SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

George WeidemanTerugvoer deur George Weideman

Eerste verslag

Grys het duisend kleure deur Manie Groenewald
Laaste besoek aan Perdekuil deur T F Naudé
Vlug deur Hilde Nel
Anderkant die draad deur Janie Smit
Offerblomme vir ’n heks deur Nanette van Rooyen

Algemene kommentaar

Nie al die verhale is ewe sterk nie; tog het elke teks ’n eiesoortige bekoring en ’n eie potensiaal. Ek meen egter al die verhale kan baat by snoeiwerk — in sommige gevalle minder as ander. Een ding wat ’n skrywer altyd moet onthou (ek preek nou ook vir myself) is dat paragrawe of teksgedeeltes (-gehele) in die skryfproses soms rondgeskuif moet word. Beginne is nie noodwendig altyd beginne nie; slotte word dalk verbygeskryf ...

Grys het duisend kleure deur Manie Groenewald

’n Verhaal wat ’n mens effens aan die tema van Arthur Miller se The Crucible herinner — in hierdie geval ’n gevoelige mens (’n jong kunstenaar) se weerloosheid teen die vrese, vooroordele en skynheiligheid wat oorheersend is in ’n samelewing.
    Aan die uitbeelding van die gevoelige (en sterk individualistiese) seun en die outistiese meisie skeel min. Hulle vorm ook eintlik twee sye van één persoonlikheid, ’n persoonlikheid wat vervreemd staan van die maatskappy en dié se kleinburgerlike verwagtinge. Dit is die skrywer se verantwoordelikheid om seker te maak dat sy feite klop — m.a.w. om vas te stel óf outisme wel so kan werk, tot by die slotonthulling. M.a.w. hoe geloofwaardig is dit wat op die gebeurevlak plaasvind?
    Die spanning tussen dié “vrye geeste” en die rigiede wêreld buite húlle “paradys” word van vroeg af skerp geteken, maar behoort myns insiens volledig van enige “prekerigheid” (manipulering deur die skrywer) gesuiwer te word.
    ’n Verdere pluspunt is die gelaaide atmosfeer wat van meet af geskep word — deur fyn te kyk na sy woordgebruik kan die skrywer sorg dat sy verhaal nog meer van ’n visuele inslag het, sodat dit self soos ’n skildery word. Die geheim is seker om nie die sensuele te oorbeklemtoon nie; hoewel dit plek-plek netjies met die maatskappy se sensasiesoekery kontrasteer.
    Hierdie spanning (dié tussen mens en maatskappy en tussen leser en verhaalruimte) werk ook goed op die ideëvlak: die uitdaging (toetsing en oortreding) van grense of reëls (soos die wegbly van die skool af, die besoek aan die verbode moerasgebied) bring iets van ’n “fatal attraction”, ’n sirene-motief in die storie. Weer eens: Maak dubbeld en dwars seker dat dit alles binne die wêreld van die outistiese mens haalbaar is. (Die film Nell is hier ’n min of meer verwante teks wat as toetssteen kan dien.)
    Daar moet m.i. nog aan die dialoog geskaaf word — dialoog (selfs al is dit amper onmoontlik — of ontoereikend? — vir sowel die seun as die meisie) is ’n brug na die leser. Anders is daar te veel “skrywer” in die storie en ervaar die leser dinge nie direk nie. Vgl. veral die slotparagrawe op p. 3.
    Wat die verhaalverloop (struktuur) betref: Alles verloop min of meer boeiend tot by die slot. Maar ek het nie volledig vrede met die slot nie. Dit laat by my die indruk dat die skrywer nog op twee gedagtes hink. Wat wil die verhaal op die ou end sê? Hoewel dit vir enige skrywer erg is om aan ’n verhaaleinde (wat dikwels vroeg “gevisualiseer” word) te peuter, sou ek tog reken die verhaal mis hier ’n sterkte wat reeds deur die eerste deel van die storie ingegee is. Op een vlak ontplooi die verhaal só dat die leser presies dit wat op die ou end gebeur, verwag. Hierdie leser het iets meer verwag van die slot.

