SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 1:

Hennie Aucamp se eerste verslag
André P Brink se eerste verslag

Lees die tweede weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Kranskop

François Loots

Die verlate teerpad pyl deur grysbruin vlaktes, keer op keer oor ’n plat horison. ’n Warrelwind hardloop oor graspolle en grys gannabosse. Enkele windpompe, nou en dan ’n naambord, Wagenhout en Dassiesfontein, naby die teerpad ’n plaasopstal omring deur groen bome. Vir my stadsoog het Oubaas se wêreld ’n leemte, maar aan die besluit om terug te kom twyfel ek nie vir ’n oomblik nie.
    By die laaste dorp voor die afdraai na Oubaas se plaas toe, stop ek by ’n kafee. Coke, vandag se koerant. Ek betaal en loop lees-lees na my Mazda toe. ’n Verhoorafwagtende ontsnap. Moord op ’n Wolmaransstad-boer, vir die tweede keer uit die dorp se gevangenis.
    Met die hoofstraatjie langs skaars winkels. Edgars, slaghuis, net die nodigste.
    Laatoggend klaar ’n droë hitte wat almal binnenshuis hou. Ek wonder waar iemand op vlug skuil en ry dorp uit.

So verlate het ek Oubaas se wêreld nie onthou nie. Nie dat mens veel van jou vroeë kinderjare onthou nie. Nadat Ma met my stad toe getrek het, het ons kontak met hom verloor. Sy Oubaas-naam, so deur die plaaswerkers genoem, het wel in my geheue sement.
    Hy’t my verlede jaar uit die bloute gebel. Sy vrou (tweede) het mediese spesialiste in die stad kom sien. Kan hy my oor middagete sien?
    Natuurlik het ek ingestem. Is hy dan nie my pa nie?
    Die man oorkant my was groot gebou. Grys hare, ’n kortmou hemp, ’n vreemdeling.
    “Ek wil ’n slag sien hoe jy lyk,” het hy gesê.
    Ek het gewonder wat hy werklik van my dink: haarjel, sonbril, ’n hemp waaronder gym wys. Vraend het ek sy gesig verken, op soek na ’n kenmerk van myself.
    “Wanner kom kuier jy?” wou hy weet. “Ek het al soveel keer gevra.”
    Hy het, maar om te gaan kuier op ’n skaapplaas, by ’n ou man wat ek nie ken nie — buitendien my pa? Keer op keer het ek sy uitnodiging ignoreer. Ma’t my ook nooit aangemoedig nie — tussen ons twee was hy skaars genoem.
    “Jy kan maar jou maat ook saambring,” het hy geglimlag.
    Ek het besef dat hy weet, maar sy openlikheid het my verleë gemaak. Moes ek hom sê dat ek al weer in ’n verhouding is waar ek en hy begin stry en mekaar verneuk?

Oubaas se oproep eergister uit Bloemfontein het my goed te pas gekom. Hy’t met sy vrou hospitaal toe gejaag.
    “Ek weet nie wie anders om te vra nie,” het hy eers verduidelik, en my gevra om met sy plaaswinkel uit te help. “Ek kan ook nie die plek te lank laat leegstaan nie,” het hy bygevoeg.
    Ek het dit skaars oorweeg. Verlof was ek skuldig, en met nog ’n verhouding finaal op die rotse wou ek ’n slag wegkom.

Vroegmiddag is ek by die naambord: Kranskop. Ek draai by ’n grondpad af. Ek ry stadig. “Die sand gooi jou kar se wiele,” het Oubaas gewaarsku.
    Meteens skop ek rem. ’n Geelslang lê op die warm sand, sy kop lig en hy pik speels na die motor toe.

Oor die leë werf kom ’n groot swart hond na my toe gedraf, ’n Great Dane. Hy blaf. Ek staan doodstil, hy ruik aan my, loop om my. Dan volg hy my na die werfklip waar Oubaas die huissleutel gelos het.
    Daar is minder bome om die huis, hulle is kleiner. Waarin ek as kind kon klouter, is nou skaars hoër as ek.
    Die agterdeur lyk anders, miskien is aan die kombuis verander. Ek stap om die huis, nog soos ek dit onthou. Die huis is op ’n krans gebou, kyk oor die bruin Gariep uit. Die voorstoep nog soos destyds: ’n lae houttafel, stoele. ’n Uitsig oor ’n tydlose vloei.
    Ek sluit by die kombuis oop. Binne sien ek dat die vertrek een of ander tyd vergroot is. Op die tafel lê ’n boodskap van Oubaas.
    Winkel, voorraad op die dorpswinkel, geldtrommel. Lukas. Lukas? Hamlet, die Great Dane.
    Groete, Jou pa.
    My pa.

Die res van die huis lyk nog op ’n manier soos ek dit onthou het. Die eetkamer, sitkamer wat oopmaak stoep toe. Oubaas se studeerkamer is nou ’n sonkamer. ’n Nalatigheid is orals sigbaar. ’n Lagie stof oor die eetkamertafel, ’n leeslamp met die muurprop vir ’n ander doel afgesny, ’n deur wat met ’n tou toegemaak word. Ouderdom leef in ’n ander wêreld. Hoekom iets heelmaak as môre nie meer die moontlikheid van opnuut begin beloof nie?
    Ek gaan by hulle slaapkamer in. Dié onthou ek nie, en die muurkaste, die brandkluis, die dubbelbed lok ook geen emosie in my wakker nie.
    Die sleutel en geldtrommel kry ek onder sy kant van die bed. Langs dit ’n lang metaalpyl wat ek uittrek. ’n Blink geriffelde punt, skerp geskuur op ’n slypsteen.
    Is dit hoe Oubaas hulle twee wil verdedig? As hy nie betyds by die geweer uitkom nie?
    Gang af stoot ek die kind in my se slaapkamerdeur oop. ’n Enkelbed en klerekas, die bedtafeltjie en ’n hekelkombers: maar ... dis ’n naaldwerkkamer. Die masjien onder ’n wit laken. Waar die prent met kinders wat op ys skaats is, was, nou ’n spieël. Rokspatrone met wondergom teen die rand vasgedruk.
    Logies dat iemand anders die plek van my herinneringe ingeneem het, trek ek die deur toe.

Die winkel se agterdeur het ’n swaar slot. Die vertrek is donker, die lug ’n muwwe gemmer en Surf. Ek sit die lig aan. Kartonbokse met voorraad: sardiens, sopsakkies, Simba, Ace koffie, Boxer. Sommige feitlik leeg. Onder die toonbank samboksalf, Panado, gis, radiobatterye, Chappies,
    Armmanskos.
    Ek wonder skierlik wat iemand op vlug eet.
    Hamlet ruik al om die toonbank.

Ek stap met ’n voetpaadjie wat kransaf krul, Hamlet op my hakke. By die rivier bly hy op die wal terwyl ek diep inswem. Die water se bolaag is lou. Ek duik af, die diep koelte dip. Elke keer as ek asem skep, hoor ek Hamlet opgewonde blaf.
    Dan hoor ek iemand van bo op die krans skree: “Winkeeeeel!”

Drie kinders wag my op die werf in. Een hou ’n stukkie papier na my toe uit:
    klein koffie
    1 grood suiker
    klein waspoeir
    Sheensryt
    “Wat is Sheensryt?” vra ek.
    Al drie staar.
    “Van waar is julle?” vra ek die kind wat my die lysie gegee het. Hy’s kaalvoet, ’n kortbroek en T-hemp.
    “Die skema, Ouba ... ” bars hy uit van die lag.
    “Ons het die kar gesien,” hou ’n ander ook ’n lysie uit, “toe stuur onse Ma-goed ons.”
    “En Sheensryt?”
    “Hare-goed, Kleinbaas.”

Vroegaand dra ek die radio voorstoep toe, Hamlet op my hakke. ’n Sportopsomming. Terwyl ek op die nuushooftrekke wag, lees ek weer deur Oubaas se boodskap.
    Kuier by Lukas.
    Sluit die deure. Gewere in brandkluis.
    Ek sal bel,
    Groete
    Jou pa
    Die papier frommel ek op — wat sal ek nou van gewere weet?
    Noudat die son gesak het, voel dit asof ’n koelte uit die rivier en deur die boomskaduwees wasem, die krans op klouter, die huis omsingel, maar nietemin oor die stoep se warm leiklippe verkwyn. Stroomaf word die rivier deur een van die besproeiingsskemas se ligte omring.
    Ek lê my kop agteroor, toe-oë op Hamlet se rug. Groete, Jou pa. En die kinders wat eens in die naaldwerkkamer oor die ys geskaats het? Waar het hy dié weggegooi?
    Verbaas sit ek regop. Ek het hom en sy plaas jare lank vermy. Hoekom hom dan nou ’n kinderprent voorhou?
    Nuushooftrekke.
    Daadwerklik. Op vlug geskiet.
    Met my hand op Hamlet se nek kyk ek stroom op. Drie uur se ry tot waar die skoot geklap het. Hoe ver kan mens dit hoor?
    Ek voel verlig. Ek wat geweld verafsku en vir gewere bang is.

In die nag word ek wakker, nat gesweet. In die badkamer draai die kouewaterkraan oop en skep water oor my. Ek loop deur die huis. Dit is warm en ek wens ek kon buite slaap.

By die dorpswinkel wag ek in die winkeldeur terwyl hulle my bestelling op Oubaas se naam pak. ’n Polisieman loop vraend op my af: “Oubaas de Wet se seun?”
    “Dis reg, ja.”
    “Pieterse is die van, Konstabel Pieterse,” steek hy sy hand uit, “Ek het nie geweet Oubaas het so ’n groot seun nie.”
    “Hy’t my gevra om vir ’n week of twee op te kom. Oor sy vrou.”
    “Het jy nuus?” haal hy sy blou kep af en draai die om en om in sy hande.
    “Nog niks gehoor nie.”
    “Ek wil eintlik met jou oor jou pa se winkel praat,” beduie hy met sy hand na die stapel winkelgoed.
    “Oubaas se winkel?”
    “Reg, ja,” die kep nou stil in een hand, “Die besproeiingsplase het baie verkeer. Mense weet van die winkel, en die Oubaas is oud.” Hy kyk my hoopvol aan. “Ek bly Oubaas-hulle vra om die winkel toe te maak.”
    Ek frons — opeens word ek verantwoordelik vir Oubaas se veiligheid?
    “Ek sal met hom daaroor praat.”
    Hy self frons, asof ek nie die erns van die saak besef nie.
    “Sluit maar jou deure,” sit hy sy kep op. Voor hy wegloop, voeg hy by: “Per maand kry ons ’n honderd liter petrol. Ons ry nie meer uit plase toe nie.”

Op pad terug plaas voel ek vies oor die lot van Oubaas se winkel skierlik op my skouers gelaai word. Ek stop, klim uit en kyk oor die veld. Die lug is droog, die veld stil.
    Ek wou ’n slag alleen wees, besin oor die pad vorentoe, op my eie — en nou word ek opnuut in mense se lewens betrek.
    Dis my pa, stry my gewete.
    ’n Pa wat ek nooit gesien het nie, stry ek terug. Dis sy lewe.
    Wat doen mens as jy die slag Oubaas se ouderdom is?

By die opstal wag ’n middeljarige man my in. Plooie laat hom oud voorkom, ouer as wat sy gespierde arms verraai. Hy staan half afsydig, sodat ek eerste moet praat.
    “Winkel?”
    “Nee, Kleinbaas. Ek het die tuin kom natgooi.”
    Ek hou my hand na hom toe uit. “François.”
    “Frans?” raak hy skaars aan my hand, “Flip help Oubaas op Vrydag saam met die winkel.”
    “Ek sluit oop, dan kan ons aflaai.”

