SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Petra MüllerTerugvoer deur Petra Müller

Eerste verslag

Grys het duisend kleure deur Manie Groenewald
Laaste besoek aan Perdekuil deur T F Naudé
Vlug deur Hilde Nel
Anderkant die draad deur Janie Smit
Offerblomme vir ’n heks deur Nanette van Rooyen

Grys het duisend kleure deur Manie Groenewald

Die verhaal wek by my verskillende emosies: teenstrydige reaksies. Die storie raak baie diep sake aan. Die skrywer beweeg ver héén: buite die gebied van die gewone. Hy waag dit in die newels in. Sy verhaal is ’n fabulasie waardéúr die onsienlike wil beweeg, en waarín die onhoorbare wil opklink. Dit is moeilike werk om te deurskou, en kan nie op die gewone manier benader word nie.
Die eerste voortreflikheid van die verhaal is dat dit in twee-en-’n-half-paragrawe ’n volkome, en ’n volkome bevredigende portret van die newelland lewer, en die leser daarheen meevoer. Dit is ’n volledige plasing van die anderwêreldlike binne die gewone werklikheid: ’n tuiste vir die binnelewe van die verhaal.
Dit gaan hier oor uiterlikhede en innerlikhede.

  1. Paragraaf: “Maar hy bly staan ...” ’n Lieflike set-piece-beskrywing van moeras: enige moeras, van Beowolf af vorentoe. Let op dat die moeras met sy bygeleë miasma omtrent altyd die setel is van die problematiese vroulike aspek van die siel van ’n man. Ons is hier in die diep dinge in, die wêreld van dwaallig, illusie, dwaalgees, diffusie en die fata morgana — die opgeefsel.
  2. verskyn dan ook. Sy is saamgestel uit al die bekende aspekte van die verwonde vrouesiel: outisme, stomte, ekstremiteit, seksuele ambivalensie, gevaar. Kortom, die moeras. (Sien Beowolf, miskien in Seamus Heany se briljante nuwe vertaling.)
  3. diep goed, hierdie.
  4. skrywer het hierdie dinge op ’n “jeugdige” manier aangepak. Daarmee bedoel ek nie dat hy dit op ’n onvolkome of ondoenlike manier aangepak het nie. Hy het, om mee te begin, dit aangepak, en daarmee die gevaarlike reis na die oervroulike onderneem. Newels dryf daardeur en wis onsekerhede uit.
  5. newel wat my hinder, is dat daar ’n deurslaggewende verandering kom in die toestand van hierdie ten-dode-opgeskrewe vrouesiel. Sy maak die algemene regsomkeer waarheen die verhaal beweeg. Maar die verhaal self bied nie genoeg getuienis vir die leser om dit te kan aanvaar nie. Dit het te doen met haar stomte, en haar vermoë om uiteindelik te kan praat.
  6. Reël: “... aaklig en rou soos dit net kan kom van stembande wat nooit gebruik word nie.” Ek steek vas by hierdie uitspraak. Kan dit? Kan stembande wat nooit gebruik word nie, klanke voortbring? En wát is dit in haar wat die groot verandering bring: doodgewoon die skok van die likkewaan se verskyning?
  7. Hoewel ek die likkewaan as simbool van die erupsie van onbewuste magte aanvaar, is sy verskyning tog ’n deus ex machina. Is hierdie verhaal geplaas in die half-trope, waar newels tog wel vergader in holtes en lank bedags bly lê, en waar ’n mens likkewane kan verwag? Die groot woudbosgebied van Mpumalanga? Miskien kan die skrywer iets van die tropiese inbring, van die tóégevoudheid tussen broeiende heuwels.
  8. verwysing na die pampasveld is verwarrend.
  9. Die groet-oomblik aan die einde is aangrypend.
  10. Daar is ’n aantal uitdrukkings wat vir my afgeleef en oorgebruik voel: “... word ’n illusie ...”; “... toenemende haas ...”; “Opnuut is hy bewus van sy ongedurigheid met die lewe ...”; “ ’n goeie woord gehad ...”; “Sy pa se relaas ...”; “... geykte woordeskat ... ”; “sit in die hof gevries”. Hulle val op juis omdat die skrywer op ander plekke so wonderlik insiggewend en evokatief kan skryf. Hulle moet maar net weggewerk of herbedink word. My gevoel is dat ’n mens juis, in ’n hooggestemde stuk soos hierdie, alle onnodige retories-klinkende frases moet vermy.
  11. die estetiese aspek aanbetref, dink ek dit moet aangedui word dat pointillis tot vandag ’n baie lewende skildertradisie is, en dat dit juis vandag, in die eeu van meervoudige sigmoontlikhede, nog altyd vernaam is. Geen kunsonderwyser kan dit eenvoudig afmaak nie. Dit ís juis die verstippeling van werklikheid — waaroor die kortverhaal gaan.
Dit mag dalk klink asof ek onnodig veel kritiek op die verhaal het. Ek wil dit nie onnodig kritiseer nie: ek wil dit heeltemal regverdiglik aanprys — as ’n geweldig verreikende ambisieuse, uiters ongewone “venture”. Dit is ’n fantasma, ’n soektog na die fantoom.
    Ek vra dat die skrywer nóg meer aandag aan sy skepping gee as wat hy reeds gedoen het. Met so ’n soort storie is ’n mens nooit eintlik klaar nie.

