VryepoortArchive
  Versorg deur: Kabous Meiring, Johan Pienaar en Susan Samuel
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vryepoort@LitNet

Vryepoortstasie


Projek
Afrika Afrikaan

Projekskets: AFRIKA AFRIKAAN vrywilligersprojek


Kapittel
Datums

16 Junie - Jeugdag


Vlampunte

Afrika Afrikaan: ’n kwart-eeu gelede

Nico Smith

Ek het in 1962 as jong NG Kerk-dominee my voete vir die eerste keer op Afrika-bodem buite die grense van Suid-Afrika gesit. Ek was gevra om ’n groep van veertig wit Suid-Afrikaanse studente na ’n Afrika-konferensie van die Christen-Studente-Vereniging (CSV) in Nairobi, Kenia, te vergesel. Die CSV het destyds aan feitlik alle hoërskole en universiteite ’n leidende rol gespeel om die wit jeug, hoofsaaklik Afrikaanse jongmense, Christelik-geestelik te vorm. Met die leuse: “Maak Jesus Koning”, het die Vereniging dan ook weinig interesse gehad in die vorming van jongmense se sosiopolitieke denke. Trouens, die politiek is as ’n “ongeestelike” terrein beskou wat met godsdiens en geloof niks te doen gehad het nie. Natuurlik het hierdie houding in die vorming van jongmense die destydse heersende en oorheersende apartheid-ideologie in Suid-Afrika heel goed gepas. Dit het feitlik alle belangstelling by die Afrikaanse jeug in wat polities in die land aan die ontvou was, geneutraliseer. Hulle is geleer dat ons ’n Christelike regering het wat daarom die politiek op ’n Christelike wyse sou beoefen, en die apartheidsbeleid wat hulle gevolg het, kon dus met vertroue in hulle hande gelaat word.

Met ons aankoms op die lughawe in Nairobi het my eerste kennismaking met die politieke denke van jong Afrikane buite die grense van Suid-Afrika dadelik begin. Saam met ons groep uit Suid-Afrika het ook die afvaardiging uit Nigerië gearriveer. Een van hulle, Bola Ige, ’n student in die regte, het op die vorm wat almal moes voltooi vir toegang tot Kenia, die vraag: “What race are you?” beantwoord met: “Human race”. Die beheerbeampte het hom dadelik as ’n “radical” geïdentifiseer en die polisie ontbied, en Ige is in aanhouding weggeneem. Eers na twee dae is hy toegelaat om wel die konferensie by te woon. By die konferensie aangekom, was hy woedend dat daar so ’n vraag op die toelatingsdokument kon verskyn. Hy het dit uitgekryt as ’n oorblyfsel van kolonialisme in Kenia wat toe pas sy vryheid verkry het en dit as die kolonialiste se taktiek bestempel om mense van Afrika op te deel in rasse en hulle daarvolgens te beoordeel. Hy het die Keniane behoorlik uitgetrap dat hulle nog die ou kolonialistiese denke toegelaat het om in Kenia ’n vastrapplek te behou.

As naïewe geïndoktrineerde jong wit Afrikaner-dominee, deurdrenk van die apartheidsideologie, het ek my verbaas dat dié Nigeriër hom oor die simpele vraag na jou ras so kon ontstel. Mense bestaan eenvoudig as rasse en daar was vir my niks verdags aan om na mense se ras te vra nie. In Suid-Afrika was dit as vanselfsprekend beskou dat elke mens tot ’n bepaalde ras behoort en dat daardeur eintlik jou plek in die samelewing bepaal is. Om te wil beweer dat almal slegs as tot die “human race” behoort, was vir my ’n miskenning van die feit dat God sélf die mensdom ná die toring van Babel in rasse verdeel het!

By die konferensie was afgevaardigdes van universiteite uit al die Afrika-lande teenwoordig, behalwe Marokko, wie se Moslem-regering geweier het om toestemming te verleen dat studente uit hulle land die konferensie kon bywoon. Dit sou hulle glo te veel blootstel aan indoktrinasie deur die Christelike godsdiens en tot nadeel van die studente strek. Destyds was nog slegs 17 van die 51 lande van Afrika onafhanklik – dus vry van Europese kolonialisme.

Sommer van die begin af is daar op die konferensie in duidelike taal gepraat oor die politieke ideale vir Afrika en die rol wat die jeug daarin moes speel. Vir die wit Suid-Afrikaanse studente was dit te dik vir ’n daalder en hulle het beswaar begin maak dat so baie oor politiek in die byeenkomste gepraat word. Die wittes is in daardie tyd nog die “pienks” genoem en daar was weinig simpatie vir die “pienks” se besware. Godsdiens het immers ook met politiek te doen, omdat dit juis deur die Christelike godsdiens was dat Afrika gekolonialiseer is. Dié godsdiens moes daarom ook ’n rol speel in die bevryding van Afrika van die kolonialisme. Die swart Afrika-jeug het dit dan ook onomwonde gestel dat elke duim van Afrika binne 25 jaar van kolonialistiese beheer bevry moes wees. Hieroor het die wit Suid-Afrikaanse studente maar net geglimlag en ek het een hoor sê: “Hulle ken nie die Afrikaners nie. Suid-Afrika sal vir altyd ons land bly.”

Die Suid-Afrikaanse studente was erg ontsteld oor die vermenging van godsdiens en politiek by die konferensie en het my gevra om met die voorsitter, dr Karefa-Smart van Sierra Leone, ’n onderhoud te reël waar ’n afvaardiging uit Suid-Afrika hulle besware met hom kon deel en versoek dat hy as voorsitter die politiek-gepratery by die konferensie moes stopsit. Ek het aan hulle versoek voldoen, en saam met vyf van hulle is ons toe die aand na dr Karefa-Smart se hotelkamer.

Toe ons by sy kamer aankom, het hy, geklee in ’n kamerjapon en pantoffels, ons vriendelik binne genooi. Om as aanduiding te dien van my eie denke in daardie stadium, noem ek dat ek my dadelik verbaas het dat hierdie man uit Afrika ’n kamerjapon en pantoffels kon dra. Dit was tog immers Europese kleredrag, en hy as Afrikaan moes by sy tradisies hou en nie die Europese vorme naboots nie!

Dr Karefa-Smart was ’n uiters waardige man. Hy het as medikus gekwalifiseer, was ook predikant van die Metodistekerk in Sierra Leone, en is met die onafhanklikheidswording van sy land as minister van buitelandse sake aangestel. Hy het dadelik begin om ons te vertel hoe hy en enkele ministers van buitelandse sake van ander Afrika-lande wat onafhanklik geword het, by die vorige Statebondskonferensie met Eric Louw, die minister van buitelandse sake vir Suid-Afrika, kennis gemaak het. Daar het naamlik ’n Afrika-klub in die Statebond bestaan en dié klub het dan gedurende Statebondskonferensies altyd vergader om spesifiek die belange van Afrika te bespreek. Toe hulle as swart ministers by die klub se vergadering opdaag, het Eric Louw hulle op geen vriendelike wyse nie gevra wat hulle as swartes by die vergadering kom soek. “You will spoil our club by your presence,” het hy gesê. Hieroor het Karefa-Smart heerlik gelag en gevra of die studente ook oor swart mense voel soos hulle minister van buitelandse sake.

Die studente het toe begin om aan hom hul besware voor te lê. Hy het rustig na hulle geluister en toe probeer verduidelik dat politiek en godsdiens in Afrika nie te skei is nie. Trouens, juis omdat hulle deur die kersteningsproses in Afrika politiek as wesenlike deel van die godsdiens leer ken het – dit was immers Christelike lande van Europa wat hulle gekersten het – het hulle politiek en godsdiens as behorende by mekaar leer ken. Om nou van hulle te moes verwag dat hulle by ’n Christelike konferensie nie oor politiek moes praat nie, sou beteken dat hulle ook nie oor die godsdiens sou kon praat nie. Dit sou dan verder beteken dat die konferensie eintlik vir die Afrika-studente totaal irrelevant sou wees. Hy sou dit nie wil waag om hulle enigsins eers te vra om selfs net minder oor politieke aangeleenthede by die konferensie te praat nie.