Na twee ure agter die toonbank kom die winkel tot bedaring. Buite staan die veertig stuk plaaswerkers wat vir die komende week kom koop het nog en gesels.
    Sommige het my stil aangestaar; gesigsuitdrukkings waarin ek geen emosie kon uitmaak nie. Ander het my verwonderd aangekyk; Oubaas se kind by die eerste vrou. Meer as een wou weet of ek terug is, om na jare se afwesigheid skielik my geboortereg agter die toonbank te eien. Hulle vrae was uitdagend.
    “Nee,” het ek verduidelik, “ek help net solank sy vrou in die hospitaal is.”
    Van die kinders kry die oorskietsente en kom terug. Chappies en stokkielekkers. Ek sien hoe Lukas mense groet en na ’n bakkie toe loop.
    “Fransie?” het hy voor my kom staan.
    Ek het die ou man, ’n tingerige lyf en dik swartraambril nie herken nie. Hy en sy vrou Hana het in my kinderdae in en om die huis gewerk. Ek het belowe om te gaan kuier, in ’n naby geleë ou opstal waar hulle ingetrek het.

“Ons kan maar toemaak,” sit Flip ’n boksie op die toonbank neer en gee my sy weeklikse loon, een honderd rand.
    Dis dieselfde as die ander mense s’n: Bully Beef, meel en gis, tee en kondensmelk, sout, aartappels, olie, Boxer, seep.
    Ek tel op, en gee hom die kleingeld.
    “Het jy vrou en kinders?” vra ek.
    “Vrou, ja,” kyk Flip my vraend aan, “en drie dogters.”
    Mense lewe van die hand na die mond en die drie of vier duisend rand in die geldtrommel moet vir hulle soos die onmoontlikheid van ’n leeftyd se spaargeld voorkom.
    “Konstabel Pieterse,” verklap ek opeens, “het my in die dorp gevra dat Oubaas die winkel toemaak.”
    Flip het ’n pak Surf opgetel, sit dit langs sy goed neer en gee my ses rand. Verder swyg hy.
    “Wat dink jy?”
    “Hoe sê Frans nou?”
    “Oor Konstabel Pieterse.”
    “Ek bly nie ver nie,” sê hy, “Bedags is ek in die veld, maar ek sal deur die week kom natlei.”
    Dit skeel dit hom nie wat gebeur nie, besluit ek.
    “Ek loop eers,” groet hy dan.

Ek los die geldtrommel onder Oubaas se bed en gaan sit weer met die radio op die voorstoep. Hamlet kom lê langs my. Dis skuins na skemer. Alhoewel daar nog geen maanlig is nie, maak ’n helder sterrehemel die tuinbome en struike dofweg sigbaar.
    Ek oorweeg dit om ’n vriend in die stad te bel. Dan besluit ek daarteen. Want ek mis hulle nog nie, vir eers tevrede met die stilte wat my omring.
    Op die nuus word gesê dat ’n plaasboer van Christiana vermoor is, reeds die dertiende dié somer.
    Ek vryf oor Hamlet se kop en kyk oor die rivier, noordoos. Drie of vier uur se ry, werk ek uit, skaars twee dae te voet. En as hy hardloop?

Die telefoon lui.
    “Het jy reggekom?” wil Oubaas weet.
    “Ja.”
    “Het jy die deure gesluit?”
    “Ja,” alhoewel kombuis en voordeur oop staan.
    Ek vertel hom van konstabel Pieterse.
    “Jy vat nie aan die winkel nie,” antwoord hy kwaad.
    “En met haar?” verander ek die onderwerp.
    “Dit lyk nie goed nie.”

Ek staar teen die donker plafon vas, tel die laken op en vee die sweet van my gesig en lyf af. Weer staan ek op, skep koue water oor my in die badkamer.
    Dan sluit ek die voordeur oop en gaan sit op die stoeptrappies. Dis koeler buite. Hamlet kom om die huis na my toe gedraf. Impulsief besluit ek om ’n matras uit te dra, tot op die stoeprand.
    Ek weier, prewel ek binnensmonds, om in vrees te lewe.
    ’n Ongelooflike sterrehemel, die drie susters, die suiderkruis.
    Met een hand bly streel ek oor Hamlet — wat langs my lê — se kop.

In die nag skrik ek wakker en kyk in die donker kolle onder die bome in. Ek wonder waar hy nou is, of hy bedags skuil en snags verder vlug.
    Dis stil. Hamlet snork saggies.
    Ek wonder of hy gewapen is. Miskien met ’n mes.
    Die geldkissie. Die donker kolle onder die bome. Dan — nugter weet wat my besiel — spring ek op, gaan haal die geldtrommel onder die bed uit en los dit op die kombuistafel. Nou sal dit vir hom makliker wees, redeneer ek by myself, ek self hoef nie eers wakker gemaak te word nie.

Vroegoggend, voor sonsopkoms, maak die riviervoëls my wakker. Ek spring op en hardloop kombuis toe.
    Niks.
    Hoegenaamd niks het verdwyn nie.

Hulle wag my op die voorstoep in: “Ek sê vir Hana,” groet Lukas, “maar wie kom nou hier aan?”
    “Ek glo dit nie,” sê sy. Haar gesig, raai ek, verklap dat Lukas haar na gister se winkel nie van my vertel het nie.
    “Kan ek maar sit?” gee ek haar die koeldrank en koekies wat ek saamgebring het.
    Uit die staanspoor uit lyk Hana ongemaklik. Sy bly Lukas se woorde beaam.
    “Dis stil hier,” beduie hy oor die veld.
    “Te stil ja.”
    “Saans het ons net die draadloos.”
    “Is so ja.”
    “En warm, Fransie,” praat hy nog met die kind, “dis slang se wêreld die. Ek sit en kyk hulle so van die voorstoep af.”
    Hana skud haar kop.
    “Maar slang se kind moet jy los. Hy’s soos ’n geheim; soek hy nie by jou moeilikheid nie, moet jy nie aan hom vat nie.”
    “Nou wat kom soek jy hier?” vra Hanna meteens.
    “Op Kranskop? Oubaas het my gevra om met die winkel uit te help.”
    “Gaan jy bly?”
    “Natuurlik nie.”
    Weens haar peinsende oë verander ek die onderwerp.
    “Op die dorp het ’n konstabel my kom vra oor die winkel.”
    “Pieterse?” klik Hana haar tong.
    “En wat sal van onse mense word?” vra Lukas, “Die besproeiingsboere wil nie een winkel gee nie. En kyk hoe ver is die dorp dan.”
    “Is so ja.”
    “Pieterse sê dis nie veilig nie.”
    “Nee,” stem Lukas saam, “dié wêreld is nie meer nie. Hoor ek in die nag ’n geluid, loop ek sommer in.”
    “Wat sal die konstabeltjie van onse veiligheid weet?” klik Hana se tong weer.

Ek loop geïrriteerd deur die huis. Buite skroei die fel middagson jou, binne bly Hanna se tong in my gedagtes klap. En Pieterse se kep waarmee hy aanhou peuter.
    Dan sleep ek Oubaas se gereedskapkas uit die waenhuis oor die werf, by die kombuis in. Die huis deurwerk ek van een hoek na die ander. ’n Rak word reggemaak, ’n lamp se muurprop aangesit, ’n kasdeur vasgeskroef. Dis die minste wat ek kan doen. Help hom só om die winkel te hou. Hy is oud, maar daarvoor het hy nie minder reg om te besluit nie.
    In die sonkamer skroef ek ’n handvatsel aan ’n laai vas. Trek ek dié oop, kom ek op ’n pak foto’s af. Sy tweede vrou, haar kinders, ’n troue: ’n heteroseksuele wêreld. Ek moes my eie identiteit vind. En noudat ek weer alleenloper is?
    Ek trek die ander laaie oop. In een kry ek mansklere. Ek tel ’n wit T-hemp en ’n groen sportbroek op. Te klein vir Oubaas, een van haar kinders s’n?