boontoe

Laaste besoek aan Perdekuil deur T F Naudé

Ek is entoesiasties oor hierdie verhaal — baie entoesiasties. T F Naudé is ’n gebore kortverhaalskrywer.
    Ek het lank laas so ’n evokatiewe eerste paragraaf gelees: dit plaas jou nie net onmiddellik in die middel van die situasie nie, maar ook in die hart van die problematiek — en dit doen dit met ’n pragtige poëtiese ingreep in die tweede sin.        Dit is ryk, maar volkome beheerste gegewens, en elke mededeling doen sy werk op sy plek ten behoewe van die geheel van die verhaal — ’n kort verhaal wat voor jou oë uitgroei na ’n omvattende en aangrypende geheel.
    Daar is in die stuk niks wat onnodig is nie, niks wat onderbeklemtoon is nie, en niks wat betekenisvermorsend is nie. Ek wens die skrywer geluk.
    Hede en herinnering word pragtig vermeng. Die perd-motief word van die begin af emotief opgeroep. Die hings as simbool van die lewensdrif wat nog steeds in hierdie man bestaan, is pragtig gekies. Die uiteindelike rit, met sy aangrypende terminale bevestiging van lewe, is ’n werklike gróót oomblik.
    Ken die skrywer die kortverhale van Izaac Babel, die Rus? Babel kry hierdie soort ding reg met sy oorlogstukke: ’n intense blik op ’n klein werklikheid wat oor die hele landskap uitrek soos ’n mens se skaduwee as die son opkom in die oggend.
    Die skrywer verstaan die kuns van oproeping. ’n Kosbare gawe, want dan kan jy jou woorde kortsny, en dan ontstaan daar die noodsaaklike spanning.
    Ek wys op ’n paar kleiner stylgoetertjies.

  1. Reël: “Sy herinnering van daardie tyd ...” Maak nuwe paragraaf by “Sy”. Laat die sin alleen staan. As ’n mens met besonder ryk sinne werk, moet jy hulle ’n bietjie oopmaak dat hulle kan asemhaal.
  2. Reël: “ ... die ontroering van ’n klip kraalmuur ...” Semantiese probleem. Lees die sin weer: “die ontroering” word nie tuisgebring nie. Dit hang daar in die lug.
  3. Reël: “En toe hy die dag daar aankom ...” Haal “broos” uit. Moenie ’n mooi sin bederf met ’n onnodige woord nie, veral nie een met ’n vleugie van die estetiese daaraan nie. Een van die mooi dinge van die verhaal is dat dit, hoewel met ’n sterk lading van die poëties-ingedigte, tog vierkantig in die gewone lewe staan, en dit kan beskryf. Die skrywer het nie die woord “broos” nodig nie.
  4. Reël: “Geplant deur sy ouma aan moederskant ...”’n Onmoontlike sin, wat vier kante toe probeer raakvat. Lees hardop, dis onverstaanbaar. Maak reg.
  5. Skrap “vaal” in reël: “Die vaal rypdood grasperk ...” Die rypdood gras is vaal. Onnodig om te sê. Overkill.
  6. Reël: “En Piet met roskam ...” Die skrywer kry hierdie piëteit-ding pragtig reg: toewyding, aanbidding en als. Ek wou juis sê hoe goed die woord Perdekuil ook hier funksioneer. Dit neem jou reguit in die dieptes in.
  7. Reël: “Hy voel geen vrees vir die dood nie ...” ’n Kunsgreep.
Ek het niks verder oor die kortverhaal te sê nie; die skrywer moet maar meer skryf dat ons nog meer jêm op sy brood smeer; hy verdien dit.

