SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Chinese Medicine

Liezel van Beek

Anton maak sy oë stadig oop en lig sy loodswaar kop van die kombuistoonbank af op. Dit neem 'n ruk voordat sy oë op die verlepte potplant voor hom kan fokus. Fok, wat het ek gedoen, dink hy terwyl hy die kwyl van sy wang vee en verwilderd opsteier.

Sy bloed klop in sy slape met die mening van 'n beeldhouer wat besete die laaste ledemaat uit sy marmermeesterstuk kap. As hy net nie soveel gedrink het nie, sou hy nou beter kon dink, miskien selfs die moed gehad het om die badkamerdeur oop te maak.

Die vertrek vol leë bottels, gekantelde asbakke en vreemde CD's wat omhulselloos op die mat langs die radio lê, herinner hom skielik aan sy universiteitsdae. "Daar's niks agter daardie deur nie, gisteraand was nie so erg soos ek dink nie. As daar regtig iets gebeur het, sou iemand nog hier gewees het." As hy tog net kan onthou wat die Chinese medicine was. Al wat hy duidelik van die vorige aand onthou, is die bisarre gesprekke wat hy met homself gevoer het:

"Wat beteken die beloning van plesier as die betaling daarvoor pynloos is? Ontspan, man! Is die werklikheid van jou lewe in Taiwan regtig minder surrealisties as dié trip? Kyk, agter jou staan 'n soldaat met 'n piesanggeweer."

Anton se kraag vat taai aan sy nek. Hy het net sy gesig in die kombuiswasbak afgespoel en vir 'n vergete restaurant-peperment in sy sak gevroetel om sy asem te begrawe. Hy weet dat gisteraand se tequila en wie weet wat nog waarskynlik binnekort weer soos 'n slegte gewete sal deurslaan.

Sy aktetas lê nog net so op die agterste sitplek soos hy dit die vorige middag ná werk oorgeskuif het om vir Apple sitplek te maak. As hy maar geweet het waarin die één bier sou uitdraai, sou hy eerder direk huis toe gegaan het om vir sy voorlegging voor te berei. "Come on! Just for a while - it's my birthday. And then you can also meet Dave," het sy bly soebat.

Die verkeer kruip oor die agtlaanhoofweg tussen Hsinchu en Taipei. Anton se kop is 'n draaikolk gedagtes en verwronge herinneringe. Hy dink aan Apple met haar groot glimlag en die fyn handjie wat elke keer mond toe skiet as sy lag vir haar eie kinderagtige grappe. En haar gitswart hare wat soos kwik om haar kop beweeg as sy haar skraal skouers saam met die ritme van die Sjinese popmusiek op sy motorradio wieg.

Anton moet skielik 'n galsmaak in sy slukderm terugdwing toe die beeld by hom opkom van haar oop mond, bevlek met iets wat lyk soos bloed. Het sy gelag of gehuil? Was haar oë bang of weer uitdagend? Hy kan nie onthou nie! Niks het sin gemaak nie. Als het gedraai en als het gelewe. Uit die mure het gesigte gekom wat met wrede s-vormige wenkbroue jouend en skertsend na hom gegryp het, vloekend en tartend. Vreemde mense, almal met skrefiesoë soos Apple, het met hom gepraat - dieselfde onverstaanbare frases in 'n staccato taal na hom gespoeg, laggend as hy bedroef en desperaat sy skouers vir hulle ophaal.

Die tapyt van sy woonstel was 'n hindernisbaan waarop die Sjinese kuns van perde en soldate denkbeeldige naalde na hom gesteek het … sodat hy nie kon vorder tot by die badkamerdeur waar Apple se skril stem weergalm het nie.

"As die wiel draai en alles vervloei Ooswaarts, in watter rigting dink jy sal die as nog neig. Die speke is blinde knegte, maar die as … dit is die ás wat die rigting van die wiel verwyt en kreun wanneer 'n klip in die pad gerol word."

Die bande skree toe Anton die rempedaal hard intrap om nie in die luukse toerbus voor hom vas te ry nie. "Ek moet begin konsentreer as ek lewend vir my laaste dag by die werk wil aankom," sê hy vir homself.

Dis seker maar eensaamheid wat die vriendskap tussen hom en Apple beklink het. Wat het hulle in elk geval gemeen? Hy 'n reisende ingenieur, met 'n kontrak vir ses maande in Taiwan. En sy 'n onderwysassistent, wat soos die meeste jong Taiwannese nog by haar ouers bly.

Hulle eerste ontmoeting was aardskuddend. Letterlik. Die hoeveelste Jack-Daniels-op-ys het net-net begin vat aan die spier wat sy kop en sy nek verbind, toe die bottels bo die kroegtoonbank begin klingel en die cover version van 'n Bon Jovi-nommertjie uitgedoof word deur die geraas van glase wat teen die vloer breek. Dit het 'n rukkie geneem voordat hy besef het dat hy seker maar die slang mense moet volg wat deur die nou uitgang na die straat beur.

