SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskool
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Kos en Wyn /
Food and Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole

Eerste verslag - SkryfNet VII

Marita van der Vyver

Klik telkens op die storie se titel om die verslag te lees:
"Die Laaste Maal" - Kate Bester
"Rit na Omdraai" - Douwlina du Plessis
"Voel jy dit ook?" - Sonja du Plessis
"Die Prisênt" - Miquette Redelinghuys
"Chinese Medicine" - Liezel van Beek
Klik hier vir algemene wenke


"Voel jy dit ook?" deur Sonja du Plessis

Om ‘n storie deur die oë van ‘n kind te beleef – en in die woorde van ‘n kind te vertel – is ‘n groot versoeking vir die meeste ontwikkelende skrywers omdat dit oënskynlik so ‘n eenvoudige roete is. Jy kan sê wat jy wil sê sonder om mooi literêre broodjies te probeer bak; sonder moeilike frases, ingewikkelde sinskonstruksies of indrukwekkende metafore. Maar wees gewaarsku, dis ‘n paadjie bestrooi met dorings.

Die gevaarlikste van die lot, ‘n regte ou pendoring waarin selfs ervare skrywers soms trap, is die kwessie van konsekwentheid. As jy die perspektief van ‘n kind kies, en boonop ‘n ek-verteller soos in hierdie verhaal, moet jy deurgaans getrou bly aan jou kinderlike perspektief. Hierdie skrywer kry dit meestal reg – waarvoor sy lof verdien – maar juis omdat sy so ámper dwarsdeur die verhaal die regte toon gebruik, val elke “vals” frase die leser op soos ‘n flikkerende rooi lig. Uitdrukkings soos “halfvoltooide handewerk”, “tasbare stiltes” en “ ‘n bietjie angs met woede gesteel” (wat dit ook al sou beteken) hoort nie hier nie. Daar is vele verdere voorbeelde, waarvan “in my geestesoog”, “my derms ontknoop” en “deursigtige blou oë” nog ‘n paar is.

En iets soos “my elfjarige vingers” – direk ná “sy negejarige kleinseuntjie-pofvingers” -- is darem net ‘n té lomp manier om die verteller se ouderdom so vinnig en so maklik as moontlik aan die leser te openbaar.

Ek sou voorstel dat die skrywer die hele verhaal fynkam, omtrent soos haar obsessiewe verteller daardie langhaarmat met haar vingerpunte bewerk, om alle “vals” woorde en frases te verwyder. Ek bedoel nou enigiets wat nie reg sou klink in haar elfjarige verteller se mond nie. En die kompulsiewe kant van Sandra se karakter, wat uitstekend uitgebeeld word in die derde paragraaf, kan gerus ook elders opgeroep word. Die fanatiese matkammery bly natuurlik die sentrale voorbeeld – maar een of twee ander voorbeelde (terwyl sy buite op die stoep vir haar ma wag? of wat van die begrafnistoneel?) sal die karakter net nog meer oortuigend maak vir die leser.

Nog iets wat verwyder sou kon word, is oorbodige stukkies dialoog soos “Hallo, Sandra” en “Hallo, Ma”. In ‘n kortverhaal moet elke enkele woord geregverdig kan word – soveel méér nog as in ‘n roman – en as die skrywer nie ‘n goeie rede vir ‘n woord, ‘n frase of selfs ‘n hele paragraaf kan verskaf nie, moet die snoeiskêr genadeloos ingespan word.

En nou vir ‘n stukkie tegniese raad. Is dit werklik nodig om byna die helfte van die verhaal in die verlede tyd te vertel? Vra maar vir enige ervare Afrikaanse skrywer: die verlede tyd is soos Pandora se boks. As daardie spul hette en ge’s eers soos bose geeste uitgebars het, raak jy nie sommer weer van hulle ontslae nie. Die histories teenwoordige tyd lyk en klink eenvoudig beter. In hierdie verhaal sou doodgewone teenwoordige tyd ewe goed kon werk – met miskien net ‘n wit reël om tydsverloop aan te dui voor die paragraaf wat begin met “Dis nou al amper halfagt”.

Na my mening toon hierdie verhaal allerlei tekens van belofte, onder meer die aandag wat aan besonderhede geskenk word. “Dit ruik of hulle vanaand weer hoender eet”; “Ek verstom my aan hulle blink skoene. Dit lyk of ligte daarin woon”; “Dit lyk of die lamppaal op die polisiemotor gaan kantel” – behalwe dat “kantel” moontlik weer een van daardie woorde is wat nie heeltemal by die kinderlike perspektief pas nie. Soos hulle in Engels sê: “The genius is in the detail.” Die Franse praat weer van “die detail wat doodmaak”. Detail kan ‘n gemiddelde teks in ‘n besondere teks verander.