Laataand klop iemand aan die kombuisdeur. Hy soek winkel. Ek kan sien hy’t vroeg begin kuier en help hom gou weg. En die geldtrommel? ’n Paar honderde wat ek nie vanoggend bank toe gery het nie.
    Ek maak seker dat my motor en Oubaas se bakkie gesluit is. Ek skakel die buiteligte aan en sluit die agterdeur. Ek dra Hamlet se kos en waterbak na die voorstoep toe, naby my.
    Die radionuus wys ek van die hand. Te bang om te hoor dat hy nog op soek is.
    Want opeens ís ek skytbang. Bang vir my eie onthalwe. Ek kan nie eers geweer skiet nie.
    As hy een keer vermoor het, vermoor hy weer. Jy kan hoe gaaf wees, hom kos aanbied, geld.
    Ek mis die versekering van stadsmense om my.
    En dan voel ek kwaad. Kwaad oor hy nooit by ons kom kuier het nie en my nou op hierdie godverlate krans laat sit. En oor die afstand tussen kwaad en vererg skaars ’n myl is, verwens ek opeens sy blerrie winkel en die donnerse geldtrommel.
    Al gee jy hom jou kar gaan hy jou nie spaar nie. Het hy eers een keer vermoor ...
    Stook jy vrees aan, raak hy geniaal. Ek besluit om die onkeerbare te bespoedig.
    Ek gaan vinnig te werk. Die winkelslot laat ek oophang, die motors word weer oopgesluit, agterdeur oop, geldtrommel en sleutel op die kombuistafel. Net die geweer in die brandkluis bly gesluit.
    My matras sleep ek onder die tuinbome in, ’n ent weg van die huis af.
    Deur die takke sien ek kolle sterrehemel, ’n skietende ster. Elke geluidjie kam ek fyn. Het hy eers kos, geld en ’n kar, kom ek ongekwyn daarvan af.
    En miskien sien Oubaas dan in dat tye verander het.

Hamlet blaf my vroeg wakker, ek spring op en hardloop kombuis toe.
    Niks.
    Niks het gebeur nie.
    Die trommel steeds oop en bloot op die kombuistafel. By die winkel sien ek dat die slot toegedruk is. Nou besef ek dat die kombuisdeur, gisteraand oop, vanoggend gesluit was.
    Ek stap deur die tuin. Flip? Die bome is nie natgelei nie. Ek staar oor die droë vlakte agter die huis. G’n siel in sig nie.
    ’n Leemte, tog bewoon.

Vir twee dae swem ek, en werskaf in en om die huis. Kriewelrig is ek, want dit voel my asof ek gedurig dopgehou word — en ek weet nie deur wie nie.
    Ek mis die stad, fantaseer dat mansarms my omhels. Hom soek hulle steeds. Saans sluit ek wel die kombuisdeur, los egter die geldtrommel op die tafel. Snags lê en wag ek onder die bome.
    Op ’n klimaks, ’n verlossing.
    Soggens spring ek op en hardloop kombuis toe.
    Niks.
    Die geldtrommel steeds oop en bloot.

Oubaas bel. Ons gesprek is kort en saaklik. Dis nie meer lank nie, die begrafnis beplan hy uit Bloemfontein.

