SkryfNet - 'n aanlyn-skryfskoolArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

NasboekTafelberg-Uitgewers

Fase 2:

Petra Müller se eerste verslag
George Weideman se eerste verslag
Petra Müller se tweede verslag
George Weideman se tweede verslag

Lees die eerste weergawe van dié storie.
Lees die finale weergawe van dié storie.

Anderkant die draad

Janie Smit

Die grootmense het geskinner oor die nuwe bure en anderkant die oop deur het ek met ore gespits gestaan en luister.
        “Hulle is nou vir jou common verby,” hoor ek my ma se stem.
        Haar sigaretrook ruik skerp en ek kan my voorstel hoe trek die plooitjies om haar mond elke keer as sy die rook diep in haar longe intrek. By die skool leer ons dat mens doodgaan van rook want dit maak swart roet en verstop jou longe en dan versmoor jy.
        Ma sê dis sommer ouvroustories daai, dis net mense wat sigare rook wat so doodgaan. Vandat ek kan onthou, rook sy Lexington, dan stuur sy my kafee toe om vir haar ’n pakkie twenties te gaan koop, maar dit moenie die softpack wees nie, anders druk die sigarette plat voor sy alles klaar gerook het.
        Pa se onderlip klink pap, seker weer sy tande in die broeksak. “Ek hoop net die gespuis werk vir hulle geld, hierrie bliksems wat net vannie staat af lewe, krap my gat.”
        Die tande het nooit gepas van die dag dat hy hulle gekry het nie. Nou sit hy hulle net in wanneer kou nodig is.
        Pa trek pensioen van die stasie. Hy was hoofwielklopper by hulle totdat hulle hom geboard het omdat sy rug die elke dag se gebuk nie meer kon hou nie. Nou boer hy met vliegduiwe en glo hy gaan ’n miljoener word die dag dat een van sy duiwe die groot rally wen. Elke dag is hy doenig met die condies cristals vir die water en poeier op die hok se vloer vir die luise.
        Hulle word vreeslik gepamperlang van die dag dat hulle uit die dop kruip. Pa bekyk hulle van alle kante en as die regte features nie daar is nie, gee hy die kuikens weg vir wie ook al.
        “Ek sê julle net een ding, as hulle ’n kat het en hy kom naby my champions, draai ek sy nek met my kale hanne om.”
        Hy staan sommer op die daad op en loop uit hok toe om te gaan kyk.
        Ma het nie draad vir die duiwe nie, maar baklei help lankal nie meer nie. Sy skreeu omdat ons nooit op vakansie kan gaan nie, en Pa belowe altyd dat ons volgende jaar sal gaan.
        Ma en Antie Sarie drink verder tee. Hulle is lankal vriendinne, van die tyd dat hulle saam by Sam Cohen die Jood gewerk het toe al twee sestien was. Toe’s hulle so saam-saam getroud en vandag kuier hulle net as dit nie te besig is nie.
        Antie Sarie se dun stemmetjie klief deur die middaglug. “Hulle het glads ses kinners, verbeel jou, in vandag se duur lewe. Ek sê gistraand vir Klaas, Klaas sê ek, dis nou ook maar soos die Here wil dat jy die prostaat probleme gekry het na Leentjie, anners het ons seker ook nog ’n paar papvretertjies gehad.”
        Ek weet sy kyk nou na haar voete en skud haar kop.
        Oom Klaas werk by die dorp se meelhuis en as hy partykeer vir die antie kom haal, is sy hare wit van al die meel. Pa koop sy duiwe se mielies ook by die meelhuis, maar dan moet hy dit weer kom was, want dis die goedkoop soort wat hulle sommer van die grond af optel as die sakke lek.
        Ma klink aansit-geskok, “Haai Sarie, hoe kan jy nou so van jou spouse praat? Hy’t nog altyd mooi na julle gekyk, is ook seker maar rêrig die liewe Here se wil. Ek en Henk probeer ook maar aljimmers vir nog ’n kleintjie. Jy weet dié dat Suzie so alleen opgroei issie goed vir haar nie.”
        My ore brand van die afluister en ook omdat ek al weet waar babytjies vandaan kom. My ma en pa wat sonder klere aan mekaar se lywe vat en hard asemhaal as hy so op en af op haar ry. Ek gril en loop sommer by die voordeur uit anders roep ma my nou weer om nog tee te kom maak.
        Die groot boom maak lekker skaduwee op die trappie en ek kyk hoe die wind bolle stof in die straat bymekaar jaag en hulle optel voor hy hulle weer op ’n ander plek gaan neersmyt.
        Dit pla my nie om alleenkind te wees nie, selfs by die skool. Eenkeer het Lindie met my gepraat, maar sy wil nie hier kom speel nie, want hulle bly mos in die bodorp, en haar ma sê sy is bang haar kind kom iets oor hier in die gopse. Nou wonder ek net of dit lyk of ek al iets oorgekom het?
        Die suisgeluid en die skaduwee kom laag oor my kop en ek weet dis Pa se champions wat oefen.
        Die stupid duiwe, dis oor hulle dat ons nog nooit by die see was nie. Die ander kinders by die skool gaan elke krismis see toe, maar ons moet hier bly. Niemand mag in die heilige hok ingaan nie, die duiwe moet net sekere kos eet en sekere tye oefen, party oggende voor die lig moet hulle vlie, donker of nie.
        Maar hy het my al eenkeer ’n baba duifie laat vashou. Hulle het sulke geel vere met
bol oë, en hulle velletjies is baie sag, sodat mens eintlik hulle mieliekos in hulle kroppe kan voel.
        Daar roer iets by die bure en ek rek my nek om te sien. Hulle het gister hulle goeters gebring en die hele dag is meubels aangery met ’n ou Ford bakkie. Ma sê dis nou ’n genuine panelvan want elke panel is ’n ander kleur geverf. Die pa het heeltyd op die kinders geskreeu en gesê hulle moenie die dônnerse goed laat val nie, dis alles erfstukke van sy oumagrootjie se kant af.
        Daar’s drie van elke soort, en die laaities se hare is kort soos bandiete s’n geskeer. Ek kyk nog so na Smalstraat 3 se kant toe, toe skreeu die een laaitie op my, “Hey, fokken kyk vir jou gat, die sirkus issie innie dorp’ie.”
        Ek hardloop kamer toe en maak die deur toe vir as hy dalk agterna kom.