boontoe

’n Laaste besoek aan Perdekuil deur TF Naudé

’n Stemmingsvolle verhaal wat, so suggereer die titel, oor ’n afskeid gaan.
    Daarin lê dan ook die elegiese opgesluit — dit wat m.i. die sterkte van die verhaal is, en wat terselfdertyd ’n bepaalde beperking na vore bring. Dit is egter waar dat nie alle lesers dit — die verhaal as bloot stemmingsvolle elegie — as ’n beperking mag sien nie. Dis net dat die gegewe aan noodwendigheid mis omdat daar op die gebeurevlak soveel verspeelde kanse is. Ter verduideliking: Waarom word daar hoegenaamd van verval én beskerming teen geweld gepraat as dit nie deel van die verhaalessensie is nie?
    ’n Besondere pluspunt is die poëtiese taalgebruik en plek-plek wonderlike beskrywings (funksioneel op die vlak waar verlede teen hede afgespeel word). Tog is hier te veel adjektiewe en ook herhalings (kort-kort word bv. eksplisiet verwys na die “verlede”, terwyl daar genoeg voorafgaande beskrywings is wat juis dié verlede suggereer!) Geen woordsoort is ’n groter vyand vir die kortverhaalskrywer as juis die byvoeglike naamwoord nie.
    Hoe kry ons die begin-kloutjie by die slot-oor? Aan die begin word herstel gesuggereer, aan die einde ’n dreigende toekoms: “Dit was na sy lang siekbed ...”; “... broos en met die aanraking van die dood nog aan sy lyf...” lees ons aan die begin. Later word sy tingerigheid ook beklemtoon, maar daarby sy wil om dinge te herbeleef. Maar die titel suggereer wel afskeid. Die leser vermoed egter nie die onheil waarvan die slot melding maak nie. Klop dit?
    Indien die hedendaagse (plaas-)geweld as ’n soort finale afsluiting van enige herinnering aan die plaas (as synde ’n metafoor vir vrede en geborgenheid) gesien word, moet dit van meet af dalk sterker (tog wel subtiel) saamgaan met die verhaal. Ons lees weliswaar in par. 4 van draadheinings en staalwerings, maar word dié gegewe benut? Indien wel, is dit die soort sin / paragraaf wat teruggeskuif behoort te word. Is dit nie juis moontlik die begin (en dus ook “einde”) van die verhaal nie? (Hiérdie kommentaar moet asb. nie as voorskriftelik gesien word nie.)
    Die vraag bly egter of die slot — met die beklemtoning van “nostalgie” — die teks by iets meer laat uitkom as dít: ’n oppervlakkige mymering.
    Hier en daar haper iets aan die styl: Soms ’n soort grammatikale onwennigheid — vgl. die betekenisoordrag (in die sleutel-beginparagraaf) tussen “aanbidding” en “piëteit” en die verteller en die plaasarbeiders: iets maak hier nie sin nie.
    Dit is die skrywer se keuse of hy hiervan ’n afgewerkte sketsverhaal wil maak, of ’n teks met ’n eietydse lading waarin “laaste” meer as een betekenis verkry.

