SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Hennie AucampTerugvoering deur Hennie Aucamp

Eerste verslag

Oorkoepelende kommentaar
Ons versameling deur Merle Grace
Lig deur Jaco Jacobs
Kranskop deur François Loots
Gisteraand deur Susan Samuel
Die roostuin deur Hanni van den Heever

Ons versameling deur Merle Grace

’n Mens voel skryfervaring aan by die lees van dié verhaal. Die inventaris van diertjies en diere wat doodgery word op die grootpad, kom heel spontaan oor, maar tog is daar ’n stygende lyn, wat ’n skokeffek het met die noem van die bobbejaan wat “heeltemal” begrawe word. En onmiddellik hierna ’n nóg groter skok: dat die sustertjie wat meegedoen het aan al die begrafnisseremonies nou sélf (slag)offer geword het. Hiermee word ’n bloed-reeks meedoënloos afgesluit.
    Al waarmee ek nie vrede het nie, is die openingsin. Is dit moontlik dat die doofheid van die sussie ongemerk sou gebly het vir haar gesinslede? Wat van:

Ons wou nie regtig weet daar’s iets verkeerd met my sussie nie.
    Op dié manier word ’n onrustigheid geskep; ’n raaisel. Wel sou sekere kodes na die leser deurgestuur kon word, soos dat die sussie besonder gevoelig is vir trillinge, en uit die slotwoorde van die motoris kan blyk wat die sussie se probleem is, maar liefs sonder om die woord “doof” te gebruik.
    ’n Stilistiese kwessie: die woord “vibrasies” val vir my buite die geselstoon van die verhaal. Wat van “trillinge” of “skuddings”?

boontoe

Lig deur Jaco Jacobs

Lig is vlot geskryf, en hou ’n soort spanning vol; maar op die ou end bly die verhaal en sy “diepsinnige” slot vir my ongeloofwaardig. Die slot moes baie subtieler voorberei gewees het as dit die leser tot “willing suspension of disbelief” wou beweeg het.
    Die basiese probleem met Lig, soos ek dit sien, is juis die strewe na diepsinnigheid. Daar skuil ’n ander verhaal in “Lig”, ingegee deur die kabaretmatige tantetjies en hul “camp” dialoog; ’n vrolike, wêreldwyse verhaal. Is dié tantetjies normaal? Het hulle ontsnap?
    Jaco Jacobs het talent, en dié talent kan ingespan word om die verhaal Lig in ’n ander toonaard te dink.
    Daar is pragtige momente, soos byvoorbeeld die slotsin:

“Teer streel sy oor Grace se mistige haarsliete en kyk hoe die blou weerliggies daaruit opspring.”
    Ongelukkig is daar ook voorbeelde van mooiskrywery, soos in dié sin: “Toe die eerste sterre begin uitflikker teen die blouende skemerte ...” (Kursivering van my)
    ’n Konstruksie soos die volgende is op die duur baie hinderlik, aangesien dit teen “normale” patrone ingaan:
“Hier’s nog vyf,” diep sy skaam ’n wegsteeknoot uit haar beblomde hals.
    Ek het met ’n hoogs ervare redakteur by ’n uitgewery gepraat en hy bevestig my vermoede dat dié “teleskoperingstegniek” ’n poging is om die monotonie van die “sê hy/ sê sy”-patroon te verbreek.
    Die tradisionele stelwyse sou in die geval van die aangehaalde sin die volgende wees:
“Hier’s nog vyf,” sê sy en diep sy skaam ’n wegsteeknoot uit haar beblomde hals.
    My redakteur-vriend het hier ’n baie eenvoudige en doeltreffende oplossing aan die hand gedoen:
“Hier’s nog vyf.” Sy diep skaam ’n wegsteeknoot uit haar beblomde hals.
    Die kwessie “verkeerd” is, veral op stylgebied, dikwels arbitrêr; wat wel onomstootlik wáár is, is dat iets wat as ’n maniërisme opval by ’n bepaalde skrywer, spoedig tussen die leser en die teks inskuif, en sy genieting van dié teks aantas.
    Daar duik nog ’n tipiese skryfprobleem by Jacobs op. Daar waar Grace ’n lang spreekbeurt kry — sien: “Ons kan iets oorkom, Aggie ...” ens. — word die dialoog opvallend gemanipuleer om inligting aan die leser oor te dra. Grace gesels nie werklik met Aggie nie: sy gesels met die leser.