Ek soek geselskap en ry in die aand met Oubaas se bakkie na die dorpshotel toe. Die kroeg is redelik vol. Mans en vrouens teen die toonbank. ’n Groepie mans sirkel om ’n ou snoekertafel. Een van hulle loop my tegemoet. Ek herken hom nie onmiddellik nie, konstabel Pieterse, bier in die hand. Noudat hy nie in uniform is nie, raak ek van hom, van sy liggaam bewus. Hy’s jonk, breë skouers, maer heupe en ’n helse knap kortbroek.
    Hy hou sy bottel hoog in die lug op, slaan die ander hand op die toonbank en skree vir nog twee. Een word in my hand geprop. Hy daag my uit om dit op een slag uit te drink.
    Ek vind die kroeg se lawaai intimiderend en is nie lus om ’n gek van myself te maak nie — maar oor Pieterse vrek mooi is, wil ek sy game speel en maak soos hy sê. Ek lig die bottel bo my kop uit en gee groot slukke wat my keel af gis.
    “Is die Oubaas,” skree hy na die mans om die snoekertafel toe, “die Oubaas se oudste seun.”
    Ek verstik, hoes bier oor die toonbank uit, voel hoe sy woorde onder in my maag draai, probeer die naarheid terughou en hardloop reguit deur toe.
    Op die sypaadjie kots ek sy woorde uit. Ek spring in die bakkie en jaag die dorp uit.

Ek draai van die pad af, ry oor die klipperige veld en stop onder ’n doringboom. Ek klim uit. Oubaas se oudste seun.
    Die ysbaan in my kinderkamer. Dit voel my asof ek al die jare na die prent gestaar het, maar nooit oor my skouer gekyk nie.

Douvoordag klop ek aan Hana se deur. Niemand antwoord nie. Ek druk aan die handvatsel en die deur spring oop.
    Ek loop deur die karig gemeubileerde huis en stop in ’n slaapkamerdeur. Teen die muur plakkate. Sokkerspanne — en rugbyhelde. Popgroepe.
    Ek stap in, trek ’n laai oop en tel een van die hemde op. Dieselfde grootte as dié in die sonkamer.
    Buite stap ek oor die werf na die groentetuin toe. Hana kry ek aan die spit in ’n akker langs die dam. Sy moes my hoor kom het, selfs die huis sien binnegaan het, ignoreer my egter steeds.
    “Hoekom het julle my nie van hom vertel nie?”
    Sy bly afkyk na die graaf wat behendig al om mielieplante spit.
    “Hana!” skree ek.
    Sy steek die graaf in die grond en vee haar hande oor haar voorskoot: “Ons soek jou nie hier nie. Hy’t net soveel reg op Oubaas se grond as jy.”
    Ek staar haar vir ’n oomblik verbaas aan.
    “Maar dis nie waaroor dit ...”
    Sy onderbreek my: “Hy gee eerder vir Oubaas kleinkinders as jy.”
    “Jy’t g’n reg om my te staan en voorskryf nie,” skree ek vies terug.
    Sy lig haar hand op, wil met haar vinger wys, maar ’n bakkie wat na die huis toe aangery kom, laat ons van mekaar wegkyk.
    Ons wag in stilte, hoekom weet ek nie. Oor albei besin wat ons nou te doen staan? Haar seun, my broer? Halfbroer? Ek dog ek is alleenkind. Was.
    Dis Lukas. Hy ry die huis verby en stop langs die dam.
    “Ag nee, Fransie,” berispe hy my soos hy uitklim, “skaam jy jou nie dat jy die werf aanhoudend so staan en ooplos nie. Ek en Flip kan mos nie alewig agter jou kyk nie.”
    Hy draai na Hana toe: “Oubaas-hulle is op pad. Môre is die begrafnis.”

Tuis pak ek my tas. Onseker hoe om die kennis van ’n halfbroer te verwerk. Alles goed en wel as jy uit ’n slang se pad uit bly. Maar wat as hy jou omsingel?
    Ek besluit om my laaste dag in die rivier deur te bring — ver teen die rivier op te loop en stroom af te dryf.

Ver van die huis af swem ek tot teen ’n groot eiland. Vir ’n rukkie lê ek met my lyf in die water en my kop op die sandwal. Later staan ek op en volg ’n nou voetpaadjie tussen die riete oor die eiland.
    Ek gaan staan doodstil.
    Hoe ek weet dat dit hy is, weet ek nie. Maar oortuig is ek dat dit hy my halfbroer moet wees.
    Hy’t sy rug na my toe, voete in die water. Ek glimlag: sy glansende swart hare — lang krulhare. Opgewonde dink ek aan Carravagio. ’n Dun nek. ’n Blas vel wat oor sy skouer- en bladbene teen sy slender rug af span. Sy ruggraat val my op, hoe dit afhobbel tot by sy stuitjie. Dié is ligter.
    Meteens kyk hy om.
    “So môre is die groot dag,” sê ek, onkant gevang, “ek bedoel die begrafnis.”
    Hy duik die rivier in, sy swembroek in sy hand.

Ek kry Oubaas op die voorstoep. Hy lyk moeg. Daar is bottels en glase op die tafel.
    “Ek is jammer oor die nuus,” groet ek.
    “Ons het dit verwag,” wys hy my ’n stoel aan, “Hier’s koeldrank.”
    ’n Stilte. Lukas het hom seker alles vertel.
    “Ek was bang alleen,” sê ek eerlik, “miskien het ek dom opgetree.”
    Hy sê nie ’n woord nie. Weer ’n stilte. Ons weet nie een wat om te sê nie, hy waarskynlik vasgevang in sy verdriet?
    “Ek is bly Oubaas ... ek bedoel Pa het iemand om na Pa te kyk,” probeer ek weer. En opeens is ek kwaad oor ek al die jare in die donker gehou was. “Hoekom het julle my nooit gesê nie?”
    “Ter wille van jou ma.”
    “My ma?”
    “Sy kon my nie vergewe nie. Moontlik ook nie haarself nie en wou niks met Klasie te doen hê nie. Selfs sy naam mog nie eens genoem word nie.”
    “Klasie? Dis hoekom sy padgegee het?”
    “Dis hoekom sy padgegee het.”
    “Maar hoekom is ek nooit vertel nie?”
    “Ek wou jou vertel. Nie daar waar jou ma enige noem van hom en Hana verbied het nie, maar hier op my eie werf. Ek het jou keer op keer uitgenooi.”
    Dis waar. Hy het.
    “En nou?” vra ek hardop, sonder om dit as vraag te bedoel. “Ek dink nie mense wil juis iets met my te doen hê nie.”
    Hy antwoord wel.
    “Om verstaanbare redes. Mense is kwaad. Jy moet hulle ’n tydjie gee.”
    “Ek ry môre na die begrafnis terug,” antwoord ek teësinnig en staan op.
    “Ek het gedog jy sal verstaan,” probeer hy my terughou, “oor jy anders is.”
    “Oor ek anders is?” bloos ek en kyk hom vir ’n oomblik met ’n vraende glimlag aan voordat ek huis in loop.

Ek sien Klasie eers weer die volgende dag, net na die laaste gebed toe mense in klein groepies van die graf af stadig na die motors toe loop. Hy staan eenkant, onder die sipresbome, uitgesluit en tog ook betrokke.
    Ek loop na hom toe. Sy bruin oë vermy myne. Ek sien nou eers die jong skadusnorretjie wat hy aan die kweek is en steek my hand na hom toe uit.
    “Ek wou myself net voorstel, voordat ek ry.”
    Hy kyk wantrouig na my hand en vermy steeds my oë.
    “François,” bly hou ek my hand voor hom uit.
    Moontlik uit pligsgetrouheid teenoor Oubaas vat hy kortliks aan my hand, meer om my vingers, terwyl hy opsetlik oor my skouers kyk — asof ek nie ’n blik waardig is nie.
    Net voor hy omdraai, sê hy wel iets. Dit weet ek omdat ek sy lippe sien beweeg. Maar omdat ’n stootskraper meteens te voorskyn gekom het, haastig om die graf toe te grawe en die dag se werk agter die rug te kry, kan ek nie ’n enkele woord hoor nie.
    Jou bliksem, dink ek by myself soos hy wegloop.

Wat maak dit ook saak? troos ek myself soos ek my Mazda aanskakel. As Oubaas dit reggekry het om op sy oudag versorg te word, sal ek ook. En hy het my adres, Klasie sal dit eendag wil hê.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.