|
|
Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole
Eerste verslag - SkryfNet VIIIngrid Winterbach
Klik telkens op die storie se titel om die verslag te lees:
Die verhaal het beslis verbeter deur die gebruik van die teenwoordige tyd deurgaans. Die verhaal het meer vaart, dit is minder cluttered. Die element van kompulsiwiteit kom sterker in hierdie as in die eerste weergawe na vore. Dit is nie meer net praktiese goed wat Sandra doen om haar ma in 'n beter stemming te bring nie, maar ook bepaalde selfopgelegde rituele wat sy moet nakom, soos om nie op die krake in die sypaadjie te trap of met haar regtervoet eerste by die klaskamer in te stap nie. Ek vind hierdie addisionele element oortuigend - 'n kind wat, soos Sandra, emosioneel onseker is, sou hierdie soort neurotiese gedrag kon openbaar. Sy blameer dan ook die feit dat sy die middag 'n kraak raakgetrap het vir haar ma se woede en Jaco se gedraai. Sou hierdie motief nie verder gevoer kon word nie? Tot in die slot, byvoorbeeld? Dat sy byvoorbeeld Jaco se dood toeskryf aan een van hierdie rituele wat sy nie nagekom het nie? Wat ongelukkig in hierdie weergawe verlore gegaan het, is die spanning wat opbou terwyl Sandra 'n hele middag lank wag vir Jaco om terug te kom. Hierdie opbou is noodsaaklik - die angs wat die kind ervaar, is 'n belangrike deel van die potensiële trefkrag van die verhaal. Ten spyte van 'n paar gebreke was dit voelbaarder in die eerste weergawe. (Verwysing na die Dixie Midnight Runners se musiek was 'n mooi detail. Dit is dikwels hierdie soort detail - soos die lig op die skoene, die reuk van die hoender - wat 'n verhaal trefkrag gee.) Die eerste weergawe vanaf die paragraaf "Ek kan hoor dis nie Ma se voos motor nie" tot by "Oom Burt draai om en sy skouers ruk" vind ek in die geheel sterker as die tweede weergawe. Dit gaan hier om 'n subtiele verandering in die aanbod en organisasie van gegewens. Dit is byvoorbeeld meer suggestief dat sy eers die motor hóór voor sy dit sien, en die yl stukkie dialoog tussen oom Burt en Sandra is treffender (meer troosteloos) as die gerapporteerde "oom Burt groet". Wat moeilik van skryf is, is dat elke besluit by die skrywer self berus - en in elke verhaal is daar tálle besluite wat geneem moet word. Onthou, met alles wat mens skryf, wil jy jou leser ráák. Daarom is dit belangrik dat 'n verhaal geskryf en herskryf word, en dat verskillende opsies noukeurig oorweeg word, totdat élke element in die verhaal geslyp is, sodat die verhaal soos 'n skerpgemaakte pyl op sy doel (die niksvermoedende leser!) afstuur. As 'n mens 'n leser nie tot in die senuwee-eindpunt kan raak nie, waarom dan die moeite doen om te skryf? Die slotsin vind ek helaas 'n bietjie flou. (Vergelyk my opmerking in die tweede paragraaf.) Is die slot verhelderend, bied dit enige sleutel tot die verhaal? Hierdie goeie verhaal verdien 'n sterker, meer deurdagte einde.
Die enigste veranderinge aan hierdie verhaal is 'n sin wat weggelaat is, en die eerstepersoonvertelling wat deurgaans derdepersoonvertelling word. Ek vind dit lofwaardig dat die skrywer sterk genoeg oor haar verhaal voel om te weier om op bepaalde voorstelle in te gaan. Dit is die soort vertroue in 'n mens se eie intuïsie waaroor dit in 'n groot mate tydens die skryfproses gaan. Maar nou moet ek tog sê dat ek die wisseling van eerste- en derdepersoonvertelling in die eerste weergawe beter gevind het as die keuse vir eenvormigheid in die tweede weergawe. Dit is 'n voorstel waarop die skrywer ingegaan het, maar 'n mens kan nooit vooraf voorspel wat die effek daarvan sal wees nie. Die vertelperspektief werk beter in die eerste weergawe omdat die wisseling van eerste- en derdepersoonvertelling die versplintering van die karakter se ego beklemtoon. Deur die perspektiefwisseling word die leser ook bewus gemaak van die afwisselend pynlike óópmaak en terugtrek van die karakter - 'n vrugtelose poging om die skrynende emosies op 'n afstand te hou. Hoewel ek steeds voel dat die gekursiveerde gedeelte onnodig is, vind ek hierdie 'n baie oortuigende verhaal.