Buite het die verstikkende somerbedompigheid dadelik in die plooie van sy nek kom lê, en die reuk van 'n oop rioolgat het sy neusvleuels laat wikkel soos iemand wat in sy slaap met 'n veer gekielie word. Toe voel hy dit vir die eerste keer. Dis nie hý wat duiselig is nie, dis die aarde wat onder hom wieg.

"Fuck! That was a big one!" sê iemand skuins agter hom met 'n Sjinese aksent. " 'n Aardbewing. Natuurlik!" snap hy dit vir die eerste keer self hardop. Toe hy omdraai, smelt sy woorde weg saam met die skool Taiwannese wat gretig weer kroeg toe drentel agter die aas aan van drank en ritme. "Your first time?" kom 'n stem dié keer van skuins voor hom.

Daar staan sy, 'n kop en 'n half korter as hy, met oë wat skater agter slierte blink hare wat in ongelyke strome van haar kroontjie tot net onder haar skouers val. "Is it your first time?" vra sy weer. "I mean, your first earthquake in Taiwan?"

Hy maak 'n vae gebaar met sy kop, en asof hulle nog heelaand saam kuier, lei sy hom geselsend aan die arm terug na 'n tafel in die hoek van die kroeg waar die skerwe van 'n outydse Coca-Cola-skinkbord deur die kroegmeisie se besem misgekyk is.

Gedurende die maande wat volg, drink hulle weer 'n paar biere by dieselfde tafel, en nou en dan 'n middagete by 'n Westerse restaurant, dis al. En een of twee keer koffie by sy huis, net koffie.

" 'n Brousel sop met drome en drolle. Vullend vir dié wat hulle kop vir die kok draai, maar kompos vir die res. Is dit net ék wat nou 'n wysie vir die tango hoor, terwyl almal om my wals? Waar is my kop noudat my oë vir die eerste keer oopgegaan het?"

In Taipei staan die motors by die verkeersligte soos beeste agterop 'n slaghuistrok - ingepers en vasgedruk teen mekaar se reuke en gasse. En tussenin beur ontelbare scooters deur die chaos om voor op die wa te wees wanneer die groen lig uiteindelik aanflits en almal voortjaag om dieselfde roetine by die volgende rooie te herhaal.

Ná die vierde verjaardagrondte tequila wat Apple se nuwe Amerikaanse vriend, Dave, vir die geselskap koop, kan Anton dit nie meer hou nie. Die vent se gladde bek en sy niksseggende woorde met rollende erre en teatrale gebare wat bombasties oor die hele kroeg stoomroller, raak net te veel. Maar veel erger as die Amerikaner nog, is Apple. Giggelend vir elke simpel aanmerking, haar lang bene trippelend om hom in haar wynrooi stewels. Hoe belaglik lyk die dans van verleiding nie van hierdie kant af nie.

Waar kom die woede vandaan wat skielik bruisend en borrelend dreig om uit hom te bars? Hy en Apple is tog net vriende, sy kan mos maak wat sy wil. En tog voel dit asof 'n bul binne hom losgelaat is wat besete na die rooi mure van sy binnegoed storm - boos vasberade om alles met sy horings te verskeur totdat hy moeg inmekaarsak, bevredig deur sy vernietiging.

"I'm going home," verklaar hy toe die Amerikaner Apple se hand vat en dit pretensieus palm na bo draai om kamstig haar lyne te lees.

"We're all going with you!" Sy spring op, haak by hom in en vryf haar kop teen sy arm. "We won't stay long. Dave's got something naughty to smoke and maybe another surprise. And your place is perfect. Pretty please."

In sy woonstel word net die kombuislig aangeskakel sodat dit amper donker is in die sitkamer. Twee joints word gelyktydig in verskillende rigtings van die agtlidkring aangestuur, sodat Anton op een slag twee moet aanvat. Iewers in sy agterkop hoor hy die lugwaardin se eentonige wysie: "Drug trafficking is a violation punishable with the death sentence."

Maar daardie stem verdof gou en die bul binne hom bots later doelloos teen die rooi mure en skarrel nou en dan al in die rondte om sy eie stert te probeer vang.

Apple en die Amerikaner is met iets intens delikaat op die koffietafel doenig. Dan stap sy vanuit 'n waas van rook en donkerte na hom toe, verdiep in die konsentrasie wat dit verg om die stukkie karton so groot soos 'n moesie op haar wysvinger te balanseer. "Here, swallow this. In about thirty minutes your eyes will see for the first time," sê sy in 'n ritueelstem. Anton kyk op sy horlosie. Dis eenuur, darem nog dertien ure voor sy voorlegging. Dan steek hy sy tong uit sodat Apple haar vinger kantel en die offergawe daarop neersit.

