|
|
Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole
Finale verslag - SkryfNet VIIMarita van der Vyver
Klik telkens op die storie se titel om die verslag te lees:
In hierdie tweede weergawe (onder 'n nuwe titel) kom die kinderlike ek-verteller deurgaans meer oortuigend voor. Die onnodige verlede tyd is vervang deur die eenvoudiger teenwoordige tyd, wat die hele verhaal vlotter laat verloop, sonder onvanpaste struikelblokke vir die leser. Tog sou ek voorstel dat die skrywer wéér 'n keer oor die titel besin. Die teken is waarskynlik meer gepas as Voel jy dit ook ( hoewel ek die emosionele lading van laasgenoemde mis), maar dis nog nie presies reg nie. 'n Perfekte titel behoort 'n soort kliek-geluid in die skrywer se kop te maak. Ek vermoed dat hierdie skrywer nog wag vir daardie kliek. Indien sy besluit om by Die teken te bly, behoort die paragraaf oor hoe die verteller vroeër die dag die krake in die sypaadjie raakgetrap het, op 'n ander manier aangebied te word. Nie as so 'n byna terloopse terugflits nie. Dis die teken waarna verwys word, nie waar nie? Daarom behoort die skrywer meer daarvan te maak - sonder om té veel daarvan te maak! Makliker gesê as gedaan, natuurlik. As dit by skryfwerk kom, is alles altyd makliker gesê as gedaan. Ek glo dat die slot ook nog verbeter kan word. Die feit dat Jaco dood is - nie die ma oor wie die verteller heeltyd bekommerd is nie - kom as 'n skok vir die leser. Ek neem aan dat die skrywer dit so wil hê, maar daar is tog 'n soort ironie in die verhouding tussen die karakters wat myns insiens beter ontgin kan word. Die verteller is byna obsessief behep met haar ma - terwyl die ma skynbaar weer behep is met die verteller se jonger boetie. Miskien kan iets hiervan uitgebring word in die slot? En die slotsin (Ek wonder of sy my ooit sal vergewe …) is 'n klassieke voorbeeld van wat dalk die oudste van alle skryfsondes genoem kan word: Telling rather than showing. Die ma se gedrag behoort vir die leser te wys wat die skrywer hier probeer vertel. Die ma sou byvoorbeeld kon weier om na die verteller te kyk, of op verskeie ander maniere haarself van die verteller kon afsluit. 'n Sin soos Ma staan oorkant my in ander mense se arms is eenvoudig te vaag. In wie se arms staan Ma (Thys? of wat het van Thys geword?) en wat doen sy daar? Snik sy, bewe sy, toon sy enige emosie? Detail, detail, detail. Onthou, dis dikwels die belangrikste verskil tussen 'n gangbare storie en 'n goeie storie.
Die doel van 'n slypskool soos dié is om ontluikende skrywers te leer om krities na hulle eie werk te kyk, om te skrap en te verander en veral om oor te skryf. Oor en oor en óór. Dis waarom die hele oefening in drie fases oor sowat drie maande aangebied word; sodat die skrywer hard aan die tweede weergawe van die storie kan werk, en dan nog harder aan die derde en finale weergawe. Daarom was ek verbaas om te sien dat die skrywer van hierdie verhaal byna niks aan haar eerste weergawe verander het nie - behalwe om die verwarring tussen die ek-verteller en die sy-verteller uit te skakel. Dis inderdaad 'n belangrike verandering, wat help om die hele verhaal vlotter te laat lees, maar dis nie genoeg nie. 'n Skrywer moet leer om haar eie werk te redigeer - woord vir woord te redigeer - voordat sy kan begin hoop om dit gepubliseer te kry. My kritiek klink dalk oordrewe kwaai, want "Die Laaste Maal" se eerste weergawe was reeds indrukwekkend en het nie drastiese herskryf nodig gehad nie. Maar juis omdat die verhaal soveel belofte toon, sou ek graag wou sien dat die skrywer dit met die nodige dissipline redigeer. As dit 'n totaal talentlose verhaal was, sou ek sonder gewetenswroeging kon sê I don't give a damn. My raad - as die skrywer dié keer bereid is om te luister - is stééds om die verwarring tussen die verlede tyd en die teenwoordige tyd in die sesde paragraaf uit te skakel. Verder kan sy gerus ook kyk na die geboortetoneel bo-aan p. 3. Haar sol y sombra! Haar son! Haar Solly! Is drie uitroeptekens nie ietwat oordrewe nie? En in die eerste sin van die derdelaaste paragraaf sou ek "laggend" skrap ("vertel sy laggend"), want dit verminder die trefkrag van die "lag sy" in die slotsin. Bogenoemde voorstelle is slegs voorbeelde van die soort noukeurige redigering wat die skrywer veronderstel was om op haar eie aan te pak. Gelukkig lê daar nog 'n laaste skof voor waarin sy haar slag kan wys. Ek sien uit na die finale weergawe.