boontoe

Kranskop deur François Loots

Kranskop is ’n onderhoudende en volwasse verhaal. Laat ek “volwasse” toelig:
    ’n Mindere skrywer sou die voortvlugtige op die plaas laat opdaag het, maar Loots gebruik die vlugteling voor die gereg as metafoor vir die ek-verteller se eie losgeslaandheid, en dié van die mens in die algemeen. Hy steun dus nie op “maklike” spanning vir sy verhaal nie.
    In ’n tipiese gay verhaal sou daar dalk ’n romanse tussen die ek-verteller en die polisieman kon ontwikkel het, maar Loots vermy ook dié slaggat, gegee die aard van die polisieman.
    ’n Verbasende aantal karakters word binne die bestek van ’n kortverhaal oortuigend ten tonele gevoer; maar dis veral Oubaas wat jou bybly met sy ewewigtige, gelouterde optrede. (Verkwiklik om ’n slag ’n simpatieke pa in ’n gay verhaal teë te kom.)
    Loots kyk met humor en begrip na die mens, en bewys dat die sogenaamde gay verhaal nie “tipies” hoef te wees nie. Hy steun op interessante implikasies en komplikasies vir spanning.
    Tog het die verhaal Kranskop nie die impak wat dit behoort te hê nie, en hier is stilistiese slordighede die sondebok.
    Dis werklik onverstaanbaar dat ’n skrywer rukke lank skoon, funksionele prosa skryf, en dan skielik ontspoor. My kommentaar by Jaco Jacobs se verhaal Lig in verband met “teleskopering” geld ook die verhaal Kranskop. Ek haal enkele voorbeelde uit ’n hele rits aan:

“Het jy nuus?” haal hy sy blou kep af en draai dié om en om in sy hande.
En voorts:
“Sluit maar jou deure,” sit hy sy kep op.
en
“Fransie?” het hy voor my kom staan.
    Maar daar is ook ander slordighede wat regstelling verdien, soos die bra ongemotiveerde gebruik van inversie en die lydende vorm, of sommer net dinkfoute. Hier volg voorbeelde:
  • ... die dubbelbed lok ook geen emosie in my wakker nie.
  • Gang af stoot ek die kind in my se slaapkamerdeur oop.
  • Verlof was ek skuldig, en met nog ’n verhouding finaal op die rotse wou ek ’n slag wegkom.
    En wat soek die Engelse woord “slender” in ’n mooi — en vir die verhaal belangrike — beskrywing? “Slender” het tog geen dimensie wat nie ook deur “slank” opgevang word nie.
    François Loots het ’n vertellersgawe wat in dié stadium ondermyn word deur ’n ondoeltreffende gebruik van sy medium — die taal.

boontoe

Gisteraand deur Susan Samuel

Susan Samuel slaag byna daarin om ’n geclicheerde situasie nuut en waar te laat klink. Die lewe is dikwels melodramaties, en dit weet die hoogs intelligente versaakte meisie van die verhaal; trouens, sy speel so ’n bietjie met die konsep melodrama, maar word dan geleidelik die dupe van haar spel.
    Dié spel klink nie net teen die letterkunde nie (Joernaal van Jorik), maar word op ’n manier daardeur bepaal, want die slotparagraaf is die slot van Joernaal van Jorik getransponeer na ’n nuwe sleutel. Dié intertekstualiteit is volkome verantwoord, want die meisie van die verhaal is ’n student wat kennelik literêr-georienteerd is.
    Natuurlik sal die student, synde ’n kind van haar tyd, in haar gedagtegange spontaan ingly in die mengel-Afrikaans wat tans so modieus is onder jong mense. Gedagtegange, monoloë, dialoë is dan ook die natuurlike terrein vir sosiolekte van dié aard.
    Wat wel problematies is vir hierdie leser, is dat hy nie die patroon kan agterkom tussen die twee taalstyle van die student nie.
    In paragraaf 5 lees jy:

Terugskouend gesien was die kamerjas miskien ’n bad move. Alhoewel dit nogals ’n sexy silky kamerjas is en alles, lyk sy seker soos ’n nagging housewife ... ens.
    Maar in die daaropvolgende paragraaf dink die student weer in haas akademiese Afrikaans:
God, sy’s net een-en-twintig jaar oud. ’n Mens behoort mos nie nou al agterkom (sic) hoe die res van die lewe gaan wees nie. En ’n mens behoort veral nie te weet dat só ’n lewe verkiesliker is as ’n lewe sonder hom nie!
    Daar kan natuurlike ’n boeiende effek verkry word as die ommeswaaie in taalgebruik afgevuur word deur gemoedsbewegings. Jy kry dan byna wat Hettie Smit in Sy kom met die sekelmaan probeer doen het, naamlik om twee personas in een mens te verenig. Die leser moet voel dat dit psigologiese en emosionele noodsaak is dat die student op ’n gegewe oomblik van een jargon (studentikose taal) na ’n ander (akademies, literêr) oorskakel. Maar in watter “taal” gaan sy in die slotparagraaf dink? Samehangend literêre Afrikaans, of ’n verinneweerde Afrikaans? Bartho Smit het byvoorbeeld sy protagonis in Die verminktes in die groot krisistoneel taalgewyse laat regresseer na die idioom van sy jeugjare.
    Miskien wou Samuel juis sê dat die student ’n katartiese oomblik teen die einde beleef en dat dié oomblik suiwer taal gebied?
    Die “fout” in die letterkunde is en bly ’n aanvegbare saak; maar soms moet reguit aan ’n skrywer gesê word dat iets in sy teks hoegenaamd nie deug nie. So ’n voorbeeld is paragraaf 2 in Samuel se teks, waar “mooiskrywery” — die sogenaamde “purple prose” — aan die lagwekkende grens. Ek haal aan:
Die Huil breek so vinnig en skielik oor haar dat haar gewoonlik branddroë oë koel ronddobber in haar kop ... Die hikke kraak uit haar bors en bons dramaties teen die stil kamermure.
    ’n Paragraaf soos dié, met stylreaksies wat buite alle verhouding tot die emosionele prikkel is, kan ’n hele teks verongeluk, want dit wek dadelik leserweerstand.
    Daar is ook ander jakkalsies wat die wingerd kan verniel. ’n Toutologie soos bv.
terugskouend gesien
of ’n lomp sin soos
Om swartkoppies uit haar ore uit te haal was ’n daad ondenkbaar.
    Ook sou Samuel moet besin oor die kleur van bloed in water — sit daar nie toutologie in burgundy of wynrooi nie? Maar hieroor moet ’n wynkenner geraadpleeg word.
    Samuel toon meer as belofte. Ek wil voorspel dat daar in die toekoms nog baie van haar gehoor gaan word. Vir haar wil ek net aanraai: kry groter afstand tot die rou emosie van jou teks; kry nog groter beheer oor jou taal.

boontoe

Die roostuin deur Hannie van den Heever

Dié verhaal herinner onvermydelik aan Elise Muller se tydelose Karooverhale. Ook hier gaan dit om ’n dor dorpie waar ’n mooi blom(tuin) spontaan simbool word; en soos dikwels by Muller, gaan dit om ’n kind wat verdriet moet verwerk by die dood van ’n geliefde.
    Die roostuin word gevoelig vertel, maar tog nie oorgevoelig nie, en die taalgebruik benader die suiwerheid en presiesheid van Elise Muller se segging.
    ’n Enkele keer is daar ’n woord of beeld wat buite die toon val, soos “die snikke van ’n man lank gekondisioneer om nooit te huil nie.” (Kursivering van my) Ook is ’n woord soos “geweeklaag” vir my te Bybels; en die volgende sin vreemd aan die kinderwêreld en boonop erg melodramaties:

Rondom my was ’n ontstellende orkestrasie van smart vinnig besig om vorm aan te neem in die pikswart nag.
    Die slot is ’n vonds, en demonstreer die Leipoldt-filosofie dat skoonheid kan troos. Wat ek sou weglaat, is die slotsin. Dit verduidelik wat reeds gesuggereer is met “trooswoorde”.

boontoe

Oorkoepelende kommentaar

Al vyf skrywers verteenwoordig in Skryfnet 1, naamlik Merle Grace, Jaco Jacobs, François Loots, Susan Samuel en Hanni van den Heever, is onteenseglik talentvol. Nie almal openbaar egter genoegsaam kennis van die taal waarin hulle skryf nie. Behalwe taalslordighede en maniërismes is daar gewoon dinkfoute; en dis dinge wat reggestel moet word voordat die betrokkenes aan hulself as ambagsmanne en -vroue kan dink.
    Ek wil voorstel dat Litnet die taal- en stylontsporings by jonger skrywers deur taalgebruikskundiges en stylkenners laat ontleed, soos bv. professor Henning Snyman en dr. Piet du Toit.
    Ook sal ’n kort kursus in literêre vertaling, gelei deur bv. prof. André Brink, ’n waardevolle uitbreiding van skrywers se taalkennis en -beheer meebring.
    “Hou jou wapens blink,” het Uys Krige jong skrywers aangeraai. Sy raad is nog altyd geldig.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.