SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

André P BrinkTerugvoering deur André P Brink

Eerste verslag

Ons versameling deur Merle Grace
Lig deur Jaco Jacobs
Kranskop deur François Loots
Gisteraand deur Susan Samuel
Die roostuin deur Hanni van den Heever

Ons versameling deur Merle Grace

Dit verg konsentrasie om die gegewe van ’n hele verhaal — in hierdie geval amper ’n hele lewe — in so ’n kort bestek te konsentreer, en die skryfster verdien lof vir die netjiese organisasie van haar gegewe. Die deurmekaarloop van wat op één dag gebeur het (die opraap en begrawe van die uiltjie se oorblyfsels) met wat ’n gereelde handeling in die verteller en haar sussie se jeug was, is netjies en oortuigend gedoen.
    Die inset is sterk (“Ons het nie geweet nie. Dat my sussie doof is nie.”) — maar ek wonder of dit nie nog sterker kan wees as die onthulling oor die doofheid nie onmiddellik met die intrap al gedoen word nie? As die vreemdeling wat die kind aan die einde terugbring net ’n paar ekstra woorde sê (iets soos: “God, Mevrou, sy staan net daar. Mens sou sê sy hoor niks ...”) sal die slot ’n dubbele lading dra: die onthulling oor die doofheid én die verdieping na ’n menslike insig. Die opening kan dan net die leser pak met die suggestie van “iets” wat skeel, maar sonder om dit uit te spel: Soos: “Ons het toe nog nie geweet nie. Van my sussie nie.” Dan sal daar ook terugwerkend meer betekenis lê in die gebruik van “voel” in plaas van “hoor” in die beskrywing van die waarneming van die lorries. Oor die algemeen is die gebruik van die kindertaal goed volgehou (terwyl die openingsin mens natuurlik daarop bedag maak dat dit ’n terugblik vanuit volwassenheid is); maar dit word m.i. in die tweede paragraaf versteur deur woorde soos “vol opwinding en hartseer” wat opvallend grootmenstaal is. (En van taal gepraat: “plastiese sak” in plaas van “plastieksak” is ergerlik.)
    Die kumulatiewe effek van al die diere wat gedood en dan “gered” en begrawe word, is uitstekend, as ’n soort stadige verweer teen die vernietigende grootmenswêreld. Ek wonder net of die dooie bobbejaan dit nie effens té ver voer nie? Ten eerste is so ’n dier darem groot om deur ’n sesjarige en ’n driejarige begrawe te word; en die verduideliking “... want alles aan hom het ons aan onsself laat dink” is m.i. ook te eksplisiet. As ’n primaat hoegenaamd nodig is, wat dan net van ’n blouapie? En ’n blote verwysing na byvoorbeeld sy “menshandjie” of “kinderhandjie” sou genoeg wees. En ’n laaste vragie: is die tekening wat beskryf word, nie ietwat te “groot” vir ’n driejarige nie ...? Maar dis ’n kleinigheid.
    In sy geheel ’n stuk wat die leser enduit boei en nog lank daarna by jou bly.