‘n Laaste opmerking: ek hou van die titel – ek is net nie oortuig dat dit die regte titel vir hierdie verhaal is nie. Dalk sou ‘n subtiele verwysing iewers in die teks – niks uitgespel nie, asseblief tog nie! – dit beter by die storie kon laat pas. Solank dit subtiel bly, ‘n eggo eerder as ‘n verduideliking, sou dit kon werk.


"Die Laaste Maal", deur Kate Bester

‘n Kort en kragtige verhaal wat die leser van die eerste paragraaf af vasvang met ‘n opeenstapeling van staccato-sinne. Hier is tekens van ‘n intense, ironiese waarnemingsvermoë in frases soos “leun vooroor en druk die sigaret op die O van Prozac dood”, iets wat enige ontwikkelende skrywer behoort te help. Selfs meer belowend is die feit dat die struktuur en die uiteensetting van die verhaal goed bedag voorkom. So iets klink miskien voor die hand liggend, maar dis ongelukkig dikwels nie die geval by onervare skrywers nie.

Die sentrale ironies-godsdienstige motief word reeds deur die titel gesuggereer en tot by die laaste sin volgehou. Die belangrikheid van die getal drie, soos in die Drie-enigheid en die drie dae wat Jesus in ‘n graf gelê het, word telkens beklemtoon. Die pille wat “drie keer per dag” in ‘n toilet afgespoel word. Die psigiater wat drie keer vra wanneer die hoofkarakter laas gehuil het – en elke keer met ‘n “leuen” geantwoord word – herinner aan die Bybelse episode van die dissipel wat Jesus drie keer verloën het. Ook die woorde wat Jesus aan die kruis gebruik het, word drie keer opgeroep: “en ek bid my god moet my nie verlaat nie”; “my god, my god, laat hierdie oorlog by hom verbygaan!”; “My God! My God! Jy het my verlaat!”

In die laaste aanhaling word “God” vir die eerste keer met ‘n hoofletter gespel – ‘n interessante skrywersbesluit, wat wys dat hier iemand aan die woord is vir wie elke letter en leesteken belangrik is. Soos dit hoort, in enige fiksie, maar bowenal in so ‘n kort kortverhaal.

Ek moet erken ek het ‘n vlugtige steek van irritasie ervaar toe ek met die eerste lees besef dit gaan hier oor ‘n dienspligtige wat tydens die “grensoorlog” dood is. Ons het tog in die 1980’s ‘n hele genre van Afrikaanse “grensliteratuur” sien blom en verwelk, was my eerste gedagte. Is dit nie bietjie passé in die sogenaamde Nuwe SA nie? Teen die tyd dat ek die einde van die verhaal bereik het, het ek anders gedink. Vir ‘n ma wat ‘n kind verloor het in ‘n oorlog, is daardie oorlog nooit werklik verby nie. En in hierdie verhaal is die seun se dood in ‘n vervloë oorlog juis die sneller – ‘n sneller met ‘n vertraagde reaksie, kan mens seker sê – wat die ma soveel jare later in ‘n sielkundige inrigting laat beland.

Buitendien was die grensliteratuur van die 1980’s vreeslik wit en vreeslik macho. ‘n Swart en/of vroulike perspektief behoort steeds welkom te wees. Dus tog heeltemal geregverdig, hierdie mosterd (opgedien deur ’n vrou) so lank ná die maal.

Om op te som: myns insiens het hierdie verhaal geen drastiese herskryf nodig nie, maar soos enige kortverhaal kan dit baat vind by noukeurige redigering. Soms is daar ‘n onnodige byvoeglike naamwoord, soms selfs ‘n onnodige sin. ‘n Frase soos “vang die flou lig wat deur die vuil venster val” kry ‘n voorspelbare allitererende ritme wat vermy behoort te word in ‘n verhaal van gehalte. Presies dieselfde inligting kan meer stylvol oorgedra word deur een of twee woorde te vervang of te verskuif.

En is ‘n sin soos “Daar is ‘n klip in haar bors” wérklik onontbeerlik aan die einde van die eerste paragraaf? Die hoofkarakter se gemoedstoestand is reeds treffend beskryf in enkele gestroopte sinne: sy is in ‘n inrigting, sy wag om haar psigiater te spreek, haar eetlus het verdwyn. Die klip-metafoor is ‘n cliché wat niks nuuts aan die leser openbaar nie.

‘n Paar tegniese punte: “Sy is gatvol vir als, wil sy sê. Ek ken die vrae en die antwoorde uit my kop, wil sy sê.” (Die kursivering is myne.) Die skrywer moet besluit of die karakter se gedagtegang in die eerste persoon of in die derde persoon oorgedra gaan word – óf “ek” óf “sy” – en by daardie besluit hou. Dit vorm ‘n meer afgeronde indruk, veral in twee opeenvolgende sinne.

Dieselfde soort onafgerondheid duik teen die einde weer op, in die vierde- en derdelaaste paragrawe. “Ek voel die mure om my invou” behoort tog seker verander te word na “Sy voel die mure …”

In paragraaf 6, wat begin met “Sy het eendag nie opgestaan nie”, is daar ‘n verwarring tussen verlede tyd, histories teenwoordige tyd en “gewone” teenwoordige tyd. Die verlede tyd is nou eenmaal ‘n struikelblok vir alle Afrikaanse skrywers, daardie aaklige opeenstapeling van “het” en “ge-”, maar in ‘n enkele paragraaf soos dié sou die meeste lesers waarskynlik die duidelikheid van die verlede tyd verkies. Of anders moet die skrywer ‘n bietjie verder dink en die histories teenwoordige tyd op ‘n meer verbeeldingryke manier gebruik. Te oordeel aan die res van die teks sal sy dit kan doen.

Onthou altyd, soos die Nederlandse skrywer Gerrit Komrij dit gestel het: “Duidelijkheid kost zweet. Helderheid, een schrijver moet er zich voor inspannen.” Hierdie eerste weergawe het die skrywer vermoedelik reeds ‘n goeie mate van sweet gekos. Met verdere inspanning, dinkwerk, skaafwerk, kan “Die Laaste Maal” werklik ‘n knap verhaal word.


"Rit na Omdraai", deur Douwlina du Plessis

Hier is heelwat om te prys in hierdie poging – asook ‘n paar potensiële plae waarteen die skrywer haar oes sal moet beskerm. Pluspunte is ‘n spannende storielyn, oortuigende dialoog, deeglike openbaring van karakter, treffende taalbeheer en fyn waarnemingsvermoë. “Vaal mans is nie gevaarlik nie. Grys mans is. (…) ‘n Grys man in ‘n blougrys hemp wat skif net bokant die wit hand wat om die groot pistool klem.” Hierdie sinne vorm deel van die indrukwekkende inleiding, maar die verhaal word ongelukkig mettertyd verflou deur ‘n neiging na sentimentaliteit, melodrama, selfs ‘n dosis prekerigheid teen die einde.

Soms word daar net té veel gesê – die gróót sonde van soveel kortverhale – soos in “Sy glimlag bitter”, en later weer, asof die eerste sin nie reeds oorbodig was nie: “Marteld glimlag bitter”. Maar as daar één sonde is wat erger is as om te veel te sê in ‘n kortverhaal, dan is dit om te veel te sê terwyl jy met ‘n ander man se kalwers ploeg. Ek verwys nou na die versoeking, so onweerstaanbaar vir soveel ontwikkelende skrywers, om die lirieke van pop liedjies te gebruik (misbruik?) om atmosfeer te skep, kommentaar te lewer of ‘n situasie op te som.

Behalwe dat dit as ‘n skending van kopiereg beskou kan word as die oorspronklike skrywer van die lirieke se toestemming nie gevra word nie, is dit ook, in alledaagse taal, ‘n bietjie van ‘n gekroek. Die uitdaging van skryf is tog om dinge te sê wat moeilik gesê kan word. As jy ander mense se woorde inspan om te sê wat jy nie self gesê kan kry nie, dan speel jy nie meer heeltemal volgens die reëls nie.

Natuurlik is dit soms geregverdig om ‘n aanhaling uit ‘n pop liedjie te gebruik – byvoorbeeld om dit te omskep in ‘n amusante woordspeling, of om ironie of wanbegrip uit te druk – maar in hierdie verhaal is dit bloot ‘n té maklike uitweg. As die skrywer die sonde één keer gepleeg het, sou sy miskien nog daarmee kon wegkom. Maar sy doen dit viér keer. Drie keer kom die aanhalings uit ‘n liedjie van Billy Joel, wat elke keer toevallig – presies op die regte oomblik! – oor die motor se kassetspeler gehoor word. Dis klaar genoeg om die leser te laat wonder oor geloofwaardigheid. En dan slaan die skrywer die spyker nog ‘n bietjie dieper in – en breek in die proses die plank, kan mens dalk sê – met ‘n vierde aanhaling uit ‘n ander liedjie: “Hello, darkness, my old friend …”

Boonop is die lirieke van die liedjies telkens banaal en/of sentimenteel, niks wat die leser tot enige nuwe insig gaan lei nie, blote agtergrondgeluide wat die dreigende ondertoon van sentimentaliteit in die verhaal beklemtoon.

Die SMS-boodskap wat Gerhard aan sy ma stuur, is byna belaglik soetsappig – hoewel dit miskien nog geregverdig sou kon word as illustrasie van die seun se karakter, “komplekse kind-man” wat heeltyd huiwer tussen onverantwoordelikheid en erns. Vir die melodramatiese noot in die beskrywing van Marteld se egskeiding is daar egter geen verskoning nie. In die paragraaf oor die gewese man wat haar vir “ ’n jonger lyf” gelos het, moet fyn getrap word om nie in die slaggate van soetsappige mooiskrywery te val nie.

Verder sou ek voorstel dat die skrywer die prekerige toon in die slot van die storie vermy. Veral die laaste paragraaf klink darem net te veel soos die opbeurende boodskappie waarmee ‘n voorbeeldige skoolhoof sy praatjie in die skoolsaal sal afsluit. Toe Hemingway op ‘n keer gepols is oor “die boodskap” in een van sy verhale, het hy gesê as hy ‘n boodskap wou gestuur het, sou hy poskantoor toe gegaan het. Deesdae kan ons dit met veel meer gemak oor die internet doen. Die punt bly steeds dat “boodskappe” nie in goeie kortverhale hoort nie.

Die krag van ‘n goeie kortverhaal lê in wat die skrywer deurgaans suggereer – wat elke leser afsonderlik bespeur, vermoed, aanvoel – nóóit in ‘n uitgespelde morele boodskap nie.

“Rit na Omdraai” kan ‘n uitstekende kortverhaal word as die skrywer bereid is om in te klim met die snoeiskêr, onkruid uit te trek, dooie blare weg te vee. Om te skryf is soos om tuin te maak: een persent inspirasie en 99 persent perspirasie. Na my mening kan die sweet in die skryfproses nooit genoeg beklemtoon word nie.


"Die Prisênt", deur Miquette Redelinghuys

Die silhoeët van ‘n storie is reeds hier sigbaar – maar soos dit nou staan, is dit nog nie ‘n kortverhaal nie, eerder ‘n skets. Dit kan vergelyk word met ‘n patroon vir ‘n kledingstuk: die onderdele is mooi netjies uit die lap geknip, maar alles moet nog aan mekaar vasgewerk word, anders is dit nie van veel nut vir enigiemand nie.

Wat hier kortkom, is ‘n spanningslyn. Selfs die kortste kortverhaal – en dié een mik vir korter as kort – het ‘n spanningslyn nodig. Dis die garing waarmee die onderdele (die begin, middel en einde, of die inleiding, klimaks en slot, of watter slim woorde jy ook al wil gebruik om die patroon van ‘n verhaal te beskryf) verbind word om ‘n sinvolle geheel te vorm.

Die spanningslyn is terselfdertyd ook die lasso waarmee die leser gevang en nader gesleep moet word. Danksy die spanningslyn gaan die leser aanhou om die oudste van alle storievrae te vra: En toe? Sonder hierdie vraag gaan die meeste lesers eenvoudig ophou lees.

In hierdie geval is die probleem dalk dat die einde reeds in die eerste paragraaf weggegee word. Mary wat so bly was oor die ou pop wat Moedie by haar mêrrim gekry het; die verteller wat haarself belowe sy sal sorg dat Mary se gesiggie elke Kersfees só lyk: “Soos die Bethlehem star waarvan hulle altyd so sing voor Krismis.”

Maar gestel die einde sou anders vertolk kon word. Gestel die verteller sou besluit om vir haar sussie ‘n lewende baba eerder as ‘n pop te skenk (“soos Mary in die liedjie darie Krismis gekry het”). Gestel sy sou besluit om swanger te word omdat sy aan ‘n “Koning” geboorte wil skenk. Of selfs besluit om ‘n baba te steel? Só ‘n slot sou enige leser mos laat regop sit.

Daar is helaas niks in die huidige slot wat bogenoemde vertolkings aanmoedig nie – geen suggestie van ‘n swangerskap of ‘n gesteelde baba nie – maar die slot is so vaal en voorspelbaar dat ‘n intelligente leser amper nie anders kan as om ‘n alternatief te soek nie. Jy dink onvermydelik: Nee, die skrywer moes tog iets méér bedoel het as bloot dat die verteller vir haar sussie ‘n pop wil koop!

Indien die skrywer besluit om die einde te hou soos dit is, wat natuurlik haar volle reg is, behoort sy die begin te verander, en moontlik ook die titel. ‘n Titel soos “Die prisênt” voorspel reeds die einde; ‘n voorspelling wat dan boonop deur die eerste paragraaf bevestig word, sodat daar werklik nie veel oorbly wat die leser aan die lees gaan hou nie. Die uitbeelding van die verteller en haar taalgebruik is taamlik oortuigend – waarskynlik die sterkste punt van hierdie teks – maar dis nie genoeg om ‘n oulike skets in ‘n treffende kortverhaal te verander nie.

Indien die skrywer besluit om die titel te behou, sou ek haar vra of daardie kappie op die “e” werklik noodsaaklik is. Dit herinner ongelukkig aan die neiging onder Afrikaanse ouers om hulle kinders se name eksoties te laat lyk met allerhande onnodige en/of heeltemal foutiewe aksenttekens. ‘n Doodgewone Marie wat opgetof word as ‘n onuitspreekbare Máriè. Wat is per slot van rekening verkeerd met “Die prisent” -- sonder ‘n kappie?

Benewens die problematiese einde is daar die aanhaling uit die Kersfeesliedjie wat gerus maar geskrap kan word. In só ‘n kort kortverhaal is só ‘n lang aanhaling uit enige liedjie (nege reëls!) heeltemal onverskoonbaar. Lees asseblief wat ek in een van die ander verslae (“Rit na Omdraai”) omtrent die onnodige gebruik van populêre liedjies geskryf het. Sela.

Nog iets wat probleme verskaf, is die kwessie van wanneer die storie veronderstel is om af te speel. Kort voor Kersfees – ja, goed, maar in watter jaar? Min of meer? Die verteller verwys na “Standard 8” pleks van Graad 8 (of Graad 10?), wat die verhaal vermoedelik in ‘n vervloë tydperk plaas, asook na ‘n Bybel in “hogere hollangs” wat haar ma by ‘n kerkbyeenkoms gekry het. Watter kerk gee deesdae nog vir lidmate Bybels in Hoog-Hollands?

En tog, enkele reëls verder word daar vertel van ‘n rassistiese karakter met ‘n baard “wat altyd op TV op ‘n perd ry” en “wat nou in die tronk is oor hy ons so haat”. Nou klink dit weer soos die sogenaamde Nuwe SA, nie waar nie? Dus ‘n hedendaagse verhaal?

Ek sou graag ‘n paar betroubare leidrade wou hê – nie net oor die tydperk nie, maar ook oor die plek waar die verteller woon en werk. Waarskynlik ‘n groot stad – hoewel selfs dít nie werklik aangedui word nie – maar wátter stad? In die binneland of by die see? Pretoria of Bellville? Kaapstad of Port Elizabeth? Sulke besonderhede is belangrik om die leser te anker, selfs in die kortste kortverhaal. Miskien verál in ‘n werklike kort kortverhaal.

Al bogenoemde opmerkings is allermins bedoel om die skrywer die aftog te laat blaas. Die kern van die storie is hier, die onderdele van die patroon is op die tafel uitgestal, nou moet daar verder geknip en gemeet en gepas word om ‘n aantreklike geheel te vorm.


"Chinese Medicine", deur Liezel van Beek

‘n Byderwetse kortverhaal wat veral by jonger lesers aanklank behoort te vind. Die ervarings wat hier uitgebeeld word – om tydelik in ‘n vreemde land te woon en werk; met ‘n onbekende, soms eksotiese kultuur kennis te maak; onbekende, soms eksotiese dwelms te beproef – het vir ‘n hele geslag Afrikaanse jong mense ‘n werklikheid geword. As jy dit nie self gedoen het nie, dan het jy tien teen een ‘n paar vriende wat dit gedoen het. En behalwe vir Manie de Waal se roman Trips, is daar nog nie juis plek ingeruim vir hierdie soort ervarings in die Afrikaanse letterkunde nie.

Hierdie poging verdien om gelees te word, maar word tog plek-plek bederf deur ‘n neiging tot hiperbool. Soms bloot te veel byvoeglike naamwoorde, soms te veel alliterasie of te ingewikkelde metafore, soms net doodgewoon te veel woorde. Byvoorbeeld: die woede wat “bruisend en borrelend dreig om uit hom te bars”. Bruisende woede kan dalk nog gaan, borrelende woede seker ook, maar bruisend én borrelend? En “uit hom te bars” verander die frase in ‘n gemengde metafoor. Iets wat borrel en bruis sal nie uitbars nie; dit sal hoogstens oorstroom of oorloop.

Dis nie haarklowery nie; dis die soort aandag aan élke woord wat ‘n goeie kortverhaal vereis.

‘n Verdere voorbeeld van hiperbool is die metafoor van die bul “wat besete na die rooi mure van sy binnegoed storm – boos vasberade om alles met sy horings te verskeur totdat hy moeg inmekaarsak, bevredig deur sy vernietiging”. Dis té allitererend, té uitgerek, té gedwonge. Te té, sou mens kon sê.

Die paragrawe in kursief is ook vir my problematies. Dis nie duidelik waar die woorde vandaan kom of waarom hulle telkens op dáárdie spesifieke plek gebruik word nie. Aanvanklik sal die gemiddelde Westerse leser die kursiewe paragrawe waarskynlik aanvaar as voorbeelde van “die bisarre gesprekke wat hy (die vorige aand) met homself gevoer het”. Maar dan begin die leser vermoed dat ons hier te doen het met populêr-filosofiese aanhalings uit een of ander Oosterse bron – iets wat hierdie leser in elk geval nie herken nie – veral omdat die paragrawe klink asof hulle uit ‘n ander taal vertaal is. En boonop nie besonder bedrewe vertaal is nie.

Ek noem ‘n paar frases as voorbeelde. Wat beteken die beloning van plesier as die betaling daarvoor pynloos is? As die wiel draai en alles vervloei Ooswaarts, in watter rigting dink jy sal die as nog neig. Vullend vir dié wat hulle kop vir die kok draai

Indien hierdie frases deurgaans die skrywer se eie woorde is, behoort sy meer noukeurig op haar taal te let sodat die spulletjie meer oorspronklik Afrikaans sal klink. Indien sekere van die frases uit ‘n ander bron oorgeneem en vertaal is, behoort die bron iewers in die teks of in ‘n voetnoot aangedui te word. Anders word daar op ‘n ontoelaatbare manier met ‘n ander man se kalwers geploeg.

Pluspunte in die teks is die beskrywing van Apple, die natuurlike en oortuigende dialoog, asook die bedrewenheid van die voortdurende tydspronge. Die teks wissel aanhoudend tussen wat die vorige aand – en verder terug – gebeur het, en wat nou aan die gebeur is, sonder dat die skrywer verstrik raak in die taalkundige uitdagings van die verlede tyd en die teenwoordige tyd. Dis geen geringe prestasie nie, selfs ervare skrywers sukkel soms daarmee.

Ek sou egter voorstel dat daar weer na die einde van die verhaal gekyk word. Enige kortverhaalskrywer weet dat die slot gewoonlik die héél moeilikste deel van die hele moeilike proses is. Daar moet elke keer ‘n balans gevind word tussen die versoeking om te veel te sê – te verduidelik, te preek, ‘n “boodskap” oor te dra – en die versoeking om te veel ongesê te laat. Met ander woorde, om die einde in onnodige onduidelikheid te laat verdamp.

Dis soms nie wys om ‘n verhaal met ‘n bang te laat eindig nie – maar ‘n whimper kan selfs meer onbevredigend wees. Ek wil nie beweer dat hierdie ‘n whimpering einde is nie – maar ek dink tog dit kan verbeter word. Ek het niks teen wat Henry James “the time-honoured bread-sauce of the happy ending” genoem het nie. Dis nie die “gelukkigheid” van die einde wat my hinder nie. Dis bloot die styl wat nog skaafwerk kort. Ek vermoed dat hierdie skrywer die bekwaamheid het om suksesvol verder te skaaf.



Klik hier vir algemene wenke
Klik hier vir Marita van der Vyver se eerste verslag
Klik hier om die verhale te lees



LitNet: 04 Oktober 2005

Wil jy reageer op SkryfNet VII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / terug


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.