Aan die einde van die gesprek was die vyf studente redelik mismoedig en het aan dr Karefa-Smart gevra of hy meen dat daar nog enigsins vir wittes in Afrika plek is. Moes hulle dit nie maar oorweeg om Afrika te verlaat nie? Karefa-Smart het vir ’n paar oomblikke stip voor hom op die vloer gekyk en toe geantwoord: “Ek wil baie eerlik met julle wees. Ek weet wat agter die gordyne in Afrika oor Suid-Afrika gedink en gesê word. Julle moet weet dat daar in die toekoms groot storms op julle wag. Julle toekoms is in die weegskaal. Maar julle het ’n keuse. Julle kan kies om ‘Europeans’ te bly,” – destyds was dit nog algemeen in Suid-Afrika om van “Europeans” vir enige blankes en “non-Europeans” vir enigiemand wat nie blank was nie, te praat – “en dan is daar vir julle geen toekoms in Afrika nie. Dan sou ek julle aanraai om maar liefs na Europa terug te keer. Afrika sal julle nie as ‘Europeans’ aanvaar nie. Sou julle egter kies om ‘white Africans’ te word, moet julle in Afrika bly. Afrika het julle nodig.”

Die studente wou natuurlik dadelik weet wat hy met “white Africans” bedoel.

“Dit beteken,” het hy geantwoord, “dat julle julleself as deel van die mense van Afrika beskou en met hulle één word in hulle hoop en verlangens. Dit beteken verder dat julle op geen besondere regte aanspraak sal maak omdat julle wit en Europeane is nie, maar dat julle sal meewerk om alle regte wat julle vir julleself mag opeis, ook vir die mense van Afrika te help verkry.”

Dit was ses redelik beteuterde wit Suid-Afrikaners wat daardie aand by Karefa-Smart se hotelkamer uitgestap het. My advies aan die studente was dat ons nou ten minste weet wat die realiteit van ons teenwoordigheid in Afrika beteken. In die lig daarvan moet ons besef dat ons as wit Afrikaners ons eie heil vir die toekoms in Afrika sal moet uitwerk. Ons as Afrikaners weet immers wat die Bybel ons oor rasseverhoudings leer, en na 300 se ervaring in Afrika weet ons dus dat daar vir ons geen ander moontlikheid op voortbestaan is nie as deur die beleid van afsonderlike ontwikkeling, soos apartheid destyds herdoop is.

Natuurlik het nie één van die studente my daarop gewys dat ék ook besig was om politiek en godsdiens te vermeng nie. Ons het almal geglo dat apartheid deur die Bybel geregverdig word. Vir ons het dit egter nie beteken dat ons by die politieke beleid betrokke was nie. Ons wou alleen met “suiwer” godsdienstige sake besig wees. Die politieke beleid wat na ons oortuiging in ooreenstemming met die Christelike leer was, en waaraan ons dus ons ondersteuning toe gesê het, was vir ons geensins ’n vermenging van politiek en godsdiens nie!

In ’n volgende bydrae sal ek graag, in die lig van Karefa-Smart se raad dat ons wit Afrikane moet word, die vraag aan die orde stel of dit enigsins vir wit Suid-Afrikaners, en dan veral Afrikaners, moontlik is om wit Afrikane te word.

LitNet: 7 Junie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel?
Opinies/essays kan gestuur word na redaksie@vryepoortstasie.co.za, of jy kan op SêNet reageer deur 'n brief te stuur aan webvoet@litnet.co.za.

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.