boontoe

Vlug deur Hilde Nel

’n Verhaal met die potensiaal om die eietydse tema van verskuifbare moraliteite (“geregtigheid hang af aan wie se kant jy is”) te ontgin.
    Wanneer ’n mens kyk na streekskonflikte (of dit nou die Anglo-Boereoorlog is of die gebeure in Noord-Ierland, die Balkan of die Kongo), is daar altyd onoplosbare vrae. Die verhaal skep wel dié verwagting, omdat hier sprake is van mense wat damme “vir die saak” opblaas — maar vervlak (verflou) feitlik tot ’n populêre avontuur-cum-liefdesverhaal met bitter min diepte.
    Tog is die potensiaal daar vir ’n goeie lekkerlees-storie (die vertelstyl is vlot en pakkend, dit lees gemaklik, die karakters is nie mense wat met diep psigologiese kwessies worstel nie).
    Die opbou van die handeling (die gebeure by die dam en die agtervolging) is spanningsvol, maar daar is m.i. te veel (ongeloofwaardige) kinkels — en selfs húlle is nie voldoende om die einde oortuigend te maak nie. Hier word te veel aangekarring sonder dat die leser aangegryp word.
    Daarby kom nog dat besinnende gedeeltes (soos wanneer die meisie dink aan die redes waarom sy na die land gekom het), dalk nie pas daar waar hulle nóú staan nie, omdat hulle die handeling onderbreek (vgl. die eerste par. wat begin met “Sy rus met haar kop teen die ruit.” Daar is, terloops, ’n tweede par. wat so begin — ’n stylswakheid wat elders ook opduik.) Een van die kinkels (of voorbeelde van onnodige gekarring) het te doen met die verkeerskonstabel. Hier is twee lastighede: Wat sal ’n verkeersman regtig hiér maak? Waarom so baie ruimte aan hom afstaan? (Weer eens is hierdie potensiaal om ideologiese kontraste by te bring — die man wy immers uit oor die skoonheid van sy land!)
    Die kernprobleem is waarskynlik dat die skrywer nie geleentheid skep vir dit wat ek aan die begin genoem het (gerelativeerde moraliteit) nie. Sou dit nie kon werk as die man en die meisie se oortuigings rou en sterk en oortuigend teen mekaar uitgespeel word nie? Daar is tog aanduidings: Dit gaan vir hom om meer as net geld, sê die huursoldaat bv. op een plek. Wel? ’n Mens moet ook onthou dat selfs die moderne (deur geweld afgestompte) leser nóg oortuig moet word dat ’n onskuldige natuurfotograaf op bladsy een geskok word deur die dambeampte en sy aanvaller se gewelddadige dood, net om ’n paar bladsye verder te paradeer as ’n verliefde wat vir haar gevangenemer sê hy vlug vir haar, vir sy gevoelens. Nee, dis te dik vir ’n daalder.
    Die verhaal se redding lê miskien in ’n ondersoek na wat “reg” en wat “verkeerd” is. Is die skrywer bekend met Cussons se vertaling van Borges se verhale (Die vorm van die swaard e.a. verhale), of met ander Suid-Amerikaners (bv. Marquez) se kortverhale?
    Dat die skrywer van hierdie storie weet hoe om aksie en dramatiese gebeure “lewendig” te beskryf, blyk uit menige storiedeel — vgl. die par. wat begin met “Dit gee haar weer moed ...”, asook die verspringende verhaaltrant.
    Herskryf behoort al dié “probleme” op te los.

boontoe

Anderkant die draad deur Janie Smit

’n Sonde-met-die-bure-storie met ’n paar wrang draaie. Dis ’n pakkende vertelling uit die perspektief van ’n kind (a la Jeanne Goosen, vgl. Ons is nie almal so nie). Die relativering van mense se definisie van “commonness”, agterlikheid en geweld word knap oorgedra, hoewel die ooreenkomste met Goosen se styl besonder opvallend is. Dit mag wel in een verhaal “werk”, en tog moet die skrywer daaraan dink dat ’n eie stem hier belangrik is. (Vergelyk ’n mens Goosen se tekste met verhale van Welma Odendaal, kom die kwessie van hierdie unieke “stem” duidelik na vore, omdat elke skrywer ’n eie styl en geografiese raamwerk vir hul kinderkarakters skep.)
    ’n Belangrike vraag is of die perspektief (d.w.s. die kind se manier van kyk en beleef) werklik tot in elke vesel van die storie volgehou word. Hoe konsekwent is die skrywer dus? Die gebruik van ’n woord soos “spoorweg” bv. geplaas teenoor die funksionele sosiolek elders — hinder hierdie leser.
    Kyk ook na plekke waar die skrywer dalk “intree” — vgl. die verhaal se tweede sin (as “gepraat” in sin 1 bv. met “(ge)skinner”; uit sin 2 vervang word, en sin 2 dan weggelaat word, is die skrywer ook sommer uit die verhaal!) Dit moet nog deurgaans gebeur. Daar is trouens hele paragrawe wat maar kan waai — hulle sou in ’n roman-opset dalk werk, maar hier vertraag hulle die tempo en trek hulle die aandag af.
    Tog getuig die taalgebruik van ’n sekere woordgevoeligheid wat m.i. mooi beloftes inhou vir die skrywer. Dit ondersteun ook die deurlopende ironie (wie is nou eintlik “common”; en wie nié — maak net seker dat ook dít konsekwent hanteer word!).
    Die storie het ’n knap begin. Afwagting word onmiddellik geskep deurdat die begrip “common” so onmiskenbaar gerelativeer word. Hierna word die spanning goed volgehou, ofskoon daar hier en daar verwarring ontstaan rondom die karakters (daar is nogal ’n hele paar wat “buitengewone” aandag kry). M.i. kan hier eweneens met vrug gesny word; kyk egter veral ook na die eerste kennismaking met Piet. Omdat Barrie “verdwyn” en Piet “bykom”, skep dit verwarring by die leser.
    Met die slot het ek nog ’n probleem. Ek vind dit nie heeltemal in orde dat dit juis Piet moet wees (of dat dinge op só ’n enigsins melodramatiese wyse gebeur) nie; miskien omdat dit ’n alte “maklike” of “gerieflike” afloop bied. Die teks kan hier wen — of verloor — aan oortuigingskrag. Die slotparagraaf is egter veelduidig en knap.
    Die verhaal se grootste pluspunte is uitstekende karakterisering en die spanning rondom die duiwe; iets skort egter nog i.v.m. die noodwendigheid van die verloop (so asof die skrywer dalk op ’n paar gedagtes gebroei het...)
    Die gegewe verdien ’n skrywershand met selfdissipline.

boontoe

Offerblomme vir ’n heks deur Nanette van Rooyen

’n Interessante kykie in ’n wêreld waar die reële en die bonatuurlike aanmekaar raak — ’n paar dekades terug geplaas, maar met ’n onthutsende mate van geldigheid in ’n tyd wanneer geweld teen kinders, die aangryp van die bonatuurlike en heksery kort-kort weer nuus is. Die algemeen-menslike, soos opgesluit in die beangste kind se waarnemings, die mans se waarskuwings of vooroordele aangaande Miesie, die kluisenaarfiguur self, met al haar geheimsinnigheid, en dan veral die netjiese onderspeel (onderbeklemtoning) van die kind se “inisiasie” (op meer as een vlak), laat die verhaal m.i. slaag.
    Besondere pluspunte in hierdie verhaal is die subtiele wyse waarop uiteenlopende karakters uitgewerk is, asook die enkele woorde of sinne waarmee atmosfeer of emosie opgeroep word (die binnekant van Miesie se kamer; die kind se senuagtige handelinge, haar gedagtes).
    Dit lyk asof heelwat snoeiwerk al hier plaasgevind het, maar die skrywer kan dalk nog aan die volgende sake aandag gee:
    Oom Paul — goed geteken as ’n nogal “onwelkome” karakter, in elk geval uit ma en dogter se oogpunt — se betrokkenheid is nie volledig duidelik nie. Sonder om te veel te sê, kan ’n enkele woord of kort sin hier enige dubbelsinnigheid uit die weg ruim. (Hoekom was Ma se moer los vir oom Paul?)
    Die verband tussen die offerblomme en die verteller se eie ervaring is eweneens nie genoegsaam uitgewerk nie. Miskien is ook hiér net ’n woord of ’n sin nodig?
    Bogenoemde “aanvullings” mag ook implikasies vir die slot hê. Dit is natuurlik belangrik in ’n verhaal wat, soos hierdie een, op die kant van ’n donker afgrond langs loop, om nie te spesifiek te wees nie, om baie aan die leser oor te laat. Tog mis ek die soort balans wat die verhaal ’n rapsie meer toeganklik sal maak.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.