'n Onbepaalde tyd later begin Anton 'n effense ongemaklikheid in sy gewrigte voel. Ook sy nek voel asof dit nie lekker met sy skouers oor die weg kom nie. En toe, uit die bloute, gaan sy kop oop. Vroeër se dofheid is weg en die donkerte se dimensies verdriedubbel elke paar minute. Uit die kombuis skyn die lig soos die son van 'n onbekende sterrestelsel. Die silhoeëtte van die onbekende mense in sy onbekende woonstel lyk een oomblik soos die buitelyne van kinders in 'n speelpark, vrolik en sorgvry, en die volgende oomblik soos die skadu's van monsters en drake, kwynend agter die spirale van die verstikkende wierook op die koffietafel.

Apple plons langs hom op die bank neer en haal 'n stokkielekker uit haar eie mond om dit in syne te druk. Die soet is so oorweldigend dat hy dit eers uitruk voordat hy dit versigtig en geïnteresseerd weer met sy tong benader. "So, how does it feel to have eyes, my blind friend?" sê-vra Apple terwyl sy oor sy harige arm vryf. Die sensasie van haar vingers oor sy harigheid laat hom én haar skielik ril van 'n geamuseerde mengsel plesier en gril. En in 'n warrelwind fladder sy weer terug na die ander kant van die vertrek.

"Hier binne is dit so stil teen daar buite. Tyd het gestol die oomblik toe jy jou laaste asem uitblaas. En nou wag jy dat die suurstof opraak en die slaap jou kom haal."

Anton wys sy parkeerkaart vir die masjien met die rooi oog, sodat die valhek oplig en hy kan deurry. Die motorenjin brul tot by staanplek nommer 1457 en toe hy die deur oopmaak, is die atmosfeer buite 'n morbiede kombinasie van kil en bedompig. Hy kam sy hare met sy vingers reg voordat hy die handvatsel van sy aktetas styf vasgryp en uitklim. "Wish me luck!" sê hy vir sy eie beeld in die kantspieëltjie.

Hy probeer konsentreer op die voorlegging. Maar elke gedagte word onderbreek deur brokkies terugflitse van die vorige aand. By die hysbakdeur raai hy dat die groen knoppie met die vreemde Sjinese karakter boontoe beteken. Die spieël in die hysbak is gekraak en iemand se sigaretwalms verklap 'n onlangse teenwoordigheid. 'n Pyl van paniek skiet weer na sy hart toe hy dink aan daardie hulpelose oomblikke voordat die diep, donker, geheuelose gat intree.

"Now let's see if you are enough of a tiger to handle a bit of Chinese medicine too," sê Apple vir die Amerikaner en sleep hom by die badkamer in. Anton se hele lyf voel soos kerswas, sodat hy eers vormloos op die mat ineensak voordat hy hulle probeer volg. Vanuit 'n mallemeule hallusinasies van perde en soldate, grypende potplante met kloue in plaas van blare, en pratende wiele en speke, draai haar rooigevlekte mond verby sy kop. Totdat die beelde en geluide van skater of skreeu soos 'n eggo vervaag en als skielik swart, stil en dood is.

Anton volg die massa mense oor die straat na die hoofkantore van SCT Asia, selfs al flits die mannetjie rooi. Nog vyftien minute. Hy besluit om vir 'n oomblik buite te staan voordat hy ingaan. Die mense stroom verby. 'n Dogtertjie groet hom met haar beste Engelse "Hello!" en lag dan asof sy 'n grondboontjie vir 'n apie in die dieretuin gegee het.

En toe, soos hy omdraai om in te stap, gorrel en proes 'n man langs hom en spoeg 'n blerts rooi op die sypaadjie. Toe hy opkyk, is sy lippe en tande rooi gevlek en drup bloedagtige sap soos vampiermelk by sy mondhoeke uit.

Bienglang! Nou onthou hy. Die taxibestuurder by die lughawe het destyds vir hom 'n neut aangebied wat hom glo wakker sou laat voel. "Bienglang. Itsa Chinesa medsin!" het hy met 'n mond vol vrot rooi tande in gebroke Engels probeer sê en vir hom die boksie aangegee. 'n Inheemse krui wat jou opkikker en in ruil daarvoor 'n rooi bek gee. Nee, dankie. Die soet reuk het hom in elk geval gewalg, en hy het dit net onder die sitplek laat val. So, dít is wat in die badkamer aangegaan het.

'n Bruisende golf van verligting spoel oor Anton. Apple is orraait. Hy stap deur die outomatiese deur en meld hom by die ontvangsdame aan. Terwyl hy wag dat sy 'n oproep maak, kyk hy na die potplant op haar lessenaar. Die blare is blink, diepgroen hande wat onskuldig bak staan na bo. Voordat hy daaroor kan dink, strek sy arm vanself uit om daaraan te raak. Dit is glad en koel en lewend. Anton glimlag vir die meisie en soek na nog 'n peperment in sy sak.

"Sekere hande is nie gemaak om te gryp nie."



LitNet: 06 September 2005

Wil jy reageer op SkryfNet VII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.