SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 1:

Petra Müller se eerste verslag
George Weideman se eerste verslag
Petra Müller se tweede verslag
George Weideman se tweede verslag

Lees die tweede weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

’n Laaste besoek aan Perdekuil

Tom Naudé

Dit was na sy lang siekbed dat die drang by hom gegroei het om weer plaas toe te gaan. Na al die jare wou hy ontvlug na ’n skuiling van sy jeug toe Perdekuil ’n soort aanbidding was, ’n piëteit soos dié van plaaswerkers wat in die ryp-koue langs die kraalmuur hurk met hul hande oor ’n misvuurtjie uitgestrek. Sy herinnering van daardie tyd is deurtrek met die reuk van diè dwalende rook.
    Met skoolvakansies was daar die treinrit suid tot by ’n klein stasie waar melkkanne opklink uit die groot stilte wanneer die trein tot stilstand kom; dan die rit plaas toe in die kapkar, met vooraan Oom Jan se twee spogperde Felix en Forester; en die vooruitsig om daardie aand in ’n verebed te slaap, en te luister na die kraai van hoenderhane wat weerklink uit die donker.
    Haar lewe lank het sy ma gehunker na die Vrystaat met sy vlaktes, van waar sy gekom het. Nooit ’n stadsmens nie, het sy uit haar noodgedwonge verstedeliking uitgereik na broer Jannie se plaas en die behoefte oorgedra aan haar seun, asof sy dit aan hom verskuldig was.
    En toe hy die dag daar aankom, broos en met die aanraking van die dood nog aan sy lyf, was dit asof die lig te skerp was vir sy oë; die ontroering van ’n klip kraalmuur, bloekombome en ’n skuur gevolg deur die onheilspellende vreemdheid van hoë draadheinings en swaar staalwerings voor die vensters van die opstal. Die eenvoud van die ou oop plaashuis was verlore.
    Binne in die huis is daar kolle van herinnering soos die kraakvloergang met ’n kapstok waaraan daar lang karwatse hang, spookbeelde van ’n eetkamer met ’n groot tafel waar daar saans boeke gevat is by die lig van ’n lamp, en ’n eenvoudige voorkamer se koel donker beskeidenheid wat nou verdring word deur skerp sonlig en ’n vlug keramiek- eende teen die muur.
    Op die stoep saam met sy neef, ’n groot man met groot hande en ’n hoed wat te skuins vorentoe op sy kop sit, kyk hy uit op ’n toneel wat soos ’n prentjie is uit die verlede: die boord en die populierbos langs die spruit waar ’n otter geboer het.
    En die katjiepiering staan nog in sy beskutte hoek langs die stoeptrappe. Dit is verstok en teruggesnoei en dit blom nie meer so welig nie, sê sy neef. Geplant deur sy ouma aan moederskant staan die gekoesterde struik met sy jaarlikse wasblomme en sy delikate walmende geur soos ’n siklus van herinnering aan vroue, die matriargale erfenis deur drie geslagte wat op die grafstene in die familiebegraafplaas uitgegrafeer is.

Die volgende oggend loop hy op die werf rond. Die vaal rypdood grasperk en die kaal vrugtebome in die boord, alles glinster van die verlede in die winterson.
    Naby die beeshek staan die ry bloekombome, massiewe stamme diep geanker in die harde grond. Uit hul hoë takke, buite bereik van ’n windbuks, weerklink steeds die skril geroep van rooioog tortelduiwe met sy klank van Afrika.
    Hier was die ronde sinkdam waar Piet vir Bonaparte, die hings, gebring het om te suip. Na die eerste lang teug lig die pragdier sy kop vinnig op, laat die water silwer oor die oppervlak spat, en spits sy ore na die verte asof hy iets daar bespeur.
    Dan volg hy ’n byna onsigbare paadjie wat lei na die ou klipmuurstal wat soos ’n tempel was vir sy aanbidding. Wanneer jy die deur oopmaak trap die perde op stommelende hoewe en kyk na jou met blink oë uit die skemerte. En Piet met roskam, borsel, skaapvelletjie en sekel, was ’n soort priester gehul in ’n wierook van salpeter en hooi.
    Nou fladder daar bont duiwe uit by ’n deur wat aan sy skaniere hang.

In die laat agtermiddag word ’n perd vir hom opgesaal. Dis sy neef se ryperd, ’n goedgeaarde merrie sonder streke en met baie Arabier in haar — kyk die kop en die sagte oë. En Piet herleef wanneer sy seun, Kleinpiet, die perd vir hom bring en breed glimlag, asof hy bewus is van ’n kringloop wat hom afspeel.
    Sy neef staan besorg en toekyk: Ou neef, is jy sterk genoeg om te ry?
Soos ’n jockey — die dokters doen nie meer X-strale op my nie, hulle hou my sommer teen die lig ...

Hy het lanklaas perd gery. Aan die begin die onsekerheid en wantroue. Maar geleidelik kom daar aansluiting deur die teuels in sy hande, die aanraking van dy en knie; en toe sy oorgaan na ’n trippeldraf tel hy wiegend in die stiebeuels haar ritme op. Dan gee hy skiet na ’n gladde galop wat hom nog stewiger koppel aan haar krag. En sy tengerigheid word gevoed soos deur ’n opwelling van sy jeug, ’n beswering van die dood.

Ruiter en perd word klein oor die deinende vlakte. Die sneeubedekte Malutis lê na regs op die horison, en agter hulle in die verte lê Perdekuil met sy vreemde bloekoms om hom geskaar.
    Sy perd stap nou met die fyn ritmiese grasie van haar ras — kopspelend en met ’n beteulde uitgelatenheid. En op daardie oomblik, in die laat wintermiddag met ’n son wat vinnig sak en met ’n skerp ysigheid uit die rigting van die berge, is dit nie ’n dreigende toekoms wat by hom saak maak nie. Hy voel geen vrees vir die dood nie — net ’n brandende nostalgie vir die lewe.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.