VryepoortArchive
  Versorg deur: Kabous Meiring, Johan Pienaar en Susan Samuel
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vryepoort@LitNet

Vryepoortstasie


Projek
Afrika Afrikaan

Projekskets: AFRIKA AFRIKAAN vrywilligersprojek


Kapittel
Datums

16 Junie - Jeugdag


Vlampunte

Our people once were warriors *

Jo Prins **

I was lying in a burned out basement
With the full moon in my eyes.
I was hoping for replacement
When the sun burst thru the sky.
There was a band playing in my head
And I felt like getting high.
I was thinking about what a
Friend had said
I was hoping it was a lie.
                                 
                                                          – Neil Young

 

1988

In ’n vervalle huis in die Hoëveld draai dié Neil Young-song se woorde deur my kop.

Buite is my peloton besig met ’n vee-operasie soos ons stelselmatig deur die landskap beweeg. Ek en ’n buddy is die taak opgelê om ’n murasie uit te check.

Hy beweeg voor my deur die voordeur terwyl ek met my R4 verby hom korrel en terselfdertyd staatmaak op geoefende perifere visie. My mond hang effens oop sodat my skedel elke moontlike geluid kan optel. My asemhaling is reëlmatig. Al is dit die laaste ding wat ek op hierdie aarde doen: niemand sal my buddy doodmaak nie. Niemand nie. Hy maak seker daar is nie enige wapen-opgaarplekke of ongewenste manne met AK’s wat in die murasie laaglê nie. En ek maak seker hy loop lewend daar uit.

Ná ons deur die hele plaashuis is, kom ons voor die oorblyfselfs van ’n kaggel tot stilstand. ’n Pienk pop met gehawende hare lê in die vuurherd.

Skielik is daar ’n stortvloed emosies wat my binnestroom.

Ek hoor hoe die King’s Singers Young se woorde sing en ek verwens ’n God: dat dit eerder iemand anders moes wees wat besig was om dít te doen.

En net voor diensplig het ek en ’n vriend – wat eers enigiets gaan swot het om nie opgeroep te word nie – gepraat oor “wat de fok daar vir ons in hierdie land oor is”.

En “I was hoping it was a lie …”

 

2001

Ek kom van my eerste misdaadtoneel wat ek as joernalis vir Beeld moet cover. ’n Ou oom is met ’n beitel in sy linkerslaap doodgesteek terwyl hy voor ’n draaibank in hul Wes-Randse huis se buite-werkskamer doenig was. Hy was besig om pote vir ’n tafel te draai. Die tannie was in die kombuis. Sy is oomblikke later voor die wasbak oorval en in die huis se gang afgesleep. Hulle het ’n klein bietjie water in die bad ingetap en haar verdrink …

Die vivid herinneringe aan daardie dag is die oom se bloed – nog nie eens droog nie – in die saagsels langs sy werkstafel.

Sulke vet, donkerrooi druppels wat taai kleef aan die geel krulle op die grond.

Die pienk kleur van die badwater waar die tannie verdrink is … Die kleur van haar rok.

Ek en die fotograaf (Schalk van Zuydam) praat met die oudste seun, neem foto’s en skryf vir die volgende dag iets vir die voorblad.

“As daardie oom net ’n keffende hondjie gehad het, dan’t hy hulle hoor kom,” sê ek vir Schalk. Net ’n klein brakkie se geblaf sou moontlik genoeg tyd gekoop het dat daardie mense vandag nog gelewe het.

En om tyd te koop: deur jou sintuie behoorlike in te span; deur visueel te dink oor die ruimte om jou; deur die tree van elke mens in jou onderbewussyn te tel van hoe ver hulle van jou is.

En in daardie tyd op pad terug Auckland Park toe terwyl Schalk bestuur, besef ek: Dis oorlog dié.

En gelukkig is ek – voor enigiets anders – opgelei as soldaat.

 

Soldate

“Het jy al ooit daaraan gedink dat die rede vir soveel geweld in hierdie land die feit is dat die meeste mense van jou ouderdom – give or take ’n paar jare – en ouer almal opleiding as soldate gehad het?” Só praat ’n ander vriend in ’n poging om agter die kap van ’n spesifieke byl – en dikwels bly nie eers hakskeensenings oor nie – te kom.

Soldate aan beide kante van die spektrum. Die manne in die ou SAW en Umkhonto (we Sizwe) wat nou meer as ooit aan die verlede uitgelewer is.

Om nie eens te praat van Apla nie.

Ja, daar ís inisiatiewe (soos nou aan die Oos-Rand, waar Robert McBride vir oud MK-lede nuwe vaardighede wil leer), maar dis die punt van die ysberg.

Die onderliggende aggressie is soms tasbaar.

Transitorowe (in Gauteng in elk geval) word dikwels met militêre presisie uitgevoer en die onlangse Jeppestown-slagting in Johannesburg dui duidelik daarop dat ons met opgeleide mense te doen het – nie ’n straat-gang wat lukraak oor ’n naweek in ’n sjebien bymekaargeskraap is nie.

En die manne kén mekaar – dié vreemde band of brothers. Of hulle nou van Zimbabwe of elders hier aanland – ken, kén hulle.

Amper soos ’n coke addict binne enkele oomblikke nadat hy by ’n vertrek ingeloop het vir jou kan sê wie die dealers is en waar jy kan score, só kyk oud-soldate mekaar uit.

Die mense het gewoontes. Dinge wat hulle anders maak. Dinge wat hulle doen.

Terselfdertyd haat hulle soldaat-wees – want is die ultimate truuk van die beste soldaat nie juis om konflik te vermy nie? Die opleiding – alles – gaan daaroor om minimum geweld te gebruik om jou doel te bereik.

Om die oorlog te wen – soos in Sun Tzu se The Art of War – sonder dat ’n enkele skoot geskiet is.

Maar The Art of War het The Art of Survival geword in ’n nuwe Suid-Afrika waar nuwe uitdagings dreig om dié brose demokrasie te ondermyn.

En mense skiet makliker as destyds …

En dis ’n nuwe soort oorlog dié.

 

Nando’s

By die Nando’s in Randburg wag ek vir ’n spicy rice take-away.

Seker so meter of wat voor my staan ’n ander ou ook en tel die honger minute af. Hy staan met sy rug na my toe.

En dis nie asof mens ’n hunkering het en of jy met jou soldaat-wees op jou mou loop nie, maar skielik kom sit dít in jou kop: dié ou was nooit in die weermag nie. Dis half ’n ongesêde reël om nooit met jou rug na iemand te staan nie. Aan die een kant uit respek, maar ook om iemand in die oog te hou.

Ek kyk oor die gesigte in Nando’s en maak oogkontak met ’n man so in sy vroeg 40’s. Behalwe vir hom – wat waarskynlik ook daar iewers in sy agterkop ’n korporaal het wat dreig om sy bors oop te ruk en op sy longe te kak – is daar vreemd genoeg geen ander comrades wat ek gewaar nie.

Die gewone (en gewonde) soldate – die mense wat vandag ends moet maak meet en hoegenaamd nie ’n behoefte het om ooit weer soldaat te wees nie – verstaan nie die jongste militêre modes nie.

Voor jy cargo pants kan dra moet jy werklik vrede maak met jouself en ’n spesifieke verlede.

Te veel opfokke het gekom terwyl jy met jou browns of camo’s – met die sakke aan die kant van die broek – deur ’n meter diep modder en kak moes kruip in óf minusgrade- óf kookpunt-temperature.

Wanneer ’n buddy se niere ingee en jou wysvinger op die sneller van jou geweer huiwer of jy die sadis van ’n instrukteur moet doodskiet, bind dit jou op ’n weird manier aan mense.

Jy verstaan baie van dit wat jy in koerante lees.

En wanneer ’n inbreker ’n boer se voetsole afsny of warm was in sy gesig drup, verstaan jy – uit ’n amper oer-opleiding – dié sielkundige skaakspel.

 

Hoop

Ek hét gehoop my vriend se waarskuwings was ’n leuen.

Dat dit als pear-shaped sal gaan ná tien jaar weens die jare lange belegging in haat en vergelding.

Dat die grensoorlog nog nooit opgehou het nie. Dat die grootste grense van enige oorlog in ons koppe is en sal wees. Dat dít voortleef …

En dan skop die joernalis in my in: ek ontmoet iemand soos Madiba by sy huis in Houghton en staan verstom.

Dié man – wat so maklik kon teruggeval het op sy comrades se aandrang vir die opneem van wapens – het ’n groter visie vir hierdie land (gehad).

Moet ek – en mense soos ek – nie ook die visie van ’n vreedsame, voorspoedige Suid-Afrika in die vergesig hou wanneer die dag-tot-dag se realiteite ons in die gesig staar nie?

En ons kinders?

Hoe sal ons ons kinders toerus om denkende, regverdige mense te wees in ’n opset wat heel dikwels nie dié waardes weerspieël nie?

Aan die een kant wil ek sê “sny die naelstring”, dat niemand ooit iets weet van militêre opleiding nie.

Maar dít sal al die eenogiges konings maak in ’n blinde land – en blind moet ons nie wees vir die uitdagings wat voor ons lê nie.

“Our people once were warriors.”

Miskien moet ons uit die trots van “warriors” gaan put en mekaar tartend uitdaag om nie die eerste skoot te skiet nie.

Om die kopstamp te hou vir wanneer dit werklik nodig is …

* Die karakter Beth Heke se woorde in die rolprent Once Were Warriors (1994).

**Jo Prins is assistentnuusredakteur vir Beeld in Johannesburg.




LitNet: 24 Augustus 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Opinies/essays kan gestuur word na redaksie@vryepoortstasie.co.za, of jy kan op SêNet reageer deur 'n brief te stuur aan webvoet@litnet.co.za.

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.