boontoe

Vlug deur Hilde Nel

“Vlug” is ’n trefseker verhaal wat afspeel in aksie-oor-tyd: iets wat nie maklik is om reg te kry nie. Die spanning verslap nie vir een oomblik nie, en is nooit geforseerd nie. Die stadige omkeer van die rolle, ’n waarlik oortuigende vormwisseling binne die twee mense — waardeur iets nuuts geskep word, ’n nuwe verhouding, deur gevaar, tot geweld — en dan die oplossing van die geweld in ’n ander moontlikheid — dit is die groot vernuf van hierdie verhaal. Dit beïndruk my.
    Die verhaal is gespierd sonder om verknot te wees. Die besonderhede en wendinge van die verhouding word kort en knap maar met die noodsaaklike emosionele oploop én afloop weergegee. Dit “haal asem” — m.a.w. daar is lewe in, en die leser kan aan daardie lewe deel.
    Die verhaal is bydertyds, maar ook eintlik tydeloos. Dit kan op enige plek op aarde afspeel.
    Dis ’n besonder helder verhaal: duidelik uitgeprent.
    Om mee te begin, ’n baie knap invalsparagraaf. Uiters subtiel is die suksesvolle wegvlug van die voël aan die begin, veral ook deur die opsetlike verwarring geskep deur die gebruik van die anonieme “hom”. Later, by die herlees van die verhaal, sal die leser besef dat die eerste paragraaf ook ’n ironiese kommentaar is vir die res — want die voëldier is die enigste een in die verhaal wat gaan ontsnap. Sowel die meisie as die man gaan in hul nuutgevonde situasie verstrik word.
    ’n Sterk spanningskeppende, slim truuk — die waarmerk van ’n toegepaste skrywersverbeelding.

  1. Daar is een stylprobleem wat opval. Wanneer die skryfster vinnige aksie wil uitbeeld, maak sy te veel gebruik van naasmekaargestelde aksiefragmente wat deur ’n komma in die sin gebind word. As dit te veel gebruik word, skort dit die vloei van die mededeling op. Dis ’n baie “manlike” manier van beskryf, en dit kan met groot vrug gebruik word, maar nie te veel nie. Die teks word stamperig op sulke plekke.
  2. Skrap “maar seker” in die reël: “ ... sien hoe die balaklawa-man haar stadig maar seker inhaal.” Vermy betekenislose woorde in ’n verhaal waar elke woord tel, en moet wérk vir die geheelbeweging.
  3. Reël: “Die momentum van die vinnige spoed ...” Hier is fout. Spoed is per definisie vinnig.
  4. Reël: “Haar selfbeheersing is naby breekpunt.” Vermy dooie mededelings bestaande uit dooie woorde. Alle woorde in ’n kortverhaal moet kan oproep. Evokeer. In hierdie sin is geen evokasie nie.
  5. Paragrawe: “’Ek moet by die grens kom ... ’” en “’Jy sal niks oorkom ... ’” In ’n aksieverhaal mag die vermoë van ’n leser om die stof te kan interpreteer nooit stommel nie. Sê duidelik vir die leser wié sê wát, en wánneer, tensy jy obfuskasie as ’n aksiefaktor wil gebruik, wat hier nie die geval is nie.
  6. Reël: “Daar is geen manier ...” Bekyk dié sin goed.
  7. Reël: “Unieke area vir iemand ...” “Area” is so vreeslik formeel. Dit pas by die man, maar die by die res nie: gebruik “omgewing”.
Die vraagstellings is maar kleinighede. Belangrik is dat die skryfster dit pragtig reggekry het om die osmose van onwelkome gevoel tussen die twee hoofpersonasies uit te beeld. Dit bring die pikanterie van ’n gewone menslike situasie reg binne die gebied van bedoelde geweld, en skep spanning op dié manier.
    Daar kom meer vloei in die later dele van die storie.
    ’n Verhaal wat nie net vernuftig is nie, maar ook oulik.

