VryepoortArchive
  Versorg deur: Kabous Meiring, Johan Pienaar en Susan Samuel
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vryepoort@LitNet

Vryepoortstasie


Projek
Afrika Afrikaan

Projekskets: AFRIKA AFRIKAAN vrywilligersprojek


Kapittel
Datums

16 Junie - Jeugdag


Vlampunte

Suid-Afrikaners in Londen. Bang? Nooit.

Mandy Rossouw
Media24-korrespondent in Londen

Vir jongmense wat hul heil in Londen kom soek het, is die vrees vir die
onbekende iets wat nie meer 'n bliep op die radarskerm maak nie. Die vrees
vir terroriste, wat in Londen juis onlangs weer beklemtoon is met die
herdenking van die bomaanvalle van 7 Julie verlede jaar, is ook een wat
weggepraat word.

Die bomme het mense aan die praat en aan die bewe gehad, dit kan niemand
ontken nie. Maar, soos Suid-Afrikaners hier sê: "Ons ken van geweld." Waar
ons vandaan kom, is polities-geïnspireerde geweld laag op die lysie van die
"onbekende" en hoog op die lysie van dinge waarvan ons weet. Daar word
vertel dat daar kort ná die bomaanvalle 'n aanvraag was vir Suid-Afrikaanse
dokters omdat hulle beter weet hoe om met trauma-pasiënte te werk as enige
plaaslike dokters.

Die rede waarom baie Suid-Afrikaners hier is, is juis oor geweld. Nie omdat
hulle weghardloop nie, word vinnig verduidelik, maar omdat hulle voel 'n
mens se vryheid in Suid-Afrika word te veel aan bande gelê deur die
konstante onthou om deure te sluit, handsakke styf onder die arm vas te knyp
en kopieë van jou simkaart te maak sodat "al my nommers darem nie weg is
wanneer die selfoon voete kry nie".

Natuurlik word die feit dat hierdie veiligheidsmaatreëls maar in enige
wêreldstad geld waar duisende mense probeer om 'n bestaan te maak, heeltemal
buite rekening gelaat. Onlangs in Switserland het 'n toergids my gedurig
daarop gewys dat ek met my handsak in my hand loop en dit moet eerder onder
die arm gedra word.

Almal is dit dus eens dat dit, ten spyte van bomme en terrorisme, steeds die
pond is wat duisende Suid-Afrikaners in Brittanje hou.

Dis egter ook die mite van die magtige pond wat 'n mens bring by waarom
mense steeds hier bly: 'n vrees om huis toe te gaan.

Soos altyd praat 'n mens nou veralgemenend en geld die situasie wat ek
skets, nie vir elke Suid-Afrikaner hier nie. Maar daar is ongetwyfeld 'n
groot gros Suid-Afrikaners wat baie graag wil huis toe gaan, naby Ma en Pa
wil gaan woon, en 'n klimaat wil geniet wat jou nie vir 11 maande van die
jaar binnenshuis hou nie.

Die mite is egter te groot en die impak daarvan te sterk.

"We have come here chasing the pound, but all we have ended up with is
debt," het 'n spreker by die jeugdagvieringe by die Suid-Afrikaanse
ambassade in Trafalgar Square onlangs gesê. En uit die applous kon mens
agterkom sy het dit nie uit haar duim gesuig nie. Die dae van 'n blink lewe
lei in Londen én spaar én huis toe gaan én genoeg geld hê vir 'n huis, 'n
Toyota Corolla en die kapitaal om jou eie besigheid te begin, is verby. En
dis alles die mite se skuld.

Omdat so baie Suid-Afrikaners deesdae die langpad oorsee aandurf, is dit nie
meer op sigself glamorous om sakke te pak en met 'n backpack en 'n droom by
Heathrow of Gatwick aan te kom nie. Nou moet jy uithaal en wys. En dit is
die grootste vrees wat Suid-Afrikaners het oor huis toe gaan: om geweeg en
te lig bevind word. Want die bure se kind het nou óók foto's van London
Bridge en Trafalgar Square. Jou kennis oor die binnekant van Tesco en jou
vaardigheid om enige bedrag blitsvinnig in rand om te skakel laat jou nie
meer slim lyk nie.

Volgens navorsing deur die Homecoming Revolution is baie
Suid-Afrikaners te skaam om huis toe te gaan, want hulle voel hulle het niks
om te wys vir hul tyd hier nie. Hulle vrees dat hulle tuis geweeg en te lig
bevind sal word.

En dis nie hulle skuld nie. Die stories in Suid-Afrika oor hoe jy hier in 'n
week 'n jaar se salaris verdien, word nie minder nie. Daar word nie
in ag geneem dat jy dan in 'n wêreldstad woon waar alles, van jou
treinkaartjie tot jou middagtoebroodjie, óók omtrent tien keer meer is as in
Suid-Afrika nie. En met die advent van globalisering en internasionale
maatskappye wat in Suid-Afrika wil sake doen, word die geleenthede hier meer
en meer, terwyl die geleenthede om uit te styg al minder en minder raak. En
wanneer jy terug is in Suid-Afrika, was die persoon wat met jou 'n onderhoud
voer vir 'n werk, ook oorsee gewees en is dit moeilik om te verbloem dat jy
maar net koeverte gevul het by die groot internasionale bank wat op jou CV
pryk.

Dan tree die vrees in: ek hét nou nie 'n miljoenêr geword nie; ek hét nie 'n
glorieryke "internasionale loopbaan" wat vir my sal deure oopmaak in
Suid-Afrika nie; ek hét nie oral heen gereis waarheen ek wou nie. Eerder het
ek skuld, probleme met huismaats en depressie weens die aaklige weer.

Dan word daar besluit om eerder nog 'n jaar te bly, met nuwejaarsvoornemens
om te spaar en 'n beter lewe te lei. En maak nie saak hoeveel beter jou lewe
in Suid-Afrika sou wees nie, die verwagtinge van familie en vriende en
die samelewing is te hoog.

Daar is ook 'n beduidende gevoel onder sommige dat hulle juis nie weer wil
deel word van die verwagtinge en hoop en vrese van hul onmiddellike omgewing
nie. Hulle wil nie weer Sondae kerk toe gaan en vakansies in Hartenbos
deurbring nie. En hulle wonder of hulle weer in 'n samelewing gaan inpas wat
so baie verander het in die afgelope paar jaar. Of daar in die samelewing
plek is vir mense wat gedink het die gras is groener aan die ander kant en
besef het dit is nie so nie.

Dit is hierdie vrese wat meer tel as moontlike bomaanvalle en
terrorisme-aktiwiteite. Die moontlikheid om geweeg en te lig bevind te word
deur jou eie mense – dít is waarlik iets om voor bang te wees.



LitNet: 18 Julie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Opinies/essays kan gestuur word na redaksie@vryepoortstasie.co.za, of jy kan op SêNet reageer deur 'n brief te stuur aan webvoet@litnet.co.za.

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.