VryepoortArchive
  Versorg deur: Kabous Meiring, Johan Pienaar en Susan Samuel
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Vryepoort@LitNet

Vryepoortstasie


Projek
Afrika Afrikaan

Projekskets: AFRIKA AFRIKAAN vrywilligersprojek


Kapittel
Datums

16 Junie - Jeugdag


Vlampunte

16 Junie - Maak dit nog saak?

Susan Samuel

Jy hoef nie Jeugdag te vier nie. Niemand dwing jou nie. In die vorige bedeling is openbare vakansiedae met 'n byna dringende gejaagdheid gevier: van Hemelvaartdag tot Boomplantdag is veral op skool vriendelik verpligtend aan jou opgedis. Dis daarom te verstane as jy 'n bietjie van 'n gly daarin gekry het.

Voordat jy egter besluit om vanjaar weer terug te sit en die langnaweek te geniet, is daar 'n paar dinge wat jy behoort te weet van Jeugdag – en spesifiek 2006 s'n.

Dit is vanjaar 30 jaar sedert die jeugopstande in Soweto in 1976.

Wat die oggend van 16 Junie 1976 as 'n vreedsame optog by die Orlando-stadion begin het, het verander in die ergste opstande sedert die apartheidsregering byna drie dekades tevore aan bewind gekom het.
Die Soweto-opstand duur drie dae, en versprei na ander sentrums in die land, waar dit in verskillende grade van intensiteit voortwoed vir 'n verdere agt maande.

Dit was basies die begin van die einde van Apartheid.

So wat beteken dit vir jou? As jongmens het jy skaars herinneringe aan Apartheid; hoekom sal jy die einde daarvan vier?

Vir my is daar twee belangrike aspekte aan Jeugdag.

Dit erken eerstens die ongelooflike rol wat die jeug gespeel het in die uiteindelike ommekeer wat in hierdie land plaasgevind het. Die jeug is gewoonlik die laastes wat glo dat hulle enige mag het – daarvoor is daar veels te veel strukture in plek in die samelewing om hulle gehoorsaam en onder beheer te hou. Die jeug word ook gewoonlik eers tot optrede gedwing wanneer daar 'n algemene ongelukkigheid is dat diegene aan beheer – gewoonlik hul ouers se generasie – se manier van onderhandel, verander en regeer, nie voldoende is nie. Wanneer die jeug dus oorgaan tot aksie, is dit gewoonlik eers wanneer dinge al kritiek is.

Daarom is dit moeilik om die jeug te mobiliseer. Die geskiedenis wys dat dinge regtig vrot moet gaan vir die jeug om aktief te raak – daar moet basies nie 'n ander keuse wees nie. Hoe vrot gaan dit nou werklik in Suid-Afrika? Wie se siening van vrot ondersteun jy? Waar die siening van die toestand van Suid-Afrika grootliks afhang van watter politieke ingesteldheid jy het, is dit veel makliker om die hele kwessie te ignoreer.

Die rol van Jeugdag is om die “cruise control”-knoppie vir 'n wyle af te skakel en 'n bietjie te luister na ander jongmense se ervarings, opinies en prioriteite. Dalk, net dalk, kan jy oorreed word om nie weer die “cruise control” aan te skakel nie.

Die tweede belangrike aspek van Jeugdag is die rol van Afrikaans.

'n Kommissie van ondersoek in die Soweto-opstande het bevind dat die oorsaak van die ongelukkigheid gespruit het uit 'n bepaling van 'n Transvaalse Provinsiale Onderwys-liggaam dat Afrikaans as die enigste medium van onderrig in swart hoërskole ingestel word.

Die opstande is gekenmerk deur anti-Afrikaans-slagspreuke en dit is verreweg een van die mees visuele anti-Afrikaans-bewegings tot op hede. Hierdie anti-Afrikaanse sentiment is steeds lewend in vele gemeenskappe, veral onder die ouer generasies.

Logika sê dus vir my dat enige bekommernisse wat ek ook al oor Afrikaans mag hê, nie werklik veel simpatie by ander landsburgers gaan kry as ek nie 'n meer sigbare betrokkenheid by en verbintenis tot die huidige bestel begin toon nie. Hiermee bedoel ek nie dat die nuwe bestel sonder kritiek aanvaar moet word nie. Jou kritiek gaan egter net ernstig opgeneem word as jy minstens betrokke lýk. En deelname aan 'n Jeugdagvieringe is nie 'n slegte begin nie.

Hoe lank gaan Afrikaanssprekendes nog vat voordat hulle openbare vakansiedae en landsimbole as hul eie aanneem? Wanneer gaan Jeugdag groter word as opstandigheid? Wanneer gaan Erfenisdag ook jou en my erfenis begin insluit? Wanneer gaan mense ophou kla oor Hemelvaartdag se statusverlies en meedoen aan Vryheidsdag? Wanneer gaan Vrouedag ophou om 'n glorified Moedersdag te wees en 'n daadwerklike bewuswording skep van sommige vroue in hierdie land se hellebestaan?

Dis nie 'n verbintenis wat die nuwe regering kan afdwing nie. Dis 'n toe-eiening wat nodig is by landsburgers – iets wat Afrikaanssprekendes oënskynlik nog nie gedoen het nie. En indien hulle het, was dit tot dusver regtig nie sigbaar genoeg om 'n mens hoopvol te maak nie.

As jongmens kan ek nie meer in my gemaksone sit en sê dat dinge my nie aangaan nie. Ek moet 'n bewustelike en sigbare “commitment” teenoor die land hê – veral as Afrikaanssprekende. Jy doen jouself en jou taal geen guns deur Afrikaans as 'n versetsimbool teen die nuwe bestel te gebruik nie. Dit is tyd dat Afrikaans ook 'n medium word vir toleransie en insig. Die neiging is om hewige kritiek en debatvoering af te maak as anti-Afrikaans, pro-regering of polities korrek voordat dit nog 'n kans kon kry om genuanseerd of ingewikkeld te raak.

Raak betrokke by die debatte. Raak betrokke by die Afrika Afrikaan-inisiatief. Raak betrokke by hierdie webwerf en laat hoor van jou.




LitNet: 31 Mei 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel?
Opinies/essays kan gestuur word na redaksie@vryepoortstasie.co.za, of jy kan op SêNet reageer deur 'n brief te stuur aan webvoet@litnet.co.za.

to the top / boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.