boontoe

Lig deur Jaco Jacobs

’n Uitstekende verhaal, vol moontlikhede — nog nie almal verwesenlik nie, maar baie onmiskenbaar dáár. Die manier waarop dit oorslaan van die ietwat komieklike, gemoedelike oor twee ou tantes wat die alledaagse norme van hulle wêreld uitdaag, tot ’n konfrontasie met die onbegryplike en die misterieuse, gryp die leser van vroeg af beet. In die middel neig dit effens tot omslagtigheid (veral met “mooi” beskrywings wat die gang vertraag — vgl die paragraaf oor die “Akkedisse en veldmuise” wat in ’n taamlik moeë taal probeer atmosfeer skep), maar die boeiende aard van die situasie self dra dit deur die driwwe. Die skrywer sou heel eerste met vrug kan werk aan verstewiging van die verhaallyn deur onnodighede weg te snoei. Dan kan die taal self ook opgeknap word: dit mag na ’n outydse hebbelikheid klink, maar ’n skrywer wat nie sy taal van buite en binne beheers nie, is soos ’n pianis wat sy toonlere verwaarloos. (’n Paar voorbeelde: die beeld van “die skelblou lug wat bewe in die hitte is ’n doek waarteen die onmoontlike in die nagure geskilder word” — die IMPLIKASIE hiervan is belangrik, maar die taal en die beeld self is tam; ’n dakliggie wat “braaf” in plaas van “dapper” beur “teen die oneindige duisternis van die Karoonag” skraap ook oor die senuwees; ’n frase soos “vir weke lank” is slordig; ens ...)
    Of Lig werklik die beste titel vir die verhaal is, sou die skrywer oor kon besin. Indien hy daarby bly, mag die motief van lig — wat wel fyn deur die vesels van die verhaal uitgewerk word — dalk ietwat vroeër geplant word?
    Op die realistiese vlak van die storie vra ek my af of die twee oues, wat teen dié tyd klaarblyklik al geoefen is in hul diefstaltegniek, nie vóór die stilhou by die garage al die ligging van die kafee sou bepaal het nie? Die sukses van die hele onderneming hang tog daarvan af: daarom kan hulle nie éérs begin petrol intap en dán kyk of daar ’n kafee is nie.
    Die “liederlike stront” waarin hulle kan beland, ontlok ’n goedkeurende glimlag aan die leser: maar is dit aanvaarbaar dat die uitdrukking verbind word aan die sagsinnige, preutserige ou Grace? Dit klink eerder asof sy hier voorgesê word deur die skrywer, van buite.
    Ek is werklik begeester deur die manier waaroop ’n sort “magies-realistiese” Afrika-dimensie agter die alledaagse situasie onthul word, namate die daglig wyk voor die koms van die nagdonker. Sou dit dálk versterk kon word deur die implikasies van die stories en voorwerpe ietwat meer spesifiek aan die leser te suggereer — verál die “betekenis” van die “kabouterhandjie”? Mens wil — beslis! — niks uitgespel hê nie, maar miskien is dit net-net te vaag. Maar dan, as daar ’n keuse moet wees tussen iets te eksplisiet of volstaan met die vreemde van die oomblik, kies ek enige tyd laasgenoemde. Veral as dit gepaard gaan met ’n effense inkorting van die geheel, dalk met so ’n halfbladsy. Die geheel is in ieder geval iets heel besonders.

