VryepoortArchive
  Versorg deur: Kabous Meiring, Johan Pienaar en Susan Samuel
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vryepoort@LitNet

Vryepoortstasie


Projek
Afrika Afrikaan

Projekskets: AFRIKA AFRIKAAN vrywilligersprojek


Kapittel
Datums

16 Junie - Jeugdag


Vlampunte

annerkant grense

Rudi Buys

Projekskets: AFRIKA AFRIKAAN vrywilligersprojek

Die vrywilligersprojek Afrika Afrikaan vestig informele gesprekforums, filosofiekafees en vrywilligersinisiatiewe vir 'n geïntegreerde toekoms in Suid-Afrika. Afrika Afrikaan nooi mense uit alle gemeenskappe wat wil saampraat oor die toekoms van die land, oor hulle plek in die besondere storie, en oor die verskil wat hulle daarin wil maak, om deel te word van die projek.

Die projek het ontstaan vanuit gesprekke tussen jongmense wat gedink het die tyd is ryp vir 'n nuwe generasie om sosiopolitieke diskoers aan te gryp - buite die lyne van formele of partypolitieke gesprek. 'n Generasie wat weet wat aangaan, groot en goeie idees het oor Suid-Afrika, en tog ontmoedig word deur die polarisering van die samelewing in die verskralende pro- en anti-argumente. 'n Generasie wat anderkant grense van kleur-, taal-, kultuur-, geslags- en godsdienskategorieë met mekaar in gesprek wil tree oor die geskiedenis tussen mense in Suid-Afrika en Afrika. 'n Generasie wat in vryheid met erns 'n geïntegreerde toekoms waar wil maak.

'n Diskoers waarin identiteit ondersoek en gevestig word in gesprek met verskeidenheid en nie in voorbereiding daarop nie.

Terselfdertyd is dit nodig dat Suid-Afrikaners van verskillende tydvakke deelneem aan die gesprek. In dialoog vorm die veelvoud van perspektiewe op die geskiedenis, sowel as die veelvoud van belewenisse van enkelinge, die werkswinkel waarin ervaring, energie en verbeelding ineen versmelt kan word.

Afrika Afrikaan deel die vermoede dat mense regoor Suid-Afrika reeds ver genoeg van apartheid staan om mekaar te kan vind en verby die konflikte van die verlede te beweeg. Terselfdertyd staan mense steeds na genoeg aan die nalatenskap van apartheid dat ons die slaggate van die verlede kan misstap en die mees sinvolle weg na 'n geïntegreerde toekoms kan vind.

Dit is die vermoede dat ek en jy die vermoë het om, selfs midde-in die opdrifsels van die onreg van ons verledes, mekaar die hand te gee en verenig te staan in ons stryd om die sosiopolitieke en sosio-ekonomiese uitdagings waarmee Suid-Afrika leef, te wen.

Afrika Afrikaan hou dus die ideaal voor oë dat jongmense se verbintenis tot die nasionale program van herstel en groei in ons land nie voorafgegaan word deur 'n voorwaarde om tot bepaalde groepe of instellings te behoort nie. Dit is 'n oortuiging dat mense heel geredelik bereid is om in hulle dagprogramme 'n bydrae te lewer tot die opbou van Suid-Afrika.

Die inisiatief aanvaar dit egter as 'n gegewe dat gemeenskappe en organisasies regoor die land reeds daaraan uitverkoop is om opheffingswerk te doen. Verskillende sektore in die samelewing is reeds daartoe verbind om op een of ander manier 'n bydrae in dié verband te lewer.

'n Volgende kritieke bousteen van ons demokrasie wat egter nog nie so wyd aanvaar word nie, is die vrymoedigheid van mense om deel te neem aan die geleenthede vir openbare samelewingsdiskoers. Eerlike en opregte diskoers waarin vrywilligers hul taak en geleentheid in burgerskap opneem en kwessies deeglik onder die loep neem, word minder geredelik beoefen - selfs al bestaan die geleentheid daarvoor reeds in verskillende forums. Verskillende bewerings word ook gemaak dat veral jonger Suid-Afrikaners hul toenemend aan die openbare omgewing onttrek en apaties teenoor sosiopolitieke diskoers staan.

'n Pluraliteit van redes sou ondersoek kan word om te bepaal of die bewerings waar is of nie, en indien wel, watter breër maatskaplike dinamikas dit teweeg sou bring. In dié verband deel Afrika Afrikaan egter die vermoede dat jonger Suid-Afrikaners wel gesprekke voer oor samelewingskwessies - om braaivleisvure, by shows, op kantoor, en selfs met vreemdelinge op vliegtuie.

Wat egter nie gebeur nie, is dat die informele diskoerse nie omgesit word in amptelike forums vir diskoers in die openbare domein nie - in elk geval nie buite politieke strukture nie. Dit terwyl ons demokrasie juis die geleenthede daarstel dat elkeen op voetsoolvlak 'n stem in die samelewingsgesprek kan hê.

Afrika Afrikaan is daartoe verbind om aan jongmense die geleentheid vir sosiopolitieke diskoers daar te stel - as 'n sneller vir en 'n platform om uiteindelik vrywilliglik deel te word van samelewingsdiskoers oor die toekoms van Suid-Afrika. Die projek is oortuig daarvan dat 'n nuwere sosiale taal op dinamiese en organiese manier daargestel kan word - 'n taal wat meer vry staan van die konflikterende beskerming van groepsbelange; 'n taal wat versoenend optree en die vloeibaarheid en kompleksiteit van ons gedeelde geskiedenisse vertolk; 'n taal wat vertrek uit bona fides en sonder kompromie geregtigheid, vryheid en menswaardigheid voorstoot.

Dus: 'n projek wat glo dat die ideale van die mense van 'n land wat vasgevang staan in die vergete diskoers van ons grondwet, waar gemaak kan word wanneer mense annerkant die geskiedenis met mekaar oor die toekoms in gesprek tree. Afrika Afrikaan deel dus die oortuiging dat die behoefte om te vergeet, nie wenslik is vir die opregte behoefte aan 'n beter toekoms nie - dat die byhou van en deurlopende gesprek met die veelkantigheid van ons geskiedenis die moontlikheid en opwindende taalkategorieë van 'n gedeelde toekoms daarstel.

Dit is 'n moontlikheid waarin ons as vrywilligers hier glo, omdat jy op 'n dag sit en gesels met Jaco, 'n mynwerker van Noordwes, nadat hy weer bogronds is; en met Cedric, 'n seisoenwerker van Kirkwood se omgewing, terwyl die hoenders in die agtergrond teen jou oor kekkel; en met Lukhanyo van Port Elizabeth in Xhosa; sit en gesels oor 'n tyd vir saamgesels wat vir almal in Suid-Afrika aangebreek het. En so met verloop van tyd, tussen Boitomelu van Rustenburg en Sias van Stellenbosch en Nelson van Randburg se passievolle saampraat oor verskillende verledes en ons gedeelde toekoms, los Afrika Afrikaan ons met net die een besef: in gesprek met mekaar kry ons gesigte, kry ons name, word ons vir mekaar bloot mens.

Tot daar: enkele eerste notas vir ons gesprek. Nou: jou naam, jou storie en hoe lyk jou notas?



LitNet: 31 Mei 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel?
Opinies/essays kan gestuur word na redaksie@vryepoortstasie.co.za, of jy kan op SêNet reageer deur 'n brief te stuur aan webvoet@litnet.co.za.

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.