Maandag by die skool hoor ons daar is drie nuwe kinders in die skool. Meraai is een van die nuwe Jouberts en in my klas. Pouse sit sy eenkant alleen en haar voete is vol stof want sy is kaalvoet, die stroop op haar brood het deurgeloop tot aan die buitekant. “Hallo, ek’s Suzie. Julle het mos daar langs ons ingetrek.”
        Sy kyk op. “My boetie het gister van jou gevertel, hy scheme hy laaik jou.”
        Ek het weggeloop en op pad huis toe na skool het hulle agter my gepraat. “Piet sê hy wil haar so lekker druk dat allie windgatgeit kan uitkom.”
        Ek het nog vinniger geloop en probeer om nie te luister nie. Niemand het my nog ooit vasgedruk nie. Ma sit net altyd haar een arm om jou skouer en Pa vat so nou en dan aan jou.
        Mens ruik die aangebrande kerrie-afval al toe jy by die hekkie inkom. Ek krap die rys en vleis deurmekaar en probeer al die geel aartappels op mekaar pak met die vurk.
        “Suzie, die Here in die hemel hoor my, as jy nie jou kos wil eet’ie, moenie met dit speel nie. Daar is baie honger kinnertjies wat graag net een ou stukkie beentjie sou wou afsuig. Ek kook heeldag hier op my twee moeë voete en dan eet jou pa by die verdomde duiwe en jy speel daarmee. Julle moenie vir my soekie, ek’s niemand se meid nie.”
        Ek stoot my stoel terug onder die tafel, maar Ma is nog lank nie klaar nie. “En daai kas van jou kom vandag nog netjies, of alles, ek sê vir jou alles, lê môre op daai vloer as jy vannie skool af kom.”
        In die kamer sit ek met my voete op die bed en blaai deur verlede week se Keur. Antie Sarie bring hulle hier aan. Haar dogter koop dit, en as hulle dit klaar gelees het, kom pak sy dit hier by Ma af.
        Ek hou die meeste van Lady Di, al is sy nou nie meer lief vir haar ou man met die groot ore nie. Nou wil ek graag vir haar gaan kuier, want sy bly in ’n groot kasteel met baie maids om al die werk te doen. Dan kan ons heeldag net tee drink en koek met room eet.
        Ek hoor sommer aan Pa se stem en vloekery buite dat daar nou iewers ’n ding vreeslik verkeerd is. Toe ek by die voordeur uithol, sien ek dit is die bure se laaitie wat kettie skiet en probeer om Pa se duiwe soos moving targets uit die lug te skiet.
        Pa vat sy lang sweep in die garage en loop om draad toe. Hy het self daai sweep
gevleg met rieme wat hy by oom Toors gekry het.
        Die sweep klap net agter die mannetjie se hakskene en hy skrik so groot hy pie sommer sy broek papnat. Die geel pie loop teen sy been af en maak die grond langs sy voet donker nat. Voordat hy kan weghol is Pa bo-oor die draad en klap hom tussen sy skouerblaaie. Toe breek hy die kettie middeldeur en druk dit in sy sak voor hy weer terugklim.
        “Skiet alles in julle jaarts fokken uitmekaar, maar as julle soveel as net te lank na my champions kyk, moet jy sommer vanself weer in jou broek pis.”
        Pa is so kwaad sy lippe is eintlik wit soos die dood, ek sien hoe sy hand bewe soos hy vir hulle beduie. Hy loop weer terug hok se kant toe en ek hol kamer toe voordat Ma my roep om te kom tee maak.
        Ek het gewonder hoekom hy dit gedoen het. Hy het ’n groot lyf maar sy gesig lyk eintlik nog soos ’n klein kind. Teken in die sand met sy vinger wanneer die ander bal skop of boks.
        Hulle het toe maar altyd langs ons gebly. Die ander kinders kom glad nie skool toe nie. Hulle is einlik dié wat moet werk omdat hulle pa so suip, anders vrek hulle van die honger. Ma sê hulle pa is ’n alkolis, laaik die dop en bly altyd lus, dis nou die dat daar so baie kinders is en hulle ma elke dag net agter hulle stêre moet skoonmaak.

