Etienne
van Heerden (www.etiennevanheerden.co.za)
is Hofmeyr-professor in die Skool vir Tale en Letterkundes aan die Universiteit
van Kaapstad en stigter-redakteur van LitNet. Hy het eers in die Regte studeer
en as prokureur gekwalifiseer. Daarna doseer hy Regspraktyk aan die Skiereilandse
Technikon en werk as assistent-adjunk-balju vir die Hooggeregshof in die
Ravensmead-, Bellville-Suid- en Elsiesrivier-omgewings. Hy werk ook vir
'n aantale jare in die reklamewese.
Van Heerden is in Johannesburg gebore
en word groot in die Karoo. Na sy regstudies studeer hy in die letterkunde
en behaal die Honneurs- en Magistergrade (albei cum laude) en 'n PhD. Sy
akademiese loopbaan neem hom van die Universiteit van Zoeloeland na Rhodes
en toe na Kaapstad, waar hy hom tans toespits op nagraadse studieleiding
vir Skeppende Skryfwerk-studente, asook die Afrikaanse en Nederlandse literatuur,
die bestudering van die internet en die web, en resente ontwikkelinge in
fiksie in Engels.
Hy publiseer in verskeie genres en sy fiksie word in elf
tale vertaal. Sy werk is meermale bekroon. Hy is 'n Honorary Fellow van
die Universiteit van Iowa en tree dikwels in die buiteland op. Hy was destyds
stigter-redakteur van Graffier, 'n "little magazine" wat in 1980
gebore is, en Uitgewery Skoppensboer (1981).