boontoe

Kranskop deur François Loots

’n Knap poging om met ’n verwikkelde gegewe te werk: nie net die terugkeer na ’n jeugwêrweld en ’n pa wat jare lank vir die verteller vreemd was nie, maar ook die konfrontasie met die onverwagte feit dat hy ’n halfbroer het wat sy pa by ’n arbeider se vrou verwek het; nog verder gekompliseer deurdat die verteller sowel as jong man en as gay sy verhouding tot hierdie “verlore seun” (nou konstabel) onder die knie moet kry — juis op ’n tydstip dat sy jongste verhouding skeefgeloop het en hy weer na vaste aarde onder sy voete moet soek. Die skrywer het hom dus ’n heel ambisieuse projek ten doel gestel, en hy verdien waardering vir die meestal behendige — ofskoon nogal uitgesponne — wyse waarop hy al die drade van die vertelling hanteer.
    Op die oppervlak gebeur daar min, maar deur ’n behendige greep — die verteller se wete van, en groeiende vrees vir, ’n ontsnapte vermeende moordenaar wat dalk op die plaas mag opdaag — bly die leser gespanne enduit lees. Ek het egter tog ’n bedenking daaroor, omdat hierdie lyn (die waan (?) oor die naderkomende misdadiger) inderwaarheid vals is en niks te doene het met die verhaal se essensiële bemoeienisse (verhouding tussen generasies, terugvind van ’n jeugwêreld, verwerking van ’n mislukte verhouding, hantering van ’n nuwe begeerte, konfrontasie met ’n onbekende halfbroer en ’n vader se vroeëre egbreuk ...) nie. M.a.w. die voortgang van die verhaal as sodanig berus op ’n valse premisse. Dit is inderdaad boeiend genoeg, maar uiteindelik, by die terugblik, verbrokkel dit eerder die geheel as om dit saam te bind. As daar op ’n subtiele manier en miskien op ’n subliminale vlak (sê maar die metaforiese verbintenis van die naderende skelm met die beeld van ’n gewese, verwerpte minnaar wat afrekening eis; of van die verteller se eie jonger self wat hom nou wil vaskeer, ens. ens ...) ’n band tussen die afsonderlike verhaalvlakke gevind kan word, sal dit die geheel aanmerklik verstewig. Veral ook as die verhaal as geheel ingekort kan word: dit is wel die soort verhaal wat ’n baie geleidelike ontplooiing nodig het, maar plek-plek neig dit tog tot langdradigheid (VERAL omdat die spanningslyn tans meer illusie as werklikheid is).
    Die skrywer werk voortreflik met die gestadigde onthulling van die verhaal se vele vlakke (net die aard van die pas-afgelope verhouding bly hinderlik vaag: selfs as die plan net was om dit as ’n “patroon” in die verteller se lewe te vestig en nie te individualiseer nie, verdien dit fyner aandag); en die oproep van Kranskop se atmosfeer (van gister én vandag), die klein daaglikse bedrywighede op die plaas, waaragter soveel groter insigte skuilhou, ensovoorts, skep ’n indruk van outentisiteit wat die leser oortuig.
    Op die vlak van taal en styl, wat VERAL in die elektriese spanningsveld van ’n kortverhaal so ontsettend belangrik is, kan daar nog heelwat afgerond word. Afgesien van foute (“verhoorafgaande” i.p.v. “verhoorafwagtende”, “Verlof was ek skuldig”, “besproeiingsskemas”, “skierlik” ens. ens.), is daar stilistiese lomphede (“ ’n hemp waaronder gym wys”, “Gang af stoot ek die kind in my se kamerdeur oop” ...); veral irriterend is die neiging om dialoog direk te laat volg deur ’n handeling, in plaas van iets soos “sê ek”, “sê hy” ens: “ ‘Ons het die kar gesien,’ hou ’n ander ook ’n lysie uit”; “ ‘Frans?’ raak hy skaars aan my hand” wens ens ens. Dit is werklik ’n hebbelikheid wat die skrywer gerus maar so gou as moontlik kan afskud. Sy verhaal verdien beter. Daar is ook nog te veel tekens van insigte wat te direk uitgespél word (“Ek moes my eie identiteit vind”; “Onseker hoe om die kennis van ’n halfbroer te verwerk ...”) en wat mens herinner aan Henry James se wyse raad: “Do not tell me what is happening, let it happen.”
    Dié voorbeelde is blote aanduidings: die verhaal in sy geheel het ’n vaste hersieningshand nodig — sowel wat styl as vertellyn en die keuse van besonderhede betref. Maar met die belowende gegewe en die onmiskenbare vaardigheid en vermoë wat die skrywer reeds aan die dag lê, behoort mens vorentoe nog heelwat van hom te verwag.

boontoe

Gisteraand deur Susan Samuel

In plaas van staat te maak op ’n uiterlike klimaks, werk hierdie verhaal met ’n geleidelike intensivering en verdigting van die beginsituasie. Dit stel nogal hoë eise aan ’n jong skrywer, en dat dit hier so knap — en byna deurgaans ook so ónsentimenteel — gehanteer is, strek die skryfster tot eer. Miskien sou sy nog ’n sterker effek kan bereik deur die geheel enigsins verder in te kort, sonder om die indruk van geleidelikheid in te boet.
    Volgens die titel val die fokus op wat reeds gebeur het, op gisteraand; terwyl die vertelproses self skerp op die emosionele deurleef daarvan in die HEDE val. Dit werk dan ook besonder goed; maar my indruk is dat die paar pennestrepe waarmee “gisteraand” (en wat daaraan voorafgaan) geteken word, nog verder ingeperk word, maar dan terselfdertyd meer spesifiek en met meer skerpte gehanteer word: ’n oproep van enkele heel spesifieke woorde, die klank van sy stem, die uitdrukking in sy oë, die soort emosionele waarneming wat agterná verdiep. Daarby wonder ek ook of die kursivering van die paar verbeeldingspassasies nodig is? In ’n verhaal wat hoofsaaklik staatmaak op understatement, lyk dié strategie vir my te dramaties. Dit sal nog net so begryplik wees sónder kursivering, terwyl dit bowendien die egaligheid van die hele proses meer oortuigend sal dra.
    ’n Voortreflikheid van die verhaal is die hantering van die vrye indirekte rede, die vloeibare oorskakeling van die stem van die verteller na die binnestem van die protagonis; en die subtiele manier waarop laasgenoemde se ingesteldheid op die WOORD, op TAAL aan die lig kom, verdien lof. Maar juis daarom verg die taal ook deurgaans besondere gevoeligheid: ’n vroeë beeld soos “haar gewoonlik branddroë oë (wat) koel ronddober in haar kop” pla dus die leser; so ook, pas daarna, “Die hikke kraak uit haar bors en bons dramaties teen die stil kamermure.” En die “kreet” wat sy twee keer aan die afwesige minnaar toeskryf, klink darem te literêr: ’n gewone “uitroep” of selfs “skreeu” mag beter werk. En sou “geluid” nie ’n beter woord as “klank” wees om met haar orgasme te verbind nie? Dit kan ’n persoonlike gevoel wees, maar in dié konteks klink “klank” vir my te meganies. (Origens moet ek sê dat die knap gebruik van kru taal in die uitreik na “ ’n experience van haar eie” besonder treffend werk. Dit verskerp juis die essensie van die verhaal: die drang na ’n EIE ruimte, ’n uniekheid wat in en vir die self vrygeveg moet word ... en wat dan, ironies, net deur ’n (onbedoelde) dood verwerf kan word.)
    Ten spyte van ’n effense weekheid soms, veral (maar begryplik) teen die einde, is dit ’n verhaal wat in sy deurvloei van gisteraand na vannag na môre gewis ’n indruk op die leser laat.

