VryepoortArchive
  Versorg deur: Kabous Meiring, Johan Pienaar en Susan Samuel
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vryepoort@LitNet

Vryepoortstasie


Projek
Afrika Afrikaan

Projekskets: AFRIKA AFRIKAAN vrywilligersprojek


Kapittel
Datums

16 Junie - Jeugdag


Vlampunte

Op pad na die Beloofde Land

Jaco Botha

Die Egiptenare word alom beskou as ’n gróót beskawing – kyk net die piramides wat hulle gebou het. Wat mense baie keer vergeet, is dat daardie piramides op die bloed, sweet en marteling van generasies op generasies slawe gebou is.

So kan mens seker oor vorige wit regerings sê dat hulle ’n sterk infrastruktuur en gesonde werksetiek in Suid-Afrika gevestig het – dat hulle welvaart geskep het, al was dit slegs ten bate van ’n sekere deel van ons samelewing en via die uitsluiting en uitbuiting van die res van die gemeenskap. Maar, laat ek nou nie in gemaklike “white guilt” verstrik raak nie.

Aangesien dit Sondag is en ek reeds by die piramides afgeskop het, kan mens sekerlik apartheid vergelyk met die slawehuis, of vleispotte van Egipte – afhangend van wat jou ingesteldheid is. Ons het die genade van Moses’e soos Madiba, FW de Klerk en Desmond Tutu gehad wat ons droogvoets deur die “Rooi See” van potensiële bloedvergieting gelei het. En nou, ’n dekade later, is daar baie mense wat hartseer en teleurgesteld is dat ons nog nie in die Beloofde Land van melk en heuning, vryheid en gelykheid is nie.

Baie swart mense glo daar het in wese nog min verander in die sosiale weefsel van die land – die meeste witmense floreer steeds in hul huise teen die heuwels en miljoene swartmense woon steeds in plakkerskampe en voer ’n oorlewingsbestaan.

“Is dit nou ons skuld?” sal baie wittes jou vra en jou wys op sosiale euwels onder die huidige regering soos werkloosheid, misdaad, korrupsie of wat ook al.

Nou met Jeugdag, 16 Junie, as eerste fokuspunt, het ’n klomp Afrikaanse jongmense ’n landswye gesprek van stapel gestuur om te kyk: Waar kom ons vandaan? Waar is ons nou? Waar wil ons oor twintig jaar wees? En, wat moet ons doen om dit reg te kry?

Ons sien onsself as deel van hierdie land en ons sien ons toekoms hier. Ons glo ’n vasklou aan ou waardes en die oor-en-weer-slinger van beskuldigings gaan niemand êrens bring nie.

In van die eerste Afrika Afrikaan-kapittels is genoem dat dit belangrik is om verantwoordelikheid te aanvaar en te erken dat ons (wittes), selfs diegene wat ná ’76 gebore is, onregverdiglik voordeel getrek het uit apartheid. Ons moet ook erken dat swart en bruin mense benadeel is deur ’n sisteem van rassediskriminasie. Mense is ekonomies uitgesluit en het substandaard-opvoeding ontvang, maar sekerlik lê die swaarste skuldlas van aparheid by die manier waarop veral swart mense se menswaardigheid en selfvertroue oor generasies heen afgebreek is. Ek wil nou nie in kombuistaal verval nie, maar wanneer jy vir dekades lank vir mense gesê het dat hulle dom en kak is, gaan ’n klomp van hulle dit begin glo; dit gaan jare van regstel kos om daardie mense hul selfvertroue en menswaardigheid terug te gee.

So, wat doen ons nou? Ons sit met ’n nalatenskap van grootskaalse armoede, geweld en ook ’n gebrek aan kundigheid, ervaring en selfvertroue. Ons kan jammer sê – dis een opsie. Ons kan bly skreeu teen alles wat die regering en swart-bemagtigingsmaatskappye verkeerd doen – kritiek is altyd nodig, veral in ’n land waar kritiek eens taboe was.

Of ons kan kyk hoe ons ons vaardighede, kundigheid en selfvertroue kan aanwend om die nalatenskap van apartheid en ander sosiale probleme aan te spreek en van hierdie land ’n beter, veiliger en meer suksesvolle plek te maak.

Die eerste fase van regstellende aksie het ongelukkig slegs ’n klein swart elite bevoordeel – die spreekwoordelike BEE Lotto is deur ’n paar connected ouens gewen. Dit was ’n uiters gevaarlike situasie, want in baie Afrika-lande is ’n klein, wit koloniale elite slegs deur swart eweknieë vervang en die burgers van die land het bloot in armoede bly voortploeg.

