VryepoortArchive
  Versorg deur: Kabous Meiring, Johan Pienaar en Susan Samuel
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vryepoort@LitNet

Vryepoortstasie


Projek
Afrika Afrikaan

Projekskets: AFRIKA AFRIKAAN vrywilligersprojek


Kapittel
Datums

16 Junie - Jeugdag


Vlampunte

Is dit enigsins moontlik vir wit Suid-Afrikaners, en dan veral wit Afrikaners, om wit Afrikane te word?

Nico Smith

In ’n vorige bydrae het ek die verhaal vertel van my eerste kennismaking met die begrip wit Afrikaan. Na my ontmoeting met dr Karefa-Smart in Nairobi, wat by my die vereiste tuisgebring het om wit Afrikaan te word ter wille van voortbestaan as Europeaan in Afrika, het ek met groot entoesiasme oor dié begrip na Suid-Afrika teruggekeer. In daardie stadium was ek reeds op pad om lid van die Afrikaner-Broederbond te word. ’n Groep leidende Afrikaners het my gevolglik gevra om by ’n byeenkoms van dié groep my indrukke van die konferensie wat ek bygewoon het, met hulle te deel. By dié geleentheid het ek dan ook van die besondere ontmoeting met Karefa-Smart vertel en met entoesiasme aanbeveel dat ons eenvoudig genoodsaak is om ons as wit Afrikane te identifiseer.

Tot my stomme verbasing het die groep met die uiterste afkeuring van die gedagte gereageer. “Ons is Europeane en sal dit altyd bly. Ons wil nie Afrikane word en wees nie. Moet tog nie voortgaan om die gedagte by ander te probeer tuisbring nie. Dit sal net twyfel in die gemoed van veral jong Afrikaners veroorsaak.” Nét daar was my entoesiasme om wit Afrikaan te word, in die kiem gesmoor. Trouens, ek het half skuldig gevoel dat ek so ’n gedagte enigsins in my gemoed kon koester. Ons is Afrikaner-Europeane en moet dit vir altyd bly. Ek het die begrip wit Afrikaan dus op die agtergrond in my denke teruggeskuif. Om in Afrikaner-geledere aanvaarbaar te wees, moes ek my identiteit in Afrikanerskap vind en basta met wit Afrikaan te wil word. ’n Jaar later het ek lid van die Afrikaner-Broederbond geword.

Tog het die begrip my nooit heeltemal verlaat nie. Na my “bekering” van Afrikaner-nasionalisme na Suid-Afrikanisme het die besef dat ons as wit Afrikaners geen ander keuse het as om wit Afrikane te word nie, weer by my herleef. Dit was juis my ervaring gedurende die tien jaar wat ek lid van die Bond was, wat my tot die besef gebring het dat ons met Afrikaner-nasionalisme en die gepaardgaande apartheidsideologie in ‘n doodloopstraat beland het. Daarom het ek uit die Bond bedank en in vryheid die begrip van wit Afrikane te word, by die studente aan die Kweekskool op Stellenbosch, waar ek destyds professor in die Sending- en Godsdienswetenskap was, probeer tuisbring. Toe oudstudente en kollegas op my sestigste verjaarsdag in 1990 aan my ’n erebundel opgedra het, was die titel dan ook: Wit Afrikane? ’n Gesprek met Nico Smith. Dit is veelseggend dat die samestellers van die bundel besluit het om juis ’n vraagteken agter die Wit Afrikane te plaas. Dit dien as aanduiding van die onsekerheid wat nog so laat as 1990 bestaan het oor die moontlikheid om wit Afrikaan te wees.

Die besondere ervaring wat ek opgedoen het deur in 1981 as professor aan die Kweekskool te bedank en na die swart township, Mamelodi, oor te skuif, het my van naderby met die betekenis van wit Afrikaan te word, laat kennis maak. En dit was beslis geen verheffende ervaring nie. Vir die eerste keer moes ek aan eie lyf ervaar wat apartheid vir swart mense in die praktyk beteken het. Dat so ’n onmenslike sisteem vir so lank orent gehou kon word, bly een van die nog onbeantwoorde vrae uit die geskiedenis van Suid-Afrika. Apartheid was niks anders nie as verskuilde rassisme wat die menswaardigheid van swart mense in die hart aangetas het. Van hierdie aantasting het ek maar in beperkte mate iets ervaar deur onder die swartes te woon en my met hulle lot te vereenselwig.

Maar my ervaring van die lotgevalle van die mense van Afrika het my langsamerhand tot die besef gebring dat ek nooit Afrikaan sou kon word nie. In my daaglikse direkte kontak met die swart Afrikane het dit vir my duidelik geword dat ek nooit in hulle “vel” sou kon inkruip nie. My denke en leefwyse, my beskouings oor die lewe en die wêreld was té ver verwyder van wat ek moes ervaar van die denke en leefwyse van die mense van Afrika. My hele mens-wording was té ver verwyder van dié van die mense van Afrika. Ek kon my wel met hulle lot vereenselwig, maar my mens-wees kon ek nie oorskakel na die mens-wees van mense van Afrika nie. So ’n eksistensiële verandering van jou mens-wees is onmoontlik. Dit kan van niemand verwag word nie, hoe idealisties ’n mens ook al daaroor sou dink, om van “snaar” te verander nie. Ek was as Europeaan gesnaar en daarmee moes ek vrede maak.

Beteken dit dus dat niemand wat uit ’n Europese oorsprong gebore is, ooit  ’n Afrikaan sou kon word nie? Geensins! Dit het vir my duidelik geword dat ek vanweë my oorsprong “gedoem” is tot ’n dubbele identiteit, naamlik as Europeaan en as Afrikaan. In wese is ek Euro-Afrikaan, en sal ek dit steeds bly. En as sodanig kan ek my wél ten volle in Afrika uitleef en deel word van die Afrika-kontinent. Dit beteken dat ek onveranderbaar Europeaan bly, maar my sodanig met Afrika identifiseer dat ek onskeibaar tot Afrika behoort en my met die mense van Afrika identifiseer. Soos Karefa-Smart dit aan ons groepie wit Afrikaners uitgespel het, beteken om Afrikaan te wees dat ek my sodanig met die mense van Afrika identifiseer dat ek op geen wyse, omdat ek ’n wit vel het en Europeaan van oorsprong is, vir mysélf enige regte of voorregte sal opeis wat die mense van Afrika nie ook kan opeis nie en dat ek my juis daarvoor sal beywer om ook die mense van Afrika dieselfde regte en voorregte te laat bekom.

Sedert my ervaring in die swart gemeenskap het ek my voortdurend as Euro-Afrikaan geïdentifiseer. Hieroor was my kollega by Unisa, prof Tenyiko Maluleka, telkens erg ontsteld. Vir hom was ek ’n wit Afrikaan en hy kon nie verstaan dat ek na myself kon verwys as Euro-Afrikaan nie. Maar hoe kan iemand wat nie in jou vel kan inkruip nie, ooit verstaan waarom jy by jou Afrikaanskap ’n kwalifikasie moet byvoeg? Net so min as wat ek in staat is om in sy vel in te kruip, is hy in staat om in my vel in  te kruip. Hy het nie nodig om by sy Afrikaanskap ’n kwalifikasie by te voeg nie. Ek het dit wel nodig – nie as ’n noodsaaklike kwalifikasie nie, maar as ’n eerlike erkenning dat ek in wese nie Afrikaan is en kan wees nie.

Wat is dan my plek en toekoms as Euro-Afrikaan in Afrika? Niks anders as die plek en toekoms van ’n Tsonga-Afrikaan, ’n Zoeloe-Afrikaan, ens, ens nie. My kwalifikasie as Afrikaan beteken nie dat ek nooit werklik tot Afrika kan behoort nie. Soos elke ander etniese Afrika-groep behoort ek, deur die geskiedenis, daartoe verbind, ook tot Afrika, en is ook ék onafskeibaar aan Afrika verbonde. Ek wil niks minder of meer as behorende tot Afrika wees nie. Ek identifiseer my volkome met die mense van Afrika en vereenselwig my met hulle hoop en verlangens as mense. Hulle hoop en verlangens is ook myne. Ek begeer niks meer of minder as hulle nie. As sodanig het ek volkome “verblyfreg” in Afrika. En ek is oortuig dat geen Afrikaan my dié verblyfreg sal wil ontneem of ontsê nie. Van hierdie feit het ek genoegsame persoonlike ervaring gehad en weet hoe mense van Afrika my volkome as Euro-Afrikaan aanvaar het. Daarvoor is ek innig dankbaar. En daarom wil ek in Afrika bly. Trouens, net die gedagte aan te verhuis na ’n ander kontinent veroorsaak soveel weerstand in my eie gemoed dat ek weier om ooit aan so ’n gedagte in my denke ruimte te verleen.

Ek het groot waardering vir die projek Afrika Afrikaan. Ek sou dit graag as ’n dialoog-platform tussen Afrikane en Euro-Afrikane wil sien ontwikkel. ’n Gesprek oor Afrika Afrikaan sal nie relevant kan wees tensy Afrikane gewillig sal wees om met ons as Euro-Afrikane in konstruktiewe gesprek te tree nie. Anders verval ons weer in  naeltjie-kykery, wat net vervelig sal raak. Kom ons vind Afrikane wat met ons in gesprek sal tree en ons sal laat weet hoe hulle oor ons dink, hoe hulle ons plek en toekoms sien en dit sodoende vir ons as Euro-Afrikane help moontlik maak om ’n sinvolle bestaan in Afrika te vind.


LitNet: 14 Junie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel?
Opinies/essays kan gestuur word na redaksie@vryepoortstasie.co.za, of jy kan op SêNet reageer deur 'n brief te stuur aan webvoet@litnet.co.za.

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.