boontoe

Die roostuin deur Hannie van den Heever

Die wêreld van die jeug is dankbare verhaalstof; maar ook gevaarlike terrein, omdat dit al soveel keer bewandel is. Die skryfster waag haar hier op ’n gebied waar meesters soos o.a. Katherine Mansfield en Alice Munroe al onsterflike kortverhale gelewer het (en ek sou ook aanbeveel dat Hanni van den Heever wyd in dié literatuur gaan lees om te kyk hoe dit gedoen kan word). Fyn sintuiglikheid, ’n netjiese hantering van herinnerde werklikheid en van tussen-menslike spanninge, ’n begrip van ’n kind se wondbaarheid, van dit alles gee die verhaal reeds blyke: maar aan die gevare van die genre ontkom sy nog nie heeltemal nie. Om die denkbeeld van ’n “secret garden” weer nuut te maak, is konsentrasie op die presiese en unieke besonderhede daarvan nodig, eerder as om jou te verlaat op die reeds bekende.
    Byvoorbeeld: enersyds die neiging om te “mooi” te wil skryf (soos in die openingsparagraaf of die slotparagraaf, of adjektiewe soos “geurvolle” en “kleurryke” kort op mekaar se hakke); andersyds weer ’n neiging tot die presieuse, of die cliché (“donsige skons met room, heelvyekonfyt en botter het smaaklik in my mond gesmelt”; “Ek kon die huis, wilgebome en die windpompe duidelik teen die donkerwordende aandhemel afgeteken sien staan ...”). Soms raak die styl ook weer te oorlade: “Met toegeknypte oë het ek desperaat probeer om weer die gevoelloosheid van my vorige gryswêreld te skep ...” Sulke momente hou die kinderwêreld eerder op ’n afstand as wat dit dit openbaar. Dis te opvallend, die volwasse verteller wat die kind probeer INTERPRETEER en daarmee hinderlik tussen leser en verhaalwêreld inskuif.
    As mens kyk na bepaalde momente waar die styl sy selfbewustheid verloor (byvoorbeeld die mooi vroeë paragraaf oor haar pa se naambordjie) kry die verhaal skielik ’n identiteit en ’n sekerheid van waarneming wat die skryfster se talent onderskryf.
    Op die oomblik is die vertelaspekte van die verhaal (die verloop van tyd, die posisionering van ander karakters, ens.) nog nie oral vlot gehanteer nie — te veel van die familie bly byvoorbeeld nog skimagtig. Deur meer te konsentreer op klein, presiese waarneming van besonderhede wat die “dieper sin” (om ’n gevaarlike term te gebruik) van ’n situasie suggereer, kan die verhaal aanmerklik versterk word. Dit is nie die pastelkleure van ’n geheel wat ontbreek nie, maar ’n bewustheid van die delikate draadjies waarmee daardie geheel geweef word en wat daarvan iets unieks kan maak.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.