en die skuifelende, sittende oumense het die angs oor haar gestoot. As hy haar net wil troos deur te sê dat hy nie die plooie in haar nek raaksien nie, ook nie die sakke wat soggens onder haar oë pof nie. Sy wil met hom praat oor die dood en of hy ook wonder hoekom is hulle op die aarde.Wat is die sin daarvan as mens doodgaan en jy weet nie eers wat daar wag nie. Sy wil weer haar hande om sy gesig sit soos toe hulle jonk was en net sy vel onder haar vingers voel. Maar sy kan nie. Dis altyd die blienkieng koeie en hulle pense wat moet vol.

“Jy praat nie meer met my nie,” het hy haar laas week beskuldig. En voor sy kon antwoord het hy verder gepraat. “Ek weet wat jy gaan sê en dis nie waar nie, ek luister as jy praat. Ek reageer net nie altyd soos jy dit wil hê nie.” Sy’t geswyg, haar oë iets laat probeer sê, die magteloosheid het ook in syne weerkaats.

Hy hou in die linkerkantste baan sodat die vinnige verkeer kan verbygaan, skakel die radio aan. “’n Huwelik met gebrekkige emosionele en intellektuele intimiteit loop uit op vervreemding en-” Hy draai die radio na ’n stasie waar die weervoorspelling gegee word. “Die spul nonsens wat sielkundiges ok praat, mens is lief vir iemand of jy’s nie. Ek was en is nog altyd lief vir jou. Dis nie nodig dat iemand mens moet leer hoe om vir iemand lief te wees nie.”

“Ja, maar -”

“Sjuut.” Hy hou sy hand op.

“Daar is ’n groot moontlikheid van reën vir die Vrystaat,” praat die weervoorspeller temerig voort.

“Sjoe, ek sal bly wees as dit reën, die vooruitsig van ’n oes kan ons weer bietjie laat asemhaal.”

Anna draai haar kop weg. Hy maak die radio dood toe die voorspelling klaar is.

“Die een Jersey het die mooiste klein kalfie. Onthou jy, toe ons jonk getroud was, was jy so mal oor klein kalfies. Jy kom kyk nou nooit meer na hulle nie. Jy was jare laas by die stal.” Sy draai na hom. “Daar’s baie dinge wat ons al twee nie meer doen nie. Jy’t altyd geluister as ek jou iets ...”

“Ag, moet tog net nie weer begin nie. Ek kan niks meer reg doen of sê nie.” Hulle ry ’n ruk in stilte tot hulle by die plaaspad indraai waar ’n klomp swart en wit friese op ’n lappie voer loop.

Hy wys met sy hand na hulle. “Kyk hoe mooi is hulle. As ek hulle eendag verkoop kan jy daai teëls kry wat jy so graag wil hê.” Sy wil eers vir hom sê stiek die teëls, maar sy hou haar in.

“Goed, dankie.” Haar stem sê niks.

“Ons moet ons dinge regkry, Anna. Ons het nie kinders soos ander mense nie, ons het net mekaar, en ons word nie jonger nie,” sê hy onverwags toe hulle voor die huis stop. Sy sien die bruin spikkeltjie in sy een oog en die moedelose trek om sy mond.

Teen sononder stap sy stal toe. Sy’t al vergeet hoe dit ruik, warm melk en warm mis. Die koei naaste aan die deur lig haar kop op, haar bruin oë rus op Anna terwyl sy kou. Haar oë is so sag, dink Anna verwonderd en sy laat haar oë gly oor die res van die diere, almal spekvet. Die ritme van die spuitgeluid van die melk meng met die vrolike konsertinamusiek wat in die agtergrond speel. Arnoldus glo boeremusiek laat hulle beter sak.

Verras kyk hy op van waar hy besig is om die voorste koei uit te jaag, sy gumboots vol modder en mis.