Dit gaan in hierdie verhaal om 'n verandering wat by die hoofkarakter plaasvind. Aan die begin van die verhaal gee sy nie 'n snars om nie, aan die einde weet sy dat sy "nie wil sterf nie". Iewers in die middel besef sy skielik dat sy haarself te veel bejammer. Dan twyfel sy skielik of sy wil doodgaan, besef sy dat liefde nie jammerte is nie, en dink dat sy haarself tog liefhet. Die verhaal slaag egter nog nie daarin om my te oortuig dat hierdie vrou - ten spyte van haar benarde finansiële posisie, en haar kanker - regtig selfmoord as opsie oorweeg nie. Wat 'n karakter dink en ervaar, behoort voort te spruit uit die situasie waarin die karakter hom/haar bevind. My hoofbeswaar teen hierdie teks is dat te veel van wat Marteld hier dink en ervaar, sy ewe goed in 'n ander, minder bedreigende konteks kon beleef het. Daar word te veel verduidelik en geïnterpreteer, en sommige van hierdie verduidelikings en interpretasies staan nog te los van die verhaalgegewe. Hierdeur word die verteltrant vertraag en die sentrale dramatiese gegewe - 'n kaping, 'n lewe-en-dood-situasie - word ondermyn. Die gedeelte "daar is nie geld vir haar kind se opleiding nie" tot by "dat hy saam met haar sal moet gaan bly in 'n meenthuis eerder as in die groot huis teen die koppie", is byvoorbeeld heeltemal te uitgesponne. Pas vanaf die punt waar die man die deur ooppluk en uitspring, word die tempo versoenbaar met die situasie. Wat dra die slotsin by tot die verhaal? Werp dit enige lig vir die leser op wat voorafgegaan het - op waar die karakter haar aan die einde van die ervaring bevind? 'n Interessante gegewe wat - met 'n raps meer skaafwerk - 'n sterk verhaal kan word.
Die verhaal het nou heelwat meer trefkrag. Dit het minder van die gemoedelikheid van die eerste weergawe. Maar ek begryp nog steeds nie waarop die einde afstuur nie. Daar is nie genoeg aanduiding wat Katie se "plan" is en wat die man se rol daarin is nie. Is dit om vir Mary 'n pop te koop?! Wat is dan die betekenis van die liedjie (en die verwysing na die wit duif in die slotparagraaf)? En waarom dan die verwysings na die "bum cream" en die seuntjie in die park? As dit om swangerskap gaan, waarom sal so 'n street-wise kind so naïef wees om swanger te wil raak, en watter man - wat van 'n prostituut se dienste gebruik maak - sal 'n medepligtige in so 'n swangerskap wil wees? Jammer, ek begryp nie; ek kry dit nie uitgepluis nie. Volgens watter beginsel word die Engelse woorde gebruik? Dit kom my erg arbitrêr voor. Sal hierdie karakter 'n woord soos "fetish" ken? Ek sien nog steeds nie die noodsaaklikheid vir die verwysing na Antie Josie se kind nie. Ek sou dink dat godsdienstigheid 'n kenmerk van lae-middelklas- en werkersklas-gemeenskappe is. Moedie se antwoord dat sy haar Bybel nog maar min gelees het, oortuig nie. Trouens, die moeder vind skynbaar geen probleem daarmee dat die kind 'n prostituut is nie - geen konflik by haar, geen moederlike skuldgevoelens, geen pogings tot regverdiging nie. Dit kom my tog effens vreemd voor. (En waarom sou Katie nie weet op watter dag sy verjaar nie?!) Die slotsin met sy religieuse konnotasie is vreemd evokatief - al versterk dit die interpretasie van 'n vlekkelose ontvangenis, soos die maagd Maria. Is dit die bedoeling?!
Hierdie verhaal het heelwat verbeter - dit is leniger, dit lees vlotter. Daar het 'n paar feite bygekom: dit is Anton se laaste dag by sy werk (sy vliegkaartjie lê reeds in sy aktetas op die voorste motorsitplek). Tydens sy eerste ontmoeting met Apple glip hy sy trouring af, waardeur die moontlikheid van 'n erotiese interlude in die vooruitsig gestel word. Of daar inderdaad iets hiervan gekom het, word nie uitgespel in die verhaal nie - as dit gebeur het, word dit net gesuggereer deur Anton se irritasie met Apple se "nuwe" Amerikaanse vriend, en die manier waarop sy lag vir die man se grappe. Anton se houding teenoor Apple bly deurgaans ambivalent: sy irriteer hom (as sy lag vir haar eie kinderagtige grappe, byvoorbeeld), en tog is hy besorg oor haar welsyn nadat hy die vorige aand onder die indruk was dat haar mond in 'n stadium bloedbevlek is. Na sy dwelmervaring weet hy dat dit met die "Chinese medicine" verband hou - maar meer kan hy nie onthou nie. Dit is dan met verligting dat hy besef dat hierdie rooigevlekte mond deur bienglang veroorsaak is. (Maar waarom "sink" sy hart dan? Hoe kan sy hart sink as hy verlig is? Mis ek iets hier?) Dit is nog nie vir my heeltemal duidelik waaroor die verhaal gaan nie. Dit hink vir my steeds op twee gedagtes. Is die fokus van die teks Anton se (onbevredigende, ambivalente) verhouding met Apple, of is die fokus van die teks Anton se dwelmervaring en die onthulling van die ware aard van "Chinese medicine"? Dit wil amper lyk asof die teks op laasgenoemde afstuur. Ek sou die slot heroorweeg. Wat dra die slotsin by? Ontsluit dit 'n verdere betekenis, werp dit lig op die voorafgaande verhaal? Is dit trouens selfs nodig? Die tweede laaste paragraaf lyk my 'n meer suggestiewe einde.
Wil jy reageer op SkryfNet VII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |