VryepoortArchive
  Versorg deur: Kabous Meiring, Johan Pienaar en Susan Samuel
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vryepoort@LitNet

Vryepoortstasie


Projek
Afrika Afrikaan

Projekskets: AFRIKA AFRIKAAN vrywilligersprojek


Kapittel
Datums

16 Junie - Jeugdag


Vlampunte

Staan jongmense apaties teenoor sosiopolitieke diskoers?

Mohammed Groenewald, visepresident van die Moslem Jeugbeweging, en Rudi Buys

Die openbare diskoers oor apatie onder jongmense in Suid-Afrika word meesal gevoer teen die agtergrond van jeugdeelname in die stryd teen apartheid. Die nalatenskap van die sogenaamde “Young Lions” van die stryd teen apartheid en die geskiedenis van opeenvolgende geslagte jongmense voor 1994 word die maatstaf waarteen jongmense van vandag se deelname vir of apatie teenoor kwessies in verskillende omgewings gemeet word. 

Die rol van jeugbewegings wat meer radikale standpunte gehuldig het en jongmense regoor die land verpolitiseer en betrokke gekry het in die stryd, is gedurende Junie 2006 met die dertigjarige herdenking van die Soweto-opstande van 1976 gevier. 16 Junie 1976 word as die datum gereken waarop wye jeugdeelname aan die stryd teen apartheid begin het. Sedert die 1940’s het leiers soos Nelson Mandela, Walter Sisulu, Oliver Tambo en andere op verskillende maniere dié jeugbeweging gelei.

Die vrymoedigheid waarmee groot getalle jongmense hulle stem dik gemaak het oor wat in hulle omgewing aangaan, en hulle verdere optrede om verandering te bewerkstellig, is die kernvrae waarmee hulle nalatenskap waardeer word. Dit is ook die kernvrae waarop vandag se jongmense moet antwoord. Wanneer die mate van sigbare betrokkenheid van jongmense in die politieke omgewing teenoor die geskiedenis van intense betrokkenheid van jongmense in die stryd teen apartheid gestel word, is heelwat begrip te vinde vir die besorgdheid en bewerings oor apatie wat dikwels in openbare diskoers verwoord word.

Bewerings van apatie onder jongmense steun ook op navorsing aangaande jongmense se deelname aan nasionale en plaaslike verkiesings. Dit bring mee dat apatie onder jongmense gemeet word aan die persentasie van die groep wat registreer vir ’n verkiesing en stem. Alhoewel dit ’n kritieke maatstaf is van hoe ’n jong generasie die voorreg en geleentheid van vryheid aangryp en uitleef, bestaan die gevaar dat jongmense vandag verkeerdelik as apaties gelees en beskryf word – ’n lae stempersentasie onder jongmense het iets te sê oor jongmense en verkiesings en beantwoord nie die ingewikkelde vraag van deelname of apatie nie.

In die gesprek oor jongmense van vandag se deelname aan openbare diskoers oor samelewingskwessies is dit nodig om daarop te let dat hulle saampraat gevorm en begelei word deur bepaalde sienswyses van hulle omgewing en van die samelewing in die algemeen.

Dit is belangrik om te besef dat dit vir jongmense toenemend daaroor gaan dat  sosiopolitieke diskoers nie alleen tot die domein van intellektuele debat behoort nie, maar dat diskoers ter wille van die verdieping van demokrasie moet deel word van die gewone funksionering van die burgerlike samelewing. Jongmense vandag sou dus opleiding in demokrasie versoek, meer as slegs kiesersopleiding.

Verder tref jongmense ’n onderskeid tussen politieke gesprekvoering en sosiopolitieke diskoers, waar eersgenoemde beskou word as die eiendom van partypolitieke interaksie en laasgenoemde as deel van die algemene burgerlike gesprek. ’n Bepaalde frustrasie met partypolitieke gesprek bestaan en groei om verskeie redes onder jongmense, onder andere ’n wantroue teenoor politici, ’n onveranderde posisie van werkloosheid en ’n uitputting met voortgesette historiese konflikte. Dit bring toenemend ’n bewustelike onttrekking van die politiek onder jongmense teweeg. Die onttrekking versprei ook na die omgewing van sosiopolitieke diskoers, omdat die algemene burgerlike gesprek dikwels deur die partypolitieke omgewing opgeëis word.

Jongmense se sosiopolitieke interaksie en betrokkenheid is egter toenemend sigbaar in maatskaplike bewegings gemik op bepaalde kwessies soos MIV/VIGS, en ook in populêre kuns en kultuur wat satiriese kommentaar op politieke gebeure en rolspelers lewer; kwaito, hip-hop, die filmwese, teater, die internet en selfone is die spreekbuise waarmee jongmense vandag aan diskoers deelneem. 

Die aktiwiteit van jongmense is ook besig om sterk na vore te tree in die vestiging van vrywilligersforums vir sosiopolitieke diskoers onder leiding van vrywilliger-organisasies in verskillende samelewingsektore – veral uit taal-, kultuur- en godsdiensomgewings. Sulke inisiatiewe verteenwoordig ’n groeiende behoefte onder jongmense om ’n duidelike stem oor maatskaplike kwessies te laat hoor en bied aan hulle die geleentheid om buite strukturele verbintenisse as individue deel te neem aan sosiopolitieke diskoers.

Al die bewegings lei toenemend daartoe dat jongmense hulleself vanuit verskillende sektore, en buite partypolitieke lyne, in burgerlikesamelewingsgroepe organiseer. Jongmense is dus besig om ander en nuwer ruimtes en taal van diskoers te vestig.

Dit is verder nodig om te verstaan dat jongmense vandag ’n groeiende uitputting beleef met ’n gepolariseerde styl van sosiomaatskaplike en -politieke debat. In ’n omgewing met ’n hoë vloeibaarheid en beweeglikheid van inligting, en ’n deurlopende oorvleueling en aanpassing van kodes van interaksie in gemeenskappe, is jongmense meer gefrustreerd as gepaai met argumente wat gespreksgenote noodwendig in teenoorstaande kampe verdeel. Jongmense vandag het toenemend ’n waardering vir die ingewikkelde gesprek tussen verskillende belewenisse van en perspektiewe op die geskiedenis en die toekoms tussen verskillende individue en groepe in Suid-Afrika. ’n Sterk gepolariseerde debat bring mee dat jongmense hulle op die oog af onttrek aan openbare diskoers.

Dit is toenemend die geval dat jongmense vandag die gesprekstyl van dialoog as voorwaarde vir sosiopolitieke diskoers stel. In dialoog gryp jongmense na die gelykstelling tussen gespreksgenote, na vrywillige en bona fide-deelname, na ’n agting vir verskeidenheid in menings en standpunte, na waardering vir die historiese bepaaldheid van individue en gemeenskappe, en ook na die eenheid tussen mense van verskillende agtergronde en tale ten opsigte van die grondwet en die toekoms van die land.

Die jongste “trend” onder jongmense is juis die informele en vrywillige vestiging van sosiopolitieke diskoers. Jongmense tref toenemend ’n onderskeid tussen hulle bereidwilligheid om deel te neem en ’n bydrae te lewer in opheffingswerk en hulle bereidwilligheid om deel te neem aan amptelike forums van maatskaplike diskoers. Al hoe meer jongmense is bereid om in persoonlike hoedanigheid deel te neem aan sosiopolitieke gesprekke en om die menings wat hulle geredelik om braaivleisvure of in sitkamers uitspreek, ook in die openbare ruimte te verwoord.

Dit is egter so dat jongmense vandag verskillende en soms bedenklike grade van kennis oor die geskiedenis van Suid-Afrika het, en meer gefokus is op die area waar jy woon, hoe jou huis, jou meubels en jou kar lyk, en wat jou posisie by die werk is. Dit tel vir ’n nuwe generasie jongmense in vryheid watter logo op jou klere verskyn en by watter klub jy uithang. Dit is sekerlik nodig om die impak van jongmense se lewenstyl op die waardes waarmee ons leef en die mate waarin jongmense wel bereidwillig is om selfloos op te tree, te bereken. Mens hoef alleen ’n namiddag te spandeer in een van die reuse inkopiesentrums om te sien hoe ’n populêre verbruikerskultuur onder jongmense posgevat het.

Die toetsvraag is egter of jongmense te midde van sulke bewegings in populêre kultuur, ook bereidwillig is om deel te neem aan gesprekvoering oor kwessies van die dag. Dit is so dat ’n groeiende behoefte aan gesprekvoering bestaan, en jongmense toenemend weer hulle stem vind en in diskoers hulle reg op vryheid van spraak uitleef.

Die onwilligheid om dit te doen kan beskou word as ’n noodwendige gevolg daarvan dat jongmense as ’n duidelike en afgesonderde teikenmark beskou word. Populêre kultuur wat jongmense doelbewus as ’n niegeïntegreerde groep op hulle eie wil handhaaf, en dus nie noodwendig intergroepdiskoers aanmoedig nie, dra dus waarskynlik daartoe by dat jongmense tans steeds huiwerig kan wees om inisiatief vir gesprekvoering te neem. Dit is daarom ook nodig dat die vestiging en bestaan van subkulture onder jongmense, en die beskouing dat jongmense ’n homogene en duidelik definieerbare groep is, krities ondersoek word.

Ons doen dus ’n beroep op jongmense en op die breër samelewing om inisiatief te neem om sosiopolitieke diskoers te hervestig as taal van ’n jong generasie burgers van Suid-Afrika. 'n Diskoers waarin identiteit ondersoek en gevestig word in gesprek met verskeidenheid en nie in voorbereiding daarop nie.

Maar terselfdertyd is dit nodig dat Suid-Afrikaners van verskillende tydvakke deelneem aan die gesprek. In dialoog vorm die veelvoud van perspektiewe op die geskiedenis, sowel as die veelvoud van belewenisse van enkelinge, die werkswinkel waarin ervaring, energie en verbeelding ineen versmelt kan word - eerlike en opregte diskoers waarin vrywilligers hul taak en geleentheid in burgerskap opneem en kwessies deeglik onder die loep neem.



LitNet: 11 Julie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Opinies/essays kan gestuur word na redaksie@vryepoortstasie.co.za, of jy kan op SêNet reageer deur 'n brief te stuur aan webvoet@litnet.co.za.

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.