boontoe

Anderkant die draad deur Janie Smit

’n Suksesvolle situasieverhaal, onderskei deur fyn spesifieke besonderhede, en ’n deurwerkte kennis van die materiaal.
    Die skryfster het ’n goeie begrip van die brute — die brutaliteit, die animaliteit van ontmenslikte mense. Daarteenoor wiek die duiwe pragtig deur die verhaal — werklike oplugting.
    Ek het nie veel te sê oor die storie nie; die stuk het homself volkome klaar déúrgeskryf. Daar is niks wat makeer nie, alles is teenwoordig.
    Ook die emotiewe lading van die stuk is volgeskryf en afgelewer aan die leser.

Hier is ’n paar kleiner puntjies:

  1. Skrap “Grootmense se skinner is onweerstaanbaar vir kinders.” Moet nóóit te veel verduidelik nie. Die “gespits” het mos reeds gesê wat aangaan. Wat ’n leser self kan ontdek in ’n verhaal, bind hom aan die verhaal. Wat vir hom voorgesê word, is iemand anders se ontdekking: dit behoort nie meer tot die nuwe leser nie.
  2. Paragraaf: “Daar roer iets by die bure ...” Ek wil hier ’n voorstel maak. Suzie se wrewel teenoor die duiwe is baie goed uitgebeeld, en heeltemal verstaanbaar. Maar ek wil tog by die skryfster pleit dat sy ’n oomblik van duifskoonheid in die verhaal inbring. Dat die weerlose skoonheid van die duiwe, in vlug of wanneer hulle huis toe kom, óók uitgebeeld word. Die verhaal is redelik straf; dit het die teenwoordigheid van onverantwoordbare skoonheid, die asem van die lewe self, nodig.
  3. Ervaring en observasie bestaan uit teenstrydighede; daarin lê die rykheid van die lewe en van letterkunde. Daar is geen rede waarom Suzie nie die duiwe sal haat, en terselfdertyd teen haar sin, ook moet liefhê nie — soos haar pa.
  4. Paragraaf: “Ek kyk nog so na Smalstraat ...” Moet Piet, as die effektiewe bewegende faktor van die plot, nie ’n bietjie duideliker na vore kom nie — en wel ’n bietjie vroeër in die verhaal? Hy verteenwoordig ook ’n teenstrydigheid. Op sy brute manier is hy aangetrokke tot skoonheid en liefheid: tot die meisie en tot die duiwe. Die duiwe sal hy doodmaak omdat hy hulle nie kan besit nie. Die meisie sal hy lastig val omdat hy haar moet hê en nie kan kry nie. Dit is dus ’n verhaal van verlange. Almal in die verhaal ontbeer iets, en verlang daarna. Van hulle almal is Piet uiteindelik die aktiveerder van sake, maar daar word te min aandag aan hom geskenk.
  5. Sywaartse vraag: hoe kom dit dat die mes daar bly lê in die brandplek: het hy dit daar gelos vir haar om te vind?
  6. Reëls: “Velle wat van trokke afval ... koperpype vir Pa.” Die inligting is mooi genoeg, maar dit staan hier op die verkeerde plek.
  7. Reëls: “Hy het nooit saam met sy broers gespeel nie.” en “Piet het voor die pavement gesit ...” Die tussendeur-gebruik van die verlede tyd dui aan dat daar iets verkeerd loop met die vloei van die storie. Kyk weer.
  8. Reël: “Speel seker wegkruipertjie.” Kyk weer — daar word te vinnig oor die oomblik heen weggeskeer. Iets meer moet gesê word.
Die eindsin van die verhaal is baie wonderlik. Dit vat die storie ’n hele ent verder in die onsegbare in, en vereenselwig haar met haar pa se duif-hartstog en die metamorfoses wat op mense wag.
    Die storie is baie voltooid. Dit is die werk van ’n selfversekerde, selfbewuste skryfster wat al ’n hele ent gevorder het op haar pad, en nog veel verder sal gaan.