Toe kom die tweede fase van regstellende aksie – die sogenaamde breë-basis swart ekonomiese bemagtiging, wat meer geleenthede aan voorheen-benadeeldes bied. Dit is reeds ’n stap in die regte rigting. Die probleem hiermee is egter dat dit steeds mense op grond van velkleur bevoordeel/benadeel en die gevaar inhou om bloot ’n nuwe vorm van geïnstitusionaliseerde diskriminasie te bied. Die stelsel konsentreer op velkleur, eerder as op die benutting en uitruil van vaardighede en ander voordele.

Waar werk regstellende aksie? Die grootste suksesverhale van regstellende aksie is waar sogenaamde deelvennootskappe (peer projects) bedryf word. Veral in die boubedryf span tradisionele wit ondernemings en swart kontrakteurs saam om toegang te kry tot staats- en ander kontrakte. In die proses maak almal wins en word bestuursvaardighede en ervaring uitgeruil. Die mense werk lekker saam en al hoe meer voorheen-benadeeldes word in die hoofstroom-ekonomie opgeneem. Regstelling vind plaas.

In ’n gesprek wat ek met ’n woordvoerder van een van die landbou-unies gehad het, het hy gesê dat grondhervorming (regstellende aksie in die landbou) en die ekonomiese haalbaarheid van swart boerdery nie in die praktyk werk nie. “Jonas werk vir 30 jaar sy aan sy met die boer en wanneer hy sy eie stuk grond kry, verval daai plaas binne ’n jaar of twee in chaos,” vertel hy. Toe ek hom wys op voorbeelde van suksesvolle deelvenootskappe, toe erken hy dat daar wel ’n paar swart boere is wat ekonomies volhoubaar boer. Ek glo baie mense vergeet dat “Jonas” tot 1994, en selfs daarna, bloot aangesê is, gedreig is en geklap is om sy job te doen – die selfvertroue, bestuursvaardighede en ervaring om onafhanklik te boer is nooit aan hom gegee nie. Nou word daar verwag dat hy oornag eenvoudig daardie vermoëns moet kry. Hel man, dit gaan glad nie oor velkleur nie. Gee vandag vir my ’n lappie grond en twee trekkers en oor twee jaar is ek bankrot – ek het eenvoudig nie daardie skills nie.

Daarom moet mens in ’n derde fase van regstellende aksie gaan kyk na die oordrag van vaardighede en ervaring. So kan ’n swart seun wat in ’n Engelse privaatskool in Johannesburg was, ook heelwat bydra tot die groei in vaardighede van bruin fabriekswerkers op die Kaapse vlakte. So kan jong, wit Suid-Afrikaners die voordeel wat hulle uit apartheid geput het, gebruik om waarlik te help “regstel”; om daardie vaardighede oor te dra aan mense wat nie voorheen daartoe toegang gehad het nie.

My eintlike punt is dat dit maklik is vir die ouer wit elite en swart elite om uit die snoesigheid van hul hoog-omheinde huise klippe na mekaar te gooi; om “Julle regeer en bestuur nie behoorlik nie!” of “Kyk die nalatenskap van Apartheid!” te skreeu.

Ons jongmense (van alle kleure) staan in die middel en is gatvol daarvoor. Ons is gatvol van skuldig voel en ons is gatvol om arm of bang te wees. Ons voel egter ook dankbaar dat ons vandag in ’n soveel vryer samelewing as vyftien jaar gelede woon.

Ons vat nou hande om “reg te stel” – dit wat in die verlede verkeerd was en dit wat ook nou verkeerd is. Van die opstaan teen onregverdigheid op 16 Junie, tot by die geveg teen onderdrukking en kolonialisme tydens die Boereoorlog – dit alles dien as inspirasie vir wat nog moontlik is. Ons erken mekaar se menslikheid en help dra aan die ouens se bagasie wat vir hulle te swaar is. Met die Grondwet as “Ark”, as vuurkolom wat voor ons uit beweeg en vir ons die koers aandui, weet ons dat ons nog nie in die “beloofde land” is nie, maar wel op pad is daarheen.

Ons vat hande vir ’n vry en gelyke, ’n regverdige, veilige en suksesvolle land – nie net vir ons nie, maar ook vir ons kinders.

Vir almal wat glo “regstel” is onnodig en immoreel; vir almal wat glo regstellende aksie is bloot apartheid in tru-rat, wil ons sê: “Oumense moenie in die water mors nie, die kinders moet dit nog drink.”

Dit is basies waarin ons glo. Ons het egter ook ’n land nodig wat in ons glo.


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.