Deon Opperman se loopbaan as dramaturg, regisseur en vervaardiger
vir teater, film en televisie het in 1984 begin. Tot op hede het hy 40 dramas
in Afrikaans en Engels geskryf wat professioneel opgevoer is. Hy is regisseur
en vervaardiger van meer as 50 teaterproduksies in al die belangrike teaters
en kunstefeeste in Suid-Afrika. Hy het ook al baie werk vir televisie geskryf
en as regisseur opgetree.
Opperman is 'n Fulbright-beurshouer en het 'n BA-graad van Rhodes Universiteit, 'n BA Honneurs van die Universiteit van Kaapstad en 'n MA van Northwestern University, Chicago. Hy is tans in sy finale jaar by die Wits Sakeskool, besig met 'n MBA.
In 1996 stig hy AFDA - The South African School of Motion Picture and Live Performance - wat deur die Raad van Hoër Onderwys erken word as 'n unieke tersiêre instelling in Suid-Afrika.
Hy het verskeie pryse ontvang vir sy werk, onder andere die Standard Bank Young Artist of the Year. Sy ander pryse sluit in die Eugène Marais-prys vir Letterkunde, die Kanna-toekenning vir sy innoverende bydrae tot Afrikaanse teater, agt Vita-toekennings en 'n Fleur de Cap-toekenning. Hy was ook al genomineer vir die Hertzogprys vir Letterkunde.