SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Petra MüllerTerugvoer deur Petra Müller

Tweede verslag

Grys het duisend kleure deur Manie Groenewald
Laaste besoek aan Perdekuil deur T F Naudé
Vlug deur Hilde Nel
Anderkant die draad deur Janie Smit
Offerblomme vir ’n heks deur Nanette van Rooyen

Grys het duisend kleure deur Manie Groenewald

Die verhaal het nou meer genuanseerd geword.
    Die titel is besonder sprekend.
    Die nuwe einde is goed gevonde — ’n bewys daarvan dat hierdie skrywer nie bang is om in te gryp op sy eie verbeeldingsveld nie. (’n Baie moeilike ding om te doen, maar ook ’n uiters belangrike les om te leer. ’n Kortverhaalskrywer moet eenvoudig ’n wyefokus-blik hê op die baie verskillende moontlikhede van sy vakgebied; dit beteken dat geen verhaalvonds noodsaaklikerwys heilig is nie — nie ’n ander skrywer s’n nie, en veral ook nie jou eie nie.)
    Die nuwe einde is ’n belangrike voortsetting van ’n innerlike tema van die verhaal. Dit vat die storie terug in die psige van die ervarende verteller, waar dit begin het, en terselfdertyd word die estetika van die verhaal beeldend verder gevoer.
    Kortverhaalvernuf. Ek wens die skrywer geluk.

boontoe

Laaste besoek aan Perdekuil deur T F Naudé

Oor “Perdekuil” wil ek niks sê nie, behalwe dat ek, voor god, dit graag sou wou geskryf gehad het. Ek self, graag. Die laaste sin van die verhaal slaan ’n ghong raak wat nie weer in ’n mens se kop ophou lui nie.
    Die kuns van evokasie is iets neuraals. Dis verwant aan musiek.

boontoe

Vlug deur Hilde Nel

’n Subtiele verhaal. Die omruil van die rolle, die vereenselwiging van die teenoorgesteldes, die inwerking van onbedinkbare faktore in ’n bedinkbare situasie, die fyn nerf van die saamwees van mense, die nerveusheid daarvan.
    Dis alles pragtig saamgebring hier.
    Die storie het hier nou ook ’n perfekte lengte.
    Dis moeilik om aksie oor distansie en tyd uit te beeld. Die skrywer het al twee dié faktore aktief gemaak in die verhaal. Hoewel dit ’n vol verhaal is, is dit ook lenig, ’n kenmerk van geaktiveerde prosa.
    Dit loop mooi.

boontoe

Anderkant die draad deur Janie Smit

Hierdie verhaal lê nou mooi reg in sy voeë. Dis duideliker gefokus wat betref die seunskinders van langsaan.
    Weer eens loof ek die heel laaste sin. Isaac Babel, ná Tsjekov, die grootste Russiese kortverhaalskrywer — enige skrywer wat die relaas van aksie wil aanleer, moet sy Red Cavalry lees — het gesê: “Niks beroer die hart van ’n mens soos ’n volpunt op die regte plek nie!”
    Dié kortverhaal se laaste sin is ’n volpunt op die regte plek.
    Om terug te keer: daar skort tog iets met die heel eerste sin. Dit moet uit die verlede tyd in die ewigdurende teenwoordigheid (my formulering) gebring word.
    Vir die res loop die verhaal nou op wiele.

boontoe

Offerblomme vir ’n heks deur Nanette van Rooyen

Met die herlees neem die verhaal in my gemoed toe. Dit word groter en hoër en wyer: werklik ’n kunstoer in die kleine.
    ’n Storie wat op ’n smal snypunt van skrik voorbeweeg, en wat nêrens wankel nie. Daar is ’n doodsveragtende gerigtheid in die stuk.
    Let op hoe die teenwoordigheid van die rose in die verhaal die terreur daarvan juis versag en vergroot. In ’n minder bedrewe skrywer se hande sou dit moontlik oordadig kon word. Maar hier juis nie.
    Mens moet maar altyd waag met ’n kortverhaal. (“We are nothing if not risk.” Martin Versfeld.”)

Nota: Ek moet myself, as kritikus, hier betig. Ek het my opmerking oor die twee verskillende soorte bome nie duidelik genoeg gemaak nie. Ek wou nie hê dat die skryfster die populierbome noodsaaklikerwys moes weghaal — soos sy gedoen het — nie. Ek wou net duidelikheid daaroor kry of sy nie dalk ’n verwarring van bome het nie. Agter in my kop was natuurlik die gedagte dat al die bome bloekombome moet wees, vanweë hul somberte en die leweloosheid wat daar onder hulle heers. En vanweë hul vreeslike dorps-Afrikaansheid.
    Ek voel tog daar het iets moois verlore gegaan met die uithaal van die ander bome. Hulle laat ’n klein, maar besliste leemte.
    ’n Mens moet baie versigtig wees met die uithaal van dinge. As hulle eers eenmaal daar was, dan laat hul verdwyning ’n soort nostalgie.
    Merwe Scholtz het eenmaal vir my gesê dat ’n kunswerk ook van sy fout afhanklik kan wees. Nes ’n mens. “Haal sy fout weg,” het hy gesê, “en kyk ’n bietjie wat oorbly: dit kan dalk te veel afwesigheid wees.”
    Kreatiwiteit is ’n geweldig misterieuse proses — eintlik opsombaar. ’n Kritikus behoort enige stuk werklik kreatiewe werk met verskuldigde eerbied te bekruip, want dit (kreatiwiteit) is die boodskap wat die toekoms aan die huidige oomblik kom aflewer. En een van die vernaamste stukke toerusting wat die ernstige en eerlike kortverhaalskrywer (’n baie vername verteenwoordiger van die bogenoemde toekoms) kan aanskaf, is ’n goeie stuk vertroue in jou eie, innerlike visioen.
    As die kritikus jou eie, ongetwyfelde visioen begin aantas — gee eenkant toe pad.
    Toe die jonger James Joyce — op sy versoek — die hooggeroemde bejaarde William Butler Yeats in gesprek ontmoet het, het Yeats hom na ’n hele middag se oudiënsie gevra: “And what is your impression of me?”
    Joyce se antwoord: “It is as I thought. You can teach me nothing.”
    As ’n mens wéét jy is James Joyce, hoef jy nie Yeats te vrees nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.