Die tweede weergawe lyk beslis beter as die vorige een. Allerlei onnodige en/of sentimentele "geraas" is verwyder - taamlik letterlike geraas in die geval van die pop liedjies - sodat die hele verhaal 'n hegter eenheid vorm. Tog kan daar steeds hier en daar verder gesny word. Die sin "Sy grinnik" bo-aan p. 2 bly oorbodig. Dis heeltemal voldoende dat daar enkele reëls ondertoe verwys word na "haar siniese glimlag". En die laaste paragraaf op p. 4 (die een wat begin met "Nee, nie net gone nie") is steeds te uitgesponne. Al daardie inligting oor die ou tannie is nie noodsaaklik vir die ontwikkeling van die verhaal nie. Wat noodsaaklik is, is die frase "niemand is ooit net weg nie" - want dit help om Marteld tot die besef te bring dat sy ook nie "net weg" kan wees nie. 'n Bietjie agtergrondinligting oor tannie Ferreira, slegs een of twee frases, sal genoeg wees om die leser tot by hierdie frase te lei. As die skrywer sorgsaam deur die hele verhaal werk, sal sy van verdere los drade en wollerigheid ontslae kan raak. Onderaan p. 8 is daar byvoorbeeld drie sinne wat verkort kan word: Weet met sekerheid dat sy nie wil sterf nie. Nie hier langs die grootpad nie. Nie alleen sonder haar mense nie, ook nie nou nie. Pasop. Té veel word hier vir die leser uitgespel. As 'n paar woorde weggelaat word, sal dit meer treffend wees. Marteld se gedrag behoort dit op hierdie punt duidelik te maak dat sy nie nou al wil sterf nie. Die leser het nie 'n verklaring nodig nie. Die oop einde is ongetwyfeld 'n verbetering op die prekerigheid van die vorige slot. Nou kan die leser self besluit wat Marteld met die dooie rower se geld in haar motor gaan maak. Gaan sy barmhartig wees en dit vir Luziel gee? Of gaan sy dit gebruik om haar eie finansiële probleme op te los? Of gaan sy dit op die ou end tog vir die polisie gee omdat dit "kwaadgeld" is? Ek weet nie van ander lesers nie, maar ek hou duimvas vir Luziel …
'n Goeie voorbeeld van 'n verhaal waaraan 'n skrywer deeglik gewerk het en dit in die proses drasties verbeter het. Dis nou nie meer bloot 'n monoloog van los gedagtes nie, dit het 'n behoorlike storie geword. Dit speel af in 'n spesifieke stad, Kaapstad, met genoeg (dalk selfs ietwat te veel!) verwysings na spesifieke strate en plekke. Die leser word ingetrek, oortuig en meegevoer. Dit was 'n blink idee om die wit duif in te bring - en weer in die slotsin na die duif te verwys. En tog kan dit steeds verbeter word. Ek wonder byvoorbeeld of die ellelange derde paragraaf op p. 2 nie ernstig gesny of selfs heeltemal uitgelaat kan word nie. Is die relaas oor die bure se siek kind werklik onmisbaar in hierdie storie? Rek dit nie net die spanningslyn onnodig uit nie? Onthou, in 'n kort kortverhaal soos dié behoort die spanningslyn so styf as moontlik getrek te word. Elke frase moet saak maak, elke woord moet onmisbaar wees. Enkele ander vrae en voorstelle: Is "verstom" werklik so 'n "mooi woord"? As ek na die res van die verteller se woorde