Pa se duiwe vlie Saterdag in ’n groot rally en hy het sewe ingeskryf. Hulle kan duisende rande wen, en sy senuwees is so op en klaar dat hy sleg slaap elke nag. Hy moes vir elke demn voël R10 betaal om in te skryf.
        Ma was so kwaad, sy’t amper ’n aar in haar kop gebars. “Ek het nie eers een paar pantyhose om Sondag kerk toe te dra nie, maar die blêrrie duiwe vreet net al hoe meer en nou gooi jy nog geld in die water. Henk, ek sê nou vir jou vandag, jy dryf my. Hoor jy wat ek sê, jy dryf my!”
        Pa het verduidelik en gevra seblief verstaan nou net die een keer. Hulle gaan wen, en dan sal hy sommer vir Ma ’n nuwe rok ook koop en sykouse en vakansie…
“Lettie, ek beloof oppie Bybel vandag, as een van my champions die prys vat, kan jy kies sodat ons enige plek in onse mooi land gaan holiday hou.”
        Ma kon nie anders as om in te gee nie. Sy het gesnuif en haar slippers geslof toe sy kamer toe loop. Ek weet nou nie eintlik of die voëls iets beteken nie, maar as daar nog wonderwerke gebeur, kan hulle seker wen.
        Die aand lees ek Keur se storie toe ek iets by die venster hoor. Daar staan hy, Piet, en hy staar na my daar in my secondhand lace nities op die vloer. Ek wou nog met hom praat, maar toe ek opstaan, hardloop hy weg.
        Die week loop aan en Pa raak al hoe meer ongeduldig. Nou slaap hy buite op die
grond langs die hok, te bang hulle kom iets oor. Langs hom een of ander piksteel of ’n ding, net vir ingeval sê hy. Ma praat nie meer met hom nie en ook nie met my nie, sy maak net kos en ons moet self opskep. Nou gaan ek graag soggens skool toe want dan hoef ek nie in hulle dik gesigte vas te kyk nie.
        Piet sit voor op die pavement toe ek na skool huis toe kom. In sy hand ’n blink knipmes wat hy heeltyd oop en toe gemaak het.
        So met die verbystap gryp hy na my been, maar ek spring te hoog vir hom, “Hey, wat’s jou case?” vra ek toe ek agter ons eie hekkie staan.
        “Ek wil jou mooi prammetjies sien. My susters het my al hulle s’n gewys, maar ek wil joune sien. Daai mooi rooi tepeltjies.”
        Kan jy nou glo, ek sit in my kamer en weet nie of ek skaam is of opgewonde of wat nie. Dit voel dan asof ek rêrig vir Piet wil wys, hy lyk so onskuldig.
        Ek skrik omtrent lekker toe Ma aan die anderkant van die deur praat. “Suzie, gaan jy nou ook heeldag hier sit sonder om met my te praat? Kom eet, die kos word koud en tussen jou en jou pa kon ek net sowel alleen in hierrie pondok gebly het. Die dakke lek so as dit reën en die deure moer uit die kosyne, maar nee, jou pa weet net van die verdomde voëls. Suzie, ek praatie weerie, kom eet!”
        Skool gaan stadig verby, en toe ek by die huis kom lê Ma in ’n donker kamer met die deur toe.
        Bloeddrukaanvalling, so nou sal ek maar self vir my ’n jambroodjie moet maak. Die brood is oud en daar is nie melk in die yskas nie. Die kraanwater is lou maar ek sien nie kans vir tee in die warmte nie.
        Pa gesels buite, klink of oom Toors dalk hier is. Ek loer by die agterdeur uit maar hy praat met sy duiwe.
        “As julle nou grend vlie Saterdag, dan kan ek vir julle ’n nuwe hok bou. Ja, ’n double story met sulke spiral stairs. Nes die soort wat hulle altyd maak vir as dit brand, dan brand die trappe nie en kan ek julle nog kom red daarbo. Dan kan al julle champions doer innie lug bly en die kinders hier onder omdat hulle nog nie ’n rerige rally gevlie het nie.
        “Mirrag Pa,” groet ek en gaan sit op ’n baksteen langs hom.
        “Hiert, jou moerskont, hoe laat skrik jy my nou, Suzietjie. Ek sit so lekker en gesels met die klompie ek hoor jou nie eens nie.”
        Ons sit toe nou maar daar en kyk na die grys voëls ingehok, praat niks. Toe sien ek hom, Piet, hy staan aan die ander kant van die draad. Blink knipmes oop, en hy kyk vir my terwyl hy die lem stadig oor sy keel trek en met die ander hand beduie hy na die duiwe.
        Pa het so stil opgestaan dat ek hom eers weer sien toe die sweep se punt teen Piet se bobeen klap. Hy skreeu soos ’n maer vark en hardloop by hulle agterdeur in.
Volgende om uit te kom, is sy pa wat aan die wasgoeddraad vashou op regop te bly. “Sjlaan jy nou weer aan my fokken kinners, dan kom moer ek jou in jou eie jaarts.”
Pa steur hom min, draai net om en loop bêre sy sweep.
        Die slaap wil nie kom nie, en ’n muskiet wat ek nie kan doodslaan nie, skreeu aanhoudend by my ore verby elke keer as ek my oë toemaak.
        Ma se gil maak my wakker en ek hol tot in die kombuis. Pa staan voor die agterdeur en sy hele gesig is wit, nie net sy lippe soos die ander dag nie.
        “Ek gaan nou die polisie bel, gee geld virrie tiekieboks. Geld, Lettie, gee, voor ek mal word!”
        Die hekkie kla, dis net vere wat in die agterplaas rondwaai terwyl sy daar sit met haar ken in haar hand en ’n Lexington tussen die vingers.
        “Ma, wat het gebeur, Ma?” Ek gaan sit op die koel stoep langs haar.
        “Iemand het al die duiwe se nekke omgedraai, de leste een. Jou pa het so vas geslaap dat hy nie ’n ding gehoor het nie. Hy sal skoon aan sy hart doodgaan van die skok en als.”
        Die hekkie klap weer toe hy inkom. “Die polisie is op pad, op hierrie oomblik en dan gaan ek hierrie bokkers hof toe sleep. Hulle sal betaal vir al hierrie champions en vir hulle inskryfgeld en sommer alles wat hulle nog sou gewen het ook.” Hy hou aan praat maar so binnesmonds dat mens niks kan hoor nie.
        Toe die polisie voor die hek stop, gaan ek vinnig skool toe, hulle maak my bang.
        Skool vat lank om klaar te kry en die hele dag dink ek wie sulke lelike goed kan doen en of dit dalf rerige skelms was wat nie wil hê Pa se duiwe moes gewen het nie.
        Dit is doodstil by ons huis, die kamer se deur is toe en daar is nie kos in die oond nie. Dit ruik na brand orals binne in die huis. Ek gaan agter uit. Die hok staan daar, pikswart uitgebrand, dit is die vere wat so stink. Langsaan is al wat leef en beef besig om die hele jaart om te keer, hulle kyk onder dromme, ou tyres word omgerol, en die heeltyd roep hulle na Piet.
        Ek trap versigtig oor al die gebrande planke tot ek in die middel van die hok staan. Iets blink in die son, ek buk af. Die blink knipmes lê warm in my hand.
        Ons huis is nou nog stiller. Elke nag rol ek in my warm bed rond, die venster styf toe en die gordyne ook. Warm, te warm, sê nou net ek broei uit?

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.