boontoe

Offerblomme vir ’n heks deur Nanette van Rooyen

’n Skryfster wat dit klaarblyklik goed verstaan om met die verskriklikheid om te gaan. Sy laat haar nie daardeur oorweldig nie; sy oorweldig dit.
    Daar is baie verskuilde geweld in dié stuk. Dit lóóp op die verskuildheid van geweld. Maar die skryfster gaan subtiel te werk. Die agtergrondsverhaal word met die fynste moontlike vegies aangedui; niks word uitgesê nie, want dan sou dit ’n banale seduksiestorie word.
    Ek dink dis baie oulik dat Phoebe se ouderdom nie aangegee word nie. Ook haar naam is besonder goed gekies: iets vreemds en fabuleus hier, asof ons te doen het met ’n meisiekind wat nog nie veel van die werklikheid weet nie — soos die storie sal openbaar.
    (Die naam Koggelkloof vind ek nie goed nie: dis te opvallend beduierig in die verband van die verhaal; dit wil vir die leser voorsê wat om te vermoed pleks van dit subtiel te hou, soos in die res van die relaas.)
    Die skryfster weet hoe om haar inligting te monster. Sy doen dit deur konsentrasie, en veral ook deur ’n volgehoue ritmiese verloop van paragraaf tot paragraaf, waarin die drade van die storie netjies opgetel en saamgesnoer word.
    Die stuk hou jou aandag juis omdat dit so verlokkend, maar suinig, meedeel aan besonderhede. Die leser moet die storie lees soos ’n hond wat sy neus naby die reukspoor van die grond hou. Ook word die misterieuse element mooi ingevoer met die wegraak van die hondjie: “absence and suffering go together”.
    Die titel van die verhaal is te opvallend. Dit gee ook die verkeerde inligting aan die leser deur, want die oumens in die kloof is nie ’n heks nie, en die hele bedoeling van die laaste paar woorde van die verhaal is dat die kind tot haar eie, verskriklike kennis gekom het; sy wéét nou dat jy betaal vir sonde. Sy is nou met skuld gestempel, en nie deur die ouvrou nie, maar deur haar eie sugtende, offerbringende ma. (’n Baie pragtige skepping, dié moeder. Die karakteruitbeelding in die stuk is baie noukeurig: dit word reggekry deur die aanwending van klein, klein vegies van beskrywing, klein besonderhede wat gemonster word.)
    Ek sou die stuk gewoon “Offerblomme” noem. Dit gooi die moontlikhede vir interpretasie veel verder oop.

’n Paar kleinighede:

  1. Reël: “ ... oorkant my huis gevind.” Die skryfster gebruik soms boekerige woorde, bv. “vind”. Waarom nie “kry” nie? Ek het ook ’n probleem met “dragtig”. Het kinders van daardie tyd dié woord gebruik? Ek dink nie so nie. “Gaan kleintjies kry” of “moet kleintjies kry” was die manier van sê. Ek dink laasgenoemde sou binne die konteks van die verhaal ook baie sterker wees.
  2. die woord “vreemde”. Dis ’n soort vae modewoord.
  3. Die “motgevrete gat in Ma se linne” is ’n te beperkende vergelyking, ná die vorige frase. Ek sou dit vermy. Dit verg te veel aandag op, en lei die verbeelding in der waarheid wég van die eintlike mededeling.

’n Baie knap verhaal, stylseker, onderbeklemtoon, vol sterk maar ingehoue emosie. Goeie werk.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.