kyk, val "verstom" my nie juis op nie. Wat van "verbyster"? Of anders kan die stukkie oor 'n woord wat by 'n client gehoor is, dalk op 'n ander plek ingelas word? Die slot is veel beter as voorheen, maar daar is steeds teenstrydighede wat opgelos moet word. Die derdelaaste sin lui en ek weet presies wat ek wil doen vir haar hierdie Krismis - asof die verteller skielik tot 'n soort insig kom - en tog het die verteller reeds 'n paar paragrawe vroeër vir 'n kliënt vertel van "my plan vir Mary". Sy sou dus teen hierdie tyd reeds swanger moet wees - as dit inderdaad is wat haar plan vir Mary behels - maar die swangerskap kan ook nie só ver gevorder wees dat die baba, soos die "boy child" in die liedjie, op Kersdag gebore kan word nie. Die skrywer het met hierdie tweede weergawe bewys dat sy weet hoe om aan 'n storie te skaaf. Ek vertrou dat sy die oorblywende splinters en growwighede ook sal kan wegskaaf as sy weer 'n keer sorgvuldig deur veral die laaste deel van die storie werk.
Hierdie skrywer het behoorlik ingeklim met die snoeiskêr en van allerhande ongetemde lote ontslae geraak. Die gevolg is 'n hegter struktuur en 'n meer afgeronde geheelindruk. Dis waarop professionele skryfwerk keer op keer neerkom: om te sny en te skaaf en wéér te sny en wéér te skaaf. Dit kan nooit genoeg beklemtoon word nie. Die verhaal staan sterker sonder die wollerige metafisiese mymeringe - die gedeeltes in kursief wat voorheen eintlik net die spanningslyn onderbreek het - en die feit dat die aksie nou verskuif het na die laaste dag van die hoofkarakter se verblyf in 'n vreemde land, veroorsaak 'n nuwe soort narratiewe spanning. Tog is Anton se angs oor presies wát met Apple gebeur het, nou nie meer vir my so oortuigend soos in die vorige weergawe nie. Waarmee ek allermins bedoel dat daar lang stukke bygeskryf moet word; bloot 'n frase of twee om sy onsekerheid oor die toneel agter die toe badkamerdeur beter uit te druk. Die aaklige vermoede dat hy dalk self iets aan Apple gedoen het, dat hy op een of ander manier verantwoordelik was vir die "bloed" om haar mond, sou byvoorbeeld met méér trefkrag in die tweedelaaste paragraaf op p. 4 gesuggereer kon word. Voorts is die einde steeds nie bevredigend nie. Die slotsin is onoorspronklik, selfs voorspelbaar, en terselfdertyd ook onvanpas. Indien dit behou sou word, behoort die skrywer dit eerder vroeër te gebruik. Nou lyk dit soos iets wat aangelas is omdat die skrywer nie geweet het hoe om die storie af te sluit nie. Moenie moed verloor nie, sou ek graag wou sê. Die einde is altyd die moeilikste deel van 'n kortverhaal. Of soos Beckett dit gestel het: Try again. Fail again. Fail better. 'n Laaste terloopse opmerking oor die slot: Anton se hart sal nie "sink" (in die derdelaaste paragraaf) as hy besef dat dit nie bloed om Apple se mond was nie. Slegte nuus laat jou hart sink, goeie nuus laat dit lig, nie waar nie?
Wil jy reageer op SkryfNet VII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |