|
|
Die Sanlam/LitNet aanlyn-skryfskole
Eerste verslag - SkryfNet VIIIngrid Winterbach
Klik telkens op die storie se titel om die verslag te lees:
Die verhaal word in die eerstepersoon vertel deur Sandra, ‘n elfjarige meisie. Die verhaal kan in drie momente verdeel word. ‘n Klein inleidende begin waarin die kinders se matkamritueel uiteengesit word (vertel in die teenwoordige tyd). Daarop volg die grootste deel van die verhaal, wat strek vanaf die broertjie wat gaan speel tot die nuus van sy dood (vertel in die verlede en teenwoordige tyd). ‘n Laaste deel, ‘n week later, ná die begrafnis van die kind. Is daar enige rede waarom die hele verhaal nie in die teenwoordige tyd vertel kan word nie? Is daar noukeurig genoeg nagedink oor die konsekwente gebruik van tyd in die teks? Die verhaal leun sterk op ‘n beskrywing van die meisie se sintuiglike en emosionele gewaarwordings. Omdat dit ‘n belangrike verhaalelement is – miskien die belangrikste (vergelyk die titel) -- moet daar baie noukeurig (en streng) op die formulering van elkeen van hierdie gewaarwordings gelet word. Waarom het sommige meer trefkrag as ander? Is die opstapeling van gewaarwordings in ‘n enkele paragraaf nodig? (Vergelyk: “Ek het op die stoel bly sit . . . nie genoeg spasie is nie”.) Vergelyk die paragraaf: “Dit voel of my brein gestol het. Die geroeste voorhekkie kraak oop en toe, en hulle stap woordeloos met die stukkende paadjie met die mooi viooltjies tot vlak voor my. Ek verstom my aan hulle blink skoene. Dit lyk of ligte daarin woon. Daar’s ‘n verdowende geruis in my ore. Ek’s dalk besig om doof te word.” Ek is nie seker wat ek my moet voorstel by “dit voel of my brein gestol het”, of “ek dink my kop het toe reeds benoud gevoel, asof my brein wou uitklim” nie. Maar die detail van die blink skoene van die polisie is konkreet, dit bly my by. Dit is die soort pynlike detail wat ‘n mens in krisistye opval. En oom Burt se skouers wat ruk, het meer trefkrag as die onbepaalde gekraakte stoep wat voel “of dit onder my beweeg”, want dit is erg vir kinders om grootmense (veral mans) te sien huil. Die meisie, Sandra, is in ‘n groot mate op die moeder gerig. Die matkamritueel
is iets om haar plesier te doen, soos trouens die res van die kind se lewe daarop
gerig is om die moeder gelukkig te maak – sy maak die huis netjies, sy
maak haar kamer skoon, sy kook saans kos in die hoop dat dit haar moeder in
‘n goeie stemming sal kry. Selfs wanneer die mans met die nuus van haar
broertjie se dood kom, selfs as sy sien haar oom huil, is haar eerste gedagte
nog dat haar ma gaan “freak” omdat sy nog haar skoolklere aanhet.
Sy bid nie dat Jaco nog lewe nie, maar dat haar ma in die tronk is, dat sy iewers
gaan suip het maar “okay” is. Waarop stuur die slot trouens af? Op Sandra se spyt dat sy nie die toffies op Jaco se begrafnis vir hom kon gee nie? Op die onwerklikheid van sy dood? Op haar ontkenning van sy dood? Op haar ma se reaksie? Op die (ironies) vertroostende feit dat die pa darem kom kuier het? Dit mag miskien die beste plek vir die verhaal wees om met die matkammery te begin, maar waarom nie kyk wat gebeur as dit op ‘n ander plek begin nie? Byvoorbeeld by “Maar vandag was (is) anders”. Die detail van die mat kan dalk op ‘n – onverwagse, verrassende – ander plek gebruik word.
‘n Vrou raak só depressief dat sy in ‘n inrigting opgeneem moet word. Die psigiater vra haar by drie verskillende geleenthede dieselfde vraag: wanneer het sy laas gehuil? Sy antwoord hom elke keer anders: by die geboorte van haar seun, terwyl hy in die weermag was, en ses weke na sy begrafnis toe sy die pakkie met sy besittings oopmaak. ‘n Sterk verhaal, vlot en ekonomies vertel. Die herhaling van die psigiater se vrae en die vrou se antwoorde – waardeur die verhaal ontvou – gee struktuur aan die teks en fokus dit. Die vrou se psigiese induiestorting is psigologies verantwoord. Nie net is sy getraumatiseer deur die dood van haar kind nie, maar aan die einde voel sy haar ook deur God verlaat. Vrae ten opsigte van die teks:
‘n Man spring by ‘n stopstraat by ‘n vrou in die motor en dreig haar met ‘n pistool. Die vrou, ‘n dokter, het pas uitgevind sy het borskanker. Sy verkeer in finansiële nood, haar man het haar verlaat, sy voel sy het te veel vir haar seun opgeoffer. Sy voel haar lewe is verby en sy oorweeg selfmoord as oplossing. Teen die einde van die verhaal kom sy tot ander insigte. Die rit na die plek Omdraai was dus ‘n rit na ‘n omkering in haar lewensuitkyk. As iemand by jou motor inspring by ‘n stopstraat en jou met ‘n pistool dreig – hoe bitter of lewensmoeg jy ook al is – is dit hoogs waarskynlik dat jou gedagtes in ‘n ander versnelling sal gaan. Dit is boonop ‘n dubbele krisis – Marteld, die vrou, het pas uitgevind dat sy borskanker het (benewens haar finansiële probleme). Word hierdie dramatiese situasie na behore in die verhaal ontgin? Word dit deel van die struktuur van die verhaal? Dra die losgeweefde en uitgesponne sinne en die besinnende toon by tot die uitbeelding van die krisis en die omkering in die vrou se siening van haar situasie? Die verhaal stuur af op hierdie omdraai-moment, maar dit is nie vir my heeltemal duidelik wat wérklik die wending in Marteld se siening van haar situasie teweegbring nie. Is sy dankbaar dat sy oorleef het, is dit meelewing met die man wat geskiet is, is dit haar seun se bemoedigende en begrypende woorde? Of is dit sommer alles tesame? Sy beweeg van ongeërg na emosioneel geráák – maar beweeg die leser saam met haar? Dit is wat skryf moeilik maak! Die situasie hoef nie vir die vrou duidelik te wees nie – maar dit moet wel vir die leser wees. ‘n Paar verdere vrae
Die verteller is ‘n vyftienjarige bruin meisie wat deur prostitusie haarself, haar broer en suster en hulle bedlêende moeder aan die lewe hou nadat die vader drie jaar gelede weg is. In die eerste paragraaf belowe sy haarself om te sorg dat haar sustertjie (Mary) se gesiggie altyd soos die “Bethlehem star” sal lyk (soos toe dit gelyk het toe sy ‘n pop present gekry het). In die slotparagraaf besluit sy – na aanleiding van die woorde van ‘n Kersliedjie – om vir Mary die beste geskenk (die beste prisênt) te gee. Moet die leser hiervan aflei dat die meisie swanger is, en dat die baba ‘n soort geskenk vir die sustertjie sal wees? Daar gebeur nie veel in hierdie verhaal nie – en daar hoef ook nie. Die teks is ‘n uiteensetting van die meisie se situasie, ‘n soort besinning oor haar lewe, en dit eindig met ‘n voorneme waartoe sy in die slotparagraaf kom. Hierdie slot is egter vir my onduidelik. Wil sy vir haar sussie Mary ‘n pop as geskenk gee? In die lig van die Kersliedjie lyk dit onwaarskynlik. Dit laat die moontlike interpretasie, soos hier bo genoem, dat sy haar eie baba as geskenk vir die sustertjie wil gee. As dit die geval is, moet sy reeds swanger wees, en as sy swanger is, waarom word so ‘n belangrike, ingrypende, lewensveranderende feit nou eers genoem? Tensy ek iets hier heeltemal verkeerd lees, is hierdie slot nie goed deurgedink nie. Wat is die toon van hierdie verhaal: gemoedelik-naïef? Pas dit by die omstandighede waarin die verteller haar bevind? ‘n Paar verdere vrae
Die verhaal word vertel uit die oogpunt van Anton, ‘n reisende ingenieur in Taiwan. Op pad na ‘n voorlegging by sy werk dink hy terug aan ‘n partytjie by sy woonstel die vorige aand en aan die verloop van sy vriendskap met Apple, ‘n Taiwannese meisie. Hy herleef die gebeurtenisse van die vorige aand in die vorm van terugflitse, een daarvan die skrikwekkende beeld van Apple met ‘n rooigevlekte mond. Flitse van “bisarre gesprekke” wat hy met homself gevoer het, kom ook by hom op – oënskynlik onlogiese, onsamehangende sinne, dwelmverwant, maar wat ook kommentaar op sy situasie lewer. (Die verhaal eindig trouens met een van hierdie sinne.) Aan die einde sien Anton ‘n man spoeg, sy lippe en tande rooi gevlek, en onthou dat die inheemse krui bienlang hierdie effek het. Met verligting besef hy dan dat Apple niks oorgekom het nie. In hierdie verhaal word daar afwisselend na drie situasies verwys: Anton se oggendrit op pad na sy voorlegging, sy herinneringe aan die partytjie die vorige aand, en inligting oor sy vriendskap met Apple. My gevoel is dat die éintlike verhaal nog nie volledig uitgekristalliseer het nie. Die teks dra nog te swaar aan oortollighede. Sou die verhaal byvoorbeeld iets verloor as die eerste vier paragrawe wegval? Of as die terugflits na die ontmoeting met Apple drasties gesnoei word, of as die rit na die voorlegging drasties gesnoei word? Daar word nooit direk gesê dat Anton meer as net vriendskaplike gevoelens vir Apple koester nie, tog raak hy woedend wanneer sy aandag aan Dave gee. (Terloops: kan ‘n bul al in die rondte skarrel om sy eie stert te probeer vang?) Indien die uiteindelike fokus van hierdie verhaal Anton se ontdekking van sy ware gevoelens vir Apple is, word sy aangetrokkenheid tot haar genoegsaam gemotiveer? En wat is dan die funksie van die ander elemente in die teks? As sy gevoelens vir Apple nie die spil is waarom die verhaal draai nie, as die verhaal breër kyk na sy lewe in Taiwan, as sy bisarre gesprekke met homself tydens sy dwelm-ervaring lig op sy algemene situasie werp, as die neem van die dwelm sy kop moet laat oopgaan – op watter manier gaan sy kop oop, of sien hy sy situasie op ‘n ander manier, of het hy groter insae in homself, ook wat sy gevoelens vir Apple betref? Heroorweeg, besluit waaroor die verhaal gaan, raak ontslae van oortollighede.
Wil jy reageer op SkryfNet VII? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za
om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |