VryepoortArchive
  Versorg deur: Kabous Meiring, Johan Pienaar en Susan Samuel
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vryepoort@LitNet

Vryepoortstasie


Projek
Afrika Afrikaan

Projekskets: AFRIKA AFRIKAAN vrywilligersprojek


Kapittel
Datums

16 Junie - Jeugdag


Vlampunte

Is dit belangrik om anderkant die Suid-Afrikaanse grens te dink, oor 'n groter realiteit?

Liesl Louw

Dit het deesdae byna mode geword vir Suid-Afrikaners, en veral Afrikaners, om met die res van die kontinent te identifiseer. "Made in Africa" verklaar die blink etikette op die souvenirs vir toeriste by die Waterfront en die Johannesburgse lughawe.

Maar wat beteken dit werklik? Is dié nuut-ontdekte samehorigheid met die res van die kontinent bloot vir suiwer egoïstiese materiële gewin, of om 'n getraumatiseerde siel te laaf van wit Afrikane wat nie regtig in Europa tuis voel nie? Of het mense verveeld geraak met hul eie realiteit en soek opwinding buite die landsgrense?

Buiten die interessante intellektuele oefening om die situasie in die res van Afrika met dié tuis te vergelyk, en daarvolgens voorspellings vir die toekoms te maak, is diepgaande, eerstehandse kennis van die baie komplekse dinamika van 'n hoogs gediversifiseerde kontinent 'n noodsaaklikheid as 'n mens hier wil oorleef.

"Om oor Afrika te skryf is om op reis te gaan, gekonfronteer te word met die oneindige ontplooiende geledinge van 'n ontwykende realiteit, en jy self met jou homp en skulp as skadufiguur tussen die markgangers ...'' skryf Breyten Breytenbach in daardie wonderlike droomagtige essay “Woordwerk”.

Waar begin hierdie reis? Dit is ook nie altyd 'n fisieke een nie. (Die viertrekvoertuig-brigade wat opreis na Tanzanië en soveel as moontlik - en hulle erken dit ook! - die stede en dorpe vermy, reis op 'n manier wat hulle ook nie noodwendig meer van Afrika te wete laat kom nie.)

Reis om self verander te word. En om self prys te gee.

Aanvanklik is die besoeker aan Dakar se Gorée-eiland (waaroor Breyten skryf), aan die soeks in Rabat, Zanzibar se Stone Town of 'n klein dorpie by die bron van die Nyl in Uganda oorweldig deur die warmte en openheid van mede-Afrikane teenoor die Suid-Afrikaanse “broer en suster'', ongeag kleur.

Maar hoe langer jy tussen die markgangers sit, hoe meer kom die donker werklikhede van 'n diepgaande na-koloniale pyn na vore.

Die koloniale pyn ís nog in Afrika teenwoordig. Enigeen wat dit wil ontken, het nog nie lank genoeg stilgestaan in daardie rumoerige, kleurryke agterstrate van Akkra of Lagos nie. Óf die getuienis daarvan nie fyn genoeg gelees nie. (VS Naipaul is nog nie deur hedendaagse gebeure obsoleet gemaak nie.)

Selfs 'n jong generasie Afrikane, van wie sommige desperaat is om uit die kontinent te kom, dra nog swaar aan die koloniale las.

Ons kán leer en die plaaslike realiteite beter verstaan, selfs realiteite wat die romantiseerders oor Afrika onder ons nie graag wil raaksien nie: soos etnisiteit en 'n diep eksistensiële minderwaardigheid wat spruit uit die globalisering van rassisme en waarteen mense op talle vreemde maniere reageer. Selfs deur oorlog te maak.

Suid-Afrika se groeiende rol in die res van Afrika is besig om 'n fenomenale verskil te maak in die manier waarop besigheid gedoen word, waarop mense hul eie kontinent sien en hoedat diplomasie gepleeg word.

Prof Frans Viljoen van UP skryf in 'n voorgelegde artikel aan Beeld dat ons in 'n “amptelik verordende tydvak van Afrika-herlewing leef.'' Die vraag is: Wie het dit só verorden en is dit maar blote wensdenkery?

Die antwoord op die eerste gedeelte van die vraag is redelik voorspelbaar: pres Thabo Mbeki is sekerlik die voorbok wat die hardkoppigste vasklou aan die idee van 'n Afrika-Renaissance - selfs al moet hy miljoene rande bestee om 'n nuwe biblioteek in Timboektoe te bou om dit waar te probeer maak!

Tog is dit duidelik dat Suid-Afrikaanse maatskappye wat op groot skaal in Afrika belê, ook dié “Afrika-herlewingsgedagte'' aanhang. Kyk maar na die ooroptimistiese en amper naïewe advertensies van selfoonmaatskappye elders in Afrika ...

In die komplekse debat oor Afrika se hede en sy toekoms - en of dié “herlewing” 'n versinsel is - kán 'n mens met reg optimisties wees. Ondanks die oorloë, die bootmense en die armoede, is moderne jong Afrikane in die kontinent se hoofstede ligjare van waar hul voorouers was en waar hul landgenote op die platteland is.

Ons kan erns maak met dié realiteit, die moderne sowel as die tradisionele; ons kan dieper gaan delf in die “gedekoloniseerde siel” en, indien dit eerlik en sonder vooroordele gebeur, 'n groter verstaan kry van wie en waar ons as Suid-Afrikaners is.



LitNet: 13 Junie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel?
Opinies/essays kan gestuur word na redaksie@vryepoortstasie.co.za, of jy kan op SêNet reageer deur 'n brief te stuur aan webvoet@litnet.co.za.

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.