“Dis lekker om jou hier te sien.” Sy oorpak is vol bruin strepe. Hy kom nader, sit sy arm om haar skouer. Sy ril toe ’n koei mis en hy praat tussen sy lag deur. “Die lewe is maar vol stront, gelukkig is party soorte beter as ander.” Die agterste koei druk teen die een wat voor haar is en Arnoldus staan nader, slaan die dier op die boud. “Sy’s mooi, nè?” Anna knik, ruik die geur van varsgemaalde lusern. Hy kom staan weer by haar, die konsertina maak ’n guitige draai en hy slaan sy arm om haar lyf, maak ’n paar danspassies langs die koeie af. Nog ’n koei lig haar stert en Arnoldus dans vinnig na die ander kant. Hy los haar en onseker slaan sy haar arms oor haar bors.

“Ek moet gou nog voer in die bakke kry.” Sy staan ’n oomblik stil, haar oë op die herkouende diere wat rustig staan terwyl hulle gemelk word, dan draai sy om en stap ingedagte terug huis toe.

Die son is al ’n hele rukkie op toe sy die syjapon om haar borste vou. Sy maak nie die band vas nie, maar trek die kamerjas net styf om haar en kruis haar arms oor haar bolyf terwyl sy na die spieël loop.

Sy hou aan borsel totdat haar hare se punte lewe. Haar hand verstil halfpad wanneer die agterdeur toeklap, haar mond trek saam in fyn plooitjies.

Arnoldus kom vinnig die kamer binne, praat met homself en krap tussen die stapel papiere op die lessenaar voordat hy omdraai.

“Jy sal moet soek, die landdroskantoor wil die droogtehulpstate van die laaste vyf jaar hê, hulle wil kyk wie’t voer gekoop en wie’t ander goed gekoop. Wel, hier kan hulle maar kom kyk, alles is verdomp verdroog, stukkend en op.”

Anna knoop die japon se belt twee maal, haar oë op sy rug waar hy voor sy hangkas rondstaan. Sy hande vat en los.

“Waar’s my groen kouse al weer?” Hy smyt drie paar bruines op die vloer, gryp dan die groenes wat sy reg voor sy oë uit die kas haal en na hom uithou.

“Ek gaan veiling toe, sal so oor drie ure terug wees, ek moet gou iets in die dorp ook gaan oplaai,” waai die woorde oor sy skouer. Die deur klap toe agter hom

Anna maak die knoop los en skud die glibberige kledingstuk van haar af. Ritmies vryf sy lyfroom oor haar hele lyf in, die geur van muskus die lug vol. Sy haal die verfbesmeerde jurk van die haak, glip dit oor haar kop toe sy Arnoldus se motor hoor wegdreun. Sy stap vinnig kombuis toe en skuif die kastrol met bredie eenkant op die lae hitte van die Aga-stoof.

“Drie volle ure ...” praat sy met haarself. Die warmte van die erdeteepot sprei deur haar hande toe sy hulle om die ronding kelk en na haar werkskamer toe dra. Sy trek haar asem diep in, skink tee, sit ’n CD op en gaan staan voor die venster in die gloed van die son. Amber, roes en bruingeel blare lê maar sommer so en ronddraai in die dwarrels.

’n Hadida boor soekend in die grond en sy draai die vioolmusiek harder. Sy tel die verfkwas op en smeer die twee kleure op die palet deurmekaar, die roospienk van ’n blomskede en olyfgrys soos die voël daar buite.

Die buitelyn van die wegdraaiende vrouefiguur teken sy met net een haal: halwe kop, nek, bors, lende. Een arm, been en voet. Anna staan terug. Maak haar oë toe. Kantel haar kop agteroor. Trek met haar vingerpunte ’n lyn van haar voorkop, oor haar neus en kuiltjie tot tussen haar borste.

Arnoldus se onverwagte hand op haar bors laat haar omswaai en sy stamp die teepot van die tafeltjie af sodat dit in stukke oor die vloer spat. Sy stik.

“Hoeveel duisend keer het ek jou in hierdie twintig jaar al gesê ek is ’n mens, nie ’n bors nie?” Ergeniskolle vlam rooi teen haar nek. Sy smyt die verfkwas neer en struikel oor ’n los mat. Langs die esel speel Bruch se vioolkonsert onverspoosd voort.

Haar gesig is geslote toe sy saam met Arnoldus aansit vir middagete.

“Gelukkig het ek ’n nuwe goedkoper voermengsel gekry vir die koeie. Ek spaar ’n rand op elke sak, en dit kan die melk baie opstoot,” gesels hy toe hy sy kos nadertrek en ’n gulsige hap vat. “Mmm, nie sleg nie, ou vrou, maar waar’s die rooipeper en miesies Ball’s?”

Sy bring dit vir hom. Die muurhorlosie se ghong is befonkfaai en dit slaan ses in plaas van twaalf slae. Hy druk die knoppie van die radio en knik tevrede toe dit onmiddellik aanskakel.

“Wil jy koffie hê?” Sy vat die vuil bord voor hom weg.

Hy maak haar stil met sy hand, leun oor na die radio. “Die Springbokspan is ...” kondig die opgetoë omroeper aan. ’n Begogelde laksman vlieg met ’n slag teen die skoon ruit van die kombuis vas, maar Arnoldus hoor dit nie. “Dit gaan lekker wees om Saterdag rugby te kyk, gaan jy saam met my?” Sy bly stil.

“Wat’s dit nou weer met jou? Sy oë op haar stywe mond. “Het ek weer iets gedoen waarvan ek nie weet nie?”

Sy ore het wraggies ook al plooie.

“Jy’s so kleinserig deesdae, ek kan niks meer reg doen nie. Wil jy my weer anders hê as wat ek is?”

Anna staan op van die lendelam stoel en stap by die voordeur uit die veld in. ’n Alleen bosluisvoël sweef wit oor haar kop verby na ’n plek iewers ver weg. Sy hou aan met stap tot die moegheid in haar roer, draai dan om, begin vuilgoed in die tuin uittrek toe sy by die hekkie instap.

Verwag sy te veel? Arnoldus is ’n harde werker, hy drink nie en hy lol nie met ander vrouens nie en sy optredes is sonder enige fieterjasies, reguit en op die man af. Is sy te veel op haar eie behoeftes ingestel of voel sy so omdat sy altyd aan die agterste speen moet suip? Haar gedagtes maal in die rondte. Daar lê ’n hoop vuilgoed op die grond voordat sy uiteindelik ophou om dit uit te pluk, haar lyf lam en styf. Sy kyk met genoegdoening na die hoop onkruid, neem haar voor om dit meer gereeld te doen.


Die melkmasjien dreun nog wanneer Arnoldus teen sononder by die agterdeur instorm.

“Anna! Waar’s jy? Magtig, vrou!”

Sy loop vinnig na die kombuis waar hy staan. Teen sy voorkop is ’n bloedkol en haar hand vlieg na haar mond toe.

“Wat het gebeur?” Sy kom nader, die bloed ’n magneet, die reuk van kraalmis kielie haar neus.

“’n Verduiwelse koei het my geskop. Jy sal die plek moet ontsmet. Sy kon my oog uitgeskop het.” Hy swets onderlangs. “Ek wou na iets op haar speen kyk, ek vat toe daaraan en toe ... Vervlakste ding! Ek’s sommer lus en slag die ou pes.”

Anna wil iets sê, bedink haar dan en loop om die antiseptikum te gaan haal, die plooitjies om haar mond glad met haar mondhoeke wat nou effe lig.

Bottel in die hand huiwer sy in die deur, haar oë op die kromming van sy skouers, die grys hare, die groot hande wat slap in sy skoot hang. Dan loop sy doelgerig nader, skuif haar hand agter sy kop in en begin met die ander hand sag dog ferm, die wond reinig.

Terwyl hy sit, slaan hy sy arms om haar middel, druk met sy kop teen haar onderlyf.

“Jy ruik lekker, o ja.” Hy vroetel onbeholpe in sy hemp se bosak. “Ek’t vir jou iets gebring.”

Sy vat die klein papiersakkie terwyl hy praat: “Jy’s reg, dis pragtig, fyn, dit lyk of dit kan breek as mens te hard daaraan vat.”

Die filigraan skoenlapper lê lig in haar hand, sy vlerke soos silwer kant.

En skielik het sy ’n onkeerbare lus om ’n koei te skilder.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.