Koos
Kombuis skryf reeds in die laat 70's en vroeë 80's as André Letoit.
Hy publiseer verskeie digbundels en romans by die destydse Perskor. Sy roman
Somer II word beskou as die eerste punk-roman in Afrikaans. Hy is
ook bekend vir sy "little magazines" in die 80's.
In 1987 begin sy loopbaan as sanger met 'n demo-kasset, Ver van die
Ou Kalahari, wat by Shifty Records verskyn. Saam met Johannes Kerkorrel
en Bernoldus Niemand onderneem hy die Voëlvry-toer op verskeie kampusse
en ander venues regoor Suid-Afrika. Hierdie revolusionêre beweging laat
hom in die sop beland by die destydse Veiligheidspolisie en die ou regime,
maar bevestig sy kultusstatus.
Hy het reeds 'n outobiografie - Seks en Drugs en Boeremusiek -
die lig laat sien. Hotel Atlantis en die omstrede The Secret
Diary of God is van sy mees onlangse romans. Hy het ook reeds twee
rubriekbundels agter sy naam.
Deesdae is Kombuis 'n bekende sanger en rubriekskrywer vir Rapport,
LitNet en verskeie ander publikasies.