|
Fase 2:Petra Müller se eerste verslagGeorge Weideman se eerste verslag Petra Müller se tweede verslag George Weideman se tweede verslag Lees die eerste weergawe van dié storie. In grys se duisend kleureManie Groenewald
Uiteindelik kan hy groet en onder sy ma se oë uitkom.
Twee dae later is sy kunsonderwyser terug met die boodskap dat hy nie weer in die skool toegelaat sal word nie. Daar is onderwysers wat beweer dat hy lankal nie meer genoeg belangstelling in hulle vakke toon nie. Met die beste wil ter wêreld sal hy matriek nie maak nie. Nie hierdie jaar nie. Dis soos hy kon verwag. Hy soek na die skrik wat moet kom noudat hy weet daar is geen kans meer nie, maar kry niks. Kwassies sê weer daar is lieg in sy werk. “As dit dan moet gaan oor optiese studies, moet dit tenminste gaan oor wat jy sien,” sê hy. “As dít jou doel was, waar kom die blou voëls vandaan?” Jakus ruk hom op. “Uit die vlei. Hulle wás daar, Meneer. Nes ek hulle geskilder het!” “Onmoontlik. Ek het kenners gaan uitvra. Die naaste daaraan is die bloukwartel en dié kry mens nie hier nie.” Die volgende oggend is sy daar. Hy kan haar vreugde aanvoel. Sy sit op die platkroon klip met haar klere netjies langs haar opgevou. Die eerste keer dat sy haar klere uitgetrek het, was nadat hy sy kunsboeke vir haar kom wys het. Toe wou sy hê hy moet haar skilder net soos in daardie boeke. Onbevange het sy op die plat klip gestaan. Uitbundig. Weier kon hy nie. Hy wóú nie nee sê nie. En sy is ’n goeie model. Lang sessies kan sy sonder kla roerloos in een posisie bly of om hom oor die grasveld dartel as hy dit verlang. Hy verwonder hom dat sy, wat só vasgevang is in haarself, dan tóg vry kan voel. Hy laat haar met haar rug teen die groot klip staan, haar arms wyd weg. Haar klere lê argeloos by haar voete neergegooi. Hy werk langer as ’n uur, met slegs twee rustydjies tussenin. Op sy sketsblok word sy ’n elwekind; ’n waternimf wat uit die grys rots groei. Toe gebeur dit. Die reptiel moet half onder die klip gelê het waar hulle hom nie kon sien nie. Onverwags, terwyl die vredigheid stil om hulle hang, spring dit verwoed tussen hulle in. Met ’n geblaas skarrel dit oor haar voete en verdwyn met skietende tong in die mis. Vir ’n oomblik staan Jakus verbysterd voor die gille wat uit haar skeur - aaklig en rou. Hy storm vorentoe en druk haar teen hom vas, voel dan hoe hy beheer verloor oor die sparteling waarmee sy teen hom veg. “Hy’s weg,” sê hy in ’n poging om haar te kalmeer. “Hy’s weg en kan jou nie seermaak nie.” Maar hy dring nie tot haar deur nie. Sy hamer teen sy bors en beur van hom af weg. Haar pa doem onverwags uit die newels op - Die gevreesde McAllister met ’n swaar stok in sy hand. Voordat die hou hom tref en hy wegsink in ’n niksheid van swart, hoor hy die bulderende uitroep. “Jou klein bliksem!” Hy wil nie hier voor die massiewe lessenaar in die prokureur se kantoor wees nie. Die plek vreet in op hom. Grys het hier nie plek nie. Alles is wit of swart, nes die antwoorde wat van hom verwag word. Klinkklare ja’s of nee’s, waarteen hy nie verweer het nie. En die man se vrae hou genadeloos aan en aan. “Het jy, toe jy die McAllisters se grond betree het, geweet dis verbode daar?” Ontken, kan hy nie. Sy regterhand begin ruk en hy gryp dit vas. “Dis verbode vir mense wat voëls verwilder, sê hy. Ek het nie ...” “Antwoord asseblief net ja of nee.” Die hand ruk en ruk asof dit iets wil wegkeer. “Ja,” sê hy uiteindelik. “En nieteenstaande is jy ’n hele paar keer daar opgemerk. Hoeveel keer het jy in daardie vlei gaan ronddwaal?” Hy dwing sy hande onder die lessenaar in. “Ek weet nie.” “Enkele kere of dikwels?” “Dikwels.” “Het jy geweet dat die stom Caria McAllister ook soms die vlei besoek?” “Sy’s nie stom nie!” “Het jy geweet sy kom in die vlei?” “Ja.” “Het jy ook geweet sy loop soms sonder klere daar rond?” Jakus huiwer. Hy weet die man wil ’n blote ’ja’ uit hom wurg, maar sy hele wese skreeu daarteen. Hy móét eenvoudig toegelaat word om te verduidelik. En ’rondloop’ was dit nie. “Sy het net haar klere uitgetrek as ek haar wou skilder.” “Wat jy dus vir my sê is dat jy ’n gestremde minderjarige uitgelok het om haar voor jou te ontbloot. En die dag toe haar pa julle daar gekry het, het jy haar teen haar sin gedwing ...” “Nee! Daar was ’n likkewaan en sy het geskrik ...” “Jy bly by daardie storie, nè? Jy weet sy kan dit nie ontken nie want sy kan nie praat nie. Jy weet dat sy só geslote is, dat niemand iets uit haar sal kry nie. Ek is jammer, seun, maar dís die soort vrae wat jy in die hof te wagte kan wees.” Jakus weet dit. Oor en oor moes hy al hoor hoe ernstig die saak teen hom staan. Op agtien, en by sy volle verstand, is hy veronderstel om verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar. Hy weet ook dat daar geen versagtende omstandighede is nie, want hy het sy misdade doelbewus en oor ’n lang tydperk gepleeg. Die moontlike uiteinde van dit alles is ook aan hom verduidelik: Die ligste straf wat hom opgelê kan word is afsondering in die een of ander inrigting totdat sy gedrag voldoende verbeter het. Maar daar is ook die moontlikheid van rottanghoue, en dié is nie met ’n skoollatjie nie; die littetekens daarvan bly lewenslank sit. Toe hy uiteindelik groet, sê die prokureur: “As jy oortuig is van daardie likkewaanstorie, hou daarby. Daar moet tenminste íéts wees waarop ek die verdediging kan bou.” Hy wens hy het meer gehad waarmee hy die aantygings kon besweer. Maar daar’s niks. Ook toe hy in die beskuldigde bank staan, het hy niks. Ná die landdros se verdoemende uitspraak, toe hy die geleentheid het om iets ter versagting te sê, weet hy hy het niks wat hierdie hof tevrede gaan stel nie. “Daar moet tog íéts wees?” por die landdros aan. “Is jy darem jammer oor wat jy gedoen het?” “Nee.” ’n Roering in die openbare banke laat hom omkyk. Hy sien hoe hulle daar sit. Sy ma, starend. Langs haar sy pa wat, sedert hulle hom die eerste keer in die polisiesel gaan besoek het, by hom verby blý kyk. Verder is daar twee onderwysers wat getuig het. Ook die sielkundige en ’n paar ander. En Caria se ouers. Strak sit hulle in afwagting dat reg moet geskied. Hy wonder waarheen hulle Caria geneem het. Vir ’n kort oomblik voor die hofdeure, was hulle weer voor mekaar. Met die sienslag het sy na hom oopgemaak, maar toe sy haar hand uitsteek om oor sy wang te streel, het die verpleegster dit weggepluk en haar vinnig weggelei. Haar gille het, lank nadat dit stil geword het, steeds deur hom gesny. Hy probeer sy hande wat so willoos gryp en los onder beheer kry, toe hy terugdraai na die landdros. “Julle sê ek lieg omdat ek beweer daar bly bloukwartels in die moeras, maar ek kan hulle vir julle gaan wys, pleit hy, sy stem ’n toon hoër as wat hy wil. Julle sê ook ek is ’n stokkiesdraaier, omdat ek skooltyd in die vlei rondloop; tog het ek daar meer geleer as ’n hele jaar in die skool. Verder sê julle ’n likkewaan sal nie ’n uur stil onder mens se voete lê sonder om gesien te word nie, maar dis presies soos dit gebeur het ... En die sielkundige het hier gesê Caria sal nooit praat nie, omdat sy outisties is. Maar by my het sy gelag en gesels en aan my gevat.” “Wat jy gedoen het ... sal jy dit weer doen?” “Ek kan nie verstaan wat ek verkeerd gedoen het nie.” “As gesonde jongman moet jy tog verstaan dat ons hier te doen het met kindermolestering? “Dis júlle wat dit so wil hê. Dit is omdat júlle grys net ’n mengsel van swart en wit is. Maar grys ... in grys is daar duisend kleure!” Hy roep dit uit. Oor en oor skreeu hy terwyl sy arms ruk en ruk. Maar hy sien hoe die begriploosheid ’n soliede muur word tussen hom en hulle. Uiteindelik weet hy hulle sal nooit verstaan nie. Nooit. En in die nagalm van sy skreeue raak alles versluierd om hom; die strak gesigte ’n monochrome galery, die woorde wat oor hom heenskeer, kripties, die hande wat hom vasgryp en uiteindelik gebiedend weglei, die gretige kloue van ’n aasdier. In die dae nadat Caria en die moeras van hom weggeneem is, druk hy die deur vir die hoeveelste keer agter sy ouers op knip. Hulle kom elke Sondagagtermiddag en bly dan stiptelik volgens die besoekure. Hy is bly hulle sit nie langer nie, want dan sal hy laat wees vir sy afspraak met die son. Daar is nooit gesels tussen hulle nie. Hoekom móét daar wees, hulle deel nie dieselfde wêreld nie. Dus sit hulle net in die skemerte, wag geduldig die tyd om, kom só hulle plig teenoor mekaar na. Hy laat gly sy hand van die deurknop af, draai om in die halflig en kyk na die sonkol op sy vensterbank. Dit sal oor ’n rukkie die spieël bereik. Hy knoop sy skoene los en trek dit uit. Toe sy kouse. Sy hemp. Sy broek. Uiteindelik gaan sit hy in die middel van sy bed. Hy trek sy knieë op, vou sy voete met sy hande toe, laat sak sy kop vooroor en sluit sy oë. Só wag hy totdat hy die weerkaatsing van die sonlig uit die spieël, strelend op sy vel sal voel. Soos elke dag dié tyd, wag hy. Wag hy, totdat hy sy oë sal oopmaak en sal kyk, asof vir die eerste keer, na die duisend kleure van die opgebreekte prismalig oor sy naakte lyf. Wag hy om gebore te word. Wag hy. |
||
© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf. |