SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 1:

Hennie Aucamp se eerste verslag
André P Brink se eerste verslag

Lees die tweede weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Gisteraand

Susan Samuel

Toe hy uitstorm, slaan hy die deur so hard agter hom toe dat sy vir ’n oomblik verwag hy gaan terugkom en om verskoning vra daarvoor. Maar buite in die gang klap sy voetstappe en die veiligheidshek by die voorportaal word met nét so ’n lawaai toegegooi.
    Die Huil breek so vinnig en skielik oor haar dat haar gewoonlik branddroë oë koel ronddobber in haar kop. Sy kyk na die goed ingerigte woonstel rondom haar en wonder hoeveel keer sy dit nog so deur die trane gaan aanskou. Sy wonder dit altyd wanneer sy huil. Die hikke kraak uit haar bors en bons dramaties teen die stil kamermure.
    Dis net mooi donker buite en die lug begin nou eers afkoel.
    Dan hou sy net so op met huil. Sy verbeel haar hy kom terug en gooi die deur oop en vertel haar woedend dat hy dit nie kan vát om haar ongelukkig te sien nie. Dat hulle die storie nóú moet uitsorteer, want hy kan nie konsentreer as dinge nie lekker is by die huis nie. Sy sal op die bed sit en hy sal haar hare uit haar oë lig en agter haar ore indruk en hy sal haar trane afvee met sy groot growwe duim en sê dat sy werk maar kan wag, dat hy vanaand by die huis sal bly.
    Maar die gang bly stil en sy weet die werkstuk moet môre in en dat hy ten minste deur die nag sal moet werk om dit ingelewer te kry — hy hét dit vroeër mooi aan haar verduidelik — en in elk geval, as hy eers op sy werk konsentreer, gee hy nie ’n fok om hoe dinge rondom hom is en wíe gelukkig is of nie. Daar is niemand wat homself so kan afsny soos hý nie — en hy doen dit elke keer met soveel selfvoldane minagting.
    Sy staan op. Haar badwater is al seker yskoud. Terugskouend gesien was die kamerjas miskien ’n bad move. Alhoewel dit nogals ’n sexy silky kamerjas is en alles, lyk sy seker soos ’n nagging housewife wanneer sy met haar los hare en brillose oë met hom stry. Dis net in flieks waar mans skielik oorweldig word deur liefde wanneer hulle hul vrouens só sien. Of in boeke. Dit werk nie in híerdie flat nie.
    God, sy’s net een-en-twintig jaar oud. ’n Mens behoort mos nie nou al agterkom hoe die res van jou lewe gaan wees nie. En ’n mens behoort veral nie te weet dat só ’n lewe verkiesliker is as ’n lewe sónder hom nie!
    Sy klim in die koue water en gaan lê onmiddellik plat op haar rug met haar bene effens gekruis. Die koue loop by haar ore in en sy ril.
    Sy sit regop en maak die warmwaterkraan oop. Dis eers koud, maar word geleidelik warm. Sy voel hoe die warm water by haar voete opdam en stadig opbeweeg met haar bene, heupe, onder haar boude in, haar rug en arms, en uiteindelik haar koue nek. Haar kop dobber soos ’n balletjie op die water. Toe die eerste warm water haar ore bereik, brand haar voete so dat sy onmiddellik regop sit en die kraan toemaak. Die water is sentimeters van die bokant van die badrand af.
    Sy voel asof sy dryf in iets groters as ’n bad in ’n flat op ’n dorp, maar kleiner as ’n baarmoeder. Miskien is dit ‘Jorik se Baaierd’ hierdie. Dit was nog altyd vir haar so ’n mooi woord dat dit lekker is om dit op te eis vir ’n experience van haar eie. Háár baaierd.
    Miskien moet sy net hier uit. Sy moet nou gaan mooi aantrek en grimeer en dan sommer na ’n pub of ’n ding gaan. Verbeel nou sy kom daar aan en tel een of ander dude op en bring hom huis toe, na die flat toe en dan maak hulle liefde, sommer sulke lelike papperige morserige liefde dat die hele flat daarna ruik. Jirre, dan sal die kak darem waai! Wanneer hy huis toe kom, sy wonnerlike werkstuk waarvan sy al so baie gehoor het uiteindelik klaargetik en geprint, sal al die geordende gedagtes in sy kop sommer uitmekaar skiet wanneer hy inkom en haar so op die bed sien lê. Dan moet sy aan die slaap wees en hy moet haar so sien lê en dan, al is hy hoe moeg, moet hy langs haar kom lê en haar vashou en as sy begin huil, moet hy sê ek verstaan ek verstaan. Hy moet laat sy alles uitpraat en hy moet die hele tyd luister en dan uiteindelik aan die slaap raak sonder om haar een keer te los.
    Sy hoor skielik sleutels in die veiligheidshek en haar maag gee so ’n ruk dat sy skoon naar is, maar die voetstappe verdwyn in ’n ander rigting en êrens in die blok begin iemand musiek speel.
    Hy’s gatvol vir haar, sy weet dit. Sy’t netnou so ’n scene gemaak dat geen regdenkende mens daarna van plan kan wees om die res van sy lewe met haar te spandeer nie. En môreoggend word sy wakker en dan voel sy weer te sleg om té vriendelik te wees voordat hulle opstaan en die hele dag gaan sy net so kak voel en hy gaan die hele tyd net wil werk of iets doen buite die flat. Sekerlik om al haar opmaakpogings te vermy, sy weet dit.
    Die idee van die ou in die pub was sommer simpel gewees. In elk geval het die helfte van die mensdom deesdae AIDS wat sulke uitstappies lewensgevaarlik maak.
    Sy vat die seep en maak ’n dik skuim op haar bene en onder haar arms. Sy wonder hoe dit moet voel om te weet jou bloed is vuil met iets. Kyk jy na die helder rooi en is jy verbaas oordat dit so rooi is, of lyk dit al klaar nie meer vir jou soos rooi nie, maar eerder burgundy of wynrooi?
    Háár bloed is darem skoon, sy weet dit. Sy’t nog nooit saam met iemand anders geslaap nie en hy’t op sy dag ook nou nie só vreeslik rondgenaai nie. Sy maak ’n klein snytjie op haar arm met die skeermes. Bloedrooi bloed sypel stilletjies uit en vermeng met die klein haartjies op haar arm.
    Verbeel nou hy kom by die huis en daar lê sy bleek in die bad met die water wat so ’n skoon dun rooi kleur is. Hy raak nog naar ook van bloed, maar hy sal haar naam roep, ’n kreet gee, en nader storm, sy tas met boeke net so in die deur los en hy sal haar uittel en agterkom dat sy nog lewend is en dan sal hy haar met komberse toedraai en soos ’n veertjie oor sy skouer lig en haar afdra kar toe en hy sal oor en oor jammer sê oor hy so van haar vergeet het en hy sal selfs huil.
    Maar sy weet sy’s te swaar en hy sal tien teen een met haar die trappe afval, indien hy nie heeltemal uitgepass het nie. En in elk geval het hulle nie ’n kar nie.
    Sy maak nog ’n snytjie in haar arm. Die bloed loop af en gaan lê in die ander snytjie voordat dit opdam en oorloop en in die bad begin drup.
    Sy’t êrens gehoor dat ’n mens jou pols vertikaal moet sny, anders soek jy net aandag. Miskien moet sy sulke skuins strepe sny, sodat dit darem nie heeltemal lyk soos aandagsoekery nie, maar ook dat sy darem net nie doodgaan nie. Net laat hy skrik. Die jirre weet, hy verdien dit.
    Sy kyk op haar horlosie langs die bad. Halftwaalf. Sy lê al vir meer as ’n uur in die bad. Sy kyk na haar vingers. Dit lyk soos miniatuur berge en dale. En oral is my god.
    Hy sal sekerlik so eenuur se kant terugkom so sy kan nie nou al iets doen nie. Sy besluit om te wag tot halfeen. Hoe lank vat dit vir iemand om leeg te loop? Met kleinerige snytjies sal dit seker so twee ure vat. So ’n halfuur is genoeg tyd dat hy nie eers hospitaal toe sal hoef te hardloop met haar nie.
    Sy kan nie glo sy dink aan so iets nie, maar hoe meer sy daaroor wonder, hoe interessanter word die idee. Dis ook nie só outrageous nie en in elk geval taamlik veilig. Wag tot halfeen.
    Die water raak al hoe kouer, maar sy wil wag vir die regte tyd voordat sy weer warm water intap. Sy kan ook nou nie so baie water mors nie. Laas maand se rekening is juis hoër noudat dit koeler begin raak.
    Halfeen breek uiteindelik aan en sy is so opgewonde dat sy skaars kan stilsit. Sy vat die lem uit sy skeermes uit — dis aansienlik skerper — en maak ’n piepklein snytjie skuins oor haar pols. Niks noemenswaardigs gebeur nie. Nie eers ’n bloeddruppel nie. Seker van die koue. Sy maak die snytjie effens groter. Steeds niks. Of course. Sy moet obviously oor die aar self sny. Die skuins streep verleng sy effens sodat dit oor die aar kan gaan. Nou die ander pols. Die eerste een bloei nou beter, en sy maak omtrent dieselfde groot sny op die ander pols. Nou moet sy seker net wag. Sy voel skielik skuldig en skrikkerig, maar dan dink sy aan alles wat hy gesê het en en die afkeer waarmee hy gepraat het toe hy gesê het hy hoop nog altyd dat dit ’n fase is waaruit sy sal groei. Hy dink in elk geval nou fôkol van haar, dit kan sy sien. Hy wonder seker hoe hy in die situasie van flat en vrou en moan moan moan beland het.
    Sy laat ’n bietjie van die koue water uitloop en daarmee saam ’n bietjie van die bloed, wat die bad so ’n ligte rooi kleur begin gee. Dan tap sy nuwe skoon warm water in en voel weer hoe dit soos ’n kombers oor haar spoel en vasdraai rondom die twee klein snytjies in haar arms. Sy voel vir die eerste keer ’n effense klopping daar en wonder of die snye nie te groot was nie, maar die water maak haar so rustig en dis al amper eenuur. Sy wag.
    Sy voel hoe sy vaak word en die slaap glip soos die warm water in en uit rondom haar lyf. Net haar neus en oë steek bokant die water uit en sy kyk af na haar maag, tieties en knieknoppe wat net-net onder die water wegraak. Haar oë val toe. Die pienk van haar ooglede flikker flikker en sy wonder of dit al besig is om leeg te loop. Sal haar ooglede dan wit word van binnekant? Sy luister en luister, maar die veiligheidshek bly toe. Vir veiligheid.
    Hy’s laat. Hy werk nie gewoonlik so laat nie. Wat van môre se klasse en als. Haar gedagtes begin dwaal en sy dink aan wat hulle môre in die klas gaan sê as hulle hoor sy is in die hospitaal. Sensitief soos wat hy is sal hy seker vir niemand vertel dat sy haar polse gesny het nie. Dis ook seker goed so.
    Sy wonder of hy nou ná die tyd by haar gaan bly en of hy gaan besluit dat hy nie ’n mal chick wil hê nie. Hy beter nie so besluit nie, want hy’s die poepôl wat alles begin het. Sy ken hom egter goed en weet dat hy skuldig genoeg gaan voel dat hy sal bly en in elk geval, as hy eers weet sy voel só ernstig oor die saak en dat sy selfs bereid is om dood te gaan vir sy aandag, sal hy mos besef dat niemand op aarde ooit so lief was of is soos sy nie en hy sal besef hoe baie liefde sy het om te gee en dat sy eintlik maar net sy bewondering en respek en liefde soek. Dis mooi gestel, sy weet. Sy moet tog onthou om dit neer te skryf.
    Haar kop voel swaar en haar oë voel asof dit teruggesak het in haar kop. Sy skrik effens toe sy haar oë oopmaak en die rooi water sien. Dis al amper kwart voor twee!
    Hy sit seker en gesels met een of ander meisie wat saam met hom werk. Soos wat hy altyd met my gesels het, dink sy hartseer. Voordat hy nog enigiets geweet het van haar en net bewondering getoon het vir haar opinies en intelligensie, vir haar eie unieke kleredrag. Toe hy nie geweet het hoe lyk haar lyf nie, toe hy nie geweet het dat sy kielierig is nie, toe hy nog vreemd was aan haar reuk. Toe die idee van haar wat op ’n toilet sit nie by hom opgekom het nie. Die klank van haar orgasmes was heerlik onbekend. Om swartkoppies uit haar ore uit te haal was ’n daad ondenkbaar.
    Maar dis nou anders. Hy gesels oor ander en wonder oor ander, want hy weet tog alles van haar.
    Sy sukkel om haar oë oop te kry. Sy weet dat daar nou iets nie lekker is nie en sy voel so moeg en haar polse brand nou vreeslik.
    Maar sy wag vir hom op in te kom. Om met ’n kreet langs haar neer te val en trane wat oor sy wange loop. Oor en oor sal hy sê hoe lief hy haar het en hy sal die hele tyd praat en sy onderdrukkende stiltes sal vereers heeltemal verdwyn.
    Die veiligheidshek bly toe. Die badkamer is skielik koud. Haar wange is koud. Die water is nou nie meer deurskynend nie, maar helder rooi soos purper. Al is jy skarlakenrooi van sonde, hy sal jou wit was soos sneeu. Sy wil lag. Sy lê dan klaar in water en seep. En sy’s steeds rooi. Hy sal haar maar met iets anders moet was. Miskien balsem. Soos met mummies. Of soos met Jesus.
    Dis swaar. Alles is swaar. Sy wil nou net slaap. Hy sal nou huis toe kom. Dis al halfdrie. Hy bly nooit so lank weg nie. Sy hoor die veiligheidshek. Kom die voetstappe nader? Dit gaan verder. Dis laat. Hy sal nou kom. Alles is nog okey. Hy gaan groot skrik. Hy skrik maklik. Moenie skrik nie, my lief. Moenie skrik nie, my engel. Kyk, ek was rooi soos bloed, nou’s ek wit soos sneeu. Al my sondes afgewas. Al my sondes vergewe. Jy sal ook. Vergewe. Jy sal ook ... vergewe word. Ek dryf. In my baaierd. My eie baaierd. Net myne. Kom soek my daar